NG Kerk Namibië tree ná jarelange proses uit verband met NG Kerk se Algemene Sinode

Kyk ook:

Die uitslag was blykbaar 64 stemme teen 12 vir uittrede. Dit het dus 64 / (64+12) = 84.2% gestem vir uittrede.

********

NG Kerk Namibië tree ná jarelange proses uit verband met NG Kerk se Algemene Sinode | Kerkbode

Deur Le Roux Schoeman

20 Maart 2025

Die NG Kerk in Namibië wil “nuwe bilaterale ooreenkomste” sluit ná dié voormalige streeksinode van die NG Kerk op Donderdag 20 Maart ’n besluit geneem het om uit verband te tree met die NG Kerk se Algemene Sinode (AS).

Die goedgekeurde aanbeveling praat van ’n “nuwe bedeling” en ’n soeke na samewerking en ondersteuning met “ander rolspelers in die koninkryk”.

Die jongste verwikkeling was nóg vinnig, nóg sonder teenstemme. Die “papierspoor” tot by die aanbeveling wat goedgekeur is, beslaan talle blaaie in die 115-blad-agenda wat voor sowat 80 afgevaardigdes gedien het. Dit beskryf die proses sedert dié kerkleiers se vorige sinodesitting, in 2022. Enkele energieke pogings tot “revisie” of omkeer van dié historiese skuif is met gemaklike meerderheid vroeër die oggend van die tafel gevee.

Ná die stemuitslag bekendgemaak is, rondom 15:00 op Donderdagmiddag, het ds Johannes Maritz gesê: “Kom ons hou mekaar hiervandaan vas, om versoenend met mekaar te leef, ook met diegene wat nie noodwendig hartlik met ons saamstem nie.” Foto’s: Le Roux Schoeman

En op ’n stortreëndag in die Namibiese hoofstad het verteenwoordigers van sowat 42 gemeentes in dié land uiteindelik met ’n tweederdemeerderheid gestem dat die 2022-besluit (om bande los te maak met die Algemene Sinodale verband) “van krag word”.

Die stemmery het plaasgevind in die gemeentesaal van NG Gemeente Suiderhof in Windhoek, waar die sinodesitting van 19-23 Maart plaasvind.

“Ons moet die mikrofoon eet soos ’n roomys,” het die Namibiese moderator, ds Johannes Maritz, die afgevaardigdes gemaan wanneer sprekers se stemme telkens weggeraak het weens die gedruis van harde reën op die kerksaaldak. Ds Zack Pienaar, predikant in sinodale diens (sonder stemreg), het homself “absoluut distansieer” van die aanbeveling voor dit aanvaar is. “Wat ons dit ookal noem, dit is ’n skeuring wat besig is om plaas te vind,” het Pienaar gesê. Hy het met verwysing na die NG Kerk se susterkerk die VGK en dié se verhouding met die NG Kerk in Afrika verwys na hoe pynlik skeuring kan wees. “Ek het nooit gedink ek sal in ’n situasie kom soos vandag nie, waar die eenheid van die kerk erg op die spel is.” Ook ds Eddie Turner was deel van die minderheid wat sy beswaar teen die besluit op die rekord wou hê.

Die vergadering was kennelik in minder bekende kerkregtelike terrein en wou kerkordelike opsies gebruik om steeds “NG” te bly, maar inderdaad los van die AS, wat in 1962 as “sinode van sinodes” gevorm is, as ’n mens na ds Thijs van der Merwe, die voormalige algemene sekretaris van die NGKN, se verduideliking luister.

Nou bestaan die NG Kerk se AS uit nege samestellende streeksinodes (ook genoem kerke).

Ná die stemuitslag bekendgemaak is, rondom 15:00 op Donderdagmiddag, het ds Maritz gesê: “Kom ons hou mekaar hiervandaan vas, om versoenend met mekaar te leef, ook met diegene wat nie noodwendig hartlik met ons saamstem nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui