Kyk ook:
Die volgende twee artikels het in die media verskyn oor die NG kerk se moderator, Nelis Janse van Rensburg, se standpunt oor SGV (selfdegeslagverhoudings). Daarin sê hy onder andere die volgende:
Ek is oortuig dat seksuele oriëntasie ’n goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester. Gay mense moet versoen word met die gawe van hulle seksuele oriëntasie.
Dit was die begin van ’n reusagtige verwikkeling:
- Chris van Wyk het hierop reageer in My gewete is gebind deur die Bybel en ons belydenisskrifte en gesê dat ’n mens met dieselfde argument ook pedofilie in die kerk moet aanvaar.
- Hennie Pienaar het daarop vir Chris van Wyk by die MRK gaan aankla van haatspraak.
- Twee petisies het die lig gesien:
- NG teoloë reageer (28 September 2018)
- Hou by waardes van seisoen van menswaardigheid, vra predikante (2 Oktober 2018)
- Eers op Vrydag 9 Oktober 2020, laat vaar die gelykheidshof die saak teen Chris en op 14 Oktober 2020 reik Chris se regspan ’n baie veelseggende en sterk bewoorde persverklaring uit – kyk Chris van Wyk – onskuldig!.
Vir meer hieroor, kyk Opsomming van klag van haatspraak teen Chris van Wyk.
Inhoudsopgawe
************
Die kerk se gesprek oor seksualiteit | Kerkbode
17 September 2018
Nelis Janse van Rensburg
Die veelbesproke aansoek van die 11 lidmate by die hooggeregshof in Pretoria om die NG Kerk se 2016-besluit oor selfdegeslagverhoudings ter syde te stel, is op 22 Augustus aangehoor.
Die hele aanloop tot die hofsaak en die dag in die hof was om baie redes vir my ’n slegte en ontwrigtende ervaring. Regsargumente en teologiese gesprekke is twee modusse van besinning wat nie waterdig van mekaar geskei kan word nie, maar beslis ook nie met dieselfde rasionale werk nie. Die hof is daarom beslis nie die plek waar daar oor komplekse teologiese kwessies uitsluitsel verkry moet word nie. Oor die moontlike uitkomste van die saak kan ons maar net spekuleer.
Die verdeeldheid in die kerk oor die kern van die kwessie is diepgaande. Daarom het die Algemene Sinode ook in twee opeenvolgende sinodes twee teenoorstaande standpunte ingeneem. Dit sal ons sekerlik nie baat om oor al die tegniese argumente en oorwegings verder te stry nie. Selfs die gesprek oor die konstitusionele houdbaarheid van die standpunt van die NG Kerk help ons nie. Ons moet eenvoudig binne die kerk met mekaar ooreenkom oor die hantering van die diversiteit van standpunte.
Ons verdeeldheid verteenwoordig twee strome van denke oor hermeneutiek, oor etiek en oor die navolging van Christus. Dat daar al vantevore oor verskillende kwessies in die geskiedenis van die NG Kerk meervoudige strome van denke was en steeds is, is ’n feit. Trouens, ons identiteit as kerk is dat ons ’n soort hibriede teologie omarm het.
Aan die een kant is daar naamlik die sogenaamde “evangeliesgesinde benadering” of Murray/Hofmeyer-tradisie, en aan die ander kant die meer “rasionele” of “Neo-Calvinistiese” benadering. Die twee tradisies loop soos die twee spore van ’n treinspoor langs mekaar om een baan te vorm. Dié akkommodering van mekaar se denke en oortuigings het ons kerklike lewe buitengewoon verryk.
Selfdegeslagverhoudings word klaarblyklik bedink vanuit hoofsaaklik twee strome van denke oor Skrifverstaan. Die toekoms lê in die vashou van mekaar, die balans wat gevind word. Die voortgesette interaktiewe gesprek sal die kerk se vashou aan Christus en aan die Skrif én aan diensbaarheid aan die gemarginaliseerdes van die samelewing dien en kan ons op ’n trajek plaas wat buitengewone koninkrykswins bied.
Die getuienis van die kerk hang ook saam met hoe gelowiges hulle onderskeie verskille hanteer. Dit was immers vanaf die eerste gemeentes se bestaan so dat hulle diepgaande van mekaar verskil het. Christus verwag nie van ons om oor alles saam te stem nie, maar wel om verdraagsaam teenoor mekaar te wees (1 Kor 8). Ons het nou genoeg gehad van etikettering en verdagmakery.
[Kommentaar: 1 Korintiërs 8 sê Paulus dat ons ruimte moet maak vir verskillende sieninge oor die eet van offervleis. Paulus doen dit, omdat dit ook strook met wat Jesus gesê het oor die eet van kos (kyk Die Bybel oor onrein kos). As jy 1 Korintiërs 8 wil gebruik om ruimte te maak vir homoseksualiteit, is die vraag of jy dit ook kan gebruik om ruimte te maak vir die bestaan van die duiwel, universalisme, Jesus se maagdelike geboorte, ens.]
My eie denke oor selfdegeslagverbintenisse lê in ’n ander stroom as wat uitdrukking gevind het in die 2016-besluit. Ek is oortuig dat seksuele oriëntasie ’n goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester. Gay mense moet versoen word met die gawe van hulle seksuele oriëntasie. Hulle is net so deel van God se skepping soos heteroseksuele mense. Ek is ook oortuig dat sonde gemeet moet word aan hoe ons leef, en nie aan ons seksuele oriëntasie nie. Sonde is onder meer wanneer ’n daad of ’n aksie iemand anders benadeel, skade aandoen, seermaak, uitbuit, misbruik en dus menswaardigheid aantas.
Vir homoseksuele mense om te floreer, moet hulle seksualiteit myns insiens gelykwaardig aan heteroseksualiteit beskou word. Dieselfde standaarde en waardes met betrekking tot leer en lewe moet vir alle persone geld, ongeag hulle seksuele oriëntasie.
Ek het oneindige respek vir die kerk. Die kerk is immers die liggaam van Christus, sy bruid. Ek gaan nie die kerk verneder of verlaat omdat die Algemene Sinode anders as my denke oor selfdegeslagverhoudings besluit het nie. Inteendeel, ek het oor die afgelope twee jaar alles binne my vermoë gedoen om die kerk te beskerm teen mense se argwaan en onverantwoordelike veroordeling.
Ek dink nie die mense wat van my verskil oor selfdegeslagverhoudings is op een of ander wyse sleg nie. Hulle is my broers en susters en ek ken hulle en is lief vir hulle. Daar is egter ook talle gelowiges binne die NG Kerk wat soos ek dink. Die vraag is nie of ons die meerderheid is nie. Die vraag is of ons bona fide binne die belydenis van die kerk oor die gesag van die Skrif en as dissipels van Jesus hierdie standpunt kan handhaaf.
’n Aantal kerkrade het dieselfde soort standpunt as ek ingeneem. Talle ander gelowiges, soos ek, hoop dat ons in die toekoms met ’n stewige teologie van diversiteit, kan ruimte maak vir mense wat só dink. Dit sal lewenshoop bied aan baie gay gelowiges, en baie ouers en broers en susters en familielede van gay gelowiges wat tans voel hulle is in ’n doodloopstraat. Maar dit sal ook aan baie van ons wat net pastors en medegelowiges is, opsies bied om gay mense te bedien met ’n teologie van onvoorwaardelike insluiting.
Die antwoord lê nie in dwang en eendersdenkendheid nie, maar in Christelike verdraagsaamheid jeens mekaar. Die eenheid tussen ons lê in Christus se liefde en trou, sy doop, sy roeping. Laat ons dan met liefde en waardigheid na mekaar se belange omsien en mekaar dien sodat ons waardige getuies kan wees van sy liefde.
- Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.
***************
Ds. Nelis: ‘Seksuele oriëntasie ’n gawe van God’ | Netwerk24
Deur Jana Marx
17 September 2018
Hoewel sy kerk in ’n hofstryd gewikkel is, strook die moderator van die NG Kerk (NGK) se algemene sinode se persoonlike oortuiging oor selfdegeslagverhoudings nié met dié van sy kerk nie.
Ds. Nelis Janse van Rensburg het Maandag sy hart in die Kerkbode uitgestort.
Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk se algemene sinode.
Die saak, wat op 22 Augustus in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor is, gaan oor die omkeer van ’n sinodebesluit van 2015 waarin gemeentes self kon besluit of hulle gay-verhoudings erken, gay paartjies trou en gay predikante aanstel.
Die uitspraak word voorbehou.
“Die skrywe volg ná ek die Moderamen van die NGK (verlede) Maandag in kennis gestel het dat ek my persoonlike oortuiging wil bekend maak,” het Nelis Janse van Rensburg aan Netwerk24 gesê.
[Kommentaar: Hy het eintlik al lankal sy persoonlike oortuiging bekend gemaak. Vir een of ander rede het hy bitter min daarvan gemaak.]
Luidens sy skrywe in die Kerkbode was die hofsaak en die dag in die hof vir Janse van Rensburg “om baie redes ’n slegte en ontwrigtende ervaring”.
“My eie denke oor selfdegeslagverbintenisse lê in ’n ander stroom as wat uitdrukking gevind het in die 2016-besluit,” het Janse van Rensburg in sy skrywe erken.
“Ek is oortuig dat seksuele oriëntasie ’n goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester. Gay mense moet versoen word met die gawe van hulle seksuele oriëntasie. Hulle is net so deel van God se skepping soos heteroseksuele mense.”
Volgens Janse van Rensburg is die verdeeldheid tekenend van “twee strome van denke oor hermeneutiek (interpretasie van die Bybel), oor etiek en oor die navolging van Christus”.
Ons moet eenvoudig binne die kerk met mekaar ooreenkom oor die hantering van die diversiteit van standpunte.
Janse van Rensburg meen die hof is nie die plek waar daar oor komplekse teologiese kwessies klinkklaarheid verkry moet word nie.
“Die verdeeldheid in die kerk oor die kern van die kwessie is diepgaande. Daarom het die algemene sinode ook in twee opeenvolgende sinodes twee teenoorstaande standpunte ingeneem. Dit sal ons sekerlik nie baat om oor al die tegniese argumente en oorwegings verder te stry nie,” het hy geskryf en meen “selfs die gesprek oor die grondwetlikheid van die standpunt van die NGK help ons nie.”
“Ons moet eenvoudig binne die kerk met mekaar ooreenkom oor die hantering van die diversiteit van standpunte.”
Hy gaan wel nie nou die kerk verlaat omdat die algemene sinode anders as hy oor die saak dink nie.
Volgens Janse van Rensburg was die reaksie vanuit die Moderamen oor sy bekendmaking “baie gunstig”.
Die vier aansoekers in die saak, dr. Frits Gaum, voormalige redakteur van Kerkbode, sy seun Laurie Gaum, Judith Kotzé en Michelle Boonzaaier tree namens nog agt lidmate op.
(Frits) Gaum het by navraag gesê hy het Janse van Rensburg se skrywe met “groot belangstelling” gelees, maar benadruk dat Janse van Rensburg in ag moet neem dat dit vir die aansoekers ook ’n pynlike ervaring was om hulle uiteindelik tot die hof te wend.
Hy het daarop gewys dat Janse van Rensburg “self op verskeie geleenthede” gesê het dat “in so ’n geval (soos dié saak) nét die hof regsekerheid kan gee”.
Die regstwis
Die aansoekers voer aan die NGK het sy eie reëls oor appèl oortree toe hy in 2016 besluit het om ’n besluit oor selfdegeslagverhoudings wat in 2015 geneem is, om te keer.
Die aansoekers sê die besluit is ongrondwetlik omdat dit onder meer teen die menswaardigheid van LGBTIQ– (lesbiese, gay, biseksuele, transgender, interseksuele en homoseksuele/“queer”) persone diskrimineer.
Adv. Schalk Burger SC, vir die NGK, het in Augustus aangevoer die kerkbesluit skend nie gay mense se regte nie. “Dit staan hulle vry om by enige Christelike kerk aan te sluit wat die Bybel soos hulle vertolk of om hul eie kerk te begin.”
Die hof moet nou sê of die omkeer van die besluit ooreenkomstig die Kerkorde en die Grondwet is.
***************
Nuwe storm in NG Kerk oor homoseksualiteit | Voertaal
19 September 2018
’n Nuwe storm broei in die NG Kerk oor homoseksualiteit. Dit volg nadat die kerk se moderator, ds Nelis Janse van Rensburg, in die openbaar standpunt ingeneem het teen sy kerk se jongste sinodebesluit in 2016 dat homoseksuele verhoudings sonde is.
Janse van Rensburg, wat die kerk se omstrede besluit tot dusver sterk verdedig het, sê nou gay mense moet versoen word met die gawe van hulle seksuele oriëntasie. In ’n artikel in die NG Kerk se koerant Kerkbode, sê Janse van Rensburg hy is oortuig seksuele oriëntasie is ’n goeie gawe uit God se hand “wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester”.
Sy uitlating het wye reaksie in kerkkringe uitgelok. Dit is reëlreg in stryd met sy kerk se amptelike sinodebesluit waaroor daar tans ’n hangende hofuitspraak is. Die hofsaak het gevolg nadat die NG Kerk die vorige jaar se besluit dat gays mag trou op omstrede wyse omgekeer het.
’n Voormalige Oos-Kaapse moderator, Chris van Wyk, beskuldig Janse van Rensburg daarvan dat sy standpunt afwyk van die Bybel en die kerk se belydenisskrifte. Hy sê Janse van Rensburg se standpunt bring die Skrif en die belydenisskrifte in gedrang. Van Wyk het die kerk se moderator uitgedaag en sê die onus rus op hom om die kerk uit die Skrif en die belydenisse anders te oortuig.
“Ek hoor nie dat jy dit begrond in die Skrif en die belydenisskrifte nie. Jy begrond dit in jou eie aanname oor God en wat sy wil vir seksualiteit is,” het Van Wyk op Kerkbode se Facebook-blad geskryf.
Volgens Van Wyk is seksuele oriëntasie, anders as wat Janse van Rensburg beweer, nie iets waarmee mens gebore word nie. Hy beweer dit is iets wat ontwikkel aan die hand van jou ervaring van aangetrokkenheid tot ander mense en is nie deel van God se openbaring aan die mens nie.
Van Wyk beroep hom op “wetenskaplike” artikels wat hy gelees het en trek ’n verband tussen homoseksualiteit en pedofilie. “Indien jy steeds oortuig is daarvan dat seksuele oriëntasie ’n gawe van God is, sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook op soortgelyke wyse moet aanvaar. Pedofilie word tans as ’n seksuele oriëntasie beskryf deur sielkundiges. ’n Mens sou pedofilie dan ook as ’n goeie gawe van God moet beskryf. Iets wat moeilik in ’n geloofsgemeenskap gedoen kan word.”
Van Wyk se vergelyking tussen homoseksualiteit en pedofilie is met verontwaardiging deur sommiges op Facebook begroet. “Pedofilie is ’n psigopatologie met ’n slagoffer, en daarom ’n misdaad. Hoekom dit enigsins in die NGK-saak bygetrek word, is bloot sotlik,” het een van die deelnemers aan die gesprek van hom laat hoor.
Janse van Rensburg het die NG Kerk se jongste sinodebesluit twee weke gelede nog heftig verdedig in die media. In ’n onderhoud wat die joernalis Izak du Plessis op RSG met hom gevoer het, het Janse van Rensburg gesê: “Dit gaan nie hier oor mense se persoonlike reg nie. Dit gaan hier oor die kerk se standpunt oor seksuele verhoudings. En die kerk is huidig op die punt waar ons sê ons is nie op ’n plek waar ons selfdegeslagverbintenisse wil kondoneer of in die kerk wil bevestig nie.”
In die artikel wat die afgelope week in Kerkbode verskyn het, sê hy egter sy eie denke oor selfdegeslagverbintenisse lê in ’n ander stroom as wat uitdrukking gevind het in die NG Kerk se 2016-besluit.
Hy sê vir homoseksuele mense om te floreer, moet hulle seksualiteit syns insiens gelykwaardig aan heteroseksualiteit beskou word. “Dieselfde standaarde en waardes met betrekking tot leer en lewe moet vir alle persone geld, ongeag hulle seksuele oriëntasie.”