Kyk ook: |
NG Kerk: Álmal gelyk | Netwerk24
Deur Jana Marx
08 Oktober 2019 22:20
Die NG Kerk het Dinsdag homoseksuele mense se menswaardigheid ten volle bevestig, het prop. Hennie Pienaar en prop. Laurie Gaum gesê nadat die NG Kerk ’n besluit in die guns van sy gay lidmate en gay predikante geneem het.
Die altesame 192 afgevaardigdes het Dinsdagmiddag en -aand by die algemene sinode in Benoni dié brandpunt op die agenda deurgetrap.
Gaum en Pienaar was besoekers aan die vergadering.
“Ons is verlig en dankbaar oor ’n stap om LGBTQI-persone se menswaardigheid ten volle te bevestig. Dit is die begin van ’n pad van groter verstaan vir meer mense. Dit kan ’n proses van herstellende geregtigheid en heling in die kerk inlei,” het Pienaar ná die tyd gesê.
“Ons verstaan dis ’n proses wat ook met gemeentes, ringe en streeksinodes geloop moet word en ons bied hulp en vaardighede aan om daarmee te help.”
Die sinode het die beskrywingspunt deur die sinode van Wes-Kaapland aanvaar nadat hy sy “2015-besluit” – wat kerke die geleentheid gegee het om self te besluit of hulle eengeslagverhoudings wil erken, gay paartjies wil trou en gay predikante wil aanstel – nietig verklaar het.
Die sinode het gevind dat die besluit wat in 2015 by die algemene sinode geneem is, met prosedurele foute deurspek is. Dit is nietig verklaar en die proses het van voor af begin.
Die Wes-Kaap se beskrywingspunt se hele uitgangspunt is dat die eenheid in Christus so groot is dat dit ruimte maak vir ’n verskeidenheid van menings oor hierdie saak. Dit stem inhoudelik baie ooreen met die 2015-besluit, in soverre dit ook vir kerkrade die ruimte bied om self te besluit of hulle eengeslagverhoudings erken, gay paartjies trou en gay predikante wil aanstel.
“Die algemene sinode betreur dat die verloop van die debat en die besluite in die kerk die afgelope jare lidmate verwar en seergemaak het. Die algemene sinode vra gay lidmate en hulle families wie se menswaardigheid wetend en onwetend misken is, uitdruklik om verskoning vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het,” lui die beskrywingspunt.
Dr. Frederick Marais het in sy repliek gesê die boodskap aan gemeentes is: “In die gees van ’n soeke na konsensus het die algemene sinode gesien dat ons verskil oor sake, maar besluit ons gaan ophou om hieroor ’n geveg te voer.”
“Dit beteken jy gaan met groot hoop terug na jou gemeente toe, want as ons onderlinge verskille het, is hier ’n heerlike raamwerk wat ons gaan help om daardie verskille te hanteer.”
Hy sê as ’n gemeente nie met sy buurgemeente saamstem nie, die gemeentes moet aanvaar hulle het die reg om te verskil.
Luidens die besluit moet die algemene sinode ’n span saamstel wat streeksinodes besoek en die besluit “deeglik” saam met hulle “deurwerk”.
Reaksie voor stemming:
Ds. Attie Nel het verduidelik dié beskrywingspunt maak nie ’n besluit in 2004 – dat heteroseksuele, sowel as homoseksuele losbandigheid nie deur die kerk toegelaat word nie – onklaar nie.
Ds. Johan Brink van die Goudland-sinode en voorsitter van die algemene sinode se fondse en bates, meen die kerk het in 2015 ’n groot fout gemaak. Hy noem ook dat waar die kerk jaarliks ’n geraamde groei van 5% in inkomste getoon het, daar sedert die 2015-besluit net groei van 1% was.
Prof. Malan Nel het gesê hy steun die beskrywingspunt – hy meen kerkeenheid lê in Christus, wat beteken almal hoef nie oor alles saam te stem nie.
Volgens dr. Danie Nel van die Wynberg-gemeente gaan dit hier oor mense wat in verhouding met die Here leef en Hom ook wil ontdek soos enige ander lidmaat.
Ds. Michelle Boonzaier, een van die aansoekers in die hofsaak, het gesê dat sy as ’n bruin predikant in die NG Kerk ’n ander uitkyk oor die lewe het as wit mense. Sy sê die beskrywingspunt gaan oor soveel meer as LGBTI.
Ds. Nico van Rensburg, uitvoerende hoofbeampte van die Goudveld-sinode, het teen die agtergrond van die fliek Titanic se temalied gesê hy pleit dat die besluit eers na streeksinodes verwys word vir oorweging.
Dr. Bertus Cilliers was nie oortuig dat die beskrywingspunt in ooreenstemming is met die Bybel nie. Hy sê daar is baie wat met hom saamstem. Hy meen vir hierdie mense is ’n besluit “wat ruimte maak, ’n krisis”, want dis ’n “ruimte vir sonde”.
[Kommentaar: Ruimte vir sonde is dit inderdaad…]