Kyk ook: |
29 Oktober 2019
Die Moderatuur van die Sinode KZN en
Die Ringskommissie van die Ring van Port Shepstone
Dag Broers en susters
Ons as Kokstad Gemeente het tydens ons kerkraadsvergadering gehou op 28 Oktober 2019 ons posisie rondom Dolering herbevestig en herbevestig ook dat ons nie hierdie posisie inneem om ons van die kerk in breër verband te onttrek nie, maar as poging om ʼn pad van tug met die kerk in breër verband te loop.
Ons doelwit dus is dat die NGK-verband en by name die Algemene Sinode:
- sal erken dat die “vasgeloopte Situasie” getuig van eiewilligheid en wegstap van ons gereformeerde grondslag.
- sal vra na die standpunt en sienswyse van die Gereformeerde Kerke wêreldwyd rondom Skrifbeskouing en Skrifgesag (ook en onder andere ten opsigte van ons “vasgeloopte situasies”)
- sal terugkeer na die gesonde bril vir Skrifbeskouing en Skrifinterpretasie soos deur sowel die Gereformeerde geskiedenis as kerkgeskiedenis vir ons duidelik geleer.
- sal optree teen leraars en leiers wat weier om die gesonde bril ten opsigte van Skrifbeskouing en Skrifgesag (soos hierbo vasgestel) ten einde hulle tot die gesonde leer te laat terugkeer.
Ons as Kokstad Gemeente erken en waardeer die feit dat die Sinode NGK KZN op die vorige Sinodesitting hulle volkome en amptelik herverbind het tot die Woord as onfeilbare Woord van God en die belydenisskrifte onder die Quia standpunt (ons onderskryf die belydenisskrifte omdat dit ooreenstem met die Skrif).
Ons kyk met verwagting en hoop na die komende sinodesitting van die sinode NGK KZN einde volgende jaar vir hulle toepassing en uitvoer van hierdie besluit.
Ons gemeente het op grond hiervan die volgende besluite geneem:
- Die Kerkraad besluit dat ons as gemeente ons naam sal verander na: “Kokstad Gemeente”, in alle dokumentasie en handelinge.
- Die Kerkraad besluit dat ons as gemeente ons posisie ten opsigte van Sinodale werksaamhede en aktiwiteite leeg sal laat wees, en versoek om die Sinodesitting van NGK KZN as waarnemers einde volgende jaar by te woon. Ons hoop om daar die standpunt van die Sinode NGK KZN te hoor en ons besluit te heroorweeg.
- Die kerkraad besluit dat ons as gemeente ons plek ook leeg sal laat ten opsigte van Sinodale Bydraes tot ons tyd van dolering afgehandel is.
- Die Kerkraad besluit dat ons as gemeente steeds sal deel neem aan Ringsaktiwiteite totdat die nuwe leraars bevestig is en die Ring duidelike uitspraak lewer rondom hulle posisie oor gesonde Skrifbeskouing en Skrifgesag.
Ons vertrou dat die sinode NGK KZN en Ring van Port Shepstone ons tuiste sal bly en aktief sal werk om ons diepe verskeurdheid van hart te genees.
Die uwe
(Geteken)
Petrus Fouché
Leraar: Kokstad Gemeente
**************
Hier volg nog skrywes van Kokstad gemeente:
Brief aan Ring en Sinode KZN
6 Mei 2019
Die Voorsitter
Ring van Port Shepstone
Dag Broers en susters
Ons as NG Kerk Kokstad versoek ʼn duidelike antwoord rondom die posisie van die Ring en Sinode van die NGK KZN ten opsigte van onderskrywing van die Bybel as Woord van God en die belydenisskrifte met die noodwendige impak op die volgende sake:
Ons as NG Kerk Kokstad herbevestig ons volkome onderskrywing van die Bybel as die onfeilbare Woord van God, geïnspireer deur die Heilige Gees en volkome betroubaar. “Die Woord van God is nie deur die wil van ’n mens gestuur of voortgebring nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, eers gespreek en daarna neergeskryf”. “Die Woord van God is dus deur die Heilige Gees geïnspireer, dis God se Woord in mensetaal, wat beteken dat die Woord volkome gesaghebbend en betroubaar is, homself volledig bevestig en verduidelik en verhewe is bo enige menslike interpretasie of wêreldse beïnvloeding.” Ons verwerp dus die gedagte dat die Bybel bloot maar deur mense geskryf is, en deur die Heilige Gees tot Woord van God verklaar word soos en waar die Gees dit wil.
Ons as NG Kerk Kokstad herbevestig ons oortuiging soos vervat in die NGB Artikel 5:
“Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.”
Ons onderskryf die volledigheid en volheid van die Skrif op grond van Jesus se eie verklaring in Matteus 5: 14 – 18, en soos versterk deur teksverse soos Romeine 15: 4, 2 Petrus 1: 20, 2 Timoteus 3: 16 – 17 en Markus 12:24.
Ons doen dit in die woorde van NGB Artikel 7:
“Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie – ja, al was dit ook ’n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal. 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut. 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps. 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: ‘…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is’ (1 Joh. 4: 1), en: ‘As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…’ (2 Joh. :10).”
Ons herbevestig voorts ons onderskrywing van die Drie formuliere van Eenheid (die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls) as die mees betroubare Belydenisskrifte en derhalwe waardevolle instrumente vir die uitlê, verstaan en ontsluiting van die volle boodskap van die Heilige Skrif.
Ons as NG Kerk Kokstad herbevestig dat ons die belydenisskrifte (Drie Formuliere van Eenheid) onderskryf op die Qua standpunt, nl. omdat die belydenisskrifte met die Woord ooreenstem, is dit volkome waarheid. Ons verwerp dus die Quatenus standpunt wat verklaar dat ons die belydenisskrifte onderskryf in soverre dit met die Woord ooreenstem.
Ons verwerp die ruimte wat die Algemene Sinode van die NG Kerk skep en gee vir dwaling ten opsigte van Skrifgesag en Skrifbeskouing.
Ons verwerp die Algemene Sinode van die NG Kerk skep en gee vir die dwalinge akkommoderende houding ten opsigte van sake soos:
- Die werklikheid van die bose en Satan, al dan nie
NGB Artikel 12: “Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf geval, maar die ander het deur die genade van God in hulle oorspronklike toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het só ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is.
Soos moordenaars loer hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie.”
- Die feitlikheid van die maagdelike geboorte al dan nie
NGB Artikel 18: “Ons bely dat God die belofte aan die vaders deur die mond van die heilige profete inderdaad vervul het deur Sy eie eniggebore en ewige Seun in die wêreld te stuur op die tyd deur Hom bepaal. Hy het die gestalte van ’n dienskneg aangeneem en aan die mens gelyk geword (Filp. 2:7) deur werklik ’n egte menslike natuur, met al sy swakhede maar sonder sonde, aan te neem. Hy is in die liggaam van die geseënde maagd Maria deur die krag van die Heilige Gees en sonder die toedoen van ’n man verwek. Hy het nie alleen wat die liggaam betref, die menslike natuur aangeneem nie maar ook ’n egte menslike siel om so ’n werklike mens te wees.”
- Die feitlikheid van die hemel en die hel al dan nie
NGB Artikel 37: Ons glo ten slotte, in ooreenstemming met die Woord van God, dat, wanneer die tyd gekom het wat die Here bepaal het – dié tyd is vir alle skepsels onbekend – en die getal uitverkorenes volledig sal wees, ons Here Jesus Christus met groot heerlikheid en majesteit uit die hemel sal kom, liggaamlik en sigbaar, soos Hy opgevaar het (Hand. 1:11), om Homself as Regter oor die lewendes en dooies aan te kondig, terwyl Hy hierdie ou wêreld aan vuur en vlam sal prysgee om dit te suiwer. Dan sal, gedaag deur die stem van die aartsengel en deur die geklank van die basuin van God, alle mense, mans, vrouens en kinders, wat van die begin van die wêreld af tot die einde toe geleef het, persoonlik voor hierdie groot Regter verskyn (1 Tess. 4:16)…..
Daarom is die gedagte aan hierdie oordeel vir die oortreders en goddeloses met reg ontsettend en skrikwekkend maar vir die vromes en uitverkorenes begeerlik en troosryk. Want dan sal hulle volle verlossing voltooi word, en hulle sal daar die vrugte ontvang van moeite en lyding wat hulle gedra het. Hulle onskuld sal deur almal erken word, en hulle sal die verskriklike wraak sien wat God sal voltrek oor die goddeloses wat hulle in hierdie wêreld wreed vervolg, verdruk en gekwel het. Maar die goddeloses sal deur die getuienis van hulle eie gewete tot erkenning van hulle skuld gebring word; hulle sal onsterflik word dog slegs om gepynig te word in die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is (Matt. 25:41). Die gelowiges en uitverkorenes, daarenteen, sal met heerlikheid en eer gekroon word.
- Die verwatering van die sonde na menslike standpunte of oortuigings
NGB Artikel 14: “Ons glo dat God die mens uit die stof van die aarde geskep het; Hy het hom volgens Sy beeld en gelykenis gemaak en gevorm, dit wil sê goed, regverdig en heilig sodat hy met sy wil in alles met die wil van God kon ooreenstem. Maar toe hy in aansien was, het hy dit nie verstaan nie en sy uitnemendheid nie besef nie. Hy het homself egter, deur na die woord van die duiwel te luister, willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood en die vervloeking onderwerp. Hy het immers die gebod van die lewe wat hy ontvang het, oortree en homself deur die sonde losgeskeur van God, wat sy ware lewe was; so het hy sy hele natuur verderf en daarmee die liggaamlike en geestelike dood verdien. Hy het deur dat hy in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het, al sy voortreflike gawes wat hy van God ontvang het, verloor en hy het niks anders daarvan oorgehou nie as slegs klein oorblyfsels, wat egter genoegsaam is om hom alle verontskuldiging te ontneem. Al die lig wat in ons is, het immers in duisternis verander, soos die Skrif ons leer: En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie’ (Joh. 1:5), waar die heilige Johannes die mense duisternis noem. Daarom verwerp ons alles wat in stryd hiermee oor die vrye wil van die mens geleer word, aangesien die mens niks anders as `ʼn slaaf van die sonde is nie en: `’n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie’ (Joh 3:27). Want wie is daar wat daarop sal roem dat hy uit homself iets goeds kan doen, terwyl Christus sê: `Niemand kan na My kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie’ (Joh. 6:44)?”
- Die ruimte vir alternatiewe liefdesverhoudinge
Genesis 1: 27 – 28 God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”
Genesis 2: 20 – 24 Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie ’n helper, ’n gelyke, gekry nie. Toe het die Here God ’n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe ’n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ’n vrou en bring haar na die mens toe. Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.” Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.
Genesis 5: 1 – 2 Toe God die mense geskep het, het Hy hulle gemaak as beeld van Homself. Man en vrou het Hy hulle geskep en Hy het hulle geseën en hulle “mens” genoem toe hulle geskep is.
Markus 10: 5 – 12 Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat hy hierdie bepaling vir julle gemaak het. Maar van die begin af, van die skepping af, ‘het God hulle man en vrou gemaak.’ ‘Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, 8en hulle twee sal een wees,’ sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.”
In die huis het die dissipels Hom weer hieroor uitgevra. Hy sê toe vir hulle: “Elkeen wat van sy vrou skei en met ’n ander een trou, pleeg egbreuk teen sy vrou. En as ’n vrou van haar man skei en met ’n ander een trou, pleeg sy egbreuk.”
Romeine 1:24 – 27 Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer. Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen. Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ’n teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit.
Ons is met hierdie skrywe ʼn stem wat vra of daar nie ander gemeentes is wat ons standpunte deel en met wie ons hande kan vat om weer ons gereformeerde karakter terug te bring nie.
Die uwe
Petrus Fouché
namens: NG Kerk Kokstad
Beswaarskrif teen AS 2016
13 September 2016
Dr Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk
Posbus 13528
Hatfield
0028
gustavc@ngkerk.org.za
info@ngkerk.org.za
Dag Dr Claassen
BESWAAR TEEN DIE OPTREDE VAN DIE ALGEMENE SINODE SE JONGSTE STANDPUNTE
Ons as gemeente het beswaar aangeteken, maar die beswaar is van die hand gewys omdat ons as gemeente skynbaar te lank geneem het om byeen te kom en ons beswaar effektief te verwoord. Nou het ons weer net sewe dae om dit te kan doen en weer sit ons in die posisie van te min tyd.
Ons herhaal om hierdie rede weer ons beswaar en versoek die Algemene Sinode om diep na te dink oor hulle optrede.
Ons glo dat die beginsels vir hierdie besluite neergelê, nie gehandhaaf kan word nie en dat die suiwerheid van God se Woord hierdeur ernstig in gedrang gebring word.
Die bewyse hiervoor vind ons in die feit dat die Algemene Sinode duidelik verklaar het dat die sielkunde en wetenskap en ook die “algemene openbaring” die oorwegende feite in die besluit is. Dit word vandag “dieper” gedefinieer deur te verklaar dat ons met ʼn nuwe hermeneutiek moet werk waar alles in die Woord vloeibaar en oop word. Dit word ook versterk deur die teoloë en professore wat op grond van dieselfde hermeneutiek die maagdelike geboorte, bestaan van Satan en die bose en ander grondwaarhede bevraagteken en selfs wegredeneer.
Die waarheid is eerder dat die Here ons elkeen met die vryheid tot keuse geskape het, en dit is ʼn genade-geskenk van die Here. Nêrens in die Bybel egter word die gevolge van keuse en die keuse van mekaar geskei of verander nie: die loon van die sonde is die dood, wie reg lewe geniet die vreugdevolle gemeenskap met die Here.
Dit word ook gebruik as argument om nie meer konteksgedrewe (die Woord verklaar die Woord) Bybel te lees nie, maar selfs net ʼn woordjie te vat en die “gees” te laat verklaar wat die “gees” vir elkeen wil sê. Hierdie tegniek is op vele terreine aan ons as predikante en lidmate “afgesmeer” onder die vaandel van “goddelike lees” of so iets.
Die Gereformeerde teologie het nog altyd verklaar dat die Woord die Woord self moet verklaar en dus moet ons na God self gaan om antwoorde te kry. Enkele woorde of gedagtes is nie om na God te gaan nie, en versterk die self-beheptheid van die mens met sy outonomie (wat ten diepste sê: elkeen maak sy eie wette / besluit self)
Ons, as gemeente, verklaar hiermee dat
- die kerk geïnfiltreer is deur dwaalleraars,
- hulle hulleself in die hoogste posisies in ons kerke ingewerk het en
- hulle nie die waarheid van Artikel 1 van harte onderskryf nie.
Ons verklaar dat die nuwe hermeneutiek niks anders as kettery is nie en die vier grondwaarhede van die gereformeerde teologie ondermyn.
Ons versoek dus dat die NG Kerk gesuiwer word van dwaalleraars, dat daar teruggekeer word na die egte gereformeerde teologie en dat die Woord van God weer in ere herstel word.
Die uwe
Petrus Fouché
Leraar: NG Kerk Kokstad
Toeligting
Wat moet na ons mening alles oorweeg word in die hantering van die saak?
1. Hermeneutiek is gebou op beginsels wat toegepas word op tekste. Die konsekwentheid van hierdie toepassing is die maatstaf vir gesonde of ongesonde hermeneutiek (volgens die huidige geleerdes).
Dit beteken dat as dit die beginsel is dat die lewenswyse verander het, en sodoende die moderne verstaan van ʼn teks ook verander het, dit dan moet geld ten opsigte van elke sonde of saak in daardie teks.
As die beginsel is dat mense homoseksueel ( durf ons dan sê: pedofiel, kleptomaan, psigopaat, ens.) gebore word, moet dit van toepassing wees op almal wat met ʼn “defek” gebore is. Hulle kan hulleself immers nie help nie.
As dit tans die algemeen aanvaarde praktyk is, dan moet dit van toepassing wees op alles wat vandag algemeen aanvaarde praktyk is.
Hierteenoor het Paulus juis nie populisties in sy briewe en prediking gehandel nie, maar God se wil teenoor bogenoemde beginsels gehandhaaf. Paulus verklaar dat ons almal moet liefhê soos Christus almal liefgehad het – as sondaars wat deur Hom vrygekoop en nuutgemaak is of kan word.
(Ons is egter diep bekommerd dat die Algemene Sinode weereens deur hierdie verleiers (ketters) gemanipuleer gaan word soos met die besluite na die referendum rondom Artikel 1. Uit die referendum was dit baie duidelik dat die lidmate teen enige verandering aan Artikel 1 of die aanvaarding van Belhar was, en tog is die NG Kerk se beleid (Artikel 1) “verander” sodat wie anders wil doen, dit maar so kan doen. Is die Algemene Sinode regtig bereid om na die Woord van God alleen, soos ook bevestig deur die kerk oor eeue heen, te luister? Is die Algemene Sinode selfs regtig bereid om na die meerderheid lidmate in die NG Kerk te luister?)
2. Verder moet ons hierdie argument terugvoer na die heel basiese vraag: “Is dit geregverdig dat Adam se sondeval aan almal toegereken kan word? Kan God regtig almal veroordeel omdat hulle as sondaars gebore word, of moet God ons net veroordeel vir die misdade wat ons pleeg? As die mens van nature sondig is en daarom noodwendig sondig, kan God ons regtig hiervoor verantwoordelik hou?
Die feit is dat die Bybel ons baie duidelik leer dat ons van nature sondaars is én dat ons verseker sonde pleeg. Ons erf Adam se sondige geneigdheid en ons sondig doelbewus, ons KIES om te sondig.
Feit is dat die loon vir die sonde is die dood – beide fisiese dood en die ewige dood of skeiding tussen ons en God.
Feit is dat sonde ten diepste ongehoorsaamheid aan God se wil is, ons KIES dus doelbewus om God se Woord te verwerp, verdraai, wantrou.
Feit is dat niemand van ons hierdie straf hoef te dra nie – ons kan KIES om gehoorsaam te lewe. Die HERE het teen ongelooflike koste gesorg dat Sy Enigste Seun, Jesus Christus, Plaasvervanger vir ons is. Redding is ʼn genade-geskenk.
Feit is dat die mens op drie grondbeginsels veroordeel word: hy is uit Adam gebore, hy is van nature sondaar, hy is in woord en daad sondaar.
Feit is dat die mens op grond vrygespreek word: Hy is uit Christus gebore (weergebore), hy word Geesvervuld, van “nature” koninkryksburger, en Christus se woorde en dade word hom toegereken.
Die feit dat mense dus met “defekte” of “afwykings” of “anders” gebore word, is dus nie rede tot regverdiging van hulle dade of menswees nie. Ons almal stry ʼn hewige stryd teen verkeerde leefwyses, of dan ongehoorsaamheid aan God, en ons almal kan net in Christus oorwinning verkry.
3. Die onfeilbaarheid van die Woord is van kardinale belang en ons verstaan hiervan is onderskryf in die NGB Artikels:
Artikel 3 DIE GESKREWE WOORD VAN GOD
Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ’n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Pet. 1:21). Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (die profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel, en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif.
2 Pet. 1:21; Ps. 102:19,. Eks. 17:14 (Deut. 3); Eks. 34:27; Deut. 5:22; Eks. 31:18.
Artikel 4 DIE KANONIEKE BOEKE VAN DIE HEILIGE SKRIF
Ons vat die Heilige Skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie. Hulle getal in die kerk van God is soos volg:
Die boeke van die Ou Testament, nl. die vyf boeke van Moses: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium, die boeke Josua, Rigters, Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, 1 en 2 Kronieke (genoem Paralipomenon), Esra, Nehemia, Ester, Job, die Psalms van Dawid, drie boeke van Salomo: Spreuke, Prediker en Hooglied; die vier groot profete: Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël; en vervolgens die twaalf klein profete: Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maleagi; die boeke van die Nuwe Testament, nl.: die vier evangeliste: Matteus, Markus, Lukas en Johannes; die Handelinge van die apostels; die veertien briewe van die apostel Paulus: aan die Romeine, twee aan die Korintiërs, aan die Galasiërs, die Efesiërs, die Filippense, die Kolossense, twee aan die Tessalonisense, twee aan Timoteus, aan Titus, Filemon en Hebreërs; die sewe briewe van die ander apostels: die brief van Jakobus, twee van Petrus, drie van Johannes en die brief van Judas en die Openbaring van die apostel Johannes.
Artikel 5 DIE GESAG VAN DIE HEILIGE SKRIF
Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.
Artikel 6 ONDERSKEID TUSSEN DIE KANONIEKE EN APOKRIEWE BOEKE
Ons onderskei hierdie heilige boeke van die apokriewe boeke: die derde en vierde boek van Esra, die boek van Tobias, Judit, die Wysheid, Jesus Sirag, Barug, die byvoegsel by die geskiedenis van Ester, die Gebed van die drie manne in die vuur, die Geskiedenis van Susanna, die Beeld van Bel en van die Draak, die Gebed van Manasse en die twee boeke van die Makkabeërs. Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem.
Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.
Artikel 7 DIE VOLKOMENHEID VAN DIE HEILIGE SKRIF
Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie – ja, al was dit ook ’n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal. 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut. 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps. 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: ‘…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is’ (1 Joh. 4: 1), en: ‘As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…’ (2 Joh. :10).
2 Tim. 3:17; 1 Pet. 1:11-12; Spr. 30:6; Gal. 3:15; Op. 22:18; 1 Tim. 1:3; Gal. 1:8-11; 1 Kor. 15:2; Hand. 26:22; Rom. 15:4; Hand. 18:28-29; 1 Pet. 4; Luk. 11:13; 2 Tim. 3:24; 2. Tim. 1:13; Kol. 2:8; Hand. 4:19; Joh. 3:13; 2 Pet. 2:16; Joh. 15:15; 1 Joh. 1:5; Hand. 20:27; 2 Joh. 1; Joh. 4:25; Deut. 12:32; Heb. 8:9; Matt. 15:3; 17:5; Mark. 7:7; Jes. 1:12; Hand. 1:21; Rom. 3:4; Jes. 8:20; 2 Tim. 4:(3); 1 Kor. 1:13; 2:4; 3:11; 1 Pet. 5:12; 2 Tess. 2:2; Ps. 12:7; 19:8-9, 12; Deut. 4:6; 6:9,. Ef. 4:5; Joh. 5; Kol. 1:16, 18; 1 Kor. 8:6.
Artikel 28 ELKEEN IS VERPLIG OM BY DIE WARE KERK AAN TE SLUIT
Ons glo – aangesien hierdie heilige vergadering ’n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie – dat niemand, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal – as lede van een en dieselfde liggaam – aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien. En om dit beter te kan doen, is dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hulle af te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie, en hulle by dié vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou regerings en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die dood- of lyfstraf oplê. Daarom handel almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God.
Ps. 5:6; 22:23; Ef. 4:12; Heb. 2:12; Matt. 24:28; Jes. 49:22; 52:11-12; Hand. 4:17, 19; Heb. 10:25; Op. 17:2; Hand. 17:7; 18:13.
Artikel 29 DIE KENMERKE VAN DIE WARE EN DIE VALSE KERK
Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toe-eien. Ons praat hier nie van die huigelaars wat in die kerk met die goeies vermeng is en tog nie aan die kerk behoort nie alhoewel hulle uiterlik daarin is; maar ons sê dat `ʼn mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle die kerk is. Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf – kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie.
Vervolgens, aangaande die lidmate van die kerk: Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheld najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het.
Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.
Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.
Matt. 13; 2 Tim. 2:18-20; Rom. 9:6; Ef. 2:20; Joh. 10:4, 14; Matt. 28:20; Gal. 1:8; 1 Kor. 11:20; Kol 1:23; Hand. 17:11; Joh. 18:37; Ef. 1; Joh. 8:47; 17:20;1 Joh. 4:2 (en 3:9); Rom. 6:2; Gal. 5:17, 24; Rom. 7:5; Kol. 1:12; 2:18-19; Ps. 2:3; Op. 2:9; 17:3; Joh. 16:2.
Artikel 30 DIE REGERING VAN DIE KERK
Ons glo dat hierdie ware kerk ooreenkomstig die geestelike bestuurswyse wat ons Here ons in sy Woord geleer het, geregeer moet word. Daar moet naamlik dienaars of herders wees om die Woord van God te verkondig en die sakramente te bedien; ook ouderlinge en diakens om saam met die herders die kerkraad te vorm. Deur hierdie middel moet hulle sorg dra dat die ware godsdiens onderhou, die ware leer oral versprei, die oortreders op geestelike wyse vermaan en in toom gehou en die armes en bedroefdes ook volgens hulle nood gehelp en getroos word. Op hierdie wyse sal alles in die kerk behoorlik en ordelik geskied wanneer betroubare persone gekies word ooreenkomstig die voorskrif wat die apostel Paulus in die brief aan Timoteus daarvoor gee (1 Tim. 3).
1 Kor. 4:1-2; 2 Kor. 5:19; Joh. 20:23; Hand. 26:18; 1 Kor. 15: 10; Matt. 5:14; Luk 10:16; Gal. 2:8; Tit. 1:5; 1 Tim. 3.
Artikel 31 DIE AMPSDRAERS VAN DIE KERK
Ons glo dat die bedienaars van die Woord van God, die ouderlinge en die diakens tot hulle ampte verkies moet word deur middel van `ʼn wettige verkiesing deur die kerk, onder aanroeping van die Naam van God en in goeie orde, soos die Woord van God leer. Daarom moet elkeen terdeë daarteen waak om hom met onbehoorlike middele in te dring. Hy moet wag totdat hy deur God geroep word, sodat hy van sy roeping oortuig kan wees en sekerheid kan hê dat dit van God kom.
Verder, wat die bedienaars van die Woord betref: hulle het, op watter plek hulle ook al mag wees, een en dieselfde mag en gesag omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is – die enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die kerk. Verder sê ons, met die oog daarop dat die heilige bevel van God nie verkrag of geminag sal word nie, dat elkeen vir die bedienaars van die Woord en die ouderlinge van die kerk besondere agting moet hê ter wille van die werk wat hulle doen, en sover moontlik sonder murmurering, twis of tweedrag in vrede met hulle moet saamleef.
Hand. 6:3-4; 1 Tim. 4:13; Hand. 1:23; 13:2; 1 Tim. 5:22; 1 Kor. 12:28; Rom. 12:8; 1 Tim. 4:14; Matt. 18:26; 1 Kor. 3:8; Rom. 12:7-8; 2 Kor. 5:19; Hand. 26:18; Jes. 61:1; Ef. 1:22; Kol. 1:28; 1 Tess. 5:12-13; Heb. 13:7,17.
Artikel 32 DIE ORDE EN TUG VAN DIE KERK
Ons glo verder dat die regeerders van die kerk, al is dit nuttig en goed om onder mekaar ’n bepaalde orde tot instandhouding van die liggaam van die kerk in te stel en te handhaaf, tog noukeurig moet oppas om nie af te wyk van wat Christus, ons enigste Meester, vir ons ingestel het nie.
En daarom verwerp ons alle menslike versinsels en alle wette wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ook al, die gewetens daardeur te bind en te dwing. Ons aanvaar derhalwe slegs wat kan dien om eendrag en eenheid te bewaar en te bevorder en om alles in gehoorsaamheid aan God te onderhou. Daarvoor is nodig die ban en alles wat daarmee saamhang, toegepas ooreenkomstig die Woord van God.
1 Kor. 7:57; Kol. 2:6-7; Matt. 15:9; Jes. 29:13; Gal. 5:1; Rom. 16:17-18; Matt. 18:17; 1 Kor. 5:5; 1 Tim. 1:20.
Hierdie onderskrywing of verstaan is deur elke gelegitimeerde predikant van die NG Kerk onderteken op die Quia-standpunt en wie dus hiervan verskil, moet onder die tug geplaas word en van hul ampte onthef word.
4. Ons moet as Kerk weer ernstig vra na wie (Wie) ons lewens bepaal. In ʼn Teo-nomie is God die Wetgewer wat Sy wet in ons harte en lewens ingraveer en ons dien Hom dankbaar in waarheid en opregtheid. In ʼn Hetero-nomie is daar ʼn ander wetgewer waar die minderheid dikwels die meerderheid voorskryf (soos waar ʼn regering of koning en sy elite die wette maak en almal dans na hulle pype). In ʼn Outo-nomie besluit ons elkeen self watter wet vir hom of haar aanvaarbaar is. Laasgenoemde twee lei dikwels juis tot onverdraagsaamheid, konflik en opstandigheid.
5. Ons moet waak teen ʼn verworde kerk. Iemand het die volgende hieroor geskryf: “Die kerk van Jesus Christus, die HERE, is nie veronderstel om ʼn demokrasie met ʼn spyskaart oor wat waarheid is vir wie, wanneer & hoe ook al, te wees nie. Sy moet ook nie ‘navorsing’ (á la die nuwe moderator) doen oor dinge wat in die Woord duidelik is nie. Die Kerk moet as roeping van God die waarheid verkondig téén die tydsgees in, anders is dit nie meer kerk van Jesus, die Woord van God, nie – maar het ʼn sosiale klub geword, ʼn restaurant met ʼn keuse op die spyskaart. Die NGK se Jesus is ʼn ‘ander Jesus’, en die NGK se evangelie is ʼn ‘ander evangelie’ – sonder bekering, sonder oproep tot bekering voor die kruis van Christus. ʼn Eensydige Jesus word nou verkondig & daar is net sprake van, wel, “Liewe Jesus”. Die genade & liefde word nou humanisties-eensydig beklemtoon & die kruis & bekering van sonde word onderslaan. ‘Menswaardigheid’ staan nou sentraal. Dit is dodelik, want dit is humanisties. Daar word nou uit ʼn humanistiese bril na Jesus gekyk. Dit tas in wese sy godheid aan want daar word afskeid geneem van Sy probleem met sonde – waarvoor Hy gesterf het. Deur lg. te ontken m.b.t. sonde, is volgens die Skrif om die bloed & die kruis van Jesus te vertrap & die genade goedkoop te maak & uit verband te ruk in terme van menslike denke oor God – i.p.v. om te buig voor die Woord wat Hy as openbaring gegee het.”
Die ware Bybeluitleg het nog altyd vanuit die Bybel na die huidige situasie gekom en dan die situasie “reggestel”. Die huidige situasie het nooit in die verlede die Bybel “reggestel” nie.
6. Die ware beginsels wat God in Sy Woord vir ons gee, is deur die eeue verwerp en mense wat dit nie wou verwerp nie, is selfs hiervoor gedood. Tog is daar telkens na diepe besinning ontdek dat wat God bepaal het, regtig ons heil en gesondheid ten doel het.
Voorbeeld 1: Vir baie eeue het dokters nooit hul hande gewas nadat hulle aan ʼn lyk geraak het nie, en die mortaliteitsyfer in die operasies en behandeling van pasiënte daarna was geweldig hoog. Tot een dokter begin het om sy hande onder lopende water te was en nie af te droog met ʼn handdoek nie. Toe daal die mortaliteitsyfer tot bykans geen. Dit is ʼn beginsel wat die Here in Sy Woord reeds deurgegee en as opdrag gegee het.
Voorbeeld 2: God het duidelik geleer dat die Israeliete hulleself van ondertrouery met die heidene moet weerhou, want die vreemde volke sou hulle verlei tot afgodery en hulle liefde vir God alleen laat taan. Salomo is die duidelikste voorbeeld van iemand wat nie geluister het nie, en hy is verlei tot sondedade – en die koninkryk is geskeur en op die ou end vernietig.
7. Die huwelik is ʼn afbeelding van die verhouding tussen Christus en Sy bruid. Die werklikheid is dus in die hemel en die spieëlbeeld hier op aarde. Deur die huwelik te verdraai, verdraai ons die Hemelse Beeld. Die huwelik is immers deur God ingestel (Genesis 1: 27), nie deur die samelewing nie.
8. In die bronnelys van die AS is ʼn studiestuk aangehaal wat glad nie voor die AS gedien het nie. ʼn Stuk wat teen die progay groep se standpunte gestaan het. Dit bewys dat die sinodegangers nie met al die feite bedien is nie.