NGK bepleit konstruktiewe gesprekke vir eenheid

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NGK bepleit konstruktiewe gesprekke vir eenheid | Netwerk24

Marita Herselman

12 September 2024

Die NG Kerk rig opnuut ’n oproep om konstruktiewe gesprekke binne sy strukture om eenheid in dié kerkverband te probeer herstel.

Ds. Jan Lubbe, moderator van die NG Kerk, sê ’n egte, konstruktiewe gesprek met goeie bedoelings moet binne die kerkstrukture plaasvind om die weg vorentoe te vind.

“ ’n Egte gesprek is ook ’n gesprek waar ons daarvan sal wegbly om mekaar name te noem of van mekaar karikature te maak, aan weerskante.”

’n Jare lange tweespalt heers in die kerk, met groeperinge wat wesenlik met mekaar oor sekere beginselsake verskil.

Lubbe het aan Netwerk24 gesê die situasie word bemoeilik wanneer daar nie-goedgekeurde parallelle strukture in die NG Kerk, soos die Koinonia Sinode, geskep word.

“Daar kan nie voortdurend parallelle strukture in kerkverband gestig word as jy nie eers bereid is om binne die bestaande strukture te praat nie.

“Dit help nie jy het ’n parallelle struktuur wat nie erkenning binne die kerkorde geniet nie.”

Die Koinonia Sinode bestaan uit dolerende en behoudende gemeentes van die NG Kerk, wat van besluite van die algemene sinode (AS) verskil. Die algemene sinode bind die nege NG sinodes in die land en die een in Namibië saam.

Die gemeentes binne die Koinonia Sinode meen sommige van die AS se besluite is nie Skrifgetrou nie.

Hulle stem onder meer nie saam met die AS se standpunt dat daar ruimte is vir verskillende standpunte oor selfdegeslagverhoudinge binne die kerk nie.

Die behoudende gemeentes is ook nie tevrede met die huidige teologiese opleiding van voornemende NG leraars nie.

Dr. Anton Knoetze, voorsitter van die Koinonia Sinode en Kairos Netwerk, sê die doel van dié sinode was nog nooit om ’n parallelle struktuur te skep nie.

“Ons het besef die uitdaging is dat (behoudende) gemeentes voel ons wil amptelik bymekaarkom.

“Hulle sê jy moet binne die stelsel praat. Ons het gesê dit help nie jy praat met mense wat nie die probleem kan oplos nie.”

Die Koinonia Sinode wil hê daar moet probeer word om die geskille deur ’n onafhanklike mediasieproses op te los.

“Ons sê jy kan nie die skeidsregter én ’n speler wees nie.”

Sowel Knoetze as Lubbe het vandeesweek afsonderlik op RSG se oggendprogram Op en wakker gepraat.

Knoetze het in Maandag se radiogesprek onder meer beweer die kerkorde is “stilletjies” op verlede jaar se sitting van die algemene sinode so aangepas dat dit gebruik kan word om behoudendes se stemme te snoer en gesê dit gebeur reeds.

Lubbe het Dinsdag op die program repliek daarop gelewer en dié bewerings ontken.

Dit is nou wel moontlik vir ’n meerdere vergadering, soos ’n ring, om ’n kerkraad te ontbind en te kan hersaamstel in die geval van wanbestuur of onvermoë.

Knoetze het aan Netwerk24 gesê die Koinonia Sinode meen dié aanpassing leen hom daartoe om misbruik te word.

“Ons voel die wysiging aan die kerkorde maak dit maklik dat gemeentes voel hulle word geviktimiseer.”

Hy sê daar is reeds ringe wat kerkrade dreig deur te sê “julle lei julle gemeente verkeerd en daarom gaan die ring die funksie oorneem”.

Lubbe sê op sy beurt aanpassings aan die kerkorde is deur ’n tweederde-meerderheid op die sinodesitting goedgekeur en die voorstel vir die wysiging is drie maande voor die sitting aan al die afgevaardigdes beskikbaar.

“Dit (die artikel in die kerkorde) was allermins bedoel om stemme te blokkeer.”

Dié moderator sê waar leraars tans ondersoek word of gestuit is, dit nie oor hul spesifieke teologiese standpunt gaan nie, maar oor die feit dat lidmate by ringe gekla het oor verdeeldhede wat in die gemeentes aangeblaas is en besluite van kerkrade waarmee hul nie saamstem nie.

Kommentaar

Daniel Louw

Die vraag is: hoe sal so ‘n “konstruktiewe gesprek” lyk? Wat sal op die agenda van so ‘n gesprek wees?

Kyk Tyd dat Koinonia egskeiding met NGK inisieer? (Daniel Louw, 18 Apr 2024)

2 thoughts on “NGK bepleit konstruktiewe gesprekke vir eenheid”

  1. Is daar plek vir behoudendes binne die kerk?
    Is ‘n demokrasie met meerdere besluit swaarder as die Wil van God?
    Is die ruim huis ruim genoeg vir behoudendes?

    1. Michael, natuurlik is daar plek vir behoudendes binne die kerk. Die huis is heeltemal ruim genoeg.
      Jy vra egter die verkeerde vraag. Die regte vraag is: Kan behoudendes nog deel wees hiervan?
      My opinie: Baie definitief, nee!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui