‘n Missionale Kerk?

Kyk ook:

Opsomming

Hierdie artikel wys dat wanneer daar van die “missionale kerk” gepraat word, dit niks met die sendingopdrag (Mat 28:19-20) te doen het nie. Die teoloë gebruik diepsinnige teologiese terminologie, maar is vaag oor wat hulle werklik bedoel. Die vraag ontstaan in watter opsig die konsep wat hulle wil bevorder verskil van ’n liefdadigheidsorganisasie of ander nie-regerings organisasies.

Jan Louw vertel in hierdie artikel van sy soeke in sy leeftyd na maniere waarop die kerk sy verantwoordelikheid moet uitvoer om “sendingwerk” te doen en so die Evangelie aan die wêreld te bring. Die vraag na die betekenis van die Koninkryk van God kom ook aan die orde.

Die leiers sê die NG kerk moet transformeer

alt

Die NG Kerk se Algemene Sinodale Moderamen het einde 2015 besluit dat missionale transformasie ’n prioriteit vir die NG Kerk moet wees (Kerkbode 19 Feb 2016). Overgeset synde beteken dit dat die leierskap al die masjienerie waaroor hulle beskik in werking wil stel om van die NG Kerk in totaliteit ’n “missionale kerk” te probeer maak.

Uit die artikels in die Kerkbode is dit duidelik dat die Kerkbode een van die belangrike voertuie van die onderneming is. Die volgende opskrifte in die genoemde Kerkbode demonstreer die feit: “Almal trek saam in een missionale koers”; “Alle gedooptes is gestuurdes”; “Gestuurdheid vra ’n paradigmaskuif” en uiteindelik: “Hoe word ’n gemeente missionaal?”

Hoe lyk so ’n missionale gemeente? Ds Freddie Schoeman die sameroeper van die Algemene Sinode se Taakspan vir Missionale Transformasie gee in laasgenoemde artikel die volgende definisie:

’n Gemeente is missionaal wanneer dit deelneem aan die lewe en karakter van ’n sturende God wat Hom geopenbaar het in die gekruisigde en opgestane Christus en waar hierdie deelname lei tot diep transformasie van gemeentes. Dit wil sê ’n missionale gemeente is ’n gemeente wat die DNS van die drie-enige God vergestalt.

Die leser sal saamstem dat die definisie nie uitmunt in duidelikheid nie! In ander artikels lees ons dat daar vier aspekte van missionaliteit is nl: roeping, spiritualiteit, geregtigheid en diens. Prof Dirkie Smit sê die kerk moet ’n boodskap van hoop bring en verduidelik: “Dié boodskap van hoop moet op die kruis en opstanding gebaseer wees. Die uiterste transformasie.” Ander beklemtonings oor missionaliteit wat mens raakloop in die artikels is nederigheid en “voetewas”.

Ek wil graag die volgende verduideliking van ds Freddie Schoeman in “Alle gedooptes is gestuurdes” uitlig. Hy sê daar dat almal (alle gedooptes) sendelinge moet word:

“’n magtige beweging … van ’n lewegewende God na ’n sterwende wêreld waardeur die magte van selfsug, magsug en hebsug die stryd aangesê word en waardeur mense bevry word en in staat gestel word om te floreer en om sinvolle en betekenisvolle lewens te leef”.

Ek kan die versoeking nie weerstaan om te sê dat hierdie woorde my laat dink het aan die raad van Gusai aan Absalom volgens 2 Sam 17:11-13 nie:

Ek raai aan dat die hele volk oor die lengte en breedte van die land eers by u bymekaargeroep word: ’n menigte soos die sand van die see. Dan kan u persoonlik teen hom (Dawid) opruk. Waar hy ook al is, as ons by hom kom in een van die plekke, sak ons op hom toe soos mistige weer. Daar sal niks van hom oorbly nie, ook nie eers een van die manne by hom nie. As hy hom dalk in ’n stad terugtrek, moet die hele Israel toue oor die mure van daardie stad gooi en dit na die laagte toe wegsleep totdat daar nie meer ’n enkele klip oorbly nie.”

Ons weet terloops dat Absalom hierna geluister het en so sy eie ondergang bewerkstellig het.

“…die kerk moet wegbeweeg van die tradisionele sending- en uitreikprojete…”

Die belangrikste wat ek wys word uit wat die kerk vir ons in die Kerkbode oor missionale transformasie wil sê is dat die kerk moet wegbeweeg van die tradisionele sending- en uitreikprojekte en meer samelewingsgerig moet wees. Gemeentes wat hulle lidmate kan organiseer om diens te lewer onder minder bevoorregtes in die samelewing is blykbaar op die missionale pad. Ds Schoeman sê so ’n gemeente is “’n gemeente wat in wese, in murg en gebeente missionaal is en so die evangelie vergestalt”.

My ervaring in die kerk oor “missionaliteit”.

Ek het sowat ’n dekade gelede kennis geneem van vernuwende gedagtes rondom kerkwees in ons tyd. Leiers in die kerk het gepraat van die Ontluikende Kerk. Ons het gehoor van Brian McLaren, Rob Bell, Leonard Sweet, Tony Jones, Pat Keifert, Dan Kimball en baie ander. Nelus Niemandt het in 2007 sy boek Nuwe Drome vir Nuwe Werklikhede oor Geloofsgemeenskappe in pas met die moderne wêreld aan ons bekend gestel.

Ek was in 2006 op ’n toer vir predikante waar ons gaan kyk het na veral NG Gemeentes in Gauteng en in die Kaap wat aandag getrek het met vernuwing. By een van die geleenthede het Nelus Niemandt ons toergroep toegespreek[1]. Ek onthou dat hy vertel het dat die evangelisasiemetodes van die verlede met die uitgangspunt om mense van Jesus te vertel, nie meer in ons konteks werk nie. Daar is nuwe maniere waarna ons moet strewe om kerk te wees.

Ek onthou ook dat daar in die tyd “clusters” gestig is van gemeentes wat saam gedink en gelees het oor maniere om te vernuwe. By navraag het dit geblyk dat die vernuwing ’n proses behels het waar daar eerstens ’n ontleding gedoen moes word van die “storie” van die gemeente. Die gemeenteleiers moes eers helderheid kry oor die geskiedenis, die demografie en die bepaalde samestelling van die gemeente. Dit moes die basis vorm vir die gemeenteleiers om die gemeente te lei op die pad na een of ander missionale transformasie. Soos ek onthou was die mikpunt dat 20% van die gemeente na drie jaar moes inkoop op die vernuwing. So moes daar elke jaar gestrewe word na nuwe mikpunte.

Ek het belang gestel, maar nie my weg oopgesien om van ons gemeenteleiers te verwag om hulle energie te gee vir ’n proses waaroor ekself nie regtig opgewonde oor kon raak nie. Dit is nou ’n dekade later en nou lyk dit vir my of die NG Kerk nog steeds en meer as tevore op die transformasiepad is.

Sendelinge?

alt

In die Engelsprekende wêreld is daar altyd gepraat van “missions” en “missionaries”. In die Afrikaanse kerke het ons gepraat van “sending” en “sendelinge”. Daar was sendingverenigings en sendingbonde wat ingestel was om die Evangelie na mense uit te dra wat nog nie van Jesus gehoor het nie. Tye het verander maar die opdrag van die Here om die evangelie aan die nasies bekend te maak staan nog steeds en die taak is nog ver van afgehandel te wees.

Die belangrikste les wat ek in my lewe hieroor geleer het, is dat die sendingtaak in die eerste plek ’n opdrag aan ’n gemeente is en nie aan sinodes en organisasies oorgelaat mag word nie. Toe ek dit begryp het, het dit die hoogtepunt van my bediening in die kerk geword. Ons gemeente het met groot vrug betrokke geraak by die ondersteuning van sendelinge wêreldwyd.

Op ’n stadium het ons fasiliteerders genooi om ons te help met die instelling van die sogenaamde geloofsbelofte-offer. Op dié manier het daar baie fondse uit die gemeente beskikbaar geraak waaruit ons 25 sendelinge wêreldwyd ondersteun het. Ons het ’n wêreldkaart in die kerkgebou gehad en elke Sondag is ’n ander land aan die gemeente bekend gestel. Daar was Sendingsondae waar die sendelinge aan ons kom vertel het van hulle werk. Ons het gebid vir die sendelinge en hulle het hoë waardering gehad vir ons betrokkenheid by hulle werk. Die lidmate het ’n visie vir die wêreld en wêreld-evangelisasie ontwikkel.

“Kerkleiers het koud gestaan teenoor wêreld-evangelisasie en evangelisasie in die algemeen.”

Intussen het ek beleef hoe ons kerkleiers ander visies aan die kerk wou verkoop. Ek het in sinodale kringe ervaar dat hulle koud gestaan het teenoor wêreldevangelisasie en evangelisasie in die algemeen wat vir my so na aan die hart was. Ek was ’n by groot predikante saamtrek in Bloemfontein, waar ’n bekende teoloog van die NG Kerk smalend gepraat het van predikante wat op “ver plekke” betrokke wil raak terwyl daar nog so baie werk in ons eie omgewing was.

Beteken dit dat ons gemeente nie belang gestel het in ons onmiddelike omgewing nie? Glad nie! Ons gemeente het op ’n stadium die 40 dae van Gemeenskap program van Rick Warren geloods. Ons het met die CMR (Christelik Maatskaplike Raad) saamgewerk en ’n klomp kleuterskole in die omgewing geïdentifiseer. Die lidmate het wonderlik saamgewerk. Op een betrokke Saterdag het 300 lidmate met bakkies en ander voertuie die arm buurtes ingegaan om kleuterskole te help opgradeer. Dit was ’n groot en opwindende gebeurtenis. ’n Groep lidmate het jare daarna nog volgehou om elke Saterdag uit te gaan en kos te voorsien aan arm kinders.

Die saak wat egter vir my uitstaan en sin gebring het in my leeftyd as leraar is die sendelinge waarby ons betrokke was.

Die koninkryk van God

Die koninkryk van God kan gesien word daar waar die heerskappy van Christus Jesus in die samelewing sigbaar word.

Ek wil glo dat die missionale gedagte van die kerkleiding ’n poging is om die koninkryk van God gestalte te laat kry in die omgewing waar ons woon, maar hoe lyk die koninkryk van God?

‘n Joernalis Matthew Parris, het op 27 Desember 2008 ’n artikel in The Times geskryf met die opskrif: “As an atheist, I truly believe Africa needs God”. Hy skryf:

I’ve become convinced of the enormous contribution that Christian evangelism makes in Africa: sharply distinct from the work of secular NGOs, government projects and international aid efforts. These alone will not do. Education and training alone will not do. In Africa Christianity changes people’s hearts. It brings a spiritual transformation. The rebirth is real. The change is good.

…. We slept under the stars, so it was important as we reached the more populated and lawless parts of the sub-Sahara that every day we find somewhere safe by nightfall. Often near a mission.

Removing Christian evangelism from the African equation may leave the continent at the mercy of a malign fusion of Nike, the witch doctor, the mobile phone and the machete (panga).

Wat Matthew Parris nie sê nie of dalk nie weet nie, is dat dit wat hy in Afrika gesien het ’n effek van die koninkryk van God in die wêreld is. Waar Jesus Christus regeer word die magte van die duisternis verdryf. Die effek is dat daar veiligheid, genesing, orde en voorspoed kom. Daar kom integriteit, wysheid, vrede, ywer, netheid, respek vir gesag en getrouheid.

Die wêreld word in die Bybel voorgehou as ’n plek wat in die donker is (Mat 4:15; Joh 1:5; Ef 5:8,9). Op hierdie plek wat as goddeloos beskryf word omdat die duiwel heerskappy voer wil die Here sy koninkryk oprig. Die koninkryk is soos ’n mostertsaadjie wat groei en ongemerk ’n boom word, waarin die voëls kom nes maak. Dit is soos suurdeeg wat ’n vrou in haar skottel met meel inwerk tot dit alles deursuur is.

Die Psalms is vol beskrywings van so ’n samelewing waar die Here heerskappy voer. Ps 72 vertel van ’n Koning wat reg laat geskied aan sy onderdane. Hy help die armes en bevry hulle van onderdrukking en geweld. Ps 128 vertel van gesonde huwelike en gesinne. Ps 144 droom van seuns wat groei soos plante en dogters wat bewonder word soos die hoekpilare van ’n gebou, van kleinvee wat aanteel en beeste wat ’n groot kalweroes lewer. Dit is die samelewing wat God wil bewerk onder heerskappy van sy Seun Jesus Christus. Hy doen dit deur sy kerk.

Hoe wil die Here sy kerk gebruik om sy koninkryk te vestig?

alt

Sondae in die kerk sit daar onderwysers, politici, dokters, maatskaplike werkers, ambagsmanne, boere, ingenieurs en nog baie ander. Die kerk se werklike impak op die samelewing vind plaas deur sy lidmate gedurende die week. Dit is daar waar ’n onderwyser voor sy klas staan; waar ’n verpleegster by die bed van ’n sieke staan; waar ’n ambagsman of ’n boukontrakteur sy werk met integriteit doen vir die mense wat hulle vertroue in hom gestel het; waar ’n boer hartlik met sy werkers op die landerye saamwerk om kos vir die mense te voorsien; waar ’n landdros reg en geregtigheid laat geskied teenoor oortreders van die wet; waar polisie beamptes respek afdwing met die wyse waarop hulle wet en orde handhaaf en waar ’n bankamptenaar met ander mense se geld toevertrou word. Miskien is die heel belangrikste van alles om by te voeg daar waar ’n man en ’n vrou slaag om hulle huweliksbeloftes aan mekaar gestand te doen en vir hulle kinders ’n veilige ruimte te skep, waar kinders die Here leer ken en hulle volle potensiaal kan bereik.

Ons is almal bewus hoe demoraliserend ’n samelewing is waar mense mekaar nie kan vertrou nie omdat dit verrot is van leuens, diefstal, moord, geldgierigheid, luiheid, anargie en losbandigheid. God wil van die wêreld ’n beter plek maak deur die stille werking van sy Woord en sy Gees. God se doel is dat Jesus Christus die Hoof sal wees van sy nuwe mensheid (bv. Kol 1:15-20). Die nuwe mensheid bestaan uit gewone mense – bankiers, dokters, regsgeleerdes, ambagsmanne, vaders, moeders, ens.

Erediens en prediking

alt

Teen bogenoemde agtergrond is ek oortuig daarvan dat ons, ons vertroue in die basiese elemente van kerkwees moet herbevestig. Ons moet geloof hê in die krag van die erediens en die prediking. Die Here Jesus was ’n prediker ín die sinagoges en búite die sinagoges. Die apostels het daarmee voortgegaan. Hulle het geen ander instrumente gehad behalwe die prediking om die wêreld vir Christus in besit te neem nie. Paulus sê selfs dat “dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red” (1 Kor 1:21).

Saam met die prediking is daar natuurlik in ons tyd ander toerustingsgeleenthede soos kategese, wyksbyeenkomste, Bybelstudiegroepe, Christelike lektuur, jeugbediening, huweliksverryking, ens.

As ’n gemeente nog verder bedieninge het om heling in die samelewing te bewerk is dit prysenswaardig. Gemeentelede behoort volgens hulle gawes betrokke te raak by kleuterskole, gevangenisse, polisiestasies, hospitale, sopkombuise, tronke en dwelmverslaafdes. Ons moet mekaar hieroor aanmoedig, maar dit is nie die wese van die kerk nie.

Ds. Schoeman gee ’n onaanvaarbare aansien aan ’n aspek van kerkwees as hy sê:

Hierdie besluit van die moderamen (missionale transformasie) kan dalk een van die heel belangrikste besluite van die kerk wees in die onlangse verlede. Dit is gegrond in nuwe nadenke wêreldwyd oor die leer van die Drie-eenheid en die missionale aard van die drie-enige God.

Nog ’n nuttelose oefening?

Dit is sorgwekkend om te sien hoe die leierskap van die NG Kerk voortdurend met allerhande nuwe inisiatiewe op sleeptou gaan. Dit gaan telkens gepaard met groot bedrywigheid. Daar is omvangryke kommunikasie binne die kerk en ook na buite in die media.

In ’n vorige rondte het daar ’n geweldige hoeveelheid geld en energie ingegaan om Belhar as belydenisskrif in die kerk gevestig te kry. Dit was ’n tevergeefse onderneming en het op ’n vernedering vir die leierskap uitgeloop.

Die papier was nog nie koud nie of al die masjierie is weer in werking gestel om die kerk te oorreed om SGV (selfdegeslag verhoudinge) in die kerk te “normaliseer”. Dit blyk nou dat hierdie onderneming ook besig is om op ’n fiasko uit te loop.

Die einde van die laaste fiasko is nog nie eers in sig nie nou bedink die kerkleiers alweer met skynbaar eindelose energie nuwe ondenemings/laste uit wat hulle die kerk wil oplê. Die beeld van Hitler kom by mens op. Hy was besig om die oorlog te verloor, maar hy het steeds, met eindelose ondernemingsgees, nuwe militêre aanslae vir sy generaals bedink om uit te voer.

My ervaring is dat ons nie besig is om die oorlog vir Christus te verloor nie. Daar is honderde leraars van die NG Kerk (en ander kerke) wat getrou op hulle pos is. Hulle preek en hou hulle gemeentes in stand. Daar is duisende lidmate wat die Here en hulle kerk lief het. Hulle is Sondae getrou in die kerk en in die week is hulle met integriteit op hulle pos in die samelewing. Hulle het die Woord van die Here lief en hulle rig hulle lewens daarvolgens in. Dit is nie nodig dat ons, om watter rede ookal, voortdurend nuwe hase uit die hoed moet trek nie.

Kom ons vertrou op die basiese dinge in die kerk. Paulus sê in 1 Tim 2:1:

Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, 2 vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.

Miskien het dit tyd geword vir die kerkleiding om ag te gee op die waarskuwing van die profeet Jesaja in Jes 30:15:

So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Maar dit wou julle nie; julle het gesê: “Nee, ons sal op perde wegjaag, ons sal vinnige perde ry.” Dan sál julle vlug, maar julle agtervolgers sal vinniger wees.

Die NG Kerk het die Waarheid vaarwel geroep

Hoekom gebeur hierdie dinge met die NG Kerk? Die antwoord is dat die leierskap hulle rug gedraai het op die waarhede van die Evangelie. ’n Kerk wat nie meer oortuig van sy boodskap is nie, soek na nuwe maniere om sy bestaan te regverdig.

alt

Ek het ’n artikel geskryf op GlodieBybel met die titel: Die NG Kerk het sy liefde vir die waarheid vaarwel geroep. Die leierskap het toegesien dat die sinodes besluit het om ruimte te maak vir lidmate wat nie meer aan die bestaan van die duiwel glo nie. Daar het onlangs ’n verslag gedien waarin ons geloofswaarhede soos vervat in die Apostoliese Geloofsbelydenis betwyfel word. Die afgelope tyd het die besluite oor erkenning van homoseksuele verhoudinge ook nog aan die lig gekom – besluite wat direk in stryd is met wat in die Bybel staan.

In Ps 50:16 word die “goddelose” aangespreek en die Here sê vir hulle:

“Waarom sê jy my voorskrifte een vir een op en beroep jy jou op my verbond, jy wat ’n afkeer het van wat Ek jou leer en jou nie steur aan wat Ek sê nie?

Die beeld wat by my opkom is dié van matrose wat die ankertoue van hulle skip afkap. As daar ’n storm opsteek is hulle in die duister op die oseaan. Hulle weet nie waar hulle is en waarheen hulle op pad is nie. Hulle sien dwaalligte vir sterre aan.

Samevatting

Ek het probeer uitdrukking gee van my waarneming in die NG Kerk na ’n leeftyd van diens in die kerk. Oor missionale transformasie is ek veral besorg oor die afskaling van die kerk se verantwoordelikheid om die Evangelie te bring en wel tot aan die uithoeke van die aarde soos die Here ons die opdrag gegee het (Hand 1:8). Ek het bietjie meer oor die onderwerp gelees as net wat in die Kerkbode staan en ek vra myself af: Wat is werklik nuut? Wat maak van missionale transformasie so ’n waterskeidingsgeleentheid soos wat dit aan ons voorgehou word?

Voetnotas

[1] Kyk ook wat skryf Nelus Niemandt in Five years of missional church: Reflections on missional ecclesiology en Missionale kerk en missionale eredienste. ’n Refleksie op Leonard Sweet se ‘Giving blood. A fresh paradigm for preaching.

1 thought on “‘n Missionale Kerk?”

  1. Baie insiggewende stuk. Veral die besef dat die NG Kerk die Waarheid vaarwel toegeroep het soos die een opskrif meld!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui