NG moderator in die sop oor ‘ander weg na verlossing’

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NG moderator in die sop oor ‘ander weg na verlossing’ | Rapport

Johan Eybers

Rapport, 01 Februarie 2025

Ds. Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk, is vertroulik deur die kerk verhoor weens beskuldigings dat hy in ’n radio-onderhoud stellings gemaak het “wat radikaal van die amptelike en kerkregtelike standpunt van die kerk verskil”.

Die ringkommissie van Bloemfontein-Noord het in November ’n ondersoekliggaam aangestel wat stil-stil ’n voorlopige ondersoek begin het om te besluit of daar ’n formele kerklike tugondersoek teen Lubbe ingestel moet word.

Die ondersoekliggaam het besluit om nie ’n formele kerklike tugondersoek in te stel nie, maar aanbeveel dat verdere gesprekke gevoer moet word oor die teologiese kwessies wat aan die lig gebring is.

Die klaer, emeritus professor Johan Janse van Rensburg, appelleer nou teen dié besluit.

Sowel Lubbe as Janse van Rensburg het op 2 Desember agter geslote deure hul saak gestel.

Janse van Rensburg voer aan Lubbe het op 23 Julie verlede jaar in ’n onderhoud op RSG dinge gesê “wat die Heilige Skrif en die Belydenisskrifte van die Kerk uitdruklik weerspreek”.

Een van die mees omstrede stellings in die onderhoud was toe Lubbe na die boek van wyle aartsbiskop Desmond Tutu God is not a Christian verwys het.

Lubbe het gesê: “Hier waar ons nou sit, as ek nou oor my linkerskouer kyk, sal ek die boek van Desmond Tutu op die rak raaksien waarin die stelling is wat hy gemaak het wat baie omstrede is: God is not a Christian.”

Volgens Janse van Rensburg het Lubbe in die onderhoud daarop gewys dat mense wat nie in Jesus Christus glo nie, steeds gered kan word.

Lubbe het in die onderhoud Abraham as voorbeeld gebruik en gesê: “Abraham het Jesus nie geken nie en tog noem Hebreërs 11 Abraham een van die gelowiges wat in die hemel, by wyse van spreke, by God is nou nadat hy gesterf het terwyl hy die naam Jesus nie geken het nie. Hoe is dit moontlik?”

Janse van Rensburg meen hierdie uitspraak is direk in botsing met die “tradisionele Reformatoriese teologie”, wat beklemtoon dat geloof in Jesus Christus die enigste weg tot verlossing is.

Volgens Janse van Rensburg se interpretasie van Lubbe se onderhoud het die moderator gesuggereer dat alle gelowe ewe geldig is en dat mense wat nie in Jesus Christus glo nie, steeds gered kan word.

Volgens hom insinueer Lubbe dat die geïnstitusionaliseerde kerk mensgemaak en verganklik is en dat dit nie moontlik is om tussen ’n ware en valse kerk te onderskei nie.

Lubbe het gesê: “Ons moet eerstens baie versigtig wees om mý kerk, mý tradisie, mý lees van die Bybel te verhef tot die enigste weg na saligheid toe.

“Ek het nie die waarheid beet nie, trouens, ek waarsku dikwels die katkisante: As jy in ’n kerk gaan sit en daai kerk sê vir jou ‘as jy nié hier by óns is nie, is jy verlore’, dan moet jy jou beursie en jou selfoon vat en uitstap, want dan het jy met ’n kultus te doen, ’n sekte.”

Volgens Janse van Rensburg het hierdie stellings die vraag laat ontstaan of Lubbe nie die belangrikheid van die kerk as ’n instelling ondermyn nie.

“Ds. Lubbe het ook ’n probleem met die onderskeid tussen ’n ware en valse kerk. Dit is syns insiens nie moontlik om te onderskei en te verklaar dat ’n bepaalde geloof of kerk waar of vals is nie. Daarmee verwerp ds. Lubbe die duidelike uiteensetting van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Die kenmerke van ’n ware teenoor ’n valse kerk word daarin duidelik uitgespel.”

Janse van Rensburg sê in sy klag dat hy “geen vreugde daarin vind om hierdie klag te lê nie”.

“My liefde vir Jesus Christus, die Koning van die Kerk, my Reformatoriese passie en my lojaliteit teenoor die NG Kerk laat my nie toe om met die opsigtelike dwalings in die RSG-onderhoud vrede te maak nie.”

Volgens Janse van Rensburg is “die integriteit van die NG Kerk op die spel wanneer die geestelike leier van die Kerk in die openbaar stellings maak wat radikaal van die amptelike en kerkregtelike standpunt van die Kerk verskil”.

Janse Van Rensburg sê in sy appèlaansoek die prosedure wat in die aanvanklike ondersoek gevolg is, voldoen nie aan die vereistes van die Kerkorde nie en dat hy nie behoorlik in kennis gestel is van die bevindinge en besluite nie.

Lubbe sê by navraag die kerklike ondersoek is nou in die hande van die sinodale appèlliggaam.

“Ek vertrou dat hulle dit ordelik en deeglik sal hanteer.”

Volgens Lubbe is hy besig om sy repliek teen die beweringe aan die appèlliggaam op te stel.

“Ek kan daarom nie kommentaar oor die saak lewer nie.”

Hy vertrou dat die appèlliggaam sy bevinding bekend sal maak nadat sy ondersoek afgehandel is, sê Lubbe.

Leon Foot, skriba van die moderamen van die NG Kerk Vrystaat, het bevestig dat ’n appèlliggaam aangestel is om vas te stel of daar gronde is vir Janse van Rensburg se appèl.

nuus@rapport.co.za

Kommentaar

Daniel Louw

Vir meer oor wat Jan Lubbe in die radio-onderhoud gesê het, kyk RSG: Land en sand: Jan Lubbe (23 Jul 2024).

17 thoughts on “NG moderator in die sop oor ‘ander weg na verlossing’”

  1. Voordat hulle die tug proses begin moet hulle dan aan ons gewone mense verduidelik hoe het die mense van die Ou Testament dan in die Hemel gekom. Het iemand die reels verander?

    1. As erfgename van die Nuwe Testament ken ons die Woord van en die Weg na God as Jesus Christus. Die erfgename van die Ou Testament het hierdie Woord en Weg geken as Die Engel van die Here.
      Lees gerus die begin van die Evangelie van Johannes, waar hy verduidelik dat aan die begin was die Woord by God en die Woord was God en toe het die Woord van God mens geword en onder ons kom woon as die gekruisigde Seun van God, Jesus Christus. Net omdat mense soos Abraham, Dawid en Jesaja nie die Naam Jesus gebruik het nie, beteken nie dat hulle nie in Hom geglo het nie.

      1. Dankie vir jou antwoord maar deur te sê dat die mense van die ou tyd het Jesus geken as Die Engel van die Here is nou regtig ‘n skoot in die donker. Johannes se skrywe van die Woord van God wat mens geword het is baie lank na Abraham etc geskryf, dit was maklik om uit te dink maar het niks met die mense in die Ou Testament te doen nie. Hulle het in God gelgo en God alleen, dis al wat nodig is.

    2. Ons as erfgename van die Nuwe Testament ken die Woord van en die Weg na God as Jesus Christus. Die erfgename van die Ou Testament het hierdie Weg en Woord geken as Die Engel van die Here.
      Lees gerus die begin van die Evangelie van Johannes waar hy verduidelik dat aan die begin was die Woord by God, die Woord was God en die Woord het mens geword en onder ons kom woon as Jesus Christus, die gekruisigde Seun van God. Net omdat mense soos Abraham, Dawid en Jesaja en vele andere Hom nie as Jesus geken het nie, beteken nie dat hulle nie van Sy bestaan as deel van die Drie-Enige God bewus was nie.
      Net omdat hulle Hom nie

    3. Die reels is nog al die pad dieselfde, maar God het dit al hoe duideliker gemaak tot en met die openbaring van sy Seun se menswording. Mense in die Ou Testament is gered deur geloof in God en die voorsiening wat Hy belowe het om te maak in Gen 3:15, soos hernu en duideliker gemaak in Gen 22:18, Gen 49:10, Psa 2, Jes 53, ens. Die offerandes wat Israel in die Tabernakel/Tempel gebring het vir sondevergifnis was deur God in plek gestel as voorafskaduwings van Jesus se kruisdood (sien die brief aan die Hebreers). Ons kan sien dat die Jode uitgekyk het vir hierdie Messias (Gesalfde Een) in bv. Joh 1:42 en 4:25, asook in die sekulere geskiedenis oor die Jode in die tyd rondom Jesus se koms.

      1. PG dankie vir jou antwoord maar dit maak nie vir my lekker sin nie. Daar moet ander maniere wees. Kan jy my vertel wat gebeur met klein kindertjies , 3 jaar of meer, en hulle sterf, lank voor hulle die geleenthied het om Jesus of God te leer ken. Wat word van hulle? Gaan hulle dan almal Hel toe of het God vir hulle ook ‘n ander stel reels?
        Kan jy my help?

        1. Hi Ponkie (interessante naam)

          Ek het jou geantwoord oor mense in die Ou Testament. Lyk my jy het nou verskuif na ‘n volgende vraag.

          Jy se daar “moet” ander maniere wees. Waarvandaan kom hierdie insig?

          Ongelukkig kan ek jou nie “help” soos my my gevra het nie; my kennis oor saligmaking kan nie verder strek as God se openbaring in sy Woord en my persoonlike ervaring nie.

          Wat ek wel weet is dat God regverdig is. As God geen van daardie kindertjies red van hulle sondige natuur nie sal dit regverdig wees; as Hy doen sal dit ook regverdig wees. Ek dink Hy het in sy wysheid dit nie aan mense geopenbaar nie; kom ons se Hy het ‘n plan om alle kindertjies te red, dan sou sommige mense geregverdig voel om kindermoord te pleeg om hulle siele te red.

          Sommige glo dat 2 Samuel 12 wys dat Dawid geglo het dat hy weer sy gestorwe kind sou sien in die hiernamaals. Ek dink dit is moontlik, maar nie beslis nie. Ek vertrou die Here my God wat neergebuig het na ‘n rebelse mensdom om versoening te kom maak op ‘n manier wat nie Sy heiligheid en regverdigheid geskend het nie.

          Ponkie; het jy die Here as verlosser aangeneem?

  2. PG wat jy hier bo sê stem ek seker saam dus hoekom ek sê dat ons met seker maar oor baie dinge voor ons Jan Lubbe wil gaan aankla.
    God kan en sal op sy eie manier en regverdighied besluit wie van die miljoene mense reg oor die wereld wat God aanbid maar nooit vir Jesus sal ken nie, sal gered word. Omdat ek en jy Christen gelowiges is kan ons nie sê ons het die alleen reg en dan vir Jan Lubbe kritiseer dat hy verkeerd is om te sê dat daar ander manier kan wees nie. Jy sê dit ook hierbo. Baie groete Ponkie

    1. Hi Ponkie

      Ek dink nie ons verstaan mekaar heeltemal nie.

      In Johannes 3 vertel Jesus: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hy nie in die Naam van die unieke Seun van God geglo het nie.”

      Dus is die enigste manier wat aan die mens geopenbaar is om gered te word deur om te glo in Jesus as Seun van God. In Matteus 28 het Jesus ook nie gese, los maar die mense solank hulle een of ander god aanbid nie; Hy het gese, in Matteus 28: “Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, en hulle te leer om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

      Lubbe het gese: “Ek het nie die waarheid beet nie”. Dit klink meer soos Pilatus as soos Jesus. Johannnes 18: “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem.” Pilatus sê toe vir Hom: “Wat is waarheid?””

      God het vir die mensdom net een manier aangetoon om gered te word. Johannes 14:6 “Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Handelinge 4:12 ““Daar is ook deur niemand anders verlossing nie, en daar is geen ander naam onder die hemel aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie.””

      Wanneer dit kom by die dinge wat nie vir ons gegee is nie moet ons hou by Deuteronomium 29:29 ““Wat verborge is, is die Here, ons God, se saak; wat geopenbaar is, is altyd vir ons en ons kinders van belang, sodat ons die woorde van hierdie wet kan uitvoer.””

      Dus moet ons hou by wat Hy gese het en nie te verwoed spekuleer oor ander maniere nie. Hoekom sal ons vertrou op “miskien” as ons die besliste gegee is?

      1. Ja ons verstaan mekaar nie so lekker nie. Jou laaste antwoord is tipies predikant, haal ‘n klomp verse aan maar die logika ontbreek. Hulle will Jan Lubbe aanval om hy gesê het dat hy dink mense wat nie in Jesus glo nie ook gered kan word. Jy sê self God sal op sy eie manier regverdig wees. Ek stem met jou saam maar omdat ons as Christene in Jesus glo kan ons nie ander mense wat in God glo sonder Jesus oordeel en sê hulle sal in deur God gered word nie. Ons hoef nie met hulle saam te stem nie maar as ons begin oordeel dan moet ons darem seker wees van ons saak. Dan weer my vraag wat van die mense voor Christus. Wat van mense wat God geskep het en hier geleef het in Sa 200,000 gelede? Het God hulle geskep om net so vir die duiwel te gee want Jesus kom eers 200,ooo jaar later? Dit geld ook vir baie ander mense. As ons nie weet wat God se plan is nie, dan kan ons nie oor ander oordeel en sê jy glo verkeerd nie.

        1. Maar ek het dan duidelik gewys tot watter mate ons wel God se plan kan ken. Die Bybel mag dalk stil wees oor babatjies wat nog nie so ‘n besluit kan neem nie, maar dit is duidelik oor die wat kan besluit.

          Natuurlik het ek die Bybel aangehaal; hoe anders ken ons die wil van God? Waarop is jou geloof geskoei? Jy is welkom om vir my te wys waar dit wat die Woord te se het oor die saak nie “logies” is nie.

          Die mens is verlore as gevolg van sonde. Rom 5: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het en as gevolg van die sonde die dood, so het die dood ook tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het.” Soos Paulus vir die Grieke gese het in Handelinge 17, “Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon.”

          Wanneer God iemand red is dit net uit genade; wanneer Hy nie iemand red nie is dit uit geregtigheid. Hierdie webblad se naam is Glo die Bybel. Dit is ook een van my fondasies as ‘n Christen.

          My hart bloei vir die mense wat Jesus nie ken nie. Ek oordeel hulle nie, want dit kon ek gewees het.

  3. Kom ons los dit maar daar. Hoe verduidelik jy jou Handelinge 17 verwys jy na Adam ? Dan weet jy weer nie wat hierdie vers in die Bybel beteken nie.
    Groetnis ons los dit maar daar. Oppas om te oordeel.

    1. Dis nie so moeilik nie. Paulus het ook die Skrif gebruik om te redeneer. Bv Gen 3:20 “Die mens het sy vrou “Eva” genoem, want sy is die een wat die moeder geword het van almal wat lewe.”

      Maar klink my jy glo daar is iemand anders na wie verwys word. Is dit ook in die Bybel te vinde?

      Jy is welkom om dit te los, as jy wil. Maar jy maak ‘n klomp stellings sonder om te verduidelik waar jou insigte vandaan kom.

      1. Maar Paulus het nie geweet dat Adam en Eva net ‘n storie was nie , so ons vergewe hom. Ek en jy weet egter ‘n bietjie meer maar dit help nie ons redeneer daaroor met versies nie dis nie waaroor hierdie artikel gaan nie.
        Groetnis

        1. O, ek het nie besef jy is een van die mense wat nie glo dat die Heilige Gees die skrywers van die Bybel geinspireer het om nie foute te maak nie. Jy redeneer seker ook Jesus het “nie geweet geweet dat Adam en Eva net ‘n storie was nie”.

          Adam en Eva is sentraal tot die Bybelnarratief, so ek verstaan nou waar jy vandaan kom.

          Al wat ek kan vra is wat is jou basis vir enigiets wat jy glo? Jy wil deernis he met Ds. Jan Lubbe, maar hoe kan jy of hy of enigiemand seker wees van hul verlossing as hulle nie seker kan wees van God se Woord nie? Dus hoop julle seker maar vir die beste vir julself en alle mense. Julle bou op sand, nie op die vaste rots nie.

  4. Ek het nie besef jy is een van die mense wat glo dat Adam en Eva die eerste mense was nie en alles begin het 4004 jaar voor Jesus. Jy glo in die Bybel presies wat daar geskrywe staan en hoef nie verder te dink nie. Gaan kyk na my oorspronklike stelling, jy het nie ‘n antwoord nie . Bou maar voort op sand.
    Groetnis
    Ons los dit maar daar mag jy vrede vind in wat jy glo.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui