Kyk ook: |
Sommer met die intrapslag moet ek openbaar dat ek nog nooit ʼn lid van die NGK is/was nie. Ek is egter besorgd oor wat in die NGK gebeur, siende dit (vir tyd en wyl nog) die grootste Christelike denominasie vir Afrikaanse mense is en die gesondheid van die NGK ʼn redelike goeie barometer is van die geestelike gesondheid van Afrikaanse mense.
Die onlangse nuus dat die Vrystaat Sinode oorweldigend nee gestem het vir die wysiging van artikel 1 van die Kerkorde, dat die Noord-Kaap Sinode nee gestem het en dat Namibië nie voldoende ja gestem het om as ʼn ja getel te word, het heelwat gesprekke op sosiale media tot gevolg gehad. In reaksie hierop het ek plek-plek kommentaar gelewer. Ek het toe besluit om my kommentare te konsolideer in ʼn artikel.
Een van die punte rondom hierdie kwessie handel oor die stemmery verbonde met die voorgestelde wysiging van artikel 1 van die Kerkorde. Soos ek dit verstaan, stem gemeentes daaroor, dan blykbaar die provinsiale sinodes en dan die algemene sinode. Blykbaar moet elke vlak iets soos twee-derdes ja stem om as ja getel te word en die ja moet op al die vlakke wees alvorens dit ʼn JA is.
Vir wat dit werd is, is ek van mening dat hierdie stemmery slegs op gemeentevlak afgehandel moet word. Die aanname is tog dat almal wat stem hieroor dit biddend gedoen het en derhalwe gelei word deur die Heilige Gees. Dit blyk egter dat ʼn gemeente se afgevaardigde na ʼn sinode nie dieselfde hoef te stem as sy/haar gemeente nie. Die blote feit dat hierdie sinodeafgevaardigdes anders kan stem as hulle gemeentes laat ’n wrang smaak in die mond. Dit sê basies dat die Here ’n ander boodskap gee vir die afgevaardigde as vir die gemeente. En dit liewe vriende is niks anders as (myns insiens) geldige ammunisie vir die ateïste in hulle stryd teen die Christendom nie.
Ek kan ook nie verstaan hoekom moet daar op al die vlakke gestem word hieroor nie. As alle lidmate tog hieroor stem, dan het alle lidmate gestem en dan is die stem van die liggaam van Christus, soos vergestalt deur die NGK, gehoor. Dit blyk dat daar die gevoel is dat die Here dalk duideliker praat met afgevaardigdes na sinodes toe en veral na hogere sinodes toe.
ʼn Volgende punt handel oor die behoud van kerkeenheid, oftewel die vermyding van kerkskeuring.
Hierdie kleitrap rondom die behoud van kerkeenheid bo alles is myns insiens reguit van die Duiwel. As die Here so sterk gevoel het teen kerkskeuring sou die Reformasie nooit plaasgevind het nie.
Hierdie hele onding gaan oor niks anders as mag, geld en politieke gedienstigheid nie. Die moderamen is desperaat om die ledetalle op te kry, want dit vergroot die bydraebasis en gee meer politieke mag. Die NGK bloei lede omdat sy as kerk irrelevant geraak het. Die kerk se plig is om siele te wen en te behou. Die kerk hoort nie in die politiek nie. Laas toe dit gebeur het, het ons die teologiese regverdiging gehad van apartheid. Nou pluk my geslag die wrang vrugte daarvan omdat die Here blykbaar van plan verander het.
Hierdie hele voorgestelde nie-besluit om artikel 1 te wysig sodat daar ruimte gelaat word vir opsionele aanvaarding van die Belydenis van Belhar is niks anders as ʼn polities-gedrewe polka om die beeld van ʼn leliewit kerk wat apartheid aangeblaas het af te skud nie. Enigiemand wat dink dat Plaatjies – van der Huffel en die res van die VGK nie dwarsdeur hierdie belaglike voorstel sien nie, is naïef. Of berekend. Daar is geen manier waarop die VGK iets anders as ʼn volwaardige aanvaarding en aanbidding van die Belydenis van Belhar sal aanvaar nie. Die huidige voorgestelde nie-besluit maak van Belhar ʼn stiefkind. Óf al die belydenisskrifte moet opsioneel wees (wat beteken die NGK staan eintlik vir niks nie), óf almal moet volwaardig aanvaar word.
Persoonlik het ek nie ʼn saak of die NGK Belhar aanvaar of nie. Die manier waarop dit aanvaar word en die rede waarom dit aanvaar word moet egter reg wees, wat tans nie die geval is nie. Dit is tyd dat die NGK haarself weer spits op die Groot Opdrag en politiek vir politici los en daarop fokus om siele te wen vir die Koninkryk!