NG Kerk: Waar is die man en vrou in nuwe huwelikswet?

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NG Kerk: Waar is die man en vrou in nuwe huwelikswet? | Rapport

Johan Eybers

Sondag, 2 Maart 2025

Die NG Kerk is ongemaklik omdat die “Christelike begrip” van ’n verbintenis tussen ’n man en ’n vrou nie in die nuwe huwelikswetsontwerp voorkom nie.

Terwyl die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), wat die meeste hoofstroomkerke in die land verteenwoordig, die konsepwet geprys het omdat dit gelykheid onder selfdegeslag-paartjies bevorder, is die NG Kerk ontevrede dat die wet slegs na “voornemende gades” verwys.

In sy voorlegging aan die Nasionale Vergadering het die NG Kerk benadruk dat hy die tradisionele siening van die huwelik as ’n verbintenis tussen ’n man en ’n vrou ondersteun.

“Klousule (5)(1) [die klousule oor die vereistes vir monogame huwelike] noem slegs ‘die voornemende gades’ en ons het die definisie van die Christelike begrip van die huwelik gemis as ‘die wettig of formeel erkende verbintenis van twee mense – man en vrou,’ ” lui die NG Kerk se voorlegging.

Die voorgestelde huwelikswetgewing en die NG Kerk se kommentaar daarop was die afgelope week een van die agendapunte op die algemene sinodale moderamen se drie dae lange vergadering in Benoni.

Die nuwe huwelikswetsontwerp poog om bestaande gefragmenteerde huwelikswetgewing in een wet te konsolideer.

Dit maak voorsiening vir die erkenning, voltrekking en registrasie van huwelike, ongeag godsdienstige, kulturele, geslags- of seksuele oriëntasie. Die wet sal ook die aanwysing van huweliksbevestigers reguleer en voorsiening maak vir die ontbinding van huwelike.

Die konsepwet word tans deur die Nasionale Vergadering oorweeg en openbare sittings oor die wetgewing word landwyd gehou.

Die NG Kerk erken egter dat die wetgewing moet verseker dat alle mense, ongeag hul seksuele oriëntasie, gelyke beskerming geniet.

Hierteenoor het die SARK die konsepwet verwelkom omdat dit alle soorte huwelike onder een wet saambind en die Wet op Burgerlike Verbintenisse van 2006 vir selfdegeslagverbintenisse afskaf.

Volgens die SARK is die Wet op Burgerlike Verbintenisse ’n vorm van diskriminasie wat vergelykbaar is met die apartheidsera se “aparte maar gelyke” beleid, “wat uiteindelik ongelykheid verskerp het”.

Die SARK sê hy ondersteun daarom die wet se verwysing na “gade” pleks van man en vrou as ’n eenvoudige en doeltreffende manier om die waardigheid van alle verbintenisse op ’n gelyke grondslag te erken en te beskerm.

Die SARK sê die tradisionele betekenis van ’n huwelik is wel ’n verbintenis tussen ’n man en ’n vrou, maar dat selfdegeslag-verbintenisse nie daarom uitgesluit moet word nie.

“Sulke definisies kan nie as ’n rede gebruik word om gays en lesbiërs toegang tot die regstatus en maatskaplike voordele van ’n huwelik te weier nie. Die huwelik word dikwels beskryf as ’n geskenk van God en iets wat liefde, respek en lojaliteit bevorder. Hierdie kenmerke is nie geslagspesifiek nie, behalwe vir voortplanting,” het die SARK gesê.

Die NG Kerk het die wetsontwerp verwelkom in soverre dit “onregverdige verskille in gefragmenteerde wetgewing regstel deur verskillende wette te rasionaliseer en prosesse vir alle partye te stroomlyn”.

Die kerk meen dit sal “litigasie verminder en regsekerheid bevorder”.

Die Hervormde Kerk het nie in sy voorlegging verwys na die weglating van man en vrou nie, maar eerder gefokus op die probleem van vals of skynhuwelike, wat nie in die konsepwet getakel word nie.

Die kerk verwys na vyf vroue wat langer as tien jaar gesukkel het om die departement van binnelandse sake te oorreed om vals huwelike nietig te verklaar.

Die Hervormde Kerk sê hy is teleurgesteld dat die konsepwet nie bepalings bevat om skynhuwelike op grond van beëdigde verklarings onmiddellik van die bevolkingsregister te verwyder nie.

Freedom of Religion South Africa (ForSA), ’n Christelike drukgroep, het klousule (11)(4) van die wet verwelkom wat die reg bevestig van godsdienstige huweliksbevestigers soos predikante om te weier om sekere huwelike te voltrek.

Ingevolge dié klousule kan “enige persoon wat aangestel is as ’n huweliksbevestiger, behalwe ex officio-huweliksbevestigers, nie verplig word om enige huwelik te voltrek wat teen sy of haar gewete, godsdiens of geloof indruis nie”.

ForSA was egter krities dat die klousule huweliksbevestigers en landdroste wat vir die staat werk, se godsdiensvryheid “inperk” deur hulle te verplig om alle soorte huwelike te voltrek.

Kommentaar

Daniel Louw

Ek sukkel om te verstaan watter probleem die NGK het met die nuwe huwelikswet. Wil hulle hê dat die wet nog moet onderskei tussen huwelike tussen ‘n man en vrou en selfdegeslagshuwelike? Wat sou die sin wees om dit te doen? Wat sal dit help om die “Christelike begrip” van ’n verbintenis tussen ’n man en ’n vrou pertinent in die wet te noem as dit vir alle praktiese doeleindes geen verskil maak nie.

ForSA se argument maak baie sin.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui