Neels Jackson: Liefde bly, want Stefaans se geloof verskil van Johan s’n

In die artikel hieronder reageer Neels Jackson op Johan Retief, ’n NG predikant wat ateïs geword het. Hier is my kort interpretasie van sy boodskap met hierdie artikel:

  • Ons moet begrip hê vir die feit dat Johan Retief die geloof verlaat het. Ander mense het al soortgelyke ervarings gehad.
  • Een so ’n persoon was James Kirkpatrick. James se oplossing was om die Bybel te hanteer as (gebroke) mensewoorde oor God. Hy kyk dus verby die “gebrokenheid” van die Bybel en sien steeds God raak.
  • Ons geloof staan of val dus nie by die Bybel nie. As Johan bereid is om ook hierdie benadering te volg hoef hy nie noodwendig die geloof te verlaat nie.

Neels Jackson is natuurlik totaal verkeerd: Ons geloof staan of val wel by die Bybel. As jy die Bybel selektief lees, dan is jy besig met afgodsdiens. Jy is besig om jou eie god te skep.

*******

Neels Jackson: Liefde bly, want Stefaans se geloof verskil van Johan s’n | Netwerk24

Neels Jackson

Sondag, 19 Junie 2022

Mense sit dikwels met ’n beeld van die kerk en die geloof waarin die kerk haarself nie herken nie, skryf Neels Jackson.

Met sy boek Die slegte nuus van die evangelie het dr. Johan Retief die jongste toevoeging geword tot ’n klein stroom Afrikaanse oud-dominees wat hul ongeloof in die openbaar bely.

Opmerklik is hoedat daar dikwels by sulke mense nie net argumente teen die geloof is nie, maar ook verhale van persoonlike pyn wat hulle in die kerk beleef het.

Ds. Jaco Strydom, skrywer van die boek Alle sondaars welkom, sê hy dink gelowiges behoort erkenning te gee aan hierdie pyn.

Retief vertel byvoorbeeld hoe hy ná die 1976-onluste in Soweto tot politieke inkeer gekom het, ingesien het dat apartheid verkeerd is en besef het dat die NG Kerk ’n God gepreek het wat daardie stelsel van verdrukking geregverdig het. Dit het wisselende mates van vervreemding tussen hom en sy familie en vriende gebring.

Later is daar as dienspligkapelaan van hom verwag om die troepe te motiveer; “ . . . om die vyand effektief dood te maak. Ek moes die evangelie met ’n bymotief verkondig,” skryf Retief.

Dr. James Kirkpatrick van die NG gemeente Stellastraat in Pretoria vertel dat hy ’n soortgelyke ervaring in die kapelaansdiens gehad het.

Ook ander dienspligdominees het dit beleef.

Dit het baie van hulle ontnugter en laat vra waarmee hulle besig is.

Vir Retief het sulke ervarings saam met dele van die kerkgeskiedenis die grondslag help lê daarvoor dat hy nie net die kerk nie, maar later ook die geloof die rug gekeer het. ’n Paar keer skryf hy: “Laat niemand my vir my sinisme verkwalik nie.”

Maar terwyl die kerk erkenning kan gee aan die pyn wat mense soos Retief beleef het – terwyl die kerk behoort te erken dat hy dikwels droogmaak en dat daar dele van die kerkgeskiedenis is waaroor die kerk skaam behoort te wees – bly daar ook nog die argumente wat oudgelowiges teen die kerk en teen die geloof aanvoer. Hoe reageer die kerk daarop?

Kirkpatrick vertel ’n verhaaltjie uit sy eie bediening. As deel van die normale proses van voorbereiding tot belydenisaflegging het hy ’n gesprek met ’n seun en dié se ouers gehad. Tot die ouers se verleentheid het hierdie seun nie gedink hy kan sy geloof voor die kerk gaan bely nie. Hy het ’n lysie sake gehad waaroor hy vrae en twyfel gehad het.

Toe Kirkpatrick hom nooi om daaroor te gesels is die eerste punt op sy lys dat hy nie glo die aarde is in ses dae gemaak nie. Tot sy verbasing is die dominee se reaksie toe: “Maar ek glo dit ook nie.” Die seun het nog kritiese vrae oor die hel, lyding en God gevra. Telkens het Kirkpatrick instemmend na sy kritiek geluister. Uiteindelik het hy vir Kirkpatrick gesê: “Jy sal nie hierdie dinge van die kansel sê nie.” Waarop Kirkpatrick geantwoord het dat hy dit al gedoen het.

Die punt is dat mense dikwels met ’n beeld van die kerk en die geloof sit waarin die kerk haarself nie herken nie. As mense in sulke gevalle met argumente oor die Bybel of geloof kom, sê Kirkpatrick graag vir hulle dat daar ook ander maniere is om daaroor te dink.

Hy noem die vraagstuk oor lyding as voorbeeld. Soms trek mense ’n direkte verband tussen God en lyding. God, meen hulle, is die oorsaak van lyding.

“Dis nie die enigste manier om daaroor te dink nie,” sê Kirkpatrick

Een van Retief se baie bedenkings gaan oor onwetenskaplikhede in die Bybel. Hy wy ’n hele paar bladsye daaraan.

Op een punt verwys hy na die boek Jesaja, waarin daar staan dat God sy troon bo die hemelkoepel het en dat God die hemel soos ’n tent span vir mense om onder te woon.

“As God die outeur van die Bybel is beteken dit dat God ook ’n totaal onwetenskaplike wêreldbeeld gehad het – behalwe natuurlik, as jy wil glo dat God mense mislei het met onwaar stellings om by hul onwetenskaplike oortuigings aan te pas,” skryf Retief dan.

[Kommentaar: Hierdie is ’n belaglike redenasie. Let daarop dat daar staan: “…dat God die hemel soos ’n tent span…” Dit is duidelik beeldspraak. Hierdie deel in die Bybel poog nie om wetenskaplike uitsprake te maak nie. Die genre moet in ag geneem word.]

Maar is dit hoe die kerk dink oor die Bybel, oor die manier waarop dit die “Woord van God” is?

Kirkpatrick sê daar is verskillende maniere waarop die goddelike inspirasie van die Bybel verstaan word. Een model is die meganiese inspirasie waarvolgens God die woorde van die Bybel direk in die skrywers se oor gefluister en hulle dit dan so neergepen het.

Die gereformeerde tradisie het egter gekies vir die organiese inspirasieteorie. Daarvolgens was die skrywers van die onderskeie Bybelboeke nie willose instrumente in God se hand nie, maar vind hul menslikheid ook neerslag in hul geskrifte.

[Kommentaar: Die verwysing na “meganiese inspirasie” het ontaard in ’n strooipopargument. Dit is duidelik dat daar geïmpliseer word dat mense wat in ’n sesdag skepping, maagdelike verwekking, fisiese duiwel, hel, ens glo dit doen op grond van ’n meganiese inspirasie benadering.]

En as ’n mens die menslike aard van die Bybel erken, dan is die aantoonbare foute en strydighede in die Bybel nie ’n onoorkomelike probleem nie.

Om te sê die Bybel is die Woord van God beteken daarom nie dat dit die woorde van God is nie, sê Kirkpatrick.

Dit is woorde wat mense met hul insig en kulturele agtergrond neergeskryf het, maar waarin ’n mens ook God se stem kan hoor.

’n Mens moet die groot verskil tussen die kulture waarin mense in Bybelse tye geleef het en die moderne kultuur van hedendaagse lesers ook deeglik in ag neem. Mense wat die Ou en die Nuwe Testament bestudeer praat van die “reusekloof” tussen die wêreld van die teks en die wêreld van die hedendaagse leser, sê Kirkpatrick.

Dit moet ’n mens dus nie verbaas of ontstel as jy ná die lees van die Bybel steeds met ’n klomp onbeantwoorde vrae sit nie. Die aanname dat die Bybel helder antwoorde op al ons vrae het, is foutief.

Maar terwyl hulle grondig verskil van die soort argumente wat oudgelowiges soos Retief aanvoer, voel Kirkpatrick en Strydom dat ’n respekvolle gesprek voortgesit moet word.

Strydom sê as ’n mens karikature van mekaar begin maak dan is daar nie langer diepte in ’n gesprek moontlik nie. Al wat dan oorbly is oppervlakkige beledigings.

Kirkpatrick wys daarop dat daar ook vir die kerk waarde is in die gesprek.

Kritici van die geloof vra aan almal in die kerk of hulle kan sê hoekom hulle glo.

Terwyl die kerk voortgaan met die gesprek met sy kritici sal die kerk ook voortgaan met sy taak om God se liefde na die wêreld uit te dra.

Strydom verduidelik dat hierdie soort kritiek ’n ekstreme punt is aan die een kant van die kerklike lewe.

Aan die ander punt vind jy die fundamentalistiese gelowiges. In die middel, tussen hierdie twee ekstreme deur, vloei die kerklike lewe voort.

Strydom maan teen ’n “middelmatige middel”.

Dit gaan vir hom oor ’n radikale navolging van Jesus. En dit gaan teen die heersende kultuur in. Die gedagte dat jy onselfsugtig moet lewe, gaan direk teen die verbruikerskultuur in. Dieselfde geld die gedagte dat jy moet laat gaan, pleks van net te wil kry. Of die gedagte dat leiers moet dien.

Dis nie ’n dogmatiese standpunt nie, sê hy. “Jesus praat meer oor hoe ons moet lewe as oor hoe ons moet glo.”

En die liefde is aan die kern daarvan. Dit is waarmee die kerk haarself moet besig hou.

En terwyl Retief skryf oor die “slegte nuus” van die evangelie, is daar tallose verhale van gelowiges wat getuig oor die goeie nuus van die evangelie in hul lewe.

’n Radikale voorbeeld daarvan is die verhaal van Stefaans Coetzee. Hy het grootgeword in ’n gebroke gesin, later onder die invloed beland van die Israel-visie, wat hom gevul het met haat en rassisme, en in die tronk beland nadat hy betrokke was by die plant van bomme wat lewens geëis en mense beseer het.

Toe ’n tannie in die tronk vir hom sê Jesus het hom lief, het hy Jesus gevloek. Waarop sy vir hom gesê het Jesus het hom steeds lief. Hy dink die saadjie vir die ommekeer in sy lewe is daar geplant.

Later het hy in die tronk deelgeneem aan ’n Christelik-gefundeerde kursus in herstellende geregtigheid.

Daar het hy die sagte hart van Jesus gesien. In sy geloofsworsteling het hy God verwyt vir alles wat in sy gesin en in sy lewe verkeerd geloop het, maar later besef hy het verkeerde keuses gemaak.

“God is goed. God is net goed,” sê Coetzee.

Hy vertel dat hy in die tronk drie maal ’n kursus oor woedebeheer gedruip het. Sielkunde kon hom nie help nie. Maar Jesus het. Die Bybel het hom sag gemaak, sê Coetzee.

Vir hom het dit eindelik verby vergifnis gevat na versoening toe. Hy het vir slagoffers van hul bomaanval verskoning gevra en gesê hy is jammer.

Hulle het vriende geword.

Nou is Coetzee se lewensleuse “Leef liefde.” Daarom het hy armes gehelp om groentetuine te begin. Hy reël boekfeeste op Klerksdorp. Hy vertel hoe hy drie uur lank saam met ’n man van die EFF gaan stap het sodat hulle kon gesels en mekaar kon leer ken.

Die evangelie is vir Stefaans Coetzee meer as goeie nuus. As dit nie vir die evangelie was nie sou hy mense doodgemaak het nadat hy uit die tronk gekom het, sê hy.

Die evangelie het sy lewe gered sowel as die lewe van mense wat sy slagoffers sou geword het.

Omdat dit die invloed is wat die evangelie op mense se lewe kan hê, sal die kerk die goeie nuus van die evangelie met woord en daad bly verkondig.

  • Neels Jackson is ’n vryskutjoernalis wat spesialiseer in kerksake.

1 thought on “Neels Jackson: Liefde bly, want Stefaans se geloof verskil van Johan s’n”

  1. Al wat ek vir Johan Retief kan sê: Jou het die grootste fout van jou lewe gemaak!! Ek het nie jou boek gelees nie en stel nie belang om dit te lees nie. Hoekom?

    Want jy gebruik mense om jou punt uit te bring wat jy besluit het. Nêrens in my Bybel staan dat jy na mense moet luister en volgens wat hulle sê jy moet preek nie. Jesus sê: “volg my”. Nou hoekom het jy na MENS geluister en nie na Jesus nie….? En Jesus sê die wêreld het hom gehaat, en dat die wêreld ons wat vir Hom staan ook gaan haat!! As jy op staan vir Jesus gaan daar BAIE van jou familie vervreemd raak van jou? Hoekom? Want hulle luister na die mens en nie na Jesus. Hoe weet ek dit? Want ek ervaar dit elke dag…. Ek gaan beslis nie my Jesus die rug draai vir mense nie (familie in gesluit)
    NS!!!! EK HET AL IN 1992 UIT DIE NG KERK GESTAP, WANT HULLE DINK HULLE IS GOD EN MY REDDER MOET SPRING AS HULLE PRAAT.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui