’n Oggend by prof Piet Strauss (71): Oor taak, groepsgevoel en die individu

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

’n Oggend by prof Piet Strauss (71): Oor taak, groepsgevoel en die individu | Kerkbode

Le Roux Schoeman

15 Maart 2023

Piet Strauss staan teen die reëlings by die uitkykpunt bo die tamaai gat: 215 m diep.

Die hart-en-niere-Vrystater en oud-moderator van die NG Kerk se Algemene Sinode staar woordeloos, stip na die groen oppervlak van die watermassa wat daarin opdam – ver benede ons voete. Kimberley se Gat. Wat kan ’n mens nou sê? Ons wag eintlik vir ’n eetplek hier in die opelug-museum-myndorp om oop te maak. Dit is ’n stil Dinsdagoggend, ’n dag na sy aftrede. Op 71 benader Strauss dinge soos hy deesdae loop: versigtig maar vasberade. Sewe Comrades-maratons asook onverstandige tekkiekeuses weens beperkte fondse indertyd het volgens hom ’n groot aandeel gehad in die feit dat hy binnekort vir ’n tweede knievervanging moet gaan.

Ons kyk nog na die dooie myn. Na meer as 22 500 000 ton grond en die ekwivalent van 2 722 kg se diamante hier verwyder is, is werk in 1914 gestaak, leer die besoeker. Ons herkou ’n oomblik aan die omvang van dit alles en praat dan oor die vreemde, meer onlangse, episode toe ’n hond hier vanuit die gat gered moes word na sy ingetuimel het. Ons kan nie die hond se naam onthou of die jaar nie, maar, ja, wat ’n storie. Wat kan ’n ou sê? Ons praat al vir ure so. Strauss het my vroegdag opgepik by die klein lughawe. Ons small talk het genre-getrou begin:

Hoe lyk die weer vandag?

Ek het nie die weer gekyk nie, want ek was by my omgeegroep gisteraand.

O, ok.

Maar dit word nou ’n bietjie koeler. Ek kan hom voel.

Jip.

Vir ’n oomblik herinner dit aan ’n sin uit ’n boek deur die Franse skrywer Michel Houellebecq: “Anything can happen in life, especially nothing”. Ons het gery na die siersteenhuis waar hy die afgelope paar jaar woon. Kimberley se Gat was sy voorstel as besoekpunt toe ek sê Kerkbode wil met hom as kerkregkenner en voormalige voorsitter kom praat oor die verskynsel van die Algemene Sinode (AS) as deel van ’n reeks artikels wat die 60 jaar-viering (in 2022) van die AS herdenk op die vooraand van die volgende sitting daarvan in Oktober vanjaar in Johannesburg.

Nooit die wêreld se selfvertroue

Ek voel aan ons was albei diep en deurgaans onder die indruk dat die onderhoud selfs vir ’n nispublikasie soos Kerkbode gevaarlik na aan die einders van Nuus en Aktualiteit beweeg. So daar was dalk iets poëties omtrent die veilige risiko van ’n uitkykpunt aan die rand van die krater. Die oggend se verloop: Ons het eers gaan gesels in sy voorkamer, koffie met Ouma-beskuit gedrink. Toe gaan staan in die gang en gepraat oor die Strauss-stamboom. (“Die ou Strausse is gemiddeld,” sê Piet half ondeund. En jy? vra ek. “Ook maar so. My oom – die ou patriarg van die familie – het op ’n stadium gesê, die verste wat ’n Strauss nog ooit gekom het, was ouderling – toe word ’n Strauss ’n dominee, dit was ’n groot oomblik,” dan lag Piet lekker. Het jy jou sin vir humor behou deur die jare – ook oor die poste wat jy beklee het? Die vele titels … “Daar’s soveel goed wat kan verkeerd loop en soveel kritiek wat ouens op jou kan lewer … dat jy nooit kan dink jy’s belangrik nie. Ek meen ek het nooit regtig die selfvertroue van die wêreld gehad nie. Ek hou daarvan om te dink ek kan ’n sekere ding doen oor die Here met my is. En dit is nie maar net om vroom te wees nie, jy weet. En goed, dan gebeur dit,” verduidelik Strauss oor die gang van sy loopbaan.” Dominee. Professor in ekklesiologie aan die teologiese fakulteit van die Universiteit van die Vrystaat, moderator van die Vrystaatse sinode (twee keer), assessor van die AS en in 2007: moderator van die AS.

Oor hierdie tyd skryf hy in ’n onlangse bydrae op versoek aan Kerkbode: “Ek moes in 2007 oorvat in ’n woelige tyd. Die kwessie van Belhar as ’n bykomende belydenis vir die familie van NG Kerke was in die brandpunt, die eenheidsproses in hierdie familie was stram, die Algemene Sinode het opnuut gespook met ’n standpunt oor homoseksualiteit, die ANC onder Zuma het die NG Kerk beskou as ’n belangrike woordvoerder van die Afrikaner en ons moes praat, nuwe standpunte en nuwe maniere van doen het onrus in gemeentes veroorsaak en lidmate en groepe lidmate was bekommerd dat die NG Kerk die spoor byster raak. Hulle aanvoeling dat sinodale houdings in die NG Kerk verander en nie altyd gefundeerd is nie, was natuurlik reg.” (Lees Strauss volledige skrywe HIER).

Huisbesoek, huisbesoek, huisbesoek!

Vanuit die gang met die Strauss-stamboom, is ons na Strauss se studeerkamer waar ons kerkreg deurtrap en waar hy wys waar hy akademiese artikels neerpen. Toe weer koffie. En nou is ons by die mynmuseum. Ek vlieg eers laatmiddag terug Kaap toe en indien lang stiltes Strauss pla, laat blyk hy dit nie.

Die laaste twee jaar het hy as predikant gewerk op Barkley-Wes. “Die ouens plaas ’n hoë premie op huisbesoek. By Barkley veral … (die kerkraad) het gevra of ek sal kom help met die gemeente … en daar’s net twee goed. Kom preek en kom doen huisbesoek,” vertel Strauss. Toe sê ek: ‘Nee, dis reg.’ Vir my was dit altyd belangrik … As studenteleraar by Tukkies byvoorbeeld was dit altyd belangrik om daai manne te gaan besoek by hulle koshuise. By hulle uit te kom,” vertel Strauss. Maar nou is hy klaar. “Ek is op Bethlehem gebore en het in Reitz grootgeword … die Oos-Vrystaat het my in ’n greep. As ek daai wêreld sien, word ek sommer rustig. Dan’s als vir my mooi. Ek het ’n huis daar wat ek gekoop het in 1984, nou wil ons ’n bietjie daar gaan bly …” Dis die plan.

NG Kerk het agter geraak

Strauss se eerste Algemene Sinode was in 1994. Nelson Mandela was daar, onthou hy. Dit verklap iets van Strauss se vakkundigheid wanneer hy Madiba met Vader Kestell vergelyk. (John Daniel “Vader” Kestell (1854-1941) was, naas redakteur van Kerkbode, voorsitter van die Federale Raad der Kerken (1911) en moderator van drie Vrystaatse sinodes – 1902, 1912 en 1916. Hy was ten nouste betrokke by die totstandkoming van die Helpmekaarbeweging ná die Groot Griep van 1918, en die Reddingsdaadbond in 1938, volgens elektroniese Christelike Kernensiklopedie (eCKE). Strauss het weldra by dr Coenie Burger as voorsitter van die AS oorgeneem. Pres Zuma was g’n Mandela (of Kestell) nie, blyk dit gou. “Zuma het altyd gesê hoe belangrik is die Afrikaner en dan gebeur daar niks.” NG Kerkleiers is ontbied vir ontmoeting “iewers in Pretoria”, onthou Strauss. “Dan ry ek al die pad en gaan luister na die perd. Toe sê ek, nee wat, dis nie konstruktief nie, dis window dressing,” herroep hy. “Maar wat wonderlik was, is hulle dink die NG Kerk lei die Afrikaner. Hulle het eintlik vergeet die kerk het so ’n bietjie agter geraak.”

Hoewel hy later hoofsaaklik ’n kansel- en podiumdier geword het, het Strauss as jong student klasgeld betaal met fisieke werk. “Ek het wol geklas … Dan kry jy R500 per Desembervakansie. Daai vag wat op die sorteertafel val, jy werk met hom. Jy tipeer die wol om dit in te plaas in sekere klasse. Maar jy rand hom eers af om al die vuilgoed af te kry, jy weet? Jy werk so van vyfuur die oggend tot halfsewe die aand vir twee maande … Jy werk dat dit dreun, maar dan kry jy 2,5 c per skaap,” herroep hy uit die beginjaresewentig. “Met daai R500 is jy ryk! Jy vat ’n meisie een keer per jaar vir ete – as jy verjaar.”

Seer knie, pienk hemp met toeristebeursie om die bolyf geslinger of te not, Piet Strauss lyk steeds soos die proto-Afrikaner. Die bles, die ken, die blik. Iets tussen PW Botha, maar ook Harvey Keitel, as ’n mens hom moet probeer in ’n breër konteks gesigmatig plaas. PW van Die Krokodil-faam en Keitel van The Piano-faam. Hy luister geduldig en lag toenemend soos ons gesprek vorder. Hy’t ’n lekker sin vir humor. As ’n mens sê jy is redakteur van Kerkbode, vra hy: Het iemand anders ook aansoek gedoen? Maar, ’n bietjie soos beurtkrag, kan hy dit ook aan- en afskakel: As ’n mens ligweg vra hoekom die voorsitter van Die Nasionale Vrouemonumentkommissie ’n man is, voer hy ’n nukkerige maneuver oor meriete in die werkplek uit.

Ons beweeg stadig terug in die rigting van die restaurant by die mynmuseum waar hy graag op Sondae kom eet met sy vrou Charon. Ons wag op die kelners. Die strate lyk soos die stel van ’n Western. Winkelpoppe met pruike beman outydse mynkantore, daar’s ’n aantal sinkhut-replikas van dié waarin delwers gewoon het en ’n kerkie van sink om besoekers se verbeelding op te lei na nuwe hoogtes. Ons lees kort beskrywings van Cecil John Rhodes, die ontstaan van die Diamond Fields Advertiser, asook die lewe van Basil Humphreys en sy vrou Onah en hulle werk met die beplan en aanlê van hierdie einste museum waar ons nou ronddool op soek na ’n plek om ’n Schnitzel en ’n hamburger te bestel en verder oor die Kerkorde en Art 47 te gesels. Die wêreld oor het Humphreys glo gereis om hierdie museum “as model van sy soort” te vestig voor sy dood in 1971, leer die besoeker.

Die groot vraag: Randsaak of kernsaak?

Strauss praat soms sag, maar met geoefende gesag. Of hy nou Coke Zero bestel en of hy praat oor sy politieke siening. (Liberaal beskryf laasgenoemde op geen merkbare punt nie. Die “swart gemeenskap” is dikwels nie gewoond daaraan om “Westerse ontwikkelde samelewing op demokratiese waardes te handhaaf nie,” verklaar hy in ’n stadium). Oor van die teologiese debatte is Strauss se geesdrif gedemp (“Jy verloor later belangstelling … Daar kom nie nuwe persepektiewe nie.”) Oor homoseksualiteit laat val hy goed soos “ek dink nie dis ’n aangebore aanleg nie,” en oor selfdegeslagverhoudings verwys hy veral na die onderskeid tussen kernsake en randsake. “Dis ’n tipe ding onder Afrikaners, as ek verskil, loop ek … Terwyl die vraag is, waaroor verskil jy? Is dit goed wat die moeite werd is om oor te loop, jy weet?”

Strauss voel wel sterk daaroor dat die NG Kerk “in die breë moet standpunt hê”. En dat die AS koördinerend moet optree. “Die kern is jou belydenisskrifte, die genade, die Skrif alleen, die Solas van die Reformasie. Dit is die goed wat ons bind. Ons kan verskil oor ander sake, want kerkeenheid word gebou uit kernsake, nie uit periferiese goed (randsake) nie,” verduidelik hy, nou weer volstoom in dosentmodus.

Strauss, die voormalige hoofleier van die Voortrekkerbeweging, werk graag met ’n teorie uit die gedragswetenskappe waar hulle praat van die leierskapdriehoek “wat te make het, nommer een, die taak, nommer twee, die groepsgevoel waarbinne jy opereer en dan die individu … kerkreg sal dit presies so vir jou sê: Jy moet dit so toepas dat die groepsgevoel daarby baat, maar dat die inidividu gemotiveer raak,” verduidelik Strauss. Hy gaan voort: “Want enige groep bestaan oor hy ’n taak het, al is die taak net ’n sosiale taak, jy weet.”

Kommentaar

Daniel Louw

In die video-onderhoud sê Piet Strauss:

Le Roux Schoeman: Wat is randsake vir die kerk? Hoe bepaal mens wat is ‘n randsaak vir die kerk?

Piet Strauss: Dit gaan oor goed soos God drie-enig, deur die genade alleen, deur die geloof alleen. Dit is almal kernwaarhede. En wat die nagmaal vir ons wil sê – dat dit die geloof versterk. Dit is ‘n kernwaarheid. Die hele kwessie van die doop – dat jy gedoop word as verbondskind om ingelyf te word in God se verbond van genade. Dit het te make met jou verlossing, jou redding. Dit het te make met God wat jou vry maak. Dit is nie randsake nie. Dit is kernsake. … homoseksualiteit of selfdegeslaghuwelike. Ek sou sê dat dit nie ‘n kernsaak is nie en om daaroor kerk te skeur sou regtig ‘n bietjie dwaas wees. Dit gaan teen die bedoeling in van mense wat sê ons vorm ‘n gereformeerde kerk. ‘n Gereformeerde kerk sê ons hou aan dieselfde belydenis vas en die belydenis skep ons eenheid, maar om te kan reformeer … moet jy kan verskil met die kerk. En as dit nou gaan oor periferiese goed waaroor jy verskil en jy skeur daaroor kerk dan kan jy glad nie hervorm nie.

Dit is om die minste te sê, uiters teleurstellend. ‘n Mens wonder of Piet Strauss ook sondes soos egbreuk, bestialiteit, diefstal, moord en valse getuienis as randsake sou sien.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui