NG Kerk beskuldig van ‘heksejag op behoudendes’

Kyk ook:

Hierdie artikel volg ‘n week na ‘n onderhoud met Dr Chris Saayman van Tafelberggemeente op Youtube.

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NG Kerk beskuldig van ‘heksejag op behoudendes’ | Netwerk24

Arisa Schamrel

12 Maart 2025

Die Koinonia-sinode beskuldig die leierskorps van die NG Kerk (NGK) daarvan dat hy ’n “heksejag op behoudende leraars en gemeentes” voer, met gemeentes wat reeds sak en pak aan die kerk onttrek het.

Die kerk se Algemene Sinodale Moderamen (ASM), oftewel die kerk se bestuur, sê op sy beurt hy moedig versoening aan, maar hy kan nie die Koinonia-sinode van behoudendes as ’n selfstandige sinode van die NGK erken nie omdat dit “buite die Kerkorde” gestig is.

Die Koinonia-sinode se ontstaan het gevolg weens onder meer ontevredenheid oor die NG Kerk se besluit om ruimte te skep vir selfdegeslagverhoudings.

Die ASM en die Koinonia-sinode is dit wel eens dat die kerk nie mag skeur nie.

Dr. Anton Knoetze, voorsitter van die Koinonia-sinode, sê by navraag die sinode het nie sy visie verander om reformasie van binne die kerk te bewerkstellig nie.

“Ons beleid is ook steeds om sover moontlik die kerkskeuring te stuit.

“Hoewel Koinonia nie gemeentes aanraai om elkeen op hul eie weg te breek vanaf die NG Kerk nie, word sommige gemeentes daartoe gedwing deur die toenemende landswye heksejag op behoudende leraars en gemeentes,” sê Knoetze.

Die Koinonia-sinode is in 2023 vir behoudendes gestig.

Dit het aanvanklik as die Kairos-netwerk van behoudendes begin wat kort ná die besluit oor selfdegeslagverhoudings op die Algemene Sinode se vergadering in 2019 gestig is.

Koinonia het in die verlede al die ASM onder meer van “liberale teologie” en “dwaalleer” beskuldig.

Oor sy nuutste aantyging van ’n heksejag sê Knoetze die leierskorps het al selfs op die televisie ’n “aantal onwaarhede” oor sy sinode versprei.

“Daar was op TV genoem dat pensioene en geboue in die gedrang kan kom.

“Heelwat leraars is amptelik vervolg en hul ampsbevoegdheid is weggeneem.

“Die probleem is dat leraars getug word oor die besluit wat hul kerkrade geneem het (om by Koinonia aan te sluit),” sê Knoetze.

Volgens hom het vyf gemeentes reeds weggebreek van die kerk, met nog 10 wat nou in gesprekke daaroor is.

‘Hartseer as selfs een gemeente wegstap,’ sê ASM

Dr. Nioma Venter, algemene sekretaris van die ASM, sê by navraag die kerk is slegs bewus van vier gemeentes wat formeel weggebreek het.

“Die NG Kerk het 1 070 gemeentes. Dit bly hartseer as selfs net één wegstap.

“Een gemeente is te veel,” sê Venter by navraag.

Sy sê diegene wat aantygings maak oor ’n “heksejag” en die “vervolging” van predikante, “stel hul onkunde ten toon”.

Venter verduidelik dat die ASM geen “mandaat het om ’n predikant aan te kla of te vervolg nie”.

Wat die aantygings oor predikante se pensioen betref, sê Venter leraars behoort aan ’n groepskema met sy eie voorwaardes.

“ ’n Leraar wat uit die NG Kerk bedank, of sy of haar bevoegdheid verloor, het toegang tot sy of haar pensioen.

“Voorwaardes vir lidmaatskap aan ’n groepskema word deur die groepskema bepaal en nie deur die kerk nie, net soos die geval in enige ander werkplek,” aldus Venter.

Sy benadruk dat die Algemene Sinode uit 10 sinodes bestaan.

“Ons het ’n bepaalde orde waarvolgens ons funksioneer.

“Die Koinonia-groepering het buite die Kerkorde tot stand gekom en kan daarom nie as ’n selfstandige sinode van die NG Kerk beskou word nie,” sê sy en benadruk dat die ASM deurlopend versoening aanmoedig.

“Onthou, die ASM is die plek waar die 10 sinodes byeen is, om oor ons gesamentlike identiteit en roeping te besin – nie om stryd aan te blaas nie.

“Daar soek ons juis vir oplossings van dit wat ongelukkigheid veroorsaak, maar binne die orde van ons kerk,” sê Venter en benadruk dat leraars en gemeentes wat ongelukkig is, enige tyd klarigheid by die ASM kan kry. “Daar is ook verhale wat vertel kan word van gemeentes wat danksy hierdie tipe prosesse berusting gevind het en van dispute wat tersyde gestel is.”

Só werk ’n klagte teen ’n leraar:

Klagtes teen predikante word plaaslik gedoen – dikwels vanuit die gemeente of ring self – en kom in die vorm van ’n skriftelike klag, ’n amptelike verslag, of ’n gerug op die tafel van die plaaslike kerkraad en ring.

Predikante kan aangekla word deur lidmate, en/of kerkrade waar die predikant hom/haarself skuldig maak aan onaanvaarbare gedrag ten opsigte van leer en lewe.

Die gedrag sluit in owerspel, onsedelikheid, seksuele teistering, molestering, pornografie, egskeiding, moord, aanranding, meineed, diefstal, bedrog, rassisme, haatspraak, laster, leerdwaling en skeurmakery.

Ondersoeke teen predikante is ’n geslote vergadering waar vertroulikheid in alle opsigte geld.

Die eerste stap ná so klag ontvang is, is vir die ring om ? ondersoekliggaam aan te stel en dan verloop daar ’n baie presiese proses binne die raamwerk van kerkregtelike orde. As die klag nie stand hou nie, lei dit uiteraard daartoe dat die leraar vrygespreek word.

As die leraar nie tevrede is met die uitslag van ’n ondersoek nie, is daar verdere kerklike weë om ’n appèl aanhangig te maak.

Kommentaar

xxx

1 thought on “NG Kerk beskuldig van ‘heksejag op behoudendes’”

  1. Ons “Abba Vader/Pappa, Jehovah/Yahweh, het geen probleem met sty “stryende Babas” nie. Dit was van altyd af so en sal vir altyd so wees dat hulle wat stry nog Babas is.

    1 Kor. 3: 1 En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.
    2 Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie,
    3 omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?
    4 Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos — is julle nie vleeslik nie?
    5 Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het.
    6 Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.
    7 So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.

    Groot Kinders stry nie. Hulle doen vermanings. Soos Paulus. En dan aanvaar Petrus sy verkeerdheid.

    Gal. 2:11 Maar toe Petrus in Antiochíë gekom het, het ek hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordeeld gestaan het.
    12 Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar ná hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is.
    13 En saam met hom het ook die ander Jode geveins, sodat selfs Barnabas hom laat meevoer het deur hulle geveins.
    14 Maar toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat ‘n Jood is, soos ‘n heiden lewe en nie soos ‘n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?
    15 Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie,
    16 terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.

    Ek weet baie goed hiervan. Toe ek uit die kweekskook kom en begin preek het ek gedink ek is op “vleis”. En toe vind ek uit ek moet by Melk begin. En toe begin ek daar en preek oor die Melk. En die wat vol trots was in Stanford gemeente kon dit nie hanteer nie. En as “Babas” het hulle my begin vervolg en die gemeente omgekrap. En toe moes my band losgemaak word. Maar ek het bly groei en toe wel by die vleis van die Woord gekom. Maar wie kan “Babas” wees as jy ‘n paar grade agter jou naam het. Kennis wat jy van die boom van kennis van goed en kwaad gekry het en nie van Die Boom van Lewe nie?

    Slegs geloofsgroei in jou binnekamer kan enigiemand laat opgroei in die Lewe van Abba Vader, Pappa Yahweh. Waar jy opgroei in die Naam van Jesus as Sy Kind of Seun.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui