Kyk ook:
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Namibiese sinode breek weg van NG Kerk: ‘Dis ’n hartseer dag’ | Rapport
Johan Eybers
Sondag, 23 Maart 2025
Die NG Kerk het met “hartseer” kennis geneem van die Namibiese sinode se besluit om weg te breek van die algemene sinodale moderamen (ASM).
Hulle hoop egter om steeds met die NG Kerk in Namibië saam te werk om hul “gedeelde Christelike getuienis” in Suider-Afrika te laat geld.
“Ons respekteer die selfstandigheid van die NG Kerk in Namibië en is bewus van die uitdagings wat in daardie konteks aan hulle as ’n kerkfamilie gestel word, én dat daar ook ’n eiesoortige roeping op hulle in hul land wag,” sê dr. Nioma Venter, algemene sekretaris van die ASM van die NG Kerk.
Venter sê die moderamen hoop om spoedig met die NG Kerk in Namibië te vergader “ten einde duidelikheid te verkry oor hoe ons hul besluit teologies moet verstaan”.
Hulle wil ook oor die pad vorentoe besin en oor hoe hulle op ’n “nuwe en welwillende wyse” kan saamwerk.
Die Namibiërs se besluit om uit hul verband met die algemene sinode te tree kom ná jare van spanning, gesprekke en ’n lang proses van oorleg, onder meer oor selfdegeslagverhoudings.
Dr. De Wet Strauss, nuutverkose moderator van Namibië, sê by navraag hulle is besig om ’n “padkaart” uit te werk vir hul toekomstige verhoudinge met ander kerke, waaronder die NGK.
Die besluit om die naelstring met die algemene sinode te knip, is Donderdag geneem.
“Uit die aard van die besluit sal enige samewerking met die algemene sinode neerkom op nuut onderhandelde ooreenkomste,” sê Strauss.
Hy meen die besluit is “ ’n getuienis van hoe ons ons roeping verstaan om kerk te wees in die Namibiese konteks”.
“Daar is beslis opgewondenheid oor die nuwe hoofstuk wat vir ons aanbreek, maar terselfdertyd ook hartseer dat ons op hierdie manier uittree uit die algemene sinodale verband.”
Luidens ’n verklaring van die NG Kerk in Namibië is die wegbreek-besluit nie oorhaastig geneem nie, maar ’n uitvloeisel van ’n drie jaar lange proses wat in 2022 begin het.
Die Namibiese sinode het beklemtoon dat hulle steeds “binne die groter Liggaam van Christus wil funksioneer” en “ ’n getuie van die Koninkryk in ’n gebroke wêreld wil wees”.
Luidens die sinode se verklaring neem hulle ook kennis van die moderamen se besluit om nuwe bilaterale ooreenkomste met ander kerke te sluit, en het ’n taakspan aangewys om ’n raamwerk vir toekomstige teologiese en etiese gesprekke te ontwikkel.
Binne die NG Kerk in Namibië was die besluit om uit te tree nie sonder teenkanting nie.
Luidens ’n berig in Kerkbode het ds. Zack Pienaar hom van die besluit gedistansieer en dit as ’n “skeuring” beskryf.
Hy het gewaarsku oor die pynlike gevolge van sulke skeidings, soos gesien in die geskiedenis van die NG Kerk in Afrika en die Verenigende Gereformeerde Kerk.
Venter sê die algemene sinode respekteer die “erns en sorgvuldigheid” waarmee die Namibiërs oor hul stap besin het.
Hul belewenis van gesprekke met die NG Kerk in Namibië was dié van ’n “opregte soeke na begrip en waardering vir mekaar, omdat ons ten diepste één is in ons belydenis oor wie God is en oor die genade wat Hy in Christus aan sy Kerk skenk”.
Intussen is daar ook al hoe meer gemeentes op Suid-Afrikaanse bodem wat hul bande met die algemene sinode opskort.
Die Tuinedal-gemeente in Sasolburg het Dinsdag besluit om hul verbintenis met die NG Kerk te beëindig en as ’n onafhanklike kerk voort te bestaan.
Die gemeente, met 569 belydende en dooplidmate, het met ’n “volstrekte meerderheid” vir die uittrede gestem.
In ’n skerp bewoorde brief wat vandag in Rapport verskyn, beskuldig ds. Pieter Prinsloo, leraar van Tuinedal, die NG Kerk se leierskap daarvan dat hulle “wraakgierig optree” teenoor behoudende leraars en gemeentes wat “getrou aan die Skrif wil bly”.
Met die brief bedank hy ook formeel as NG leraar.
Sedert 2023 het 18 ander gemeentes hul bande met die algemene sinode opgeskort.
Hierdie gemeentes verteenwoordig 1,06% van die NG Kerk se totale lidmaatskap.
Kommentaar
xxx