NG Kerk Vrystaat: Oor opleiding vir dominees, beelde van God en ’n moontlike ‘uittog’

**********

NG Kerk Vrystaat: Oor opleiding vir dominees, beelde van God en ’n moontlike | Kerkbode

16 Maart 2022

Le Roux Schoeman

Wat nog nie besluit is nie, is net so belangrik as wat wel besluit is, vind Le Roux Schoeman uit na die Vrystaat Sinode afgespreek het om teen September te besluit of hulle uit verband met die Algemene Sinode wil tree.

Op haar eerste sinodesitting hang Estelle in ’n buidel teen die bors van haar ma, ds Suzanne van der Merwe.

Terwyl die grootmensbevolking deur die dik lense van ervaring en opinie na mekaar en na die allemintige sakelys van die 54ste vergadering van die NG Kerk Vrystaat kyk, sien ’n mens by Estelle die onbevange blik van ’n drie maande oue baba. ’n Stel nuwe oë by hierdie vergadering – ’n driedag-affêre waar die Protestantse werketiek in volle vertoon was. Dae het so lank geraak dat dit op die voorlaaste aand ’n moedelose afgevaardigde se punt van orde (ek is moeg, ek is honger, ek kan nie hoor nie), geverg het om die sinodemasjien na 20:00 te laat halt roep vir die dag, te midde van ’n reënbui wat die sinkdak met die geweld van ’n metal band se tromspeler slaan.

Ds Jan Lubbe (regs), ’n kerkhistorikus asook die voorsitter van die Kuratorium in die Vrystaat, die liggaam wat as koppelvlak tussen kerk en universiteit dien, is verkies tot voorsitter van die moderamen. Foto: Le Roux Schoeman

Nie eens beurtkrag kon die vergadering se spoed breek nie. Wifi-loos, soms elektrisiteitsloos danksy beurtkrag, het dominees en lidmate geroei deur die talle temas, beskrywingspunte, bykomende verslae, en ’n rits voorleggings deur verskeie spesialiste, wat via Zoom of in persoon kom verslag doen het oor als van missionaliteit, geldsake, ekologie en Skrifgebruik tot die moeisame ontwarring van sake tussen ENGO en ander barmhartigheidsdienste in die NG Kerk in die Vrystaat.

Die leitmotiv was Skrifverstaan en die effek wat verskillende Skrifbeskouinge op die hantering van selfdegeslagverbintenisse het. Dit is ’n soort teologiese Rubik’s Cube waarmee die NG Kerk nes vele ander kerke al vir jare worstel. Asook die kwessie van teologiese opleiding, wat toenemend aktueel is in ’n streeksinode waar 40% van leraars in gemeentes binne 10 jaar sal aftree.

Swaar reën het op ’n kol so hard op die sinkdak geval dat die afgevaardigdes nie mekaar kon hoor nie en besluit het om halt te roep vir die dag. Foto: Le Roux Schoeman

Enkele ure voor die vergadering op die laaste dag verdaag het, is ’n gesprek rondom verhoudings tussen mense van dieselfde geslag weer min of meer van “die begin” af gevoer: Bybeltekste, anekdotes vanaf die vloer oor hoe daar in verskillende gemeentes daaroor gedink word, wat die breër kerk te doen staan ensovoorts.

Dit is ’n understatement om te sê daar was oor die loop van die sinode uiteenlopende perspektiewe sigbaar. Daar was waarskynlik ’n teologiese spektrum so breed ’n mens sou dit kwalik by die 250 m lange saal kon inpas. En soms was dit maar uitdagende luisterstof vir almal betrokke. Daar was die Ring van Heilbron wat voorstel dat onder andere die APK ’n voorlegging moet kom doen oor hoe hulle teologiese opleiding sou behartig as alternatief tot die opleiding wat studente tans by universiteite soos Stellenbosch, Vrystaat en Pretoria kry. Daar was die aanvaarding van ’n nuwe ooreenkoms tussen die NG Kerk in die Vrystaat en die Universiteit van die Vrystaat wat op interessante wyse die verhouding tussen die instellings versterk terwyl dieselfde vergadering ’n beplande vraagstellingsveldtog aan teologiedosente goedgekeur het sonder gesprek oor die inhoud van die vrae wat via die Algemene Kuratorium aan hierdie leerkragte gerig sal word.

Ds Suzanne van der Merwe, met baba Estelle, was een van die sowat 300 afgevaardigdes. Foto: Robert Cable

Daar was gemeentes soos Kestell wat aanbeveel dat (die NG Kerk Vrystaat) ’n besluit moet neem om “uit die algemene sinodale verband te tree” ooreenkomstig Art 37 en sy eie Kerkorde opstel “waardeur dit sy onafhanklikheid as kerkverband soos voor 1962 opnuut bevestig”. Nie almal teenwoordig het kans gesien vir ’n terug-na-1962-scenario gepaard met die moontlikheid van teologiese opvoeding deur ’n kerkverband wat reeds in die 1980’s van die NG Kerk weggebreek het nie, maar die vergadering het wel laat blyk dat daar aptyt vir wegbreek is.

“Die Sinode neem kennis dat, ten spyte van verskillende motiverings, die kern-aanbeveling by al die beskrywingspunte is dat die Vrystaat Sinode ’n Art 37-besluit moet neem. Sommige stel ook voor dat die Vrystaat Sinode met onmiddellike effek uit die verband met die AS tree,” lui ’n uittreksel van die uiteindelike besluit oor die kwessie van die streeksinode se verband tot die Algemene Sinode. Dan volg drie punte:

  • Die Sinode is bekommerd dat ons tans nie voldoende inligting rakende gemeentesienings, prosedures asook implikasies het om onmiddellik so ’n besluit te neem nie.
  • Die Sinode versoek die Moderamen om uit alle inligting ter tafel, en alle besluite deur die Sinode geneem wat daarop betrekking het, in oorleg met die Taakspan, en die reg tot koöpsie, ’n inligtingstuk oor Artikel 37 en kerkverband saam te stel en dit na gemeentes en ringe vir bespreking te verwys, met terugvoer na die Moderamen voor September 2022.
  • Op grond van die terugvoer, word die Moderamen dan versoek om te besluit oor die noodsaak om voor die volgende sitting van die Algemene Sinode, ’n buitengewone sitting van die Vrystaatse Sinode saam te roep.

Ds Jan Lubbe, ’n kerkhistorikus asook die voorsitter van die Kuratorium in die Vrystaat, die liggaam wat as koppelvlak tussen kerk en universiteit dien, is verkies tot voorsitter van die moderamen. Terwyl die afgevaardigdes op die laaste dag die saal verlaat, sê Lubbe aan Kerkbode hy is verlig oor die verloop van die vergadering. “Dit kon op verskillende ander maniere afgeloop het, wat waarskynlik almal negatief sou gewees het. Die uitkoms van die vergadering is ek oor verlig. Daar is goed in die vergadering gesê, daar het goed gebeur in die loop van gesprekke wat ’n mens gevoel het, dit was dalk onnodig. Maar, ek dink ook die gesindheid was uiteindelik positief om te sê ons wil ’n pad saam met mekaar loop en kyk of ons met hierdie verskille op weg kan gaan,” meen Lubbe.

“Van die krisisbesluite is verwys en sê: ‘kyk nog ’n keer, bring meer inligting …’ en ook dit is positief,” verduidelik hy. “So die sinode het meer gekies vir prosesse as om finale standpunte in te neem.”

>

Na drie dae in die voorsitterstoel op die verhoog voor in die saal, lê Lubbe klem op die besluit wat nou op die tafels van die NG Kerk Vrystaat se 154 gemeentes lê. “’n Gemeente kan nie uit verband met die Algemene Sinode tree nie. Dit is ons sinode wat dit moet doen. Maar gemeentes kan besluit ons tree uit verband met Vrystaat Sinode … en dit het dan baie implikasies (vir ringe, buurgemeentes, kollegas en lidmate),” sê Lubbe in die rigting van die byna 70 000 belydende NG lidmate in die Vrystaat, volgens die NG Kerk se Jaarboekdata.

Die moderator rus vir ’n oomblik sy ken op sy voorvinger en hervat: “Ek dink wat ons reggekry het vandag was waarskynlik dat nie een gemeente uit hierdie sinode terug huis toe gaan en ’n besluit vir ons gaan stuur in die volgende weke wat sê ons tree uit verband met julle as sinode nie, omdat daar prosesse voorsien is.”

Lubbe meen dit gaan nou oor genoegsame inligting. “Want so ’n besluit sal implikasies hê vir lidmaatskap van die NG Kerk, eiendomme, erkenning van die sakramente. En gemeentes moet weet wat nodig is om daai besluit te neem.”

Dit gaan kennelik ook oor diepliggende oortuigings. Blaai ’n mens deur die agenda wat beskrywingspunte insluit, is dit moeilik om te oorbeklemtoon hoe beswaard, byvoorbeeld, lidmate in die Ring van Smithfield is. Briewe uit Hobhouse, Wepener, Vanstadensrus, Dewetsdorp, Rouxville, Bethulie. Almal dieselfde trant. Edenburg skryf op 3 Mei aan die sinode: “Alhoewel daar nog geen amptelike kerkraadsvergadering in die Edenburg Gemeente gehou is (oor selfdegeslagverhoudings en verbintenisse) nie, is die gemeente wel bekommerd oor die besluite van die Algemene Sinode van 2019 en wel om die volgende redes: Die besluit is oorwegend in stryd met wat die Woord ons leer,” lui die skrywe deur die ringsverteenwoordiger en voorsitter van NG Kerk Edenburg, met nog redes wat gelys word.

’n Grafika van hoe die ringe se grense werk.

Die Ring van Smithfield mag dalk net uit nege gemeentes bestaan en slegs een van sowat 15 ringe in die groter sinodale streek wees, maar skrywes uit daardie geweste beslaan tien blaaie in die dokument wat voor die sinode gedien het. Die sterk geografiese “clustering” van dieselfde standpunt oor so ’n verdelende onderwerp sal waarskynlik ondersoek verg om beter te verstaan. Intussen wys KairosNetwerk se data dat sowat 26 van die gemeentes in die Vrystaat amptelik doleer oor die Algemene Sinode se 2019-besluit wat ruimte laat vir verskillende standpunte oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. By die sinode het ’n mens ook gemeentes te hore gekry wat nie amptelik doleer (treur) nie, maar wel van die besluit verskil en beswaard is daaroor. Asook gemeentes wat ten gunste is van 2019 se besluit en die moontlikhede wat dit vir die NG Kerk se bediening bring.

Al hierdie gesprekke het op ’n manier gebeur in die skadu wat die dood van dr Carin van Schalkwyk kort voor die saamtrek gewerp het. Die skriba van die sinode is op 51-jarige ouderdom oorlede. “Toe Carin in die winter van 2021 met kanker gediagnoseer is, het sy op ’n eerlike manier oor haar worstelstryd met dié siekte geskryf en gepraat op sosiale media,” het dr Gerdrie van der Merwe in sy doodsberig op Kerkbode geskryf. “So het haar bedieningsnet wyer gestrek en kon sy duisende mense bedien en aanraak met lewensvrae en moed skep op die lewenspad.”

Die medemenslikheid waarop talle in huldeblyke aan Van Schalkwyk gewys het, sien ’n mens ook in die oë van Béneli Pretorius wanneer sy gesels oor die behoeftes van vrouelidmate (jeug en bejaardes) met wie sy werk.

Béneli Pretorius groet vir ds Jan Lubbe op die laaste dag van die sinode. Foto: Le Roux Schoeman

Pretorius is al vir 12 jaar deel van die bestuur van die Vrouebediening in die Vrystaat (voormalig as Vrouediens bekend) en die afgelope twee jaar dien sy as voorsitter. Dit is nou wanneer sy nie met haar voltydse werk as senior matrone by Oranje Meisieskool se laerskoolkoshuis doenig is nie. Vrouebediening is haar “passie” omdat sy professioneel werk in ’n “omgewing waar vroue geag word”, verduidelik sy as ’n mens haar uitvra. “Ons is nie ’n koek-en-tee-catering organisasie nie, sê sy met ’n glimlag en voeg by dat Vrouebediening se vlagskipprojek ’n lywige toerustingsgeleentheid is.

Terwyl die afgevaardigdes op die laaste dag die saal verlaat, sê ds Jan Lubbe aan Kerkbode hy is verlig oor die verloop van die vergadering. “Dit kon op verskillende ander maniere afgeloop het, wat waarskynlik almal negatief sou gewees het.” Die foto hierbo wys die perspektief vanaf die kommunikasiespan se opwipateljee agter in die saal.

By die onlangse sinode het Pretorius ’n spreukbeurt gekry. Sy moes verslag doen aan die sinode. ’n Eerste vir haar. “Maar dit was nie vir my vreemd nie, dit was vir my lekker om te kom vertel wat die vroue doen,” sê Pretorius. In haar voorlegging het sy verwys na van die terugvoer wat hulle gekry het by dames wat die toerustingsgeleentheid bygewoon het. Toe sluit Pretorius af met ’n voorlesing van die lirieke van die gewilde sanger en kabaretkunstenaar Amanda Strydom se “Pelgrimsgebed”. Die teks was een van die bronne wat betrek en behandel is by die toerustingsgeleentheid wat met die tema “Om tot verhaal te kom” gewerk het.

Pretorius wou klem lê op die strofe wat, indien ’n mens kliek op een van die trefslae wanneer ’n mens die lied gaan Google, lui:

Alle pelgrims keer weer huis toe

Elke swerwer kom weer tuis

Ek verdwaal steeds op die grootpad

Soekend na u boardinghuis

“Dit is primêr ons doel ook as die Vrouebediening, vertel Pretorius oor die boardinghuis-gedagte. “Ons wil sien dat daar ’n veilige ruimte (binne die NG Kerk) is, waar vrouens tuis kan voel om te aanbid. Dit is hoekom ek met hierdie gedig afgesluit het. Al is ons binneste hoe deurmekaar is daar êrens ’n veilige tuiste.”

En toe?

“Ek het afgeloop (van die verhoog) en nie mooi besef wat aangaan nie. Toe het die man (’n afgevaadigde) mos nou opgestaan en toe het hy ’n probleem met die Moeder God-aanhaling wat gebruik is,” onthou Pretorius.

Waar die openingstrofe van die lied begin met:

Vader God, U ken my naam

My binnegoed en buitestaan

My grootpraat en my klein verdriet

My vashou aan als wat verskiet

… lui die derde strofe weer:

Moeder God, U ken my waan

My ego en my regopstaan

Die drake waarteen ek bly veg

U wys my altyd weer die weg

Dit was die laasgenoemde verwysing na God as moeder waarteen die afgevaardigde kapsie gemaak het.

“Toe het ek hom geantwoord uit Psalm 131, waar die beeld gebruik word van ’n moeder … net om te sê dit gaan daaroor dat ons nie mense mag uitsluit uit God se genade uit nie,” vertel Pretorius. “En toe haal ek aan, die stukkie van die vrou (deelnemer by die toerustingsgeleentheid) wat ook vir ons terugvoer gegee het, wat sê sy het ’n probleem met ’n mansbeeld, want sy het ’n probleem met haar pa en haar man oor vergifnis en sy is misbruik van jongs af en dit het net die wêreld vir haar oopgemaak om te besef sy hoef nie ’n vaderbeeld van God te hê nie, sy kan ’n moederbeeld ook hê. En toe sê ek as dit vir een vrou iets beteken het, dan volstaan ek daarby.”

Die vergadering het weldra aanbeweeg na die vele ander sake vir kennisname en goedkeuring wat die tafels laat kreun het. Nou, met die stof wat ’n bietjie gaan lê het, gesels Pretorius meer ontspanne oor die “vreugde en die mooi van poësie om goed te kan beskryf”. En om met nuwe oë te sien.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui