Nadia Marais | O, die goeie tyding?

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Nadia Marais | O, die goeie tyding? – Kerkbode

30 November 2023

Adventstyd is vir baie van ons goedvoeltyd, verloftyd, vakansietyd, rustyd. Ons sing in hierdie dae van die goeie tyding, die blye tyding – ja, oral hoor ons dis Kersfeestyd. Dit is ’n tyd van afwagting en hoop, want die Kind is op pad. In ons Kerssangdienste sing ons van die Christuskind wat met vreugde en onder geklank van engelekore ontvang word. Maar wat maak van hierdie dae ’n goeie tyd, en van die Adventsboodskap ’n goeie tyding?

Is dit die opgewonde vooruitsig van ’n baba wat binnekort gebore word? Of dalk die diep verligting dat ’n blaaskans van die gejaag, druk en spanning wat kenmerkend geword het van ons elkedagse lewe, op ons wag? Is dit noodwendig die kerk, of die evangelie, of geloof wat van hierdie tyd ’n goeie tyd maak, of is die tyd en die tyding goed ten spyte van die konflik, geweld en vergrype wat in die naam van geloof gepleeg word – ook in die kerk?

LEES OOK: Nadia Marais: Die geskenk van ’n stem

Dit is moeilik om aan hierdie tyd as goeie tyd te dink wanneer daar wyd berig word oor duisende Palestyne wat vermoor word en in aanhouding is in hierdie dae. Israel se oorlog teen Palestina – in die geboorteplek van die Kind wat kom – het alreeds meer as 15 000 Palestynse lewens geëis, waarvan meer as 6 000 kinderlewens is. Dit sluit die 8-jarige Adam Al Ghoul in, wat in Jenin op straat sokker gespeel het toe hy deur soldate in die rug geskiet is.

In sy boek Faith in the face of empire (2014) argumenteer die Palestynse teoloog Mitri Raheb – gebore in Bethlehem – dat die Bybel ’n Midde-Oosterse boek is en dat God juis mens word in Jesus Christus, ’n Midde-Oosterse Palestynse Jood. Daarom kan die kerk nie stilbly oor wat in Israel-Palestina gebeur nie, want die Bybel en die evangelie dring ons tot optrede en protes.

In ’n heelwat vroeëre boekpublikasie, I am a Palestinian Christian (1994), vertel Raheb – wat ’n predikant is in die Evangelies-Lutherse Kerk in Bethlehem – van die Kersfeesvieringe wat in 1987 gekanseleer is weens talle Palestyne wat deur Israeliese soldate doodgeskiet is. Twee dae voor Kersfees, so vertel Raheb in hierdie boek, is die volgende woorde – juis na aanleiding van hierdie sterftes – teen die muur van die Lutherse kerk in Bethlehem geverf: “Excuse us, dear Christ, unfortunately we cannot celebrate your birthday this year, for we are an occupied people whose children are denied life!”

LEES OOK: Nadia Marais | Die geskenk van versoening

In sy Kersdagpreek vra Raheb, met hierdie woorde in gedagte, na die sin van Kersvieringe – die goeie van die goeie tyding – wanneer kinders in die strate doodgeskiet word en daar geen einde blyk te wees aan die lyding van onskuldige mense nie. Hy herinner die gemeente in Bethlehem daaraan dat die Kersverhaal die verhaal is van ’n vlugtelingkind. Dit is ’n kind gebore in die tyd van Herodus die Grote, wat die bevel gegee het dat kinders in die area van Bethlehem vermoor word. Nie eens die Jesuskind se lewe is gewaarborg nie.

Tog – preek Raheb in hierdie Kerspreek – kom God na die wêreld juis in en deur hiérdie kind: God is naby eerder as ver van die Palestynse mense wat verdruk word, meen Raheb, want God verstaan die lyding van die Palestyne deur Godskind wat dit aan eie lyf – as ’n Palestynse vlugteling – sou voel. Die Kind wat kom gaan die Palestyne vooruit, en daarom is hulle nie alleen in hulle lyding nie. Godskoms na die wêreld in die vorm van ’n klein en weerlose babatjie is die voorwoord op die kruisigingsgebeure en ’n heenwysing na die Gekruisigde God.

Só preek die 25-jarige Mitri Raheb op Kersdag van 1987.

Dalk is die goeie tyding dat Christus, die vlugtelingkind wat (oor)leef, nie dood is nie. Of dalk is die goeie tyding dat Christus, die Kind wat leef, juis sterf – en met sy kruisdood vir ons die lewe, te midde van soveel dood, oopbeur.

In Suid-Afrika ken ons maar te goed die hartseer verhaal van kinders wat in strate doodgeskiet word deur soldate. Dink maar aan die bekende gedig van Ingrid Jonker, oor die kind wat doodgeskiet is deur soldate in Nyanga (aangepas hier, met apologie) –

Die kind is die skaduwee van die soldate

op wag met gewere sarasene en knuppels

die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings

die kind wat net wou speel in die son by Jenin, is orals

die kind wat ’n man geword het trek deur die ganse Midde-Ooste

die kind wat ’n reus geword het reis deur die hele wêreld

sonder ’n paspoort

Mag ons in hierdie dae nie vergeet dat die Kind wat kom ook die Een is wat Palestynse kindertjies sou nooi om na Hom toe te kom. En mag Advent by ons ’n heilige ongeduld kweek vir ’n tyd en ’n tyding wat goed is – ook in Palestina, ook hierdie Kerstyd.

  • Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is as predikant gekoppel aan die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen.

Kommentaar

Daniel Louw

Dit is opvallend dat Nadia Marais slegs vanuit ‘n Palestynse oogpunt redeneer. Nooit word die gebeure op 7 Oktober 2023 genoem wat hierdie oorlog in Gaza begin het nie. Dit is nie baie objektief nie.

1 thought on “Nadia Marais | O, die goeie tyding?”

  1. Nadia lewer verseker baie eensydige kommentaar. As mens “Prof Google” kan glo wat van die 3 mil kinders wat jaarliks sterf van honger of ondervoeding. Net die Palestyne , hoe erg dit ookal is, kry nou die simpatie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui