Kyk ook: |
25 Oktober 2019
Die Moderatuur van die Sinode OVS en
Die Ringskommissie van die Ring van Reitz
Dag Broers en susters
Ons as Reitz Gemeente het tydens ons kerkraadsvergadering gehou op 24 Oktober 2019 ons posisie rondom Dolering herbevestig en herbevestig ook dat ons nie hierdie posisie inneem om ons van die kerk in breër verband te onttrek nie, maar as poging om ʼn pad van tug met die kerk in breër verband te loop.
Ons doelwit dus is dat die NGK-verband en by name die Algemene Sinode:
- sal erken dat die “vasgeloopte Situasie” getuig van eiewilligheid en wegstap van ons gereformeerde grondslag.
- sal vra na die standpunt en sienswyse van die Gereformeerde Kerke wêreldwyd rondom Skrifbeskouing en Skrifgesag (ook en onder andere ten opsigte van ons “vasgeloopte situasies”)
- sal terugkeer na die gesonde bril vir Skrifbeskouing en Skrifinterpretasie soos deur sowel die Gereformeerde geskiedenis as kerkgeskiedenis vir ons duidelik geleer.
- sal optree teen leraars en leiers wat weier om die gesonde bril ten opsigte van Skrifbeskouing en Skrifgesag (soos hierbo vasgestel) ten einde hulle tot die gesonde leer te laat terugkeer.
Ons as Reitz Gemeente erken en waardeer die feit dat die Sinode NGK OVS op die vorige Sinodesitting hulle volkome en amptelik herverbind het tot die Woord as onfeilbare Woord van God en die belydenisskrifte onder die Quia standpunt (ons onderskryf die belydenisskrifte omdat dit ooreenstem met die Skrif).
Ons kyk met verwagting en hoop na die komende sinodesitting van die sinode NGK OVS einde volgende jaar vir hulle toepassing en uitvoer van hierdie besluit.
Ons gemeente het op grond hiervan die volgende besluite geneem:
- Die Kerkraad besluit dat ons as gemeente ons posisie ten opsigte van Sinodale werksaamhede en aktiwiteite leeg sal laat wees, en versoek om die Sinodesitting van NGK OVS as waarnemers einde volgende jaar by te woon. Ons hoop om daar die standpunt van die Sinode NGK OVS te hoor en ons besluit te heroorweeg.
- Die kerkraad besluit dat ons as gemeente ons plek ook leeg sal laat ten opsigte van Sinodale Bydraes (Prorata betalings, sowel as alle verpligte deurkollektes) tot ons tyd van dolering afgehandel is.
- Die Kerkraad besluit dat ons as gemeente steeds sal deelneem aan Ringsaktiwiteite totdat Ring duidelike uitspraak lewer rondom hulle posisie oor gesonde Skrifbeskouing en Skrifgesag.
Ons vertrou dat die sinode NGK OVS en Ring van Heilbron ons tuiste sal bly en aktief sal werk om ons diepe verskeurdheid van hart te genees.
Die uwe
Gerrit Strydom
Leraar: Reitz Gemeente
Ek dank die Here vir ’n webwerf soos “glodiebybel.co.za” vir die plasing van kerkrade- en ringsbesluit rakende die Algemene Sinode van die NGK se standpunt oor homoseksualiteit en geslagsgelykheid.
Ek waardeer verder die kommentare van sekere lidmate wat die Bybel nog erken as die enigste Onveilbare Woord van God, al is dit deur mense opgeteken. Die Brief van Judas waarsku ons as gelowiges, teen die dwaalleeraars. Vers 19 is vir my so beskrywend daarvan.
Mag hierdie webwerf voortgaan om die waarheid te verkondig soos opgeteken in die Bybel.