Kyk ook:
‘n Kort beoordeling van die 2020 vertaling
Deur Jan Louw
30 April 2021
Inhoudsopgawe
- 1 Benadering tot vertaalwerk
- 1.1 Letterlike vertalings
- 1.2 Dinamiese vertalings
- 1.3 Parafrase vertalings
- 2 Vertaling van tekse oor homoseksualiteit
- 2.1 Ou Testamentiese tekste
- 2.2 Nuwe Testamentiese tekste
- 2.3 Samevattend
- 3 Liberale teologie slaan egter deur by die inleidings
- 3.1 Die historiese boeke
- 3.2 Die Profetiese Boeke
- 3.3 Die Evangelies
- 3.4 Konklusie
In die Voorwoord van die 2020 Vertaling word die volgende verklaar as opdrag aan die vertalers: “Skep ‘n goed verstaanbare bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik”.
Die vertaling word verder bekendgestel as “‘n direkte vertaling wat daarna streef om só te vertaal dat asof die Bybelskrywers in hulle eie woorde van duisende jare gelede self aan die woord gestel word, en in vloeiende idiomatiese Afrikaans”.
Daar is verskillende benaderings wanneer dit kom by vertaling. Dit geld van enige vertaalwerk, maar in ons geval spesifiek van die Bybel.
1 Benadering tot vertaalwerk
1.1 Letterlike vertalings
Hier word die oorspronklike Griekse of Hebreeuse woorde sover moontlik vertaal.
Die 1953 vertaling is hiervan ‘n voorbeeld.
Rom 12:20: As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; … sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop.
King James: … for in so doing thou shalt heap coals of fire on his head.
Die 2020 vertaling of direkte vertaling is nader aan die soort vertaling wat ons ken as die sg. letterlike vertaling alhoewel dit nie so bekendgestel word nie. Dit kan geïllustreer word met die Direkte Vertaling se vertaling van Rom 12:20:
Deur dit te doen stapel jy vurige kole op sy hoof.
1.2 Dinamiese vertalings
Hier word gepoog om betekenis te vertaal.
Die 1983 vertaling is ‘n voorbeeld.
Rom 12:20: As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.
Good News: for by doing this you will make them burn with shame.
1.3 Parafrase vertalings
In hierdie geval word daar ‘n brug geslaan na die historiese en kulturele omstandighede van die teks en die leser kry ‘n teologiese interpretasie van die vertaler.
Die Living Bible is ‘n voorbeeld.
Rom 12:20: … you will be heaping coals on his head”. In other words, he will feel ashamed of himself for what he has done to you.
Die Blye Boodskap vertaal:
Rom 12:20: As jy dit doen sal jy hom verskriklik skaam maak.
2 Vertaling van tekse oor homoseksualiteit
Die versoek om die 2020 vertaling te beoordeel het waarskynlik grotendeels te doen met die aktualiteit van die homoseksuele kwessie in die NG Kerk. Daarom die toespitsing op hierdie punt.
2.1 Ou Testamentiese tekste
Lev 18:22:
Die 2020 vertaling: By ‘n man mag jy nie slaap soos jy by ‘n vrou slaap nie. Dit is iets afstootliks.
Vergelyk hiermee die 1983 vertaling met die uitgangspunt om betekenis te vertaal.
Lev 18:22: Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde.
Lev 20:13
Ons sien dieselfde by Lev 20:13:
2020 vertaling: As daar iemand is wat by ‘n manlike persoon slaap soos by ‘n vrou, het hulle albei iets afstootliks gedoen. Hulle moet beslis sterf.
1983 vertaling: Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.
2.2 Nuwe Testamentiese tekste
Die begrip “homoseksueel” het nie in die bybelse tyd bestaan nie. Die woord homoseksueel is in die laat 19e eeu gemunt deur ‘n Hongaarse sielkundige Karoly Maria Benkert.
Die apostel Paulus het gewerk met die Ou Testamentiese gedagte van ‘n man wat by ‘n man slaap soos in Lev 18:22. In die Septuagint word twee Griekse woorde gebruik om Lev 18:22 te vertaal, nl arsen (man) en koites (bed). So het die Septuagint uitdrukking gegee aan die gedagte van ‘n man wat in die bed slaap met ‘n man.
Paulus het op die Griekse vertaling van Lev 18:22 voortgebou en self ook ‘n nuwe Griekse woord gemunt nl. arsenokoites. Dit is die samevoeging van man en bed. Daar was reeds ‘n Griekse woord androkoites vir homoseksualteit, maar Paulus het sy eie woord geskep waarmee hy terug verwys het na die wet in die Ou Testament.
As Paulus dus die woord arsenokoites gebruik dan bedoel hy ‘n man wat by ‘n man in die bed slaap soos met ‘n vrou. (Hebr 13:4 kry terloops teen hierdie agtergrond nuwe betekenis: Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die “die bed (koites) onbesmet”; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.)
Die ander Griekse woord wat hier ter sprake is, is malakoi.
Malakoi beteken “sag”. In samehang met arsenokoites moet dit verwys na die passiewe rolspeler in ‘n homoseksuele verhouding.
1 Kor 6:9 is ‘n klassieke teks waar Paulus hom baie direk uitspreek oor homoseksuele verhoudinge en waar hy spesifiek die woorde malakoi en arsenokoites gebruik.
King James vertaling: … neither fornicators, nor idolaters, nor adulterers, nor effeminate, nor abusers of themselves with mankind, … shall inherit the kingdom of God.
Afrikaanse 1953 vertaling: Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.
Afrikaanse 1983 vertaling: Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen … (malakoi word nie vertaal nie!)
2020 vertaling: Geen hoereerders, of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat met mans verkeer .. sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie.
Die vertaling van malakos met manlike prostitute is tegnies korrek. Dit was algemene praktyk in Grieks-Romeinse konteks om manlike prostitute te hê wat by die Romeinse baddens diens gedoen het en kom selfs by die Egiptenare voor.
Die basisvertaling is: “mans wat deur mans gebruik word” of om jou “te gedra soos ’n vrou, hetsy deur vroueklere te dra (Deut 22:5), soos ’n vrou op te tree, of om die vrou se rol in seksualiteit in te neem”.
Die woord prostituut word egter verbind aan die gedagte van iemand wat sy/haar liggaam te koop aanbied vir iemand wat behoefte het aan seksuele bevrediging. Toe Paulus die woord malakos hier gebruik het, het hy nie noodwendig net die manlike prostitute van die destydse samelewing in gedagte gehad nie. Daar was permanente selfdegeslag verhoudings bekend wat net soseer deur hierdie teks aangedui word.
Dit is nie maklik om malakos in hierdie konteks te vertaal sodat dit reg laat geskied aan Paulus se bedoeling nie. Die Lexham English Bible (LEB) vertaal: “nor passive homosexual partners, nor dominant homosexual partners”. Selfdegeslag prostitusie sou uiteraard ook deur dié uitspraak van Paulus ondervang geword het, maar is nie beperk daartoe nie. Die goeie Afrikaanse vertaling kon wees: “verwyfdes en mans wat ander mans seksueel onteer …. ”.
Die Griekse woord arsenokoites kom hier weer voor en word deur die 2020 vertaling vertaal met “… mans wat met mans intiem verkeer …”
2.3 Samevattend
Uit die paar teksverwysings moet die afleiding gemaak word dat die vertalers hulle opdrag om ‘n “Direkte Vertaling” daar te stel, gestand gedoen het en sover moontlik die woorde van die bronteks vertaal het.
Wat die tekste oor homoseksualiteit betref is dit ook goed om daarop te let dat die vertalers nie daarvoor teruggedeins het om mans wat sodomities opgetree het as “honde” te vertaal, soos dit in die brontekste staan nie.
Die verdienste van ‘n prostituut en die loon van ‘n hond mag nie in die huis van die Here jou God kom … nie. (In ‘n voetnoot word verklaar dat dit die benaming van ‘n manlike prostituut is).
Die honde bly buite, ook die towenaars … (In ‘n voetnoot word verklaar dat honde met onreinheid geassosieer word, met verwysing na onder meer Ps 22:17,21. Heelwat kommentare bring Deut 23:18 egter in berekening om die bedoeling van Johannes te verklaar.)
3 Liberale teologie slaan egter deur by die inleidings
In die liberale teologie word ‘n weergawe vir die ontstaan van die Bybel aangebied die gesag van die Bybel in gedrang bring. Die vertalers van die 2020 Bybel maak ruim gebruik van die geleentheid om hulle liberale sienings vir die ontstaan van die Bybel aan die lesers voor te hou. Dit plaas ‘n demper op die waarde van 2020 Vertaling vir die opbou van die geloof in die kerk.
3.1 Die historiese boeke
In die Wellhausen tradisie word die betrokkenheid van Moses as skrywer van die Pentateug ontken. In werklikheid word die historiese dele van die Ou Testament gesien as (vergesogde) mondelinge tradisies wat oor tyd gegroei het vanuit ‘n nomadiese godsdiens. Die wet (van Moses) sou dan die heel laaste op die toneel gekom het en wel in die ballingskaptyd (586-539 v.C). Op dié wyse word die hele historiese basis van die Ou Testament omvergewerp en die Bybel word beskou as ‘n “skepping” van priesters in die ballingskaptyd om ‘n eie karakter aan die Jahwegodsdiens te verleen.
Hier volg enkele aanhalings uit die inleidende gedeeltes van die boeke, wat illustreer hoe die vertalers te werk gegaan het om die liberale teologie wat hulle bedryf aan die Bybellesers te op te dring.
Eksodus
“Vroeër is algemeen aanvaar dat Moses die skrywer was van Eksodus. Dit is egter duidelik dat die boek oor ’n langer tydperk ontstaan het. Die finale werk aan die boek is waarskynlik gedoen deur priesters gedurende die Babiloniese ballingskap (586-539 vC). Die eerste lesers van die volledige boek was vermoedelik priestergroepe in die Babiloniese ballingskap. Ná die ballingskap het Eksodus ’n baie belangrike rol gespeel by die herbou van die tempel in Jerusalem en die inrigting van die kultus.”
Levitikus
“Tradisioneel is Moses beskou as die skrywer van die Pentateug, en dus ook van Levitikus. Dit is egter duidelik dat die boek oor ’n lang tydperk saamgestel is. Naas ou materiaal is daar heelwat jonger gedeeltes in die boek. Die finale vorm van die boek het waarskynlik kort ná die Babiloniese (586-539 vC) ballingskap beslag gekry. Die eerste lesers sou wel uit priesterlike kringe gekom het.”
Deuteronomium
“Volgens ’n baie ou Joodse tradisie was Moses die skrywer. Die tradisie moet egter ernstig betwyfel word. Moses kan nie sy eie dood beskryf nie (Deut 34:1-12), en die skrywer(s) was waarskynlik in Palestina … Hierdie boekrol is later, tydens die Babiloniese ballingskap in (586-539 vC), uitgebrei om ’n geloofsboek te word vir die ballinge wat ná 539 vC na die land sou terugkeer. … In sy huidige vorm sou die boek se eerste lesers Judeërs wees wat uit die Babiloniese ballingskap teruggekeer het na hulle land.”
Rigters
“Die skrywer of samestellers van Rigters is onbekend. Terwyl daar baie ou oorlewerings in die boek opgeneem is (bv Rig 5:2-31), is dit duidelik dat die boek ’n groeiproses deurloop het en dat dit, saam met die res van die genoemde groep, in die tyd van die Babiloniese ballingskap sy finale vorm gekry het Die eerste lesers van die volledige Rigters was waarskynlik Judese ballinge in Babilonië. Die boek sou met die heldeverhale en vertellings oor God se wonders van redding in nood, aan die vernederde Judeers nuwe hoop kon gee.”
Rut
“… Alhoewel die verhaal oud kan wees, is daar in Rut verskillende verwysings na ander Bybelgedeeltes wat dui op ’n laat datering. … Die boek Rut word in sy huidige vorm gewoonlik in die vierde eeu vC gedateer. … Die eerste lesers was na alle waarskynlikheld Judeers in die provinsie Juda van die Persiese ryk.”
In hierdie Inleidings tot die boeke van die OT, kry ons herhaaldelik die woorde, “vertellings”, “priesterlike kringe”, “eerste lesers” en “Babiloniese ballingskap” om die oorsprong van die Bybelboeke te verklaar.
3.2 Die Profetiese Boeke
By die profetiese boeke bied die vertalers ook ongevraag hulle bespiegelinge vir die Bybellesers aan oor die ontstaan van die profetiese boeke.
‘n Voorbeeld hiervan is by die profesie van Sagaria:
“Daar is baie duidelike verskille in styl en inhoud tussen Sagaria 1-9 en 9-14, en dit word algemeen aanvaar dat ander profete se profesieë ná Sagaria 8 bygevoeg is. In die lig daarvan dat boeke van onbekende outeurs altyd laaste geplaas is in ‘n versameling, en aangesien Sagaria 9 en 12, en Maleagi 1 telkens begin met “’n Profesie”, kan daar met redelike sekerheid aanvaar word dat Sagaria 9:1 tot Maleagi 4:6 die werk bevat van profete wat vir die oorleweraars onbekend was.”
3.3 Die Evangelies
In die Inleiding tot die Evangelie van Johannes staan daar: “Volgens kerklike oorlewering het die apostel Johannes hierdie Evangelie geskryf. Daar kan egter nie met sekerheid vasgestel word wie vir Die Evangelie volgens Johannes verantwoordelik was nie.”
Daar is baie ooglopende redes waarom ons kan aanvaar dat die dissipel Johannes, die Evangelie geskryf het. Nogtans diskusseer teologiese skrywers graag oor die outeurskap van die Evangelie. JW Hendriksen het in sy kommentaar oor Johannes omvangryk op die onderwerp ingegaan. Hy het tot die konklusie gekom dat die outeurskap van Johannes bevraagteken word deur voorstanders van die sg Hoër Kritiek, of in ons tyd liberale teoloë. Hy voel so sterk daaroor dat hy sê: “They realize that if it remains unchallenged they have lost not only a battle but the war.”
Waarom ag die skrywers van die 2020 Vertaling dit nodig om die Bybellesers by hierdie ongegronde teologiese debatte te betrek deur te verklaar dat ons nie weet wie die Evangelie geskryf het nie?
3.4 Konklusie
Bogenoemde soort sieninge oor die oorsprong van die Bybelboeke is spekulatief van aard en hoort nie in ‘n amptelike vertaling van die Bybelgenootskap nie. Dit hoort in teologiese kommentare waar lesers ‘n keuse kan uitoefen of hulle belangstel in die opinie van die skrywer of nie.
Wat my bekommer oor die 2020 vertaling is die gebruik van woorde byvoorbeeld:
Kyk 2020 Ef 6:5 vertaling: “Slawe wees met met vrees en bewing aan julle aardse eienaars gehoorsaam” vs 83 vertaling “Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde …..”
Daar is nie ‘n manier hoe ek met vrees en bewing aan my werkgewer gehoorsaam sal wees nie (vergelyk die Kommentaar “Werknemers, wees in alles gehoorsaam aan julle werkgewers (3:22) “)
Ek berus by die 83 vertaling – ek verstaan my Hemelse Vader beter
Flip, jy het sopas die “probleem” van direkte vertalings gedemonstreer. Die 2020-vertaling is direk vertaal. Nou word mens gedwing om te verstaan wat die kultuur in daardie tyd was en wat presies woorde in daardie tyd beteken het. Kyk ook Oor verskillende Bybelvertalings.Die direkte vertaling beklemtoon egter wel die ontsag wat ons aan God moet betoon. Ja, God het naby aan ons gekom. Ons kan met Hom praat soos ons met ‘n vriend praat, selfs meer vrylik, maar laat ons nooit God se heiligheid vergeet nie. Hy is God. Hy is nie jou speelmaatjie nie.
Rigters 19:2 is vreemd vertaal in die 2020 vertaling.