Kyk ook:
Kyk die volgende artikels wat reageer op Nadia Marais se artikel hieronder:
- Die geskenk van ’n liggaam (Dubois du Toit (jnr), 3 Okt 2023)
- ’n Suster se stem oor aborsie (Yasmin Olivier, 5 Okt 2023)
*******
Nadia Marais: Die geskenk van ’n stem – Kerkbode
02 Oktober 2023
Die aangrypende Millennium-trilogie, geskryf deur die Sweedse joernalis Stieg Larsson, vertel die verhaal van Lisbeth Salander – The girl with the dragon tattoo (2005), The girl who played with fire (2006), The girl who kicked the hornets’ nest (2007) – wat ’n slagoffer is van ’n reeks vergrype, insluitend verkragting, aanranding en poging tot moord. Sy word groot in ’n huis waarin haar pa haar ma gereeld aanrand, en word as ’n klein dogtertjie toegesluit in ’n psigiatriese hospitaal nadat sy verkeerdelik gediagnoseer word met psigopatie en skisofrenie.
Salander is egter baie meer as net ’n slagoffer van gendergebaseerde geweld. Sy neem die reg in eie hande en neem wraak op haar (en ander vroue wat verkrag en vermoor word) se oortreders. Haar sosiale vaardighede is swak, maar sy is terselfdertyd slim, selfstandig, en ontferm haar deurgaans oor diegene wat vertrap, verneder en geboelie word.
Dit is opvallend dat Larsson, wat in 2004 aan ’n hartaanval oorlede is (kort voordat sy boeke in Swede gepubliseer is), daarop aangedring het dat die eerste boek – in Engels bekend as The girl with the dragon tattoo – se Sweedse titel Män som hatar kvinnor behou moes word. Hy het so sterk daaroor gevoel dat hy geweier het dat hierdie boek gepubliseer word onder enige ander titel. Die titel waarop hy sou aandring is “mans wat vroue haat”.
Duidelik het Stieg Larsson en sy lewensmaat Eva Gabrielsson iets onheilspellend raakgesien in ’n samelewing wat op die oog af baie verdraagsaam, vriendelik en veilig vir vroue lyk. Vir ’n land wat gekenmerk word deur van die mees gelyke (en vrou-vriendelike) wetgewing ter wêreld, is die statistieke van gendergebaseerde geweld – wat Larrson in sy boeke aanhaal – angswekkend.
LEES OOK: Brief: Moenie mediasie met arbitrasie verwar
Dit is juis die punt, in hierdie boekereeks: op die oppervlak lyk dit asof vroue gelyke kanse ontvang, en hulleself in professionele beroepe as joernaliste en besigheidsmense en polisiebeamptes onderskei, maar inderwaarheid is daar in elkeen van die vrouekarakters se lewe mans wat hulle haat – en wat enigiets sal doen om hulle te verneder en te ondermyn.
Dit is opvallend – in ons gesprekke oor reproduktiewe gesondheid, en aborsie spesifiek – hoe vinnig en maklik dit wat ons werklik van vroue dink en vermoed na die oppervlak borrel. Eintlik is dit baie meer as opvallend: dit is vreesaanjaend om te hoor hoe een enkele woord, naamlik “aborsie”, in ’n kerklike gesprek die opening bied vir elke haatlike gedagte en vermoede oor vroue – uiteraard as morele en godsdienstige vroomheid vermom – om verwoord te word. Meteens kan enigiets oor vroue gesê en geïmpliseer word: ongeag hoe verregaande en belaglik, hoe onrealisties en onmoontlik, hoe liefdeloos en genadeloos, en hoe ongenaakbaar hard ook al.
Wanneer ons vanuit die staanspoor byvoorbeeld antisipeer dat vroue roekeloos (wil) seks hê, dat vroue nie getraak kan word deur die nuus dat hulle swanger is nie, dat swanger vroue aborsie as ’n maklike en eenvoudige oplossing vir ’n moeilike of ongewensde swangerskap sien, dat vroue bereid is om enigiets te doen om van ’n fetus ontslae te raak, dat vroue inderwaarheid die potensiaal het om fetusmarteling en babamoord te pleeg, sê dit meer van ons en ons vrouehaat as wat dit enigiets waar of reg of hoegenaamd realisties van vroue se komplekse en diep menslike ervarings en dilemmas en keuses en worstelinge reflekteer.
LEES OOK: Nadia Marais oor Afrikaans as geloofstaal: Praat ek mense-, eng’letale
Wanneer ons daarmee saam met min na geen kennis ván vroue se liggaam (erger nog: dalk selfs ’n totale gebrek aan belangstelling of afgryse ín vroue se liggaam) ’n gesprek probeer voer óór vrouens se liggaam en óór die dikwels onmoontlike situasies en keuses waarmee vroue gekonfronteer word, behoort ons ernstig onsself af te vra waarmee ons werklik besig is.
’n Besonder slegte begin aan so ’n gesprek sou wees waar vroue bloot nie voldoende teenwoordig is om selfs net die mees basiese waarhede oor hulle eie liggaam te kan verwoord nie – soos wanneer slegs 32% van afgevaardigde kerkraadslede na ’n Algemene Sinode waar aborsie bespreek gaan word vroue is, waar slegs 17% van afgevaardigde leraars vrouepredikante is, en waar daar minstens twee streeksinodes is wat nie een enkele vrouepredikant as leraar afgevaardig het nie.
Hoe anders verloop die verhaal van die vrou, wat ons slegs ken as “die owerspelige vrou”, van Johannes 8:1-11 daarteenoor egter nie. Hierdie naamlose en stemlose vrou word verneder en verketter deur die vroom en regsinnige Skrifgeleerdes wanneer hulle haar – maar nie haar manlike medepligtigte(s) nie – aankla van owerspel. In hierdie regsproses word sy geen kans gegun word om enigiets te sê nie: selfs nie eens om skuldig of onskuldig te pleit nie. Wanneer Jesus haar ’n stem gee, deur haar vrae te vra waarop sy kan reageer, gebruik sy haar stem om Jesus aan te spreek – dalk sou ons selfs kon sê bely? – as Here (kurios, in Grieks).
Wat ’n enorme verskil maak ’n stem nie, né.
Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as leraar gekoppel aan die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen.
Kommentaar
xxx