‘n Skrifgetroue Geloofsfamilie fokus op die Boodskap van verlossing in Leer en Lewe

Die volgende is aangebied deur Chris van Wyk tydens die Kairos Netwerk se Familie van Gereformeerde Gemeentes van Suid-Afrika (FGGSA) op 22 Julie 2022.

*******

‘n Skrifgetroue Geloofsfamilie fokus op die Boodskap van verlossing in Leer en Lewe

Leer en Lewe

Pinksterdag 25 Mei 33 nC is vir ons almal ’n baie bekende en betekenisvolle gebeurtenis. Dit is die geboortedag van die kerk met die uitstorting van die Heilige Gees. Petrus en die ander Geesvervulde dissipels het die skare Jode wat verstom was oor die gebeure toegespreek en ongeveer drieduisend mense (psuchai – “siele”) het tot bekering gekom (Hand 2:41).

Binne dae het die getal gelowiges aangegroei tot meer as vyfduisend manne (andrôn) wat uiteraard meer was as die vroue en kinders bygetel is (Hand 4:4). Verstommende groei! Die Here het daarby daagliks verlostes by hulle getal gevoeg.

En wat het dié verlostes gedoen?

Lukas vertel vir ons dat:

Hulle bly volhard het in die leer van die apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede.” (Hand 2:42).

En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg.” (Hand 2:47).

Leer en lewe in ’n ewewigtige verhouding. Wat hulle geleer het by die apostels het hulle uitgeleef teenoor mekaar en teenoor die Here. Jy kon hulle lewe toets aan hulle leer, en hulle leer aan hulle lewe, want daar was ’n kongruensie, ’n ooreenkoms, ’n ooreenstemming.

En dié boodskap het alles te make gehad met verlossing, soos Petrus hulle aanmoedig:

“Laat julle uit hierdie korrupte geslag red.” (Hand 2:40)

Eenstemmig

Strewe na eenstemmigheid, eerder as diversiteit.

Paulus sou later aan die Korintiërs skrywe in lyn hiermee dat verlostes moet strewe na eenstemmigheid, onder andere oor die kernsake van leierskap, seksualiteit, en gawes:

10Ek pleit by julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees, en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging.” (1 Kor 1:10)

Daarmee het hy dit as die reël in die kerk van die Here Jesus Christus erken, dat hulle nie net eensgesind sal wees nie, maar eenstemmig, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging. Want, dit is wat verlostes doen!

Eenstemmig in 1 Korintiërs 1:10 is letterlik in die Grieks: “dat julle almal dieselfde ding sê” (auto legête pantes). John Barry van Faithlife sê hiervan dat:

“Paul means that the Corinthian believers should all agree on how the Spirit works among them and the type of values that Christ would have them to hold — both of these things Paul clarifies within this letter. If the Corinthian Christ followers don’t say the same thing about what Christ expects of them and how the Spirit works among them, it will be difficult for people to find their message (and Christ Himself) reputable; thus, they will end up convincing others not to believe.”

Eensgesind is dus om “verenig” te wees in dieselfde gedagtes en oortuigings sodat die boodskap wat van die geloofsgemeenskap af uitgaan “eenstemmig” sal wees. Dat jy dieselfde goed by almal wat die Here Jesus volg, sal hoor.

Diversiteit is nie die Bybelse manier van doen nie

Diversiteit in denkwyse en oortuiging is dus nie die Bybelse manier van doen nie. Dit bring altyd verdeeldheid en is nie in lyn met die evangelie wat die Here Jesus aan sy apostels geleer het nie. En dit is nie in lyn met die leer van die apostels waarop die kerk van die begin af gefokus het nie.

En ons sien telkens hoe hierdie “leer van die apostels” die basis was vir die manier van dink en die manier van lewe van die kerk van die eerste paar eeue.

Irenaeus skryf bv in sy “Against Heresies” in die 2de eeu nC dat ons luister na wat gegee is deur die historiese nalatenskap van die Skrif, nie na die lewende woord soos die Gnostiese dwaalleraars daardie boodskap verdraai en verander het soos hulle wou nie.

Want, die Skrif, OT en NT, is die enigste basis waarop leer en lewe gebaseer kan word. Hy het sterk vir die eenheid van die Bybel opgekom en veral die inkarnasie van Jesus beklemtoon, dws dat Hy waarlik mens en God was.

Dit is interessant dat Irenaeus ook dit belewe het dat die Gnostici baie keer nie die kerk wou verlaat nie.

“Instead, they claimed to be offering a superior and more authentic exposition of Holy Scripture, though, of course, this was only for the ‘superior souls’ (‘the spiritual’, ‘the pneumatic’); the common folk (‘the psychic’) were left to get on with their crude practices. (Von Balthasar, H.U. (1990) “Introduction,” in Saward, J. (tran.) The Scandal of the Incarnation: Irenaeus Against the Heresies. San Francisco: Ignatius Press, p. 1.)

Leer en Lewe in gedrang

Nou, soos Irenaeus hom moes verset teen die dwaalleringe van die Gnostiek, en ’n Luther later hom moes verset teen die dwaalleringe van die Pous, is ons in ’n soortgelyke situasie waar die “leer van die apostels” in gedrang is. Waar diversiteit eerder as die waarheid van die Skrif alleen, en dan spesifiek Sola et Tota Scriptura – dws alleen die Skrif en die hele Skrif – deur ons kerk gevier word.

Ek dink almal hier is goed bekend met die situasie rondom die skuiwe wat daar in leer en lewe die afgelope vier dekades in ons kerk gekom het. Dit is omvattend. En diepgaande.

Ek het self al heelwat daaroor geskryf en onder andere die skuiwe van 1986 tot 2019 in terme van Skrifgesag en Skrifgebruik aangetoon in vier video’s verlede jaar. Dit kan op ngkerksomerstrand.co.za bereik word op ons Youtube kanaal.

Net een voorbeeld van die skuiwe in die Algemene Sinode waaroor minder geskrywe word:

  • Die Algemene Sinode het in 2015 die verslag Wetenskap en teologie (Geloof) ter tafel geneem waarin die Bybelse uitsprake sowel as die uitsprake in die Nederlandse Geloofsbelydenis (artikel 12) oor die skepping en die bestaan van bonatuurlik wesens as nie-rasioneel en nie-empiries afgemaak word. Dit is in dié dokument geïllustreer met verwysing na die verhale in Genesis 1-3 oor die skepping sowel as die verhale van Jesus wat demone uitdryf in Markus 5. Om daardie tekste vir ‘n moderne samelewing verteerbaar te maak, is voorgestel dat jy dit simbolies of sakramenteel lees. Jy hoef dan nie die werklikheid daarvan te aanvaar nie. Jy hoef net die simboliek daarvan te aanvaar, want deur só ‘n lees hoor jy die “goddelike” in die teks. Dieselfde gebeur met die hantering van NGB 12 waarin God se skepping van bonatuurlike wesens bely word. Daar word in die verslag van ATLAS eksplisiet gesê dat ‘n mens ‘n onreg aan die teks van die NGB aandoen: “as ‘n mens rasionele en empiriese kategorieë wil aanlê in die vertolking van die inhoud daarvan.” Dws, engele en ander hemelse wesens bestaan nie, want ons kan nie hulle bestaan wetenskaplik verifieer nie. Dit is nie rasioneel of empiries bedoel nie. Maar, dan geld dieselfde mos vir God? Want Hy is ook nie wetenskaplik verifieerbaar nie!
  • Hoewel die verslag net as gespreksdokument goedgekeur is, het dit eksplisiet ‘n hermeneutiese benadering tot die Skrif aanbeveel wat bedoel is: “om die NG Kerk se perspektief op die verhouding tussen ons Christelike geloof en die wetenskap te verwoord.” Daarom is sinodes gevra om dié benadering nie net te ondersteun nie, maar finansiële en logistieke hulp te verskaf om dié benadering in sinodes te ondersteun.

Dit is benewens die skuiwe wat van ‘n grammaties-historiese na ‘n histories-kritiese hermeneutiek gekom het. Wat afgewys is in 1986 is nou die voorkeur hermeneutiek. Soos een dosent by ‘n konferensie in Stellenbosch in 2015 gesê het, ons lees nie meer die lewe deur die bril van die Skrif nie, maar die Skrif deur die bril van die lewe. Die lesers-perspektief troef vandag die skrywers van die Skrif.

En laat niemand jou vertel dat daar nie wyd en syd hieroor op vergadering na vergadering gepraat is nie. Honderde gravamina, artikels, briewe en standpunte van leraars, lidmate, gemeentes, ringe en sinodes is gelewer. Sonder enige sukses, want die mantra is diversiteit, hoewel selfs dié diversiteit vandag al hoe meer eensydig raak.

Ek kan getuig van my eie stryd van binne die sisteem. Ek het op verskeie verhoë in ons sinodes oor hierdie skuiwe in ons Skrifverstaan gepraat. In die Wes-Kaap by ‘n konferensie in George. In KwaZulu-Natal by hulle predikante konferensie. In Goudland by hulle predikante konferensie. En natuurlik ook in my eie sinode, die Oos-Kaap, met ‘n versoekskrif in 2016.

Ek het ook telkens in gesprek getree met die ASM en die Algemene Sinode met vier Gravamina van 2016 tot 2019. Met min sukses. My versoekskrif by my eie sinode is nie eers ter tafel toegelaat in 2016 nie.

Nie een van my gravamina se aanbevelings is ooit bespreek of vir besluitneming aan die Algemene Sinode gestel nie. Soos dit die geval was met al die ander beswaarskrifte, behalwe twee, dié van Noord-Kaap in 2016 en dié van Wes-Kaap in 2019.

Ek het in die laaste tyd my fokus verskuif na die probleme met ons Teologiese Opleiding, eers met briefwisseling in Kerkbode, en – ná die veldtog teen my – direk in gesprek met die Kuratoria, die voorsitter van die Algemene Kuratorium sowel as die dagbestuur van die Kuratorium in Stellenbosch.

Die aanleiding daarvoor was ‘n hele aantal studente wat hulle probleme met die standpunte van dosente op skrif gestel het en my vertrou het daarmee.

Na baie moeite en gesprekke en protokolle wat ontwerp moes word deur die Kuratoria, is nog net een van die sake wat ek namens die studente aangeroer het, in proses geplaas dat ’n ring ’n beslissing moet gee.

Dit is net nie goed genoeg nie!

Waarom is dit so in ons kerk?!

Ek dink dit is omdat die meerderheid van die kerklike leierskap sowel as bykans alle teologiese opleiding in die kerk ‘n keuse gemaak het vir diversiteit in standpunte en doodgewoon niemand aanstoot wil gee deur ‘n keuse uit te oefen vir een standpunt bó ‘n ander. Vandaar die 2019-besluit wat dit aan almal oorlaat om te besluit hoe hulle dink oor selfdegeslagverhoudings.

Maar, dit is ’n fundamentele fout, eintlik ‘n drogredenasie. Geen kerk wat diversiteit omhels het in leer en lewe het nog ooit staande gebly nie. Vra maar vir Nederland!

Jy kan nie sonder sterk eenstemmige standpunte in leer en lewe getrou bly aan die boodskap van die Skrif nie. ’n Koninkryk wat ten homself verdeeld is, kan nie staande bly nie.

Die vraag is egter hoe nou verder?

Twee boeke

Twee boeke het ’n groot indruk op my gemaak die afgelope tyd in my nadenke hieroor. Albei skrywers skryf oor die impak wat die kultuur op geloof het – en dit sluit natuurlik die impak van die kultuur in wat in die kerk oorheers.

En wat ons respons daarop moet wees.

Rob Dreher: Live not by Lies.

Die eerste perspektief is uit die boek van Rob Dreher: Live not by Lies.

Dreher skryf oor ’n progressiewe anti-Christelike kultuur wat in die Weste posvat. Dreher sê:

“A progressive—and profoundly anti-Christian militancy—is steadily overtaking society; one described by Pope Benedict XVI as a “worldwide dictatorship of seemingly humanistic ideologies” that pushes dissenters to society’s margins. Benedict called this a manifestation of “the spiritual power of the Antichrist.” This spiritual power takes material form in government and private institutions, in corporations, in academia and media, and in the changing practices of everyday American life. It is empowered by unprecedented technological capabilities to surveil private life. There is virtually nowhere left to hide.”

Ons leef in ’n post-Christelike wêreld. Wat op die spel is, is die voortbestaan van die tradisionele familie, van manlike en vroulike geslagsrolle, en selfs van die heiligheid van lewe. Dit is ’n wêreld waarin die samelewing al hoe minder waardering het vir die Christelike beginsels rondom familie, geslag, en lewe. Ons lewe in wat Dreher noem ’n “sagte totalitêre sisteem.”

Dreher vergelyk dit met die “harde totalitêre sisteem” van die Kommunisme en pas die lesse wat die Christelike gemeenskap in só ’n onderdrukkende sisteem geleer het, op ons eie situasie vandag toe.

In wese stel Dreher voor dat ’n mens doodgewoon nie saamwerk met die heersende kultuur nie. Kultuur natuurlik in die eerste plek verstaan as die samelewing waarin ons woon en werk, maar in die tweede plek ook as die kultuur wat heers in ’n geloofsgemeenskap. En waarvan jy agterkom dat dit al hoe meer wegbeweeg van die ortodokse leer en lewe rondom familie, geslag en lewe.

Dreher se inspirasie kom van Alexander Solzhenitsyn.

Op die dag van sy inhegtenisneming in Moskou—12 Februarie 1974—het Aleksandr Solsjenitsyn gepubliseer wat sy laaste boodskap aan die Russiese volk sou wees voordat die regering hom na die Weste verban het. In die titel van hierdie vermaning het hy die Russiese volk aangemoedig: “live not by lies!

Wat het dit beteken om volgens leuens te lewe? Dit het beteken, skryf Solzhenitsyn: “accepting without protest all the falsehoods and propaganda that the state compelled its citizens to affirm—or at least not to oppose—to get along peaceably under totalitarianism. Everybody says that they have no choice but to conform and to accept powerlessness. But that is the lie that gives all the other lies their malign force.”

Hy sê as ‘n toegewing vir die Russiese bevolking: “We are not called upon to step out onto the square and shout out the truth, to say out loud what we think—this is scary, we are not ready,” he writes. “But let us at least refuse to say what we do not think!”

Byvoorbeeld, sê Solzhenitsyn, ’n man wat weier om volgens leuens te lewe:

  • Sal niks sê, skryf, bevestig of versprei wat die waarheid verdraai nie.
  • Sal nie na ’n demonstrasie gaan of aan ’n kollektiewe aksie deelneem, tensy hy werklik in die saak glo nie.
  • Sal nie deelneem aan ’n vergadering waarin die bespreking gedwonge is en niemand die waarheid kan praat nie.
  • Sal nie stem vir ’n kandidaat of voorstel wat hy as “twyfelagtig of onwaardig” beskou nie.
  • Sal uit ’n geleentheid stap “as soon as he hears the speaker utter a lie, ideological drivel, or shameless propaganda.”
  • Sal nie joernalistiek ondersteun: “that distorts or hides the underlying facts.”

Ek wonder of jy hiermee kan identifiseer? Of jy dit begin toepas, nie net in die samelewing nie, maar ook in jou eie kerkomgewing? Nie meer sekere koerante lees nie? Miskien ook nie Kerkbode nie? Nie meer sekere vergaderings bywoon nie? Dolleer? Jou stem dik maak in die sosiale media oor sake en mense waarmee jy nie saamstem nie?

Ons het so pas in die Oos-Kaap ons sinodale padberade afgehandel. Een van die gespreksonderwerpe was selfdegeslagverhoudings.

  • Ons het leraars gevra of hulle selfdegeslagverhoudings aanvaar. 69% het gesê nee, nie persoonlik nie.
  • Ons het ook gevra of hulle met die AS 2019-besluit saamstem dat almal self kan besluit. 57% het gesê ja, hulle stem saam. Al verskil hulle teologies.

Ek wonder hoe ‘n mens daaroor moet oordeel in die lig van wat Rob Dreher sê?

James Hunter: To Change the World

Die tweede perspektief kom uit die boek van James Hunter: To Change the World

Hunter skryf oor dieselfde tipe veranderinge in die Weste. En vra die vraag hoe ’n mens as Christen moet lewe in die “late modern world.”

Hy het egter ’n bietjie van ’n ander invalshoek, waarin hy nie net die onthutsende veranderinge in die samelewing beskryf nie, maar ook die ironiese en tragiese veranderinge in die Christelike gemeenskap uitlig.

Hy bespeur groot verskille tussen die ortodoksie wat aan ons oorgelewer is, en die wyse waarop die Christelike geloof in die publieke terrein uitgelewe word.

En gaan terug na die kultuuropdrag van Genesis 1-2 om ’n antwoord te gee vir hoe die kerk in ’n komplekse en verwarrende wêreld sy roeping weer sal herontdek.

Hunter stel voor dat ’n mens ’n “faithful presence within” handhaaf in die heersende kultuur. Weereens ook bedoel as die kultuur van die samelewing waarin jy woon en werk. Maar dan ook in die kultuur wat heers in jou geloofsgemeenskap. En waarin doelbewus teruggekeer word na die ortodokse verwoording van ons geloof.

Maar, in stede daarvan om net te onttrek van die heersende kultuur of dit aan te val, sê hy ons moet self skeppers van kultuur raak.

“The only way to change culture is to create more of it.”

Eggos van Reinhold Niebuhr se “Christ transforming culture.”

Hy maak in die proses baie van die feit dat ’n mens nie net as individu ’n verskil kan maak nie, maar as deel van institusies of netwerke.

“I would argue (along with many others) that the key actor in history is not individual genius but rather the network and the new institutions that are created out of those networks. And the more “dense” the network—that is, the more active and interactive the network—the more influential it could be.”

En dan sê Hunter:

“the main reason why Christian believers today (from various communities) have not had the influence in the culture to which they have aspired is not that they don’t believe enough, or try hard enough, or care enough, or think Christianly enough, or have the right worldview, but rather because they have been absent from the arenas in which the greatest influence in the culture is exerted.

Hy stel dus voor dat ons nie onttrek (soos die konserwatiewes) of omhels (soos die liberale) nie, maar teenwoordig word!

“A theology of faithful presence means a recognition that the vocation of the church is to bear witness to and to be the embodiment of the coming Kingdom of God.”

Hunter sê dat ons nie die spanning hiervan moet probeer verlig – deur te onttrek of aan te val of te omhels – soos wat dit telkens die geval was met teologiese konserwatiewes sowel as teologiese progressiewes nie, maar om die uitdaging te aanvaar om in hierdie wêreld te lewe, maar nie deel daarvan te word nie. Die oplossing lê in ’n hernude oorgawe aan Christus en die koms van sy koninkryk in hierdie wêreld.

Hy kies dus vir ’n dialektiek van: “affirmation and antithesis.”

  • Affirmation is based on the recognition that culture and culture-making have their own validity before God that is not nullified by the fall.
  • Antithesis is rooted in a recognition of the totality of the fall. In this light, all human effort falls short of its intended potential, all human aspirations exist under judgment, and all human achievement is measured by the standards of the coming kingdom.

Albei is dus nodig. En interessant, Hunter is bewus daarvan dat bevestiging ook net só ver kan gaan.

“However much Christians may be able to affirm in the world, the church is always a ‘community of resistance.’”

Daarom is sy model een wat hy noem: “Faithful Presence Within.”

Ek wonder met wie jy die meeste identifiseer?

Wat is jou eie respons op wat in ons kerk en samelewing aan die gang is?

  • Live not by Lies. Weier jy om langer saam te werk? Lewe jy nie meer saam met die leuen nie. Ontbloot jy die leuen?
  • Faithful Presence Within. Probeer jy ’n verskil maak? Is jy betroubaar binne besig, faithfully present within? Bevestigend en Bestrydend?

Kom ons kyk met hierdie twee boeke se perspektiewe as lense weer na die verhaal van Handelinge 2. Dat ons kan leer by die eerste gemeente van die wyse hoe hulle met leer en lewe omgegaan het.

Leer en Lewe in samehang – Jesus

As jy oor leer en lewe dink, moet ’n mens natuurlik eers in die Evangelies begin om die impak van Jesus te verreken. Soos Lukas dit byvoorbeeld vertel. En ons sien in Lukas hoe Jesus volledig teenwoordig geraak het, as God-mens, om God in al sy volheid binne in hierdie wêreld, en binne die Joodse godsdiens, te openbaar. Jesus het niks teruggehou nie. Deur sy voorbeeld. Deur sy woorde, werke en wonders. Deur indiensopleiding. Deur sy lyding, kruisdood, en opstanding. Hy was en is waarlik Immanuel, God met ons. Hy het die driedelige OT – die Tenak: tora, nevi’im, en ketuvim: die wet, profete en geskrifte – vervul met sy leer en lewe en dit aan sy dissipels toevertrou om deur die Groot Opdrag die nasies te leer om dit te onderhou (Mat 28:19).

Hy was absoluut “Faithfully Present Within.” En Hy het terselfdertyd nie volgens die leuen geleef nie. “Live not by Lies!

Leer en Lewe in samehang – Petrus

Maar, dit is nie al nie. Lukas skryf ook in Handelinge verder, want met Jesus se hemelvaart word die deur geopen vir die impak van die Gees. Op Pinksterdag het die Heilige Gees gekom om die verlossing van Jesus te bring vir die hele wêreld en om alle gelowiges in die Waarheid te lei. Om te sorg dat die gesonde leer tot ’n gesonde lewe lei, en omgekeerd te sorg dat die leer suiwer bly in die lewe van God se mense.

Daarom verkondig Petrus die Waarheid aan die Joodse volk en hulle leiers met die oog op hulle verlossing, soos ons in Handelinge 2 lees.

Let op dat Petrus in sy toespraak namens die ander dissipels nou onomwonde sê, maar ek ken dié Man! Hy lewe self nie meer in die leuen van sy verloëning nie. Hy leef in die vergifnis en verlossing wat Jesus vir hom by die see in daardie wonderlike gesprek oor die liefde gegee het, soos Johannes 21 dit vir ons vertel. “Live not by Lies!”

En Petrus verkondig nou onomwonde die waarheid. Hy wys helder die sondes van die Joodse leiers en die Joodse gemeenskap uit. Dws, hy is “Faithfully present within.

En, dan verkondig hy die verlossing wat nou moontlik is.

En die werk van die Gees raak sigbaar in die harte van die Jode, want dit is wat die boodskap van verlossing telkens doen by mense wat God na Hom toe trek:

37Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?”

Met nog baie ander woorde het Petrus getuig – hier hoor ons ’n sleutelkenmerk van die eerste kerk, marturia – en hulle aangespoor:

“Laat julle uit hierdie korrupte geslag red.” 41Diegene wat sy boodskap aangeneem het, is gedoop, en op daardie dag is ongeveer drieduisend mense (“siele”) toegevoeg.

Leer en Lewe in samehang – die eerste gemeente

En waarop fokus die eerste drieduisend bekeerlinge? Soos ek in die begin dit aangehaal het:

42“Hulle het bly volhard in die leer van die apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede.”

Dit is die sleutelkenmerke van ’n lewende groeiende kerk, leer en lewe in samehang.

Hier sien ons ’n verdere drie van die kenmerke van só ‘n gemeente: die didache of kerugma – die leer van die apostels – die koinonia – die onderlinge verbondenheid – sowel as die liefdesmaal – die breek van die brood – en die leitourgia – die gebede. En ’n mens sien hierna oorvloedige verhale van die noodsaaklike diakonia en marturia, die diens en getuienis, wat deel vorm van die sleutelkenmerke waarop die kerk deur die eeue sou fokus.

Let op hoe die vroeë kerk gefokus het op die redelike of rasionale komponent van die evangelie – die Skrif soos geïnterpreteer deur Jesus en aan hulle oorgelewer – sowel as op die gemeenskap komponent – die onderlinge verbondenheid, die breek van brood – en die gemeenskap met God – die gebede .

Lukas sê verder vir ons:

“En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg.”

Wat wonderlik is om raak te sien in Handelinge soos die verhaal ontvou is dat die gelowiges nie net bly in die veilige ruimte van die huiskerke nie. Nee, hulle kom daagliks in die tempel bymekaar, in die publiek, en verkondig in woord en daad dat Jesus die Here is. Só sou dit wees met die verspreiding van die evangelie regdeur die wêreld.

En dit sou só bly, al het die reaksie – trouens baie sterk reaksie – natuurlik nie uitgebly het nie. Hulle is in hegtenis geneem, verhoor, in die tronk gegooi, gedreig, selfs doodgemaak… maar dit het hulle nie gestop om te volhard met die verkondig van die boodskap en die getrouheid in leer en lewe aan die boodskap van Jesus Christus nie. Soos hulle van Jerusalem verdryf word, preek hulle in die sinagoges en in die vergadersale, in huise en paleise, want daar is geen ander Naam deur wie mense gered kan word nie (Hand 4:12).

Wat leer ons by die eerste gemeente?

Terug by my vraag oor Rob Dreher en James Hunter, hierdie keer toegepas op die eerste kerk.

  • Live not by Lies? Wat het die eerste gelowiges gedoen met die leuen? Hulle het onomwonde die waarheid verkondig. Oral. Selfs in die tronk. Selfs in ‘n martelaarsdood. Hulle het self in die waarheid geleef. En hulle het getuig van dié waarheid. En dit het teregwysing en vermaning ingesluit!
  • Faithful Presence Within? Het hulle ’n verskil probeer maak, binne die sisteem? Was hulle “faithfully present within”? Ja. Hulle het nie teruggedeins vir die uitdaging om die waarheid in ’n vyandige omgewing te verkondig, en ’n verskil te probeer maak aan die mense se lewens met wie hulle skouers geskuur het nie.

Trouens, deur steeds die tempel te besoek, deur steeds in die sinagoges saam met die Jode regdeur die wêreld te aanbid, maar ook op hulle eie as gemeentes saam te kom, het hulle albei gedoen. Getrou gebly aan die waarheid – die leer van die apostels. Getrou gebly aan die gemeenskap van bekeerlinge – die onderlinge verbondenheid, die breek van die brood (hulle sou hierna gelyke behandeling instel vir die Hebreeuse sowel as die Griekse weduwees). En Getrou gebly aan God – die gebede en die getuienis.

Die boodskap aan ons

Hierdie boodskap is eerstens vir elkeen van ons. Ons het die boodskap van verlossing. Ons bied lewe aan deur bekering.

Maar, ons moet tweedens self deeglik dink oor die manier waarop onsself oorkom in hierdie wêreld. Ons is nie hier om af te kraak en te veroordeel nie. Tereg te wys, ja. Te vermaan, ja. Veroordeel, nee. Daardie voorreg behoort net aan die Here.

Live not by Lies. Faithfully present within. Beide – bevestigend en bestrydend.

Ek het gehou van die paar wenke wat Rob Dreher gee vir ’n kerk of ’n geloofsgemeenskap wat opstaan teen die leuen:

  • Families wat hulle kinders leer hoe om in hierdie wêreld te lewe, is ’n noodsaaklikheid. Die tradisionele familie is ’n “survival strategy” in ’n wêreld wat op leuens gebaseer is.
  • Gemeenskap met ander gelowiges wat dieselfde waardes as jy het, wat dieselfde dinge glo. Dit is wat die ondergrondse kerk agter die Ystergordyn staande gehou het. Dit is wat steeds die ondergrondse kerk in China staande hou, al kos dit hulle ’n prys.

Die boodskap aan die kerk

Maar, dan is dit ook ’n boodskap aan die breë kerk. Om tot inkeer te kom, om die Skrif weer sy regmatige plek te gee, om eenheid in die waarheid te soek, en nie diverse waarhede toe te laat nie.

Ons kan nie dit wat die Skrif absoluut en universeel verkondig relativeer nie. Dit is immers die kenmerk van die liberalisme – dat dit die absolute universele waarhede van die Skrif ontken en relativeer.

En “dit” sluit ’n hele reeks sake in wat die afgelope paar jaar in die NG Kerk gerelativeer is, óf in terme van besluite, óf in terme van die aanvaarding van diversiteit.

Dit sluit aspekte in van die:

  • Skrifgesag en Skrifverstaan (lees die Skrif deur die bril van die lewe);
  • Christologie (die opstanding, Jesus se Goddelike natuur);
  • Triniteitsleer (ons het Monoteïste onder ons);
  • Bestaan van geestelike wesens (alleen die empiriese werklikheid word aanvaar);
  • Seksuele norme (saamwoon, egskeiding, selfdegeslagverhoudings – die huwelik en familie is in gedrang);
  • Antropologie (gender en seksualiteit – menswees is in die gedrang);
  • Lewe (aborsie, genadedood).

Terloops, ons mag terselfdertyd ook nie toelaat dat relatiewe waarhede in die Skrif verabsoluteer word nie – rassisme en seksisme (lidmaatskap en die ampte) – want dit is die probleem van konserwatiewes. Ons het nodig om oor die kern sake onder beleg standpunt in te neem, en op te kom vir die drie kernsake: familie, geslag en lewe. Leer en lewe gebaseer op die Skrif.

Drie gebede – Psalm 125

Ek sluit af met ’n Psalm, die Psalm wat môre by bybelskool.com verskyn, Psalm 125.

Psalm 125 – Hulle wat op die Here vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, wat vir altyd vasstaan

1‘n Pelgrimslied. Hulle wat op die Here vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, wat vir altyd vasstaan. 2Jerusalem word omring deur berge; die Here omring sy volk van nou af tot in ewigheid. 3Ja, die goddelose septer sal nie rus op wat aan die regverdiges toegeken is nie, sodat die regverdiges nie hulle hande na onreg uitsteek nie. 4Here, doen goed aan die goeies, aan dié wat opreg is in hulle harte. 5Maar dié wat afdraai op kronkelpaaie – die Here sal hulle laat weggaan saam met dié wat onreg pleeg. Vrede oor Israel!

Dié Psalm vertolk die vertroue van die pelgrims op die Here. God is vir hulle net so onwankelbaar soos die Sionsberg waarop die tempel gebou is. Trouens, soos hulle na die omringende berge om Jerusalem kyk – omtrent soos ‘n muur van berge wat almal hoër was as die berg in Jerusalem – weet hulle dat die Here sy volk net só sal beskerm, van nou af tot in ewigheid.” Elke keer as hulle by Jerusalem aankom en die bekende simbole van hulle geloof sien, word hulle dus in dié geloof in God bevestig. God is net so onwankelbaar as die Sionsberg. Hy is net so beskermend soos die muur van berge om Jerusalem.

Dit ontlok in hulle die belydenis dat God se onwrikbare beskerming sal keer dat die: “goddelose septer” – die simbool van die gevaar van ‘n goddelose regering – nie vir altyd die regverdiges sal verguis, en hulle verlei word om self op ‘n onregverdige manier daarteen op te tree nie. Hiermee verwys die Psalmis na die goddelose heersers wat van tyd tot tyd oor hulle grondgebied die botoon gevoer het. Dit kan selfs wees dat hy verwys na van hulle eie heersers wat die Here nie gedien het nie.

Die Psalmis verlaat hom egter nie op die moontlikheid om die reg in eie hande te neem nie, maar op sy vertroue dat die Here nie sal toelaat dat goddeloses vir altyd sal oorheers nie. Daarom is sy belydenis ook ‘n implisiete afwysing van enige poging van die regverdiges om hulle hande met onregverdige optrede vuil te maak. Die enigste legitieme weerstand lê in die vertroue op God self. Daarom bid hy drie gebede vir en oor die geloofsgemeenskap:

  1. Here, doen goed aan die goeies, aan dié wat opreg is in hulle harte.” Dit is ‘n gebed wat ons ook in elke situasie waarin ons is, en waarin mense ná aan ons verkeer, kan bid. Ons mag God vertrou dat Hy alles ten goede sal laat meewerk vir dié wat Hy liefhet (Rom 8:28).
  2. Laat dié wat afdraai op kronkelpaaie, wat nie meer die reguit pad loop wat die Here in sy Woord uitspel nie (vgl Ps 119), begaan om hulle eie rigting in te slaan: “saam met dié wat onreg pleeg.” Waar jy die reg in eie hande neem, word jy immers nes die onregverdiges.
  3. Vrede oor Israel!” Dit is die belangrikste gebed wat ‘n mens eintlik vir enigiemand kan bid, want vrede sluit heelheid en oorvloed in, beide in terme van die lewe hier en nou sowel as die verhouding met God wat tot in ewigheid duur.

Wat gaan ons as Geloofsfamilie doen om reg te fokus?

Vrae vir paneelbespreking:

  • Wat kan ons doen om nie langer volgens die leuen te leef nie? In die kerk en die gemeenskap.
  • Hoe kan ons eenstemmigheid bevorder in leer en lewe? In die breë kerk en gemeente.
  • Wat kan ons doen om betroubaar teenwoordig te wees – bevestigend en bestrydend?
  • Hoe kan ons dit in die kerk en die gemeenskap doen?
  • Watter rol kan netwerke speel en hoe kan ons dit uitbou?
  • Wat kan ons doen in ons families om ons kinders paraat te maak?
  • En in die gemeente?
  • Wat kan ons doen om ‘n geloofsgemeenskap te vorm met dié wat dieselfde as ons glo en bely – in leer en lewe?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui