NG gemeentes kies ‘virtuele’ ring oor gay beleid

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NG gemeentes kies ‘virtuele’ ring oor gay beleid | Rapport

Johan Eybers

Sondag, 16 Februarie 2025

Verskeie gemeentes in die NG Kerk het aangedui hulle wil by ringe aansluit wat gekant is teen selfdegeslag-verhoudings.

Die Kerkorde is in 2023 gewysig sodat gemeentes nie meer geografies saamgestel hoef te wees nie.

Dié besluit is geneem om gemeentes wat onder meer nie gay-huwelike wil bevestig nie, toe te laat om by streeksinodes of ringe in te skakel wat hul siening deel.

Die NG gemeente Parys-Suid, met 111 belydende lidmate, het onlangs ’n formele versoek gerig om by ’n “teologies-kategoriale ring” in te skakel, wat binne die NG Kerk Vrystaat gestig kan word. Die versoek volg op die gemeente se besluit om ’n dispuut met sowel die Vrystaatse Sinode as die Algemene Sinode (AS) te verklaar oor sy standpunt oor selfdegeslagverhoudings.

Die kerkraad sê die goedkeuring van selfdegeslagverhoudings “is strydig met die Gereformeerde Skrifuitleg” en dat hy in dispuut tree met die AS oor “die dwaling wat deur die AS gepropageer word”.

Volgens Jan Lubbe, voorsitter van die moderamen van die NG Kerk Vrystaat, is dit ’n nuwe proses om by ’n “teologies-kategoriale ring” aan te sluit, maar dit val binne die bestaande kerkordelike raamwerk.

“Dit is ’n nuwe terrein, en die tyd sal ons hieroor moet leer,” het Lubbe gesê.

Hy het verder verduidelik dat die proses vir gemeentes wat by ’n nuwe kategoriale ring wil inskakel, soortgelyk is aan dié wat gevolg word wanneer gemeentes wil aansluit by ’n ander streeksinode wat sy sienings deel.

Die NG Kerk Vrystaat het tans 15 ringe, wat hoofsaaklik op geografiese naburigheid gegrond is.

Indien ’n kategoriale ring gestig word, sal dit die 16de ring in die Vrystaat wees, sê Lubbe.

Sodanige ring sal, net soos die ander ringe, verteenwoordiging hê op sinodale vergaderings, die moderamen, taakspanne en die Vrystaatse Kuratorium, verduidelik Lubbe.

Lubbe het ook verwys na die Sinode van Goudland, wat in 2019 ’n dispuut met die AS verklaar het oor die besluit rondom selfdegeslagverhoudings.

Ná verskeie vergaderings en gesprekke is daar oor ’n tydperk van vier jaar “ ’n mate van duidelikheid en vrede bereik”, sê Lubbe.

Hy het beklemtoon dat die NG Kerk se kerkorde ruimte bied vir verskillende teologiese standpunte en dat gemeentes hul eie posisie kan inneem binne die breër kerkverband.

Volgens Lubbe het die moderamen van die NG Kerk Vrystaat reeds ’n uitnodiging aan die kerkraad van Parys-Suid gestuur om te praat oor hul versoek en besware.

“Twee ander gemeentes het ook amptelik aangedui dat hulle by so ’n kategoriale ring wil inskakel. ’n Aanbeveling hieroor sal op 10 Maart op die moderamen se vergadering dien.”

Lubbe sê die wysiging van art. 32 van die Kerkorde om voorsiening te maak vir kategoriale ringe gee gemeentes die geleentheid om hul eie teologiese identiteit binne die NG Kerk te behou, terwyl hulle steeds deel bly van die breër kerkverband.

nuus@rapport.co.za

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui