Kyk ook: |
HARTSKROON GEMEENTE (DOLEREND) – VERDUIDELIKING VAN ONS STANDPUNT, ASOOK BESLUITNEMING IN VERBAND MET SEKERE ONSKRIFTUURLIKE BESLUITE, SOOS DEUR DIE ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERK OOR ‘N VERLOOP VAN TYD GENEEM.
(Kerkraadsvergadering te Hartskroon op die 28ste Nov. 2019)
Alhoewel die begrip in ’n mate bekend is, gebruik ons tog die vrymoedigheid om ’n kort verduideliking in die verband te gee. Die begrip kom uit die Nederlandse kerkgeskiedenis uit die tyd van die “Doleantie” o.l.v. dr Abraham Kuyper (1886) en dit beteken om te treur. ’n Beweging van dolerende gemeentes word genoem ’n doleansie, wat ’n drukgroep binne ’n kerkverband vorm. ’n Dolerende gemeente is dus ’n treurende gemeente wat treur oor ’n kerk wat die pad van die Woord byster geraak het. Dolerende gemeentes skei nie noodwendig af nie, maar laat die kerkverband duidelik besef dat hulle treurend sal bly totdat daar bekering en ’n terugkeer na die Woord plaasvind. ’n Kerkraad kan besluit om te doleer sonder om die gemeente vooraf daaroor te raadpleeg. Die gemeente se naam word (tydelik) verander na (byvoorbeeld) “Hartskroon Gemeente (Dolerend)”. Dit is tydelik want die doel van dolering is om weer op te hou doleer! Niemand wil oneindiglik treur nie, mits daar ’n ommekeer by die kerkverband kom.
Die kerkraad gee kennis van dolering aan die Ring en Streeksinode. Sekere duidelike aksiestappe kan die proses vergesel om die erns daarvan te onderstreep soos byvoorbeeld 1) die (gedeeltelike) opskorting van betrokkenheid by die Ring, Sinode, kursusse ensovoorts 2) ’n gedeeltelike opskorting van die oorbetaling van sinodale aanslag. Dit is net lukrake voorbeelde. Iemand wat treur deel nie straf uit nie, maar kan ook nie soos voorheen binne ’n verhouding funksioneer nie. Wanneer die getal dolerende gemeentes vermeerder, word dit ’n beweging wat “doleansie” genoem word en hierdie gemeentes sou kon begin skakel en korrespondeer. Dit sou byvoorbeeld kon lei tot die vorming van ’n modaliteit – wat in die destydse Hervormde Kerk in Nederland bekend was as die Gereformeerde Bond. So ’n modaliteit sou sekere onderlinge afsprake kon reël soos byvoorbeeld om slegs predikante uit eie geledere te beroep, vasgestelde kategesemateriaal te gebruik, ’n bepaalde liturgie te volg, gereelde vergaderings en samekomste te hou ensovoorts. Die moontlikhede en vrug van ’n Doleansie is nie vooraf bepaalbaar nie. Dit kan nie vooraf beplan word nie, maar ontwikkel soos die Hoof van die Kerk lei. Individuele gemeentes kan ook hulle eie aksiestappe loods soos byvoorbeeld om met ’n tydskrif te begin waardeur positiewe beïnvloeding van denke binne die kerkverband kan geskied. Wanneer daar ’n daadwerklike terugkeer na die Skrif en belydenis binne die kerk sigbaar word, word die dolering beëindig. Die hele oogmerk van so ’n reformatoriese aksieplan is juis dat die kerkverband weer die knie voor die Hoof van die kerk sal buig. In kort: Dolering is die sterkste kerklike vorm van protes wat ’n gemeente kan aanteken.
Die kerkraad van Hartskroon Gemeente het op 19 November 2019 eenparig besluit om die gemeente van Hartskroon amptelik tot ’n treurende (dolerende) gemeente te verklaar. Die gemeente treur oor allerlei tekens wat daarop dui dat – oor ’n tydperk van vele jare – vrysinnigheid & liberalisme die NG Kerk tot ’n groot mate gekaap het. Dit manifesteer in die wyse waarop die Bybel as God se Woord gesien en hanteer word. Nie meer as die onfeilbaar geïnspireerde, duidelike, genoegsame Woord van God nie – maar as die neerslag van menslike nadenke oor God. Daarom dat die hedendaagse konteks van die mens die deurslag gee in die verklaring van die Skrif. ’n Resente voorbeeld hiervan is die besluit van die 2019 Algemene Sinode aangaande homoseksuele verhoudings waaruit dit blyk dat dit Bybels geregverdig word dat homoseksuele verhoudings binne die kerk gekondoneer word en ampte in die kerk beklee kan word, ongeag van ’n persoon sé seksuele oriëntasie. Predikante wat dit so verkies, is nou vry om burgerlike verbintenisse te bevestig en gemeentes wat predikante wat in homoseksuele verhoudings leef as leraars wil beroep, is vry om dit te doen. Daar gaan ook ’n formulier geskryf word wat gebruik kan word by die voltrekking van burgerlike verbintenisse. Dit is nie moontlik dat ’n sinode terselftertyd die huwelik tussen man en vrou as ’n God gegewe eenheid erken, maar dan ook sanksie en erkenning verleen aan sodanige burgerlike huwelike. Laas genoemde besluit niveleer die heilige orde en die God gegewe eenheid van die huwelik. Hierdie Sinode besluit is egter net die oortjies van die seekoei. Dit is waarom die gemeente nie eerstens doleer oor die Sinodebesluit as sulks nie, maar oor die algemene toestand van verval wat reeds oor ’n lang tydperk in die NG Kerk waargeneem word. Dit is gewoon onhoudbaar om totaal teenoorstaande en onversoenbare sienings op dieselfde Bybel te wil begrond en in een kerk binne ’n “skyn eenheid” te akkommodeer. Dit is wat gebeur wanneer liberale vrysinnigheid en Skrifbehoudendheid onder een dak geakkommodeer word. Dink byvoorbeeld aan ’n vorige Sinodebesluit waar aan lidmate die keuse gegee is of hulle aan die bestaan van satan wil glo of nie! Die Skrif leer nie twee onversoenbare “waarhede” waaruit ’n mens kan kies waarvan jy die meeste hou nie! Gangbaar binne NG geledere sé post-modernistiese denk patroon is dat ferm Bybelse standpunte onwelkom is, solank teenstrydighede net gerespekteer word en almal vry is om te glo en doen wat hulle verkies – Die tipiese post-moderne tydsgees – waar daar geen ruimte is vir absolute eksklusiewe Skrifwaarhede nie. Dit word gewoonlik afgemaak met “dis net jou interpretasie, glo dit as jy wil, maar moenie ander daarmee lastigval nie”. ’n Verdere aspek wat totaal buite rekening gelaat word is die geestelike impak van so ’n immorele besluit op die liggaam van Christus. 1Kor. 6: 15 “sal ek dan die lede van Christus neem en dit lede van ’n hoer maak?” 17. “maar wie die Here aanhang, is een Gees met Hom”. Die gemeente verwerp hierdie klimaat binne die NG kerk ten sterkste.
As treurende gemeente, bid die gemeente dat die NG kerkverband deur die Here tot bekering en ’n terugkeer na nederige onderwerping aan die Drie Enige God en die leer van die Skrif gelei mag word. Hartskroon gemeente sal voortaan as “Hartskroon Gemeente (Dolerend)” bekendstaan tot tyd en wyl daar in die NG Kerk tekens is van ’n duidelike terugkeer na die Skrif. Andersins sal die gemeente poog om saam met ander dolerende gemeentes en ringe te besluit oor die pad vorentoe.
Om die erns van hierdie dolering te benadruk, sal die kerkraad voortaan nie deelneem aan
- aktiwiteite van die Ring van Warrenton nie – behalwe die jaarlikse formele Ringsvergadering asook enige ander byeenkomste wat ten doel het om die NG verband weer op die regte spoor te bring
- Sinodale aktiwiteite nie – behalwe die buitegewone Sinode van 6-7 April 2020 en daarna formele vierjaarlikse Sinodale vergaderings – nie.
- Die kerkraad bevestig ook ’n besluit wat reeds op 13 Aug 2019 geneem is dat:
- geen 6% van inkomste aan die sinode oorbetaal sal word nie.
- dat geen verpligte sinodale kollektes of 6% van erediens kollektes aan die sinode oorbetaal sal word nie. Leraars sal ook nie toegelaat word om VBO kursusse by te woon nie. Die kerkraad sal op baie gereelde basis die kerklike situasie monitor en moontlik op meer aksiestappe besluit indien nodig.
Dit is voorwaar tragies dat ’n gemeente van ’n eens Skrifgetroue kerkverband tot so ’n staat van dolering moes oorgaan, maar ons gebed is dat die Hoof van die Kerk deur Sy Gees bekeringsgenade mag skenk.
Dankie aan NG Hartskroon se leraar, kerkraad en gemeente wat die Bybel se absolute waarhede hoër ag as die humanisme en teologiese liberalisme in die Algemene Sinode van ons dag. Julle het n weldeurdagte studie gedoen en ook daadwerklik opgetree. Julle eer ons God en sy onfeilbare Woord en stel vir ander gemeentes n voorbeeld om na te volg. Mag ons Here julle werk in sy koninkryk ryklik seën.
Gerhard Mahne.
Gerhard,
Ek onthou jou nog goed maar glo nie jy sal my meer onthou vanuit Sonop. Jy was darem my senior.
Dankie vir jou opmerking oor bg gemeente wat gedoleer het.
Ons wil ook oorgaan tot dolering maar het ’n paar vrae:
1 Wat van die geboue?? Bly sekerlik net so as ek hofuitspraak onthou van 1978.
2 Wat van die toesig oor die dominee en kerkraad. Ons word deur Ring gedreig dat hulle ons kerkraad sal kom ontbind!! Kan dit nie glo nie.
Groete
Herman Breytenbach: 084 444 8150
Netjies Ettiene!