Kyk ook:
‘ ’n Emmer moet ’n boom hê’ | Netwerk24
Deur Kobus van der Westhuzyen
13 Februarie 2021
Die geloofsdebat wat deur dr. Ben du Toit se nuutste boek ontketen is, het hom weer eens gelaat met die wete dat hy so mín weet, skryf Kobus van der Westhuzyen.
Sedert dr. Ben du Toit se boek God – Is daar ’n ander antwoord? onlangs verskyn het, het ’n debat wat van ver af kom, weer nuwe brandstof gekry.
Dit gaan onder meer oor God en mense se siening van God. Bestaan Hy? Wie is Hy? Hoe lyk Hy? Is Hy nie maar net ’n produk van menslike fantasieë nie? Is die geloof in so ’n God nie blote onsin nie?
Dis goed as mense vrae vra en antwoorde soek, maar dan moet jy net eerlik genoeg wees om dit te erken as jy by die stopstrate van jou eie denke vasgekeer word. Ek het al ’n lang pad gestap, waartydens ek ook talle vrae gehad het. En ek moes telkens stilstaan by die erkenning: Ek weet eintlik maar bitter min.
Die kosmos waarin ek my bevind, is eenvoudig onbeskryflik oorweldigend. Tog het ek wel in die proses oor ’n paar sake duidelikheid gekry en dit het my oneindig baie gehelp in my geloofslewe.
Vier lesse geleer
Eerstens aanvaar ek dat daar ’n geskape werklikheid is. Ons noem dit “skepping”. Om dit te ontken, sal beteken dat jy jou eie bestaan ontken.
Tweedens is die skepping so onbeskryflik groot en wonderbaarlik dat ek eenvoudig nie anders kan as om dit as ’n misterie te beskou nie. Die menslike intellek kon hierdie misterie nog nooit naastenby definieer nie en as hy sou kon, sou dit geen misterie meer wees nie.
“As daar ’n skepping is, dan moet daar tog ’n Skepper wees. En as die skepping ’n misterie is, dan moet die Skepper ’n nog gróter misterie wees.Foto: ISTOCK
Iemand het hiervan gesê: “As ek die wonder wil deurgrond, verstar my denke, swyg my mond. Ek sien alleen die wonder aan en bly aanbiddend daarvoor staan.”
Derdens beteken dit as daar ’n skepping is, dan moet daar tog ’n Skepper wees. En as die skepping ’n misterie is, dan moet die Skepper ’n nog gróter misterie wees. Gee die Skepper enige naam as jy nie hou van die naam “God” nie, maar moenie probeer ontken dat daar so ’n “persoon” is nie.
Hy is die eerste oorsaak van alles wat is en bestaan. Hoe die dinge ontstaan en verder ontwikkel het – daarmee kan die wetenskap hom aktief besig hou, maar dat die misterieuse God aan die begin staan, is haas onmoontlik om nié te aanvaar nie.
Vierdens, as ek met bewondering en verwondering staan voor die misterie van Skepper en skepping, kan ek nie anders as om die beperking van my eie denkvermoë te erken nie. Dit geld net so van die wetenskap.
Wetenskap ‘dien God’
Verstaan my nie verkeerd nie. Ek ontken nie die deugdelikheid van die wetenskap nie. Graag wil ekself deel daarvan wees, maar ek wil ook geredelik die perke daarvan bely.
Daar is meer, oneindig meer as wat die wetenskap vir ons gegee het. Dit het by wyse van spreke nog net gepeusel aan die groot misterie. As die wetenskap sy beperkinge erken, sal dit ook beskeie omgaan met die feite of sogenaamde feite wat dit aanbied.
As gelowige wil ek steeds hand aan hand met die wetenskap die wonder van God bestudeer en die grootheid daarvan besing. Dit gaan nie oor ’n keuse tussen wetenskap en geloof nie, maar om juis in samewerking en aanvullend tot mekaar die pad van voortgaande ontdekking te loop.
Ek meen dis deel van God se opdrag. As die wetenskap ’n dienaar van God is, dan is die geloof ’n kind van God en saam kan hulle die grootheid van God verkondig.
Die filosoof Blaise Pascal (of was dit Søren Kierkegaard?) het gesê: “Geloof het kennis waar die rede (lees wetenskap) niks van weet nie.”
Met hierdie stelling is iets probeer verwoord van die ontsaglike misterie waaraan ons groter erkenning behoort te gee. As ons nie respek toon vir die misterie nie, is dit stellig die ergste vorm van menslike arrogansie.
Les uit die filosofie
So met die aangroeiende jare het dit vir my ál meer duidelik geword dat daar eintlik nie ’n tyd is wanneer ’n mens mag sê “Ek het nou gearriveer” nie.
Of “Nou kan ek maar my godgegewe intellek en die geestelike deel van my lewe toesluit vir voortgesette denke” nie. Nee, ek moet juis vir ’n openheid van gees ruimte gee. Daar’s nog so baie om te ontdek. Natuurlik moet ’n mens darem nie so selfversekerd wees dat jy sonder remme die pad stormloop nie.
In my studiejare het filosofie as vak my besonder interesseer. Dit was tydens ’n filosofieklas dat ’n student aan wyle prof. Freddie Kirsten gevra het: “Prof, dink u nie die menslike gees behoort veel meer oop te wees vir nuwe sienswyses nie?”
Hierop het Kirsten heel rustig geantwoord: “Jy’s reg meneer, maar ek wil jou met ’n vraag antwoord. Het jy al ooit probeer om water te skep in ’n emmer wat nie ’n boom het nie?”
Die antwoord was duidelik. Openheid van gees is goed, maar êrens moet jy ’n grondslag, ’n fondament hê waarop jy verder bou.
Vir my is die grondslag my geloof in God – die God wat so ontsaglik groot is dat ek Hom nie kan definieer of aan my redelike kontroles kan onderwerp nie. Ek voel dan soos die ruiter op sy perd voor ’n lopende rivierstroom. Hy praat met homself: “I can’t see the road, but I know there is a road!”
My onvolmaakte kerk
Wanneer Du Toit in sy boek sy teleurstelling in sy kerk, die NG Kerk uitspreek, het hy stellig rede om dit te doen.
Ek was ook al menigmaal teleurgesteld in wat my kerk gedoen het, of nagelaat het om te doen. En tog was die foute nie genoeg rede om alles oorboord te gooi nie.
Die onvolmaaktheid loop deur alle kerke. As die knipmes wat my oorlede pa my gegee het, stomp word, dan gooi ek dit nie weg nie. Nee, ek slyp dit en maak dit weer nuttig en bruikbaar. Ek doen dit uit respek vir myself, maar ook in piëteit teenoor my pa. Dit was ’n goeie mes wat my pa my gegee het! En so sien ek my kerk.
Kobus van der Westhuzyen
Met al sy foute is hy nog ’n instrument waarmee God sy koninkryk wil dien. Ek gaan nie afklim van die wa nie en as ek wel afklim, sal dit wees om die wa deur die drif te stoot en nie in ’n ander rigting weg te loop nie.
Dis vir my duidelik dat Du Toit sterk staatmaak op die redelikheid van sy eie denkvermoë en dat die wonder van God en Sy skepping nie meer vir hom ’n rol speel nie.
Hy sê dat daar te veel dinge is wat nie vir hom sin maak nie. Ja, ek stem saam, maar ek weet ook as alles sin gemaak het, sou ek soos God gewees het. Maar ek is nie.
Ek kyk in ’n dowwe spieël en ek sien ’n raaisel. Ek eindig by die stopstrate van my redelike denkvermoë, maar met God is dit anders. Hy gaan verder en werk met bowe-redelike kragte. Dit is die misterie. As jy dit nie aanvaar nie, dan eindig jy by Du Toit met sy bevrydende humaniteit.
Is dit dalk die soort bevryding wat jou so vrymaak soos ’n vis buite die water?
Wat Du Toit sê of glo is nie nuut nie. Die nuwe weg van bevrydende humaniteit wat hy ingeslaan het, is ’n hartseersaak vir talle mense wat vir baie jare die pad saam met hom geloop het en nou voel soos iemand wat ’n geliefde familielid verloor het. Ons bid vir sy terugkeer.
- Ds. Van der Westhuyzen is ’n voormalige moderator van die NG Kerk se sinode van Wes- en Suid-Kaapland en was vir sowat 30 jaar predikant by die Groote Kerk in Kaapstad.
In die grootste gedeelte van hierdie skrywe vertel Van der Westhuyzen hoe onbeskryflik groot en wonderbaarlik die kosmos is en skryf dit toe aan “die God wat so ontsaglik groot is dat ek Hom nie kan definieer of aan my redelike kontroles kan onderwerp nie.”
Maar dan reduseer hy hierdie God tot iemand gelykstaande aan ’n aardse koning deur te skryf: “Met al sy (Ben du Toit se) foute is hy nog ’n instrument waarmee God sy koninkryk wil dien.”
Hy het iets van die waarheid gesien, maar dit het nie tot hom deurgedring nie.
Lees weer: Hy praat van die kerk, nie van Ben du Toit nie.
Jammer. Jy is reg.
Ek moes geskryf het : Met al sy (die Kerk se) foute is hy nog ’n instrument waarmee God sy koninkryk wil dien.
Die Kerk wat as “hy” aangespreek word i.p.v. ”dit” het my op ’n dwaalspoor gesit.
Die punt bly, dat hy hierdie God nou reduseer tot “iemand” gelykstaande aan ’n aardse koning.