Neels Jackson: Namibiese NG Kerk stel ’n voorbeeld vir wegbrekers in SA

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Neels Jackson: Namibiese NG Kerk stel ’n voorbeeld vir wegbrekers in SA | Rapport

Neels Jackson

Sondag, 30 Maart 2025

Dis dalk tyd vir NG gelowiges om te herbesin oor die rol van die algemene sinode, skryf Neels Jackson.

Die onttrekking van die NG Kerk in Namibië aan die algemene sinode van die NG Kerk word wyd in kerklike kringe as ’n hartseersaak gesien. Dit doen afbreuk aan die eenheid van die kerk, en eenheid is vir kerke belangrik.

Jesus het immers self, volgens die evangelie van Johannes, die aand voor sy kruisiging in ’n lang gebed vir sy volgelinge gebid.

Vier keer in hierdie gebed in Johannes 17 vra Jesus dat hulle “een kan wees”. In vers 23 is dit selfs: “sodat hulle volledig een kan wees”.

Twee keer motiveer Jesus dié gebed met “sodat die wêreld kan glo” en “sodat die wêreld kan weet . . .” Eenheid word die voorwaarde vir die krag van gelowiges se getuienis.

Die eenheid van gelowiges kan op verskillende maniere gebeur, maar een daarvan is in kerklike strukture. Dít is wat van buite gesien word, en die verbreking van strukturele bande druis daarom dwars in teen Jesus se gebed en teen die getuieniskrag van die kerk.

Om die Namibiese onttrekking aan die algemene sinode egter eenvoudig as kerkskeuring af te maak, sou te sterk taal wees. Daar is beduidende verskille tussen hoe hierdie onttrekking gebeur het en hoe ander kerkskeurings hulle al uitgespeel het.

Uitgeloop en weggeloop

Vergelyk dit maar net met die optrede van ongelukkige NG lidmate in 1987, toe hulle uit die NG Kerk weggebreek het omdat hulle ontevrede was dat die algemene sinode die kerk se steun aan apartheid begin onttrek het.

Dié lidmate het eenvoudig die NG Kerk die rug toegekeer. Hulle het uitgeloop en weggeloop. Daarna het hulle ’n nuwe kerk, die Afrikaanse Protestantse Kerk, gaan stig. In die proses het daar baie suur sous deurgeloop.

Daar was vyandigheid en die weglopers het die NG Kerk, selfs jare daarna nog, verketter waar hulle kon – asof hulle daardeur hul eie optrede wou regverdig.

In Namibië se geval was dit soveel anders. Hy het ’n kerkordelike pad geloop.

Met sy onttrekking aan die algemene sinode het die NG Kerk in Namibië daarom nie ’n nuwe kerk gestig nie. Hy bly bloot voortbestaan as die NG Kerk in Namibië, nou nie meer deel van die algemene sinode van die NG Kerk nie, maar as ’n selfstandige susterkerk in die NG Kerkfamilie, soos byvoorbeeld die Reformed Church in Zimbabwe en die Reformed Church in Zambië.

Terloops: In hierdie opsig verskil die optrede van die NG Kerk in Namibië ook heeltemal van dié van die beswaarde NG lidmate in Suid-Afrika wat buite die kerkorde hul eie kerklike strukture skep, ’n nuwe sinode op die been bring en dan van die algemene sinode verwag om volgens reëls te speel wat hulle neerlê.

’n Ander land

Daar was baie gesprekke tussen die algemene sinodale leierskorps van die NG Kerk en die Namibiese kerkleiers. In die proses is verhoudings nie afgesny nie, maar het die begrip en die persoonlike verhoudings tussen die kerkleiers selfs verdiep.

Daar is wel in die NG Kerk in Namibië nog stemme wat die NG Kerk wil verketter, en die tyd sal leer watter gewig sulke sentimente sal dra.

Intussen is daar verwagtinge van voortgesette gesprek tussen die Namibiese kerkleiers en die algemene sinode om uit te werk hoe die twee kerke voortaan sal saamwerk. Wat dit sal oplewer, moet ’n mens ook nog sien.

Daar is ook ’n ander faktor wat ’n mens in gedagte moet hou as jy dink aan Namibië se onttrekking aan die algemene sinode. Dit is dat hulle in ’n ander land as Suid-Afrika moet funksioneer en dat die kontekste waarin hulle moes werk, soms beduidend verskil.

Oor die jare was dit soms aardig om te sien hoe afgevaardigdes uit Namibië en Zimbabwe tydens gesprekke in die algemene sinode moes pleit dat hulle nie vergeet word nie, dat die algemene sinode nie maar besluite kan neem asof Suid-Afrika die enigste land is waarin die NG Kerk funksioneer nie.

Toe die algemene sinode byvoorbeeld in 2015 besluit dat predikante van die NG Kerk toegelaat word om gayverbintenisse te bevestig, het die Namibiese afvaardiging gou daarop gewys dat gayverbintenisse nie in Namibiese reg erken word nie, en dat die besluit daarom nie vir hulle kan geld nie.

Vir die NG Kerk in Namibië beteken dit ook nie veel dat die NG Kerk lid is van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke nie. Hulle speel reeds jare lank ’n betekenisvolle rol in die Namibiese Raad van Kerke.

Dat die NG Kerk in Namibië daarom voortaan as selfstandige kerk in sy eie land kan funksioneer, maak dit in sekere opsigte net makliker en eenvoudiger.

Dié oorweging was natuurlik nie die hoofsaak waarom die Namibiese sinode besluit het om hom aan die algemene sinode te onttrek nie, maar in die agterkop het dit sekerlik ’n bydraende rol gespeel.

Dit kom van 1962 af

Intussen is daar ’n ander interessante ontwikkeling, en dit is die vraag of die algemene sinode wel die beste uitdrukking van eenheid is vir die ander nege sinodes van die NG Kerk.

Die algemene sinode bestaan immers net van 1962 af, toe dit in die golf van Afrikaner-nasionalisme wat met republiekwording gekom het, tot stand gekom het. Voor dit het die verskillende sinodes van die NG Kerk onafhanklik gefunksioneer en is hulle net deur ’n federale raad van kerke saamgebind.

Is die tyd van die algemene sinode nie uitgedien nie? Het dit nie tyd geword dat die verskillende sinodes in ’n losser struktuur soos ’n federale raad saamkom nie, word daar nou gevra.

As ’n mens daaroor begin dink, is dit dalk goed om te vra wat is die bydrae wat die algemene sinode die afgelope 63 jaar gelewer het. Wat sal verlore gaan as die algemene sinode afgeskaf word?

Dit was die algemene sinode wat in 1986 en 1990 besluit het dat die NG Kerk sy steun aan apartheid onttrek. As die sinodes afsonderlik daaroor moes besluit, is die vraag hoeveel sinodes dié stap sou doen.

Dieselfde geld die toelating van vroue tot die amp van predikant en ouderling. As sinodes afsonderlik daaroor sou moes besluit, was daar dalk vandag steeds ’n sinode of twee waar vroue nie op die kansel welkom is nie. Maar omdat die groter kerk sulke sinodes saamgetrek het, kon hulle in die praktyk sien watter waarde vrouepredikante tot die kerklike lewe voeg.

Nou is almal gemaklik daarmee.

Oor die laaste dekade of wat is daar deur die werk in algemene sinodale verband ontsaglik waardevolle teologiese dinkwerk gedoen oor kwessies soos menswaardigheid en missionale kerkwees.

Op baie plekke in die kerk het dit grond gevat, wortelgeskiet en gelei tot wonderlike vorme van kerkwees waar dit gaan oor diensbaarheid en die heling van mense en gemeenskappe – maniere van kerkwees waar God se liefde deur sy kerk na gemeenskappe toe vloei.

Op dié manier speel die algemene sinode ’n bemagtigende en inspirerende rol om gemeentes te ondersteun.

’n Mens sou kon vra of dit nie beter sou wees om (pleks van die voortbestaan van die algemene sinode te bevraagteken) liewer na maniere te soek om die wyse waarop die algemene sinode se goeie werk na gemeentes toe deurvloei, te versterk nie.

Twee maniere van dink

Met dit alles in ag genome is die onderliggende rede waarom Namibië haar aan die algemene sinode onttrek het, nog nie aangeroer nie: die saak rondom gay mense, hul verhoudings en huwelike.

En dit gaan alles daaroor dat daar twee maniere van teologies dink in die NG Kerk ontwikkel het.

Met die gevaar van oorvereenvoudiging sou ’n mens kon sê die een denkwyse – en dit is die denkwyse wat in Namibië die deurslag gegee het – is dat God reëls vir die lewe neergelê het waaraan gelowiges hulle moet onderwerp.

Daardie reëls vind ’n mens in die Bybel, wat die Woord van God is en die hoogste gesag vir gelowiges se lewe dra.

Een van die reëls is dat God die huwelik ingestel het as ’n verbintenis tussen een man en een vrou. As ’n mens dit nie meer as absoluut aanvaar nie, is jy ongehoorsaam aan God en verwerp jy die gesag van die Bybel.

Hierdie waarheid is so belangrik dat dit nie moontlik is om in een kerk te funksioneer met diegene wat ruimte wil maak vir gayverhoudings nie.

Hierteenoor lui die ander denkwyse dat die groot reël wat God vir die lewe neergelê het, die liefde is, en dat die kerk daarom na gay gelowiges se nood moet luister.

Dan word die getuienis oorweldigend dat gaywees vir talle nie ’n keuse is nie, en dat pogings om gay mense van hul seksuele oriëntasie te genees, geweldige skade aanrig en dat ’n vonnis tot ’n lewe sonder intieme liefde ook traumaties is.

In elk geval is dit uit ’n sorgvuldige lees van die Bybel ook nie so duidelik dat God die huwelik as ’n verbintenis tussen een man en een vrou as ’n absolute wet ingestel het nie. Dink byvoorbeeld aan die aartsvader Jakob, sy twee vroue, Ragel en Lea, en sy byvroue daarby.

Die NG Kerk in Namibië is die enigste van die NG Kerk se tot onlangs toe 10 sinodes waar die absolute nee vir gayverhoudings die bepalende standpunt is.

Miskien is die hartseerste van die hele saak die vraag wat gaan word van jong mense uit gelowige huise in die Namibiese NG Kerk wat vroeër of later besef dat hulle gay is.

Neels Jackson is ’n voormalige redakteur van Kerkbode.

briewe@rapport.co.za

 

Kommentaar

Daniel Louw

Neels Jackson sê: “Dít is wat van buite gesien word, en die verbreking van strukturele bande druis daarom dwars in teen Jesus se gebed en teen die getuieniskrag van die kerk.”

 

1 thought on “Neels Jackson: Namibiese NG Kerk stel ’n voorbeeld vir wegbrekers in SA”

  1. Dit is verstommend die aard van Bybel-eksegese wat mens aflei vanuit hierdie skrywe, wat tekenend is van ‘n probleem waarmee die NG Kerk vir dekades mee worstel, maar nie eens die lig sien, dat hul huis op sand gebou is nie. ‘Eenheid’ tussen gelowiges – as mens waarlik Christus se woorde lees en in verband (‘context’) bring – kan nooit deur menslike pogings bewerkstellig word nie. Wanneer die mens hom- of haarself onderwerp aan Christus, en IN CHRISTUS eenheid VIND, en nie met eie pogings probeer SKEP nie, en vanuit die onbreekbare eenheid tussen GOD en Sy Seun en Sy Gees die Bybel begin lees deur Sy Gees se lens, kom staan ook ‘kognitiewe eenheid’ op vanuit die GRAF vir menslike insig, bv:
    1. Die BYBEL is absoluut duidelik in baie plekke: een man en een vrou. Dit was satan se bedrieglike wyse wat JAKOB só bedrieg het met Lea, en nie GOD nie. As mens GOD begin bevraagteken, dan moet mens maar weet: hier is een groot probleem by sódanige denkwyse. In GOD is geen duisternis of onduidelikheid nie.
    2. Om die NG Kerk se ‘skeuring’ te wil laat oorlaat aan LGBTQ+-kwessies die afgelope 20 jaar of wat, is teologies oneerlik, en skep ‘n totale wanbeeld van GOD. Dit begin ALREEDS by die OU OOM en OU TANNIES van weleer, wat groot gebrekkige insig in die BYBEL gehad het op vele maniere en oor baie sake- juis vanuit hul absoluut onwilligheid om aan GOD gehoorsaam te wees, en om HOM te wíl leer ken, maar eerder die Bybel as ‘n soort van Oorlogsmasjien gebruik het om eie aksies te loods met ‘SELFGEREGTIGHEIDS-MISSIELE’. Fariseërs is hul, wat die die eertydse Joodse Fariseërs, soos eerstejaarstudente op ‘n groentjie-konsert op die Universiteit laat lyk, so oneerlik is meesste OU OOMS en OU TANNIES oor die aard an GOD se HART teenoor ‘n mede-mens. Vele het nooit waarlik die Openbaring van GOD die VADER in Christus, ten diepste hul eie gemaak, en allermins hul kinders –of kleinkinders die aard van GOD se HART geleer in spraak en daad. Woon maar menige ‘koffie-en-tee-geselsie’ by ná ‘n erediens in 2025 (of 2010, 1980, 1940…) of menige kerkbasaar, of wat ookal, en luister na hul woorde: politiek, rugby, ekonomie, bespiegeling van die beste vleissnit by watter slaghuis, Voortrekkers se roetes van weleer, dinge van die plaas, ensomeer, maar GOD en CHRISTUS, was (en word) maar min oor gepraat. DAAR is die probleem: die OU OOMS en TANNIES ken GOD nie.
    3. Laat ons tog eerlik wees: die swarte in die Apartheidsbedeling was tog nooit waarlik gesien as volwaardig gelowige mede-broer-of suster in Christus deur 99.99% van die wit Afrikaners nie, insluitend sprekendes vanuit geledere in Engels, Portugees, Duits, Italiaans, Nederlands, Belgies, Frans, Spaans, ens…hul kruip tog te lekker weg in enige ‘apartheidsgesprek’, en projekteer alles na ‘AFRIKAANS’. Self jare gelede gehoor die rassistiese aard vanuit dié geledere ook in Suid-Afrika, en was verstom oor hul skynheiligheid. Maar moet nie van die Amerikaner vergeet nie, of die Europeër nie. Skynheilig soos min! Die gelowige swarte was maar hanteer as vér benede, ‘n soort van ‘n baie ‘lae-klas-christen’. Ek koop ook nie die stories oor BB Keet wat ‘gewaarsku’ het oor apartheidswette nie; ook nie die stories oor die ‘gereformeerde’ swart teoloog (Tiyo Soga) wat die ‘LIG’ gesien het vanuit die Reformasie-teologie se ‘LENS’ nie. BB Keet se woorde en sy dade, het maar ‘n power verband getoon met mekaar. Sy BREIN het sy HART gewen, instede van andersom, anders sou hy soos CHRISTUS op GOLGOTHA vir sy mede-swart broer opgetree het in DAAD. WOORDE is nie GELOOF nie. Teoloë verkoop natuurlik menigmaal ‘n ‘LEUEN’ aan mense in dié verband, maar dit is maar die duiwel se aard in hulself (soos met Petrus se verloëning van Christus) wat in hulself woel. Hul sal hulself ook NOOIT sien as ‘hoer’ in die Hosea-verhaal, of in Esegiël 23, ensomeer : hul ‘lens’ van ‘bybellees’, verontskuldig hulself, en alle ánder, is die sondebokke, en moet die blaam dra vir so baie dinge. Die merkwaardige verhaal van “Die Ontsondiger” van Francine Rivers, mag dalk modern teoloë se oog oopmaak oor die sonde wat Marthin Luther of John Bunyan of meesste eertydse ‘purist’ nooit waarlik – en eerlik – in hulself wou raaklees nie. Hul eie sonde, so duidelik soos daglig, was van minder-gewigtige aard, as ander s’n. Die swart teoloog (Sogo) se mede-wit gelowiges in Suide-Afrika se harte, was maar pikswart, en die swart teoloog se hart, spierwit met ver meer van CHRISTUS se LIG in hom, as teenoor die wit Afrikaner. Selfs Dr. Willie Marais, vir wie ek groot respek het, is deur GOD se GENADE kragtig gebruik, al was hy soms geweldig verkeerd in sekere aspekte oor wie is waarlik broer-in-CHRISTUS, en wie nie. Sy dade in dié verband, was ver verwyder van God se bedoeling in Sy woorde. God se Genade, was waarlik groot.
    4. ‘Egskeiding’ het so alledaags geword. So ook lieg op belastingvorms, en gierigheid. En geskinder, selfs onder gebed, en vanaf kansels: ek praat van ervaring. Die leraars tans en ook van 50 jaar en meer gelede – 100 sou ek eerder wou waag, of 120?- ken of ‘het geken’ hul lidmate vanuit ‘n geweldige gebrekkige basis van verhouding met hul, maar belangriker, vanuit ‘n baie power en gebrekkige binnekamerlewe. Gaan lees maar Andrew Murray se skrywe aangaande die 1912 NG Kerk se groot, groot louheid. So lou en vuil soos skottelgoedwater na ‘n Sondagmaal. Nou sal ek eerder meen hier in 2025, is dit eerder slange vanuit groot vuil rivierwaters, wat soos duiwels krioel vanaf die preekstoele, maar verskuil agter glimlagte, en ‘ordentlikheid’, en ‘eenheid-onder-broers’, ens. Ek praat vanuit ervaring, en nie vanuit hoorspraak nie..
    5. Daar is natuurlik ook groot probleme in die sg. ‘Swart Teologie’, maar wie moet mens blameer? Lees ter voorbeeld die BOSTON REVIEW: (https://www.bostonreview.net/articles/black-spirit-black-struggle/ ) – “…The Blackness of God, and everything implied by it in a racist society, is the heart of Black Theology’s doctrine of God. There is no place in Black Theology for a colorless God in a society when people suffer precisely because of their color. . . . The Blackness of God means that God has made the oppressed condition his own condition . . . [and] that the essence of the nature of God is be found in the concept of liberation. . . . Black Theology’s emphasis on the Blackness of God . . . distinguishes it sharply from contemporary white views of God.”. Die WIT AMERIKANER, kan gerus maar ook ondersoek instel by die ‘SELF”. Hul het HAAT aangewakker vir jare, en die geboorte (‘BIRTH’) van ‘n sosialistiese toon in teologie wat die Bybel absoluut verdraai, het plaasgevind voortspruitend vanuit groot onliefde van Amerikaanse (en Europese) Wittes teenoor Swartes in vorige eeue. Nou wat nou? Net GOD kan dinge regmaak, maar nie met die absoluut oppervlakkige belydenis van AMERIKANER, SWART en WIT, wat van GOD ‘n karikatuur maak in hul mensgemaakte idees van GOD. Daar is maar bitter min eenheid in kerke, en Paula White sal beslis nie die wa deur die drif kan trek in die VSA nie. Bybeldiepte is maar min daar: so 1mm diep in die aarde, maar hul meen, hul kennis van GOD se Hart, by wyse van spraak, strek selfs tot 2km in die aarde, soos die onlangs ‘Egiptiese Piramide’ se ”Synthetic Aperture Radar” navorsing, suggereer ( https://www.ancient-origins.net/news-history-archaeology/city-beneath-pyramids-0021984 ). Miskien is DIT eerder waar: hul ken die duiwel se werke ten diepste, maar GOD se werke maar min. Openbaring 2 verwerp hulself as toepaslike op hul, selfs sg. konserwatiewe baptiste denominasies. Kyk maar na hul lidmaatgetalle. waar CHRISTUS gepraat het, was daar skares wat dors was, want Sy woorde was vervul met die Hemel se Gees….
    ——————————————
    Verwys ‘https://karinstreasures.co.za/shop/die-ontsondiger-francine-rivers/’:
    “Die Ontsondiger – Francine Rivers
    Die eerste keer toe Cadi die ontsondiger gesien het, was die nag toe haar ouma begrawe is. Sy was nog klein en baie hartseer maar het instinktief geweet dat sy dié man weer moes sien …
    Dit maak nie saak dat niemand weet waar hy bly nie en dat Cadi ten alle koste haar soektog geheim moet hou, want dis ondenkbaar om diê mens te aanskou Al wat saak maak, is dat sy dié man moet vind wat haar van haar sondelas kan bevry; die sondelas wat dag en nag by haar spook en wat haar haar ma se liefde ontneem het sodat sy van God en mens verlate voel.
    Maar Cadi weet nie dat die ontsondiger ook soekend is nie …”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui