NG Kerk begaan ‘wesenlike foute’ toe hy klag teen moderator wegwys

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NG Kerk begaan ‘wesenlike foute’ toe hy klag teen moderator wegwys | Rapport

Johan Eybers

22 Maart 2025

’n Ondersoekliggaam van die NG Kerk het wesenlike prosedurele foute begaan in die hantering van ’n klag teen ds. Jan Lubbe, die kerk se moderator.

So het ’n sinodale appèlliggaam van die NG Kerk bevind nadat hulle die ondersoekliggaam se aanvanklike besluit onder die loep geneem het.

Die besluit om nie ’n formele tugondersoek teen Lubbe in te stel nie, is tersyde gestel. ’n Nuwe, onafhanklike tugliggaam sal nou die saak van voor af ondersoek.

Die vorige ondersoekliggaam het ’n klag oorweeg dat Lubbe in ’n radio-onderhoud stellings gemaak het oor die uniekheid van Jesus Christus en die rol van die kerk “wat radikaal van die amptelike en kerkregtelike standpunt van die kerk verskil”.

Die vorige ondersoekliggaam het aanbeveel dat verdere gesprekke gevoer word oor die teologiese kwessies wat deur die saak aan die lig gebring is, maar wou nie ’n formele tugondersoek instel nie.

Emeritus professor Johan Janse van Rensburg, wat die klag teen Lubbe aanhangig gemaak het, sê in sy appèlaansoek die prosedure wat in die aanvanklike ondersoek gevolg is, voldoen nie aan die vereistes van die Kerkorde nie. Hy sê hy is nie behoorlik in kennis gestel van die bevindinge en besluite nie.

Janse van Rensburg voer in sy klagte aan dat die moderator se uitlatings die Heilige Skrif en die belydenisskrifte van die kerk weerspreek.

Die kern van die geskil lê by Lubbe se stellings oor Abraham in ’n RSG-onderhoud, waar hy gesê het: “Abraham het Jesus nie geken nie, en tog noem Hebreërs 11 hom een van die gelowiges wat in die hemel is.”

Janse van Rensburg meen hierdie uitspraak bots lynreg met die tradisionele Reformatoriese teologie, wat beklemtoon dat geloof in Jesus Christus die enigste weg tot verlossing is.

Hy beweer Lubbe het daarmee gesuggereer dat alle gelowe ewe geldig is en dat mense wat nie in Jesus Christus glo nie, steeds gered kan word.

Dr. Nioma Venter, hoofsekretaris van die NG Kerk se Algemene Sinode, het by navraag die sinodale appèlliggaam se besluit bevestig.

“Die appèlliggaam het geen uitspraak oor die teologiese meriete van die saak gemaak nie, aangesien die prosedurele foute die bevindings tot ’n nulliteit gemaak het.”

Volgens Venter het sowel Janse van Rensburg as Lubbe gevra dat daar so spoedig moontlik ’n nuwe tugliggaam aangewys word om die saak te ondersoek en af te handel.

johan.eybers@media24.com

Kommentaar

xxx

1 thought on “NG Kerk begaan ‘wesenlike foute’ toe hy klag teen moderator wegwys”

  1. Van Rensburg is altyd aan die kla oor iets en ek dink nie die Sinode ens is meer lus om hom te antwoord nie. Hy neem baie van mense se tyd in beslag net om sy sin te kry. Hy moet erens op die stoep gaan sit en kyk na die sonsopkoms en ondergaan sonder om ander mense te pla.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui