NG Kerk nou in ’n gay-mynveld

Kyk ook:

Die volgende artikel wys weereens die gemors waarin die NG Kerk haarself bevind.

*********

NG Kerk nou in ’n gay-mynveld

Deur Jean Oosthuizen, 21 Augustus 2016 00:00

Die NG Kerk bevind hom in ’n mynveld van onsekerheid ten opsigte van sy eie kerkorde.

In ’n brief wat verlede Saterdag “spoedeisend” aan al die kerk se predikante gestuur is enkele ure nadat Rapport navraag gedoen het oor ’n prokureursbrief wat aan die kerk bedien is, probeer dr. Gustav Claassen, die kerk se hoofsekretaris, vure doodslaan.

Die NG Kerk het tot Vrydag kans om die algemene sinode se besluit dat gays mag trou, toe te pas, anders word hulle hof toe gesleep.

Dit kom nadat ’n groep van 11 lidmate, meestal gesiene teoloë, die kerk gedreig het om die sinodebesluit van Oktober verlede jaar, dat gays wel in die kerk mag trou, onmiddellik in te stel.

Die kerk het sedertdien die opsienbare en historiese besluit tydelik agterweë gehou nadat sommige lidmate daarteen geappelleer het. In sy brief, wat verlede Saterdag aan predikante gestuur is, skryf Claassen: “Hierdie skrywe, langer as gewoonlik, wil aan jou belangrike inligting en agtergrond gee oor ’n berig wat heel moontlik môre, 13 Augustus, in Rapport sal verskyn.”

Hy haal die kerk se moderator, Nelis Janse van Rensburg, aan wat erken die kerk bevind hom “in onbekende vaarwaters” teen opsigte van die appèlproses wat teen die sinodebesluit oor homoseksualiteit ingedien is.

Claassen erken in sy brief dat daar van die begin af vrae was of die reglement, waarvolgens die algemene sinode se besluit opgeskort is hangende die appèl, self aanvegbaar is.

Dit is omdat die kerkorde gewoonlik nie die moontlikheid van appèlle teen besluite van die algemene sinode voorsien nie omdat die sinode die kerk se hoogste besluitnemingsliggaam is. Die omstrede en volgens sommige teenstrydige reglement 19, wat beswaardes gebruik het om die sinode se gay-besluit tydelik agterweë te hou, is eers in die onlangse verlede tot die kerkorde toegevoeg.

’n Regskenner sê aan Rapport daar is steeds ruimte vir ’n gesprek oor die kwessie, maar die dreigende hofgeding laat die kerkvaders in ’n swakker posisie.

“Boonop sal die reg nou toesig hou oor sulke gesprekke en dit sal nie meer agter toe deure kan wees nie.”

In kerkgeledere is daar ook ­erge ongelukkigheid oor die regsmenings waarop die kerk hul besluit gegrond het om die sinode se gay-besluit op ys te plaas hangende die appèlle.

Rapport is in besit van dié regsmenings. Twee hiervan bestaan uit SMS’e van twee advokate van een sin elk. Die SMS’e maak geen melding van die kerkorde waarteen die kerk hom vasgeloop het nie.

Die ander regsmenings wat deur die kerk ingewin is, was van die afgetrede regter Willie Hartzenberg en Chris du Plessis van die prokureursfirma Le Roux, Mathews & Du Plessis Attorneys.

Hartzenberg wys op die beginsel dat ’n appèl slegs aangeteken kan word na ’n hoër instansie wat groter in statuur is as die instansie teen wie se beslissing geappelleer word. Hartzenberg wys daarop dat daar in kerklike verband geen hoër liggaam as die algemene sinode is nie.

Tog meen hy dat ’n appèl na ’n volgende algemene sinode moontlik is. Hartzenberg verwys ook na die gemene reg waar ’n appèl teen ’n beslissing van die hof gewoonlik beteken dat daardie beslissing opgeskort word.

In sy regsmening rakende appèlle aan die kerk sê Du Plessis hy kon geen bepaling in die kerkorde vind oor wat die uitwerking van ’n appèl of ’n beswaar op die inwerkingtrede van ’n besluit van die algemene sinode is nie.

Sy voorlopige mening aan die kerk was dat indien daar ’n regsgeldige appèl teen enige besluit van die algemene sinode ingebring word, die uitwerking daarvan sal wees dat sodanige besluit opgeskort word tot en met die afhandeling van die appèl.

Adv. Wim Trengove, wat optree namens die 11 lidmate wat kerk hof toe wil neem, sê die ­reglement in die kerkorde waarop die kerkleiers hulle beroep, is ongeldig omdat dit ondergeskik is aan die kerkorde.

Hy stem ook nie saam met die regsadvies wat die kerk ingewin het dat appèlle volgens die gemene reg outomaties opgeskort word nie. Volgens Trengove is dit ook nie vanselfsprekend dat die gemene reg net so op interne kerksake van toepassing is nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui