Kyk ook: |
Ek het onlangs ’n Ringsvergadering bygewoon, waar ons met kommer gepraat het oor die valse leerstellings wat in die kerk gepropageer word.
Stephen, een van die leraars, het vertel van ’n gebeurtenis wat hom steeds bybly. Hy en twee ander kollegas van sy gemeente het hulle by ’n vakansieoord afgesonder om die leiding van die Here te vra oor hulle werk in die gemeente.
Een aand was daar ’n beroering in die kamp. ’n Sterk wind opgekom het en dit het ’n vuur laat opvlam. Die vuur was reeds tot in die boomtoppe en die vonke het dwarsoor die kamp gewaai. Hulle het besef dat hulle ’n ramp in die gesig gestaar het, omdat die grasdakke aan die brand kon slaan.
Stephen het sy kollagas opgeroep om hulle hande op te hef na die vuur soos Moses saam met Aäron en Hur. Stephen het die Here gevra dat die wind moet draai. Toe gebeur daar iets merkwaardigs. Daar het oombliklik ’n totale windstilstand gekom. Die wind het weer begin waai, maar hierdie keer van die teenoorgestelde kant af. Die vuur is teruggestoot in die rigting waar dit vandaan gekom het. Daardie aand het die leraars in verwondering met mekaar gepraat oor ’n wonderwerk wat hulle beleef het.
Dit het my dadelik laat dink aan wat nou in die NG Kerk aan die gang is. By die Sinode in Wes-Kaapland wat in Mei 2019 plaasgevind het is die vuur van dwaling opnuut aangeblaas.
DIE BESLUITE BY WES-KAAPLAND is voorberei deur hulle taakgroep vir leer en aktuele sake en die lede van die moderamen. Wat het hulle besluit?
1. Punt 4. “Die sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg … tot ’n vasgelooptheid in die gesprek gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is”.
Dit is eerstens ’n misleidende bewering. Vir 2000 jaar het die Christendom geen onduidelikheid oor die wil van die Here ervaar aangaande homoseksuele verhoudinge nie. Liberale teoloë gee nou voor dat die kérk onderling verskil oor Skrifinterpretasie, maar in werklikheid is dit húlle wat in hierdie dae hardkoppig is en nie die Woord van die Here oor hierdie saak wil aanvaar nie.
Tweedens is die implikasie van die besluit enorm. Die Skrif is skielik nie meer bruikbaar vir die kerk in sy besluitnemingsprosesse nie. Dit beteken dat die kerk afstap van sy prerogatief om hom op die Skrif te kan beroep wanneer kerklike besluite in die hof uitgedaag word. Die Kerk lewer hom hiermee vrywillig uit aan die grondwet van die land en regters se interpretasies daarvan.
2. Punt 5. Die sinode beweer “dat die eenheid van die kerk …. nie verbrokkel wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg … verskil word nie.”
Dit is nie waar nie! Die opstellers van die besluit ignoreer die werklikheid dat daar groot skeurings in hierdie dae in kerke oor die wêreld plaasvind, presies oor dit waarmee hulle hier besig is.
3. Punt 10. Hier bereik die Sinode se besluite ’n hoogtepunt van misleiding as hulle besluit: “By die legitimasie en ordening van teologiese studente, moet die studente se: getuienis van leer en lewe, … integriteit van verhoudings, …. teologiese- en bedieningsvorming in ag geneem word, ONGEAG … SEKSUELE ORIËNTASIE EN -IDENTITEIT.”
Waaroor gaan dié “seksuele oriëntasie en -identiteit” wat so terloops ingevoeg word? Dit gaan oor LGBTQI+. Dit vra goedkeuring vir leraars wat in lesbiese-, homoseksuele-, biseksuele, en enige ander seksuele -verhoudinge leef. Wil die Sinode werklik vir die kerk besluit dat sulke lewenswyses nie met die “leer en lewe” van die kerk nie te doen het nie? LGBT is niks anders as ’n hedendaagse gestalte van die “leer van Bileam” (Openbaring 2:14) wat die Sinode nou aan die Kerk wil opdring nie.
Hoe gebeur sulke dinge by ’n kerklike vergadering wat veronderstel is om onder leiding van die Heilige Gees plaas te vind?
Getuienisse van mense wat vertel hoe hulle die sinode ervaar het
- “Ek was net 2,5 dae daar anders sou my gesondheid knak. Die Communitas-Kultus was in volledige beheer van alles van die begin af. (Communitas is ’n kerklike taakgroep in Stellenbosch wat oor verskillende onderwerpe vir gemeentes leiding gee). Dis ’n georkestreerde uitkomsgebaseerde kongres waar die Bybel net as verskoning gebruik word. Slegs lede van die Communitas-Kultus was gehoor en gesien regdeur. ’n Ondeurdringbare kordon waar ander stemme onwelkom is. Die “veilige ruimte” wat hulle skep is totaal eensydig en onveilig na die “ander kant” toe. Ek het lanklaas so ontuis gevoel. Ek kan nie anders as om te se dat dit ’n ander godsdiens is nie. Onder die een NG sambreel word verskillende godsdienste bedryf.”
- “Toe ek verlede week Woensdag tussen 15h00-18h00 deur middel van live stream die Wes-Kaap sinode sitting gevolg het, was dit vir my skokkend hoe die meeste afgevaardigdes dit glo wat aan hulle vertel word. Hulle sluk propaganda soos pille. Die mens bly altyd ’n kudde-dier wat agter sy leier aanloop, berg op en berg af, oor die vlakte en oor die afgrond.”
- Ek het betroubaar verneem van nog iemand wat so onsteld was oor die manier waarop sake by die Sinode gehanteer is, dat hy naderhand glad nie meer deel wou wees van die gesprek nie.
Die omvang van die vuuur blyk ook uit die volgende feite:
- Twee van die lede wat nou tot die moderamen van Wes-Kaap verkies is, was deel van die 11 persone wat betrokke was by die hofsaak teen hulle eie kerk se besluite.
- Die voorsitter/moderator van die vergadering, het teen sy eie Algemene Sinode se besluite gedraai en verklaar dat gay mense hulle oriëntasie as ’n gawe (van God) moet aanvaar.
- Hierdie mense sal almal sittingsreg hê by die komende Algemene Sinode. Daarbenewens kom 25% van die afgevaardigdes na die Algemene Sinode vanuit die Wes-Kaap (en hulle word via die moderamen aangewys).
- Om die kroon te span, dien punt 10 van die Sinode Wes-Kaapland as “prosesvoorstel” vir die die Algemene Sinode later vanjaar.
Daar moet geen illusies wees oor wat vir die NG Kerk voorlê nie. Diegene wat die vuur aanblaas is vol selfvertroue. Hulle het die media aan hulle kant. Dit is nie ’n vuur wat deur mense geblus kan word nie. Die vuur is net te groot.
Dit bring my terug by die verhaal van Stephen by die Ringsitting. Laat almal wat die kerk liefhet en die eer van die Here op die hart dra, hande ophef in gebed tot die Here.
“Waai, o Heilige Gees in hierdie dae oor U kerk. Waai die vure weg. Louter ons in hierdie vuur. Skep die onsuiwerheid af sodat die goud opnuut tevoorskyn kan kom.”