’n Brief aan Ben du Toit

Frits Gaum het die volgende geskryf na aanleiding van Ben du Toit se boek God: Is daar ’n ander antwoord? (2020). Kyk HIER vir ander resesies/kommentaar oor sy boek.

*********

’n Brief aan Ben du Toit | Netwerk24

Deur Frits Gaum

23 Januarie 2021

Hoe is dit dat dr. Ben du Toit twee sulke uiteenlopende boeke oor geloof geskryf het, wonder Frits Gaum in ’n ope brief aan die skrywer.

Liewe Ben,

Op die agterplat van jou nuwe boek, God: Is daar ’n ander antwoord? (2020), lui die eerste sin: “Ben du Toit se eerste boek, God? Geloof in ’n postmoderne tyd (2000, heruitgawe 2010), is in 2001 met die Andrew Murrayprys vir Christelike publikasies bekroon”. Ek was destyds regstreeks betrokke by die toekenning van die Andrew Murrayprys aan jou en moes ook koes vir al die kritiek wat van verskillende kante op ons neergereën het. Maar ek was vas oortuig dat dit ’n geregverdigde erkenning is vir ’n boek wat ’n voorloper in Afrikaans en in die gereformeerde teologie was om die Christelike geloof in ’n postmoderne tyd met integriteit te handhaaf.

Jou bedoeling met daardie boek, het jy destyds gesê, was om ’n sistematiese uiteensetting te gee van die redes hoekom jy uiteindelik in God glo en hoekom jy graag met oortuiging die Christelike geloof as jou godsdienstige tradisie wil aandui.

In sy voorwoord van jou boek het prof. Wentzel van Huyssteen geskryf: “Die bestaan van God, en ons persoonlike geloof in en verbondenheid aan God, is nie iets wat oor ’n gerieflike spektrum versprei kan word en ons met allerhande maklike opsies laat nie – God is óf alles óf niks, God bestaan óf bestaan nie, God is óf totaal onbelangrik, relevant vir almal, óf irrelevant vir alles.”

Nou, 20 jaar later – en tien jaar ná die heruitgawe van God? Geloof in ’n postmoderne tyd – kom jy in jou nuwe boek klaarblyklik tot die slotsom dat God “óf niks” is nie, want God bestaan nie, is daarom totaal onbelangrik en irrelevant vir alles.

Jy skryf: “Die werklikheid is dat geloof in God (vir my en diegene wat soos ek dink) geen nut meer het nie . . . Die vraag na die sin van ’n geloof in God was egter vir my nie net ’n wetenskap-ding nie, maar is ook aangebring deur die onvermoë van die kerk en teologie om sodanige geloof geloofbaar te maak – om ’n probleem-oplossende rol te speel in die gang van die lewe.”

Ná jare se saamswoeg met die kerk (waarin jy ’n belangrike rol gespeel het) om juis “geloof geloofbaar te maak” – dit wat jy met jou eerste boek wou doen – het jy nou moed opgegee met die kerk, en blykbaar daarmee saam alle pogings gestaak om geloof in ’n postmoderne tyd geloofbaar te maak. Jy kies vir ’n “radikaal bevrydende humaniteit”, vir ’n postteïsme, jy is nou “anderkant God”.

Sake links gelaat

Ek het groot waardering vir jou as persoon, Ben, en respek vir jou eerlikheid, en ek weet dat dit geen maklike saak is om uit hiérdie kas te klim nie.

Die klippe sal (hopelik net figuurlik) op jou neerreën. Daar sal ook die ondersteuners wees – soos die paleontoloog Jurie van den Heever en die opdraggewende redakteur van jou boek, Jean Oosthuizen. Ook ander Afrikaanse denkers, soos Willie Esterhuyse. Hoewel, bygesê, die meeste van hulle nie oor daardie streep sal trap waaroor jy nou getrap het nie. Hulle sal nog plek maak vir ’n Opperwese van die een of ander aard, hoewel ’n persoonlike verhouding met God volgens hulle nie regtig moontlik is nie.

In sy boek, Wat moet ons met ons Kerk maak? soek Van den Heever byvoorbeeld na ’n eietydse belydenisskrif wat waarskynlik baie oor hedendaagse tendense maar min oor God en God se gesig, Jesus Christus, sal sê. En die kerk word deur hom op stuk van sake gereduseer tot ’n nieregeringsorganisasie wat wel goeie goed moet doen en naastediens verrig, maar nie veel meer nie.

My groot probleem met jou boek, Ben, is dat jy sake wat jy in jou vroeëre boek aanraak – en moeite gedoen het om dit geloofbaar te laat wees – nou links laat en nie eens weer daarna verwys nie.

Die eerste is dat jy in Boek 1 vertel hoe horingoud die skepping is, dat jy evolusie en die oerknal aanvaar as deel van die skeppingsproses, en dat jy erken dat dit alles nie maar “toevallig” tot stand kon gekom het nie.

Jy skryf: “Die moontlikheid van toeval, of kans, vir die samevloeiing of samekoms van chemiese elemente om die oerknal te laat plaasvind en wat die DNS-molekule (vir die ontstaan van menslike lewe) tot gevolg gehad het, is so ondenkbaar . . . dat dit onmoontlik is om nie die fyn beplanning deur ’n godheid of ’n hoër mag daarin te herken nie.”

Maar in Boek 2 swyg jy in alle tale oor die Skepper en Sy/Haar skepping. Dit lyk of jy nou reken dat alles, ook in sy oerkern met die potensiaal om tot ’n ontsaglike, uitdyende heelal te ontwikkel, vanself, toevallig so gebeur het. Uit “niks” het “iets” vanself te voorskyn gekom? Moenie glo nie, Ben . . .

’n Tweede probleem is dat jy blykbaar reken dat hierdie werklikheid waarin ons nou bestaan, die enigste werklikheid moet wees. Vir ’n ander werklikheid laat jy nie ruimte nie – ’n ander orde waar alles nié aan ruimte en tyd, aan ’n begin en ’n einde, gebonde is nie, ’n “ewigheidsorde” waar God is. Jy doen dit blykbaar omdat die wetenskap nie so iets kan “bewys” nie.

My vraag is: Hoekom moet ons werklikheid en ons heelal (waarvan wetenskaplikes darem al op die maan rondgeloop het) die enigste werklikheid wees?

Wat van Christus?

’n Derde vraag: Jy het in Boek 1 ’n goeie saak uitgemaak vir die onvernietigbaarheid van energie en geskryf: “Hier het ons ongetwyfeld te doen met die moontlikheid dat die sigbare lewe van die mens ná die dood bewustelik kan voortbestaan in die sfeer (bestaanswyse) van God . . .”

In Boek 2 skryf jy egter dat dood dood is. Dat daar niks anderkant die dood is nie. En van die onvernietigbaarheid van energie sê jy niks. Hoekom?

’n Vierde vraag. Hoekom sê jy so min (feitlik niks) in Boek 2 oor Jesus Christus nie? In God? Geloof in ’n postmoderne tyd het jy nog geskryf: “Ons moet die uitgangspunt aanvaar dat die opstanding van Jesus tot die kern van die boodskap van die Christelike geloof behoort . . . Indien dit nie histories waar is nie, dan sou die Christelike kerk eintlik nie ’n boodskap hê om te verkondig nie.”

Jy maak dan ’n saak uit vir die werklike opstanding van Jesus uit die dood en dui aan hoekom ’n postmoderne mens dit ook kan “glo”. En nou, ’n paar jaar later met jou openbare afskeid van God en die Christelike geloof, het jy niks daaroor te sê nie?

’n Laaste opmerking. Jy is baie teleurgesteld met die kerk en spesifiek die NG Kerk. Jesus het ook rede gehad om in sy “kerk” teleurgesteld te wees – dink aan Petrus, dink aan Judas. En Paulus het sommige gemeentes wat hy gestig het, uitgetrap oor die slegte en verkeerde dinge wat by hulle gebeur het. So was dit deur al die jare.

Die Rapport-rubriekskrywer Herman Lategan noem die NG Kerk die slymerige “Lawaai­padda” van 2020. En die meeste van ons het volop kritiek teen die kerk en haar doen en late.

Ek was selfs voorlaasjaar in ’n hofsaak­ met die NG Kerk betrokke.

Maar ek dink dis uiters onbillik om die baba saam met die badwater uit te gooi. Daar is baie dinge wat die kerk (ook die NG Kerk) doen wat goed en reg is, maar wat hulle nie gedurig aan die groot klok hang nie. Die kerk maak foute, want die kerk is ’n menslike instelling, maar, Goddank, die kerk maak nie net foute nie.

Op die voorplat van jou nuwe boek is ’n foto van ’n oopgestote plaashek. Jy skryf oor die plek van die plaashek in jou lewe en dat jy nou “Godvry” en met ’n oop hek kan lewe . . . vol vreugde en vrede sonder al die strem­minge en droewighede wat kerk en godsdiens meebring. ’n Mens sou daarom wou reken dat daar anderkant die oop plaashek plate kleurvolle Namakwalandse madeliefies sou wees. Maar moenie glo nie – anderkant die hek is dit op die foto net vaal en droog. Ek vertrou dat jy oor nog tien jaar weer ’n boek sal skryf, Ben. ’n Omdraaiboek met blomme net waar jy kyk.

Mooi loop!

Jou vriend,

Frits

  • Dr. Gaum is die skrywer van God op soek? Oor geloof in ’n taai tyd (Naledi, 2016).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui