NGK Diversiteitsforum 2010 (06) (2010-07-21 tot 2010-08-10)

Vir meer agtergrond oor hierdie debat, kyk NGK Diversiteitsforum 2010.

Die teks gemerk in grys is deur die Webmeester, Charles Malan, verwyder. Ons het ook op sommige plekke kommentaar gelewer.


Schalk
2010-07-21

Goeie dag, vriende.

Ek wil graag terugkeer na ’n kwessie wat James so ’n rukkie gelede ge-opper het. Dit het gehandel oor watter vorme van diversiteit die NGK moet “internaliseer” teenoor daardie vorme waarvan kennis geneem moet word en waaroor gereageer moet word, sonder om dit te “internaliseer”

Ek het op hierdie stukkie afgekom wat ek ter illustrasie wil gebruik.

Geloofsbelydenis van ’n afvallige.

Ek glo in die skeppende God

van die wordende heelal

wie se naam te heilig was

om uit te spreek:

Jahwé, die God van Israel,

wat ’n vader geword het

vir Jesus van Nasaret,

die wonderskone boodskapper

van die onmoontlike liefde,

deur wie God my vader

maar ook my moeder is.

Ek glo in die Heilige Gees

wat mense in alle tye

inspireer tot werke

wat die stempel dra

van die ewige.

Ek glo dat omdat ek lewe

ek aan alle lewendes

sorg en deernis verskuldig is

en ek glo dat as ek sterf

ek opgeneem sal word

in die durende siklus

van vernuwing en verval

en dat die lewe triomfeer

in elke geboortekreet

omdat die lewe magtiger is

as die dood.

www.nuwe-hervorming.org.za/?q=wiki/geloofsbelydenis-afvallige 

Hoe sou die NGK met so ’n “belydenis” moet handel? Aanvaar of verwerp? Die indruk word deur sommiges geskep dat ’n baie groter menigde mense dit aanvaarbaarder sal vind as die tradisionele Apostoliese Geloofsbelydenis. Indien die NGK dit “internaliseer” as ’n verbeeeding an diversiteit sou dit ruimte skep vir diesulkes wat onlangs die NGK verlaat het, juis omdat hulle nie meer met oortuiging die AGB kan bely nie. Word dit verwerp dan word die beskuldiging ingebring dat die NGK nie daarin belangstel om diversiteit te verbreed of selfs aan te spreek nie.

Maar kyk mooi na die “belydenis.” Dit is ooglopend op die 12 artikels gebasseer. Maar dit is ’n “verskraalde” 12 Artikels. Spesifieke standpunte is weggelaat. Hierdie is nie ’n verbreding an diversiteit nie, dit is juis ’n verskraling, ’n verarming van diversiteit.

Die punt is, om van die NGK te verwag om afstand te doen van standpunte oor saambly, Skrifgetrouheid, wat as sonde beskou word ens. is juis nie die verbreding van diversiteit nie – afstand doen van standpunte is ’n verarming van diversiteit.

Ten slotte, om sekere vorme van diversiteit nie te “internaliseer” nie beteken nie dat dit verwerp word nie, dit beteken slegs dat dit op ’n Skriftuurlik-verantwoordbare manier daarna gekyk word. Christus is ons rolmodel en wat Hy verwerp het, moet ons ook verwerp en met diegene met wie Hy medelye gehad het, moet ons ook medelye mee hê

Stefan Nel
2010-07-21

Ek gaan nou van die onderwerp afstap maar omdat James sê ek antwoord nie sy vraag nie moet ek tog toegelaat word om ’n laaste opmerking of twee oor die saambly kwessie te maak.

1. Daar word nêrens in die Bybel van ’n huwelik melding gemaak soos wat dit vandag in die westerse tradisie bekend is nie.

2. “Huwelike” in die Ou Testament was dikwels niks anders nie as ’n transaksie tussen twee families. Baie beslis nie ’n goddelike instelling nie. Jong meisies het dikwels nie eers ’n sê gehad in die saak nie.

3. Twee mense wat mekaar liefhet en as getroue lewensmaats saambly se lewensstyl kan beslis nie as losbandig bestempel word net omdat hulle nie ’n stukkie papier het wat bekend staan as ’n huweliksertifikaat nie.

4. Die huwelik kan wel vir baie (waarskynlik meeste) mense die beste ruimte wees om in ’n sinvolle verhouding met mekaar te leef maar dit is nie die enigste moreel aanvaarbare manier waarin twee mense in ’n verhouding hoef te wees nie.

5. Seks was vóór die huwelik daar en nie andersom nie.

6. Die direkte verband wat Henrietta tussen saambly en bandeloosheid trek is niks anders as om roekeloos met die waarheid om te gaan nie.

Ten laaste dink ek Hennie Mouton van Centurion hulle se oorvereenvoudigde verslaggie oor saamwoon het tog meer goed as kwaad gedoen. Dit het die aandag gevestig op ’n saak wat al vir te lank onder die tafel ingevee word asof dit nie bestaan nie. Bybelmedia se boek waarna Henrietta verwys sou beslis nie verskyn het as dit nie vir die jongste debat oor saamwoon was nie. Dit is ’n tydige en aktuele publikasie en die moeite werd om te bestel. Dit kan direk van Bybelmedia bestel word by die skakel hier onder.

Al die vrae wat hier op die forum daaroor geopper word en nog meer, word behoorlik in die boek aangespreek. Kliek hier vir meer inligting oor die boek.

Charles Malan
2010-07-21

Wat Schalk oor sy aanhaling verswyg, en dit is onvergeeflik, is dat dit ’n gedig van Lina Spies is. Ek deel hom graag mee dat sy een van Afrikaans se mees gerespekteerde vrouedigters is en bekend as ’n Christen-gelowige.

‘n Vinnige letterkundelessie vir Schalk die belydenisjagter. Dit is ’n selfverklaarde “afvallige” spreker (nie Spies of ’n nuwe hervormer nie!) wat aan die woord is en dié persoon verruim ’n bekende geskrif om bv. geslagsonderskeidings in die konsep van God uit te skakel.

Ten spyte van die “afvalligheid” word hier geloof betuig in God, die Heilige Gees en die triomf van ’n soort ewige lewe oor die dood – waarin Christus bepaald ook ingelees kan word.

Die spreker stel dit duidelik: “Ek glo dat omdat ek lewe

ek aan alle lewendes

sorg en deernis verskuldig is . . .”

En wat stel Schalk teenoor hierdie inklusiewe omhelsing van diversiteit? Verwerp, verwerp, verwerp, drie keer genoem.

Mens moet darem baie desperaat vir skietgoed wees om ’n pragtige gedig buite konteks as skietgoed te gebruik om juis by “‘n verskraling, ’n verarming van diversiteit” uit te kom! En sommer ook na die prysgawe van geloofstandpunte te spring!

Hennie
2010-07-21

Siende dat daar op hierdie forum baie diverse opinies oor saambly is, daar na die Doornkloofverklaring oor saambly verwys is en ’n skakel na ’n boekie wat ’n ander siening probeer oordra hier gegee en toegelaat is, kan die skakel na die Doornkloofverklaring sekerlik ook hier gegee word. Kliek hier.

Charles, verbeel ek my, of het jy met jou reaksie op Schalk se skrywe, nou weer die groenlig gegee dat geloofsverklarings hier bespreek mag word?

Henrietta Klaasing
2010-07-21

Stefan ek neem aan hierdie is die onbeantwoorde vraag wat jy bedoel: “Of leef twee mense wat voor die landdros getroud is volgens Henrietta ook in sonde saam?” Ek lei af, want ek verstaan hierdie vraag nie so mooi nie, en dink dat die woordjie “net” iewers uitgeval het? Stefan jy bedoel seker huwelike wat (op watter manier ook al) by die Departement van Binnelandse sake geregistreer is. Sover ek weet móét selfs mense wat “in ’n kerk” trou óók by dié Dept geregistreer wees. Die lisensie wat ’n paartjie van ’n landdros kry is ’n sekulêre kontrak tussen die paartjie en die staat, terwyl ’n Bybelse huwelik ’n verbond is tussen die man en die vrou en God. Die sekulêre wêreld ken/erken nie die woord “sonde” nie. Stefan se genoemde geval sal dus slegs “sonde” wees in die geval van Bybelgelowige mense.

Een van die belangrikste sake wat uit die oog verloor word is dat die Bybelse huwelik heilig is. Een van die redes is omdat dit ’n tipering is van Christus en die kerk. Die kerk is sy bruid, en Hy sal onverwags kom om sy bruid te kom haal vir die Bruilofsfees van die Lam. Jesus Christus het die huwelik so hoog geag dat Hy sy eerste wonderwork tydens ’n huwelik gedoen het.

So terloops – Weet iemand hier dalk van watter eeu af is die staat by huwelike betrokke?

Schalk
2010-07-21

Dag weereens, vriende

Ek noem nie name nie want ek wil nie hê dit moet lyk of ek met iemand persoonlik in konflik wil wees nie. Die volgende punte is genoem waarop ek reageer:

punt 1: Verseker is dit so – die Westerse kultuur soos ons dit vandag het, het toe nie bestaan nie, dis eintlik vanselfsprekend dat die hedendaagse huwelik nie beskryf sal word nie, ook nie die een van die Middeleeue of toekoms nie. Dit maak dit nie vreeslik relevant nie.

punt 2: Daarmee kan ek ook saamgaan, maar ons leef nie meer in Ou Testamentiese tye nie en baie min mense sal graag wil terugkeer na daardie tye toe.

Dalk moet mens op grond van ander beginsels die saak beredeneer.

punt 3: Verseker is dit so dat in die semantiek en logika “getroue lewensmaats” en “losbandig(heid)” teenoormekaar staan.

Oor die saambly-ding kan ’n mens filosofies of teologies redeneer.

Filosofies

‘n Goeie, harmonieuse, opbouende saambly verhouding word dikwels teenoor ’n swak, disfunksionele en vernietigende huwelik gestel. Dit word dan as regverdiging vir ’n saambly verhouding gebruik. Maar die teendeel kan ook gesê word: ’n Goeie, harmonieuse, opbouende huwelik teenoor ’n swak, disfunksionele en vernietigende saambly verhouding. Dis ewe waar en balanseer mekaar uit, so die argument bring ons ook nêrens nie. Ten gunste van die standpunt om saam te woon word daar gewoonlik na egskeiding statistieke verwys. Verskriklik soos dit is, is die mislukking van een sosiale instelling nie outomaties ’n versekering vir die sukses van ’n ander sosiale instelling nie. Die feit dat geen statistieke oor mislukte saambly verhoudings nie beskikbaar is nie, laat dit lyk of saambly baie suksesvol is, maar dis gladnie te sê nie. Dit sou dalk beter wees om die meriete van die twee sosiale instellings op sigself te evalueer eerder as om hulle met mekaar te vergelyk.

Teologies

Alhoewel die huwelik of saambly nie in die Bybel in sosiologiese taal beskryf word (soos vandag) nie, het ek net oor die volgende gewonder:

Dawid en Batseba het nie “daai stukkie paper” gehad nie, al was hulle in ’n liefdevolle vaste saambly verhouding. Wat het die Here daarvan gedink?

En die Samaritaanse vrou by die put? Met elke man wat sy gehad het, het sy sekerlik gedink: “Hierdie een, of hierdie keer is dit die lewensmaat vir my” Ek lees nie dat sy ’n losbandige vrou was nie – slegs dat sy baie mans gehad het en dat die een wat sy tydens die ontmoeting gehad het ook nie haar man was nie (nie mee getroud was nie) Het Jesus die sosiale instelling wat sy gehandhaaf het, goedgekeur of afgekeur?

Die owerspelige vrou wat die fariseërs na Jesus gebring het. Jesus het tog nie vir haar gesê “Gaan heen en sorg dat jy nie weer uitgevang word nie?”

Hierteenoor wonder ek net waarom al die gunstige uitsprake van Jesus en veral Paulus jeens die huwelik as dit nie die voorkeur sosiale instelling is nie?

punt 4: Dit hang seker af van wie jy vra. Vir die Mormone is veelwywery ook nie verkeerd nie. Elkeen moet seker maar ’n keuse maak t.o.v. die morele stelsel wat hy aanvaarbaar vind. Sekere stelsels is meer en ander minder aanvaarbaar (afhangende van wie jy vra) maar dit is relativisme en relativisme is ’n gladde helling.

Oor verdere punte lewer ek nie kommentaar nie.

Ns. Charles, my verwysing staan daar. Dis waar ek dit gekry het – as hulle nie die outeur onderaan genoem het nie, is dit nie my skuld nie. So wat’s nou eintlik jou probleem? Ek het nie eers aan ’n spesifieke persoon “toegedig” nie. Ek vat nie die pak slae vir die bron se “vergeetlikheid” om die outeur te noem nie. So, daarvoor vra ek nie verskoning nie, wat ek gesê het, bly daar staan tensy die webmeester dit verwyder.

Stefan Nel
2010-07-21

Webmeester ek vra nog net eenmaal asseblief u geduld oor my bydrae ten opsigte van die gesprek oor die huwelik en saambly. Ek is bly Schalk gee toe dat die huwelik soos ons dit vandag ken glad nie ’n Bybelse instelling is nie. Nou wéét ons. Dit kan dus ook nie ’n goddelike instelling wees nie. Dit is ’n Westerse instelling. Ek hoop Henrietta begryp ook nou dat die Westerse huwelik wat sy as heilig gekalsifiseer het alles behalwe ’n Bybelse huwelik is soos wat sy hier onder aanvoer.

Dit is ook opmerklik dat Schalk die Bybel self ook maar selektief lees omdat hy nie wil terugkeer na Ou Testamentiese voorskrifte oor die “die huwelik” nie. Ek neem aan hy is darem konsekwent en wil ook nie terugkeer na Ou Testamentiese voorskrifte oor homoseksualiteit nie.

Ongelukkig verloor Schalk dan die draad totaal wanneer hy David en Batseba se buite egtelike verhouding by die gesprek insleep. Dit het absoluut niks met die gesprek te make nie. Dawid het ’n buite egtelike verhouding met ’n GETROUDE vrou gehad en haar wettige man as’t ware na sy dood gestuur. Dit het absoluut net mooi niks te make met twee mense wat saamwoon nie. Dieselfde met die vrou by die put.

Schalk
2010-07-21

Stefan,

‘n Weduwee is nie ’n getroude vrou nie. Ek volg maar net jou selektiwiteit na deur, soos jy, op die OT te konsentreer. (NT verwysings is wel daar – dalk het jy dit net misgekyk). Jesus en Paulus praat albei van die huwelik wat “nie ’n goddelike instelling …(kan)…wees nie.” Dis goed genoeg vir my.

Waarmee het die verwysing na die Samaritaanse vrou se baie mans dan te doen?

Jou aanname is heeltemal reg, Stefan – ek wil nie terugkeer na OT voorskrifte oor hoe om op te reageer op (homo)seksuele gedrag nie want ek sien dit nie by Jesus nie. Selektief genoeg vir jou?

Webbestuurder
2010-07-21

Hennie, nee en nog ’n keer nee, die forum is nie daar vir allerlei geloofsverklarings nie! Lees maar gerus hoe geïrriteerd bydraers oor die afwykings is. Die huidige bespreking oor saamwoon en wat meer handel spesifiek oor verhoudings waardeur “afwykendes” as die ander en dus sondaars getipeer word en daarom kan ons daaroor praat.

Schalk, ek het kort na die plasing van jou boodskap na jou skakelverwysing gaan kyk en Lina Spies se naam staan (steeds) duidelik daar. Die punt is egter dat jy hierdie siening van ’n “afwykende” spreker hanteer asof dit ’n alternatiewe geloofsbelydenis en ’n toets vir die NGK is! Jou slotboodskap van “verwyder!” laat baie min ruimte vir die gedig se “Jesus van Nasaret,/ die wonderskone boodskapper/ van die onmoontlike liefde . . .” Jou slotdeel oor Jesus na die verwerping is wel vir hierdie forum vol in die kol: “met diegene met wie Hy medelye gehad het, moet ons ook medelye hê”.

Ek stel bloot ’n geldige debatstandpunt: Schalk, as jy kan praat met ’n middeljarige paartjie wat jare lank as gevolg van finansiële of ander omstandighede in groot liefde saamwoon – sal jy jou op Christus kan beroep en sê: “Nee, verwerp julle dwaling, bekeer julle, groot sondaars!”?

Johan
2010-07-21

Ou Schalkie jy het die bus lelik gemis my maat. Beide Stefan en Charles het jou nou al gewys op jou bontpratery maar lyk my jy sien dit nie raak nie. Niemand so doof soos hy wat nie wil hoor nie né?

Schalk
2010-07-21

Ek vra verskoning vir my blaps. My ingesteldheid is nie om so ’n paartjie, of enige ander paartjie te beoordeel nie. Ek is nie hier om mense be beoordeel nie. Almal weet tog wat die verskillende uitgangspunte betreffend saamwoon en ander sake is en elkeen maak mos sy keuses op grond van watter beginsels hy of sy ookal wil. Ons trek almal ons broeke aan, een pyp op ’n slag so wie kan vingerwys? As mens dan nou oor, wat vir sommiges sonde is, moet praat, waarom word saamwoon en homoseksualiteit dan uitgesonder? Ek sal alleenlik met so ’n paartjie of ’n gay persoon daaroor in gesprek gaan as hulle bv. sê dat dit hulle begin pla en dan kan ons dit saam eksploreer. Soos reeds gesê, ek vind dit betreurenswaardig dat die meeste van die soort gesprekke by die sondebegrip eindig. Ek wil nie eers daar begin nie. Vir my gaan dit oor die persoon en hoe hy of sy, sy of haar bestaan beleef.

Ek hoop almal verstaan nou eens en vri altyd dat dit my ingesteldheid is en moenie weer net aannames maak nie, vra eers liewer.

Fanie
2010-07-21

Ek het myself daarvan weerhou om weereens betrokke te raak in die debat oor saamwoon. Hennie en sy bende het dit egter by die agterdeur ingesleep, selfs met die skakel van sy eie verslag wat die Doringkloof gemeente onder groot druk geplaas het.

Wat Henrietta in haar skrywe sê, is presies waarvoor die ouermense, wat onder druk is om pensioene te verloor indien ’n wettige huwelik aangegaan word, vra. Kan hulle, en dan ook ander saamwoners wat aan sekere kriteria voldoen, dan nie kerklike sanksie kry vir hulle saamwonery nie.? Dit is tog waaroor diversiteit gaan. Om mekaar ter wille te wees ook in ons kerke.

Henrietta, ek moet raai oor wanneer die staat by die huwelik betrokke geraak het, ek vermoed dit was hier in die vierde eeu nC.

Wat my bekommerd maak oor die gesprek oor diversiteit is dat ons maar weer die ou koeie uit die sloot haal. Kom ons praat nuut oor die kerk. Dieselfde saamwoon paartjie wat saam met my werk en toevallig aan dieselfde gemeente behoort, is gedurende die week aanvaarbaar en selfs groot vriende. Kom ons egter Sondag in die kerk is hulle diegene wat anders is. Dieselfde geld vir gays en anderlike ander mense.

Webbestuurder
2010-07-21

NUUT OP DIE DIVERSITEITSFORUM

Nuut by die Dokumente op die Diversiteitsforum, www.ngkerk.org.za: “Ubuntu: An African Assessment of the Religious Other.”Deur Dirk J. Louw.

Daar is internasionale belangstelling in die Afrika-filosofie van Ubuntu, “ek word ’n mens deur ander mense”. Dus, al is die ander ook soveel “anders”, my kontak met hulle bevestig my menswees. Prof. Louw gee as ’n kenner op hierdie gebied boeiende perspektiewe op die benadering, in die besonder op religieuse terrein, as ’n manier om diversiteitsbevordering oor grense heen te benader. Onder die gevolgtrekkings is die volgende:

It would be ethnocentric and, indeed, silly to suggest that the Ubuntu ethic of caring and sharing is uniquely African. After all, the values which Ubuntu seeks to promote, can also be traced in various Eurasian philosophies. This is not to deny the intensity with which these values are given expression by Africans. But, the mere fact that they are intensely expressed by Africans, do not in itself make these values exclusively African.

However, although compassion, warmth, understanding, caring, sharing, humanness et cetera are underscored by all the major world views, ideologies and religions of the world, I would nevertheless like to suggest that Ubuntu serves as a distinctly African rationale for these ways of relating to others. The concept of Ubuntu gives a distinctly African meaning to, and a reason or motivation for, a decolonizing attitude towards the other, including and especially the religious other. As such, it adds a crucial African appeal to the call for the decolonization of the religious other—an appeal without which this call might well go unheeded by many Africans . . . In this, and only in this peculiar sense, Ubuntu is of Africans, by Africans and for Africans.

Henry
2010-07-21

Uiteindelik ’n nuwe, uitdagende besprekingspunt na die herhaling van soveel ou standpunte wat ’n mens laat sug. Ubuntu! Prof. Louw se bespreking bied baie stof vir nadenke, en vir hierdie forum is die volgende natuurlik uiters belangrik: “However, although compassion, warmth, understanding, caring, sharing, humanness et cetera are underscored by all the major world views, ideologies and religions of the world, I would nevertheless like to suggest that Ubuntu serves as a distinctly African rationale for these ways of relating to others.”

Mooier kan dit nie vir diversiteitsaanmoediging gestel word nie. As kenner behoort prof. Louw egter bepaald te weet dat daar kritiek op die oorgebruikte en misbruikte konsep van Ubuntu is.

Die bekendste is waarskynlik dat die slagspreuk volgens kritici eintlik beteken: ons sorg vir mekaar en sal dus allerlei probleempies soos korrupsie en nepotisme duld. Die kapitalistiese uitgangspunt van individuele entrepreneurskap en vir jouself sorg, geld nie hier nie.

Ek oorvereenvoudig natuurlik oor iets wat eintlik ‘m baie sublieme en diepgaande filosofie of geloofsvertrekpunt is. Die doel is egter om by kritiese vrae verby te beweeg na dit wat ons kan leer van ’n naasteliefde wat uit Afrika gebore is en steeds daar wortel.

Ek was eens in die bevoorregte posisie om ’n groep BBP-besoekers van oorsee ’n inleiding te gee oor hoe ons hier leef en voel. Ek sal nooit vergeet hoe gretig hulle begin aantekeninge maak en daarna vrae begin vrae het toe ek oor Ubuntu begin praat het nie.

Laat ons almal help dat dit nie deur skeptici, soos in my vrae, gekontamineer word nie. Dis ons s’n, van alle kleure, alle Afrikane!

Henrietta Klaasing
2010-07-22

Die aanbevole dokument van die Professor is Interessante leesstof. Dankie ook aan Henry vir sy ingeligte verduidelikings.

Ubunthu is nie ’n nuwe konsep nie, ons vind dit ook in die Bybel: in Rut lees ons byvoorbeeld van die pligte van ’n uitgebreide families met ’n losser wat in nood ingryp, die yster-slyp-yster-gedagte in Spreuke 27:17, ook van driemaal vermenigvuldigde krag in Prediker 4:9-10. Dan is daar die bloedverbonde soos byboorbeeld van Dawid en Jonatan.

Die Nuwe Testament is vol voorbeelde van “julle-moet-mekaar”. Die Engels praat so mooi van “one anothering”. Romeine 12 gee die beeld van ’n liggaam en hoe verskillende lede van ’n liggaam mekaar moet help om hartlik en eengesind te wees onder mekaar, op ’n ander plek: dra mekaar se laste. Die Bybelse voorbeelde kom sonder die bagasie van ubunthu : die “ander mense” in die oorspronklike betekenis van die uitdrukking sluit natuurlik voorvader- en ander geeste in.

Ek is bly oor die “consensus” waaroor onder andere ook in die artikel gepraat word. Dit is in ooreenstemming met die idee van ’n “common understanding wat ek in ’n vroeëre plasing (5 Julie) voor gevra het.

Schalk
2010-07-22

Elke huis het sy kruis en elk hart sy smart. Die Universiteit van die Lewe se leerplan is baie keer baie swaar vir baie mense. Waarom dit nog swaarder maak vir hulle deur te fokus op iets wat vir hulle baie sensitief mag wees? Ek wonder of hulle regtig volgens hulle seksuele oriëntasie, sosio- ekonomiese status, imperfeksie (lees gestremdheid van ’n aard) huwelikstatus ens. ge-etiketeer wil word? Gewoonlik gaan dit gepaard met ’n menswaardigheid-konnotasie. (en gewoonlik net so ’n bietjie minder menswaardig as die eiewaarde van die een wat dit doen). Die “Parmantige” Samaritaan het dit nie gedoen nie (en as jy dink aan al die grense wat hy oorgesteek het, was hy parmantig) en Christus het dit ook nie met die Samaritaanse vrou gedoen nie. Vir hulle was die ander mens net gewoonweg mens. En as mens daaraan dink dat Christus elke mens se waarde so hoog geag het dat Hy Sy lewe vir die mens gegee het, wie is ons om ander na waarde te skat? En wat is verbale boelie en om stekies in te kry anders as liefdelose bepaling van ’n ander se mindere waarde. Dit mag dalk lekker wees en jouself beter oor jouself laat voel as jy ander bietjie kan bykom (soos hoenders in ’n hok wat almal die swakste hennetjie pik) maar dit pas ongelukkig nie in die Christosentriese model nie.

Ek wonder of die “ander” oor wie die diversiteitsgesprek gaan as “anders” beskou wil word of wil hulle nie maar net as medemense beskou word nie?

Piet Roos
2010-07-22

Lees Jaco Strydom op p15 in vanoggend se Beeld – TORINGLOSE KERKE

Webbestuurder
2010-07-22

NUUT OP DIE DIVERSITEITSFORUM: TORINGLOSE KERKE VIR DIVERSES

Jaco Strydom oor die viering van diversiteit binne ’n groot verskeidenheid spiritualiteite en kerke. Nuut onder die argief by die Diversiteitsforum. Is dit nodig dat gelowiges op mekaar begin skiet oor onderlinge verskille?

’n Uittreksel:

*******************************

As gelowiges is ons teologiese oortuigings dalk nie altyd dieselfde nie, maar ons deel die nood in die gemeenskap en ons is dit tog almal eens dat ons geroep is om ’n lig te wees waar dit donker is.

Ons eenheid en ons getuienis is onlosmaaklik verbind aan mekaar. In Joh. 13:35 sê Jesus: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” In Joh. 17:35 bid Jesus dat ons een sal wees sodat die wêreld in Hom sal glo as God se gestuurde. Ons integriteit as gelowiges het verskriklik baie te doen met hoe ons mekaar behandel.

Die Bybel waarsku ons dat ons nie vir God, wat ons nie kan sien nie, kan liefhê as ons nie ons broers, wat ons wel kan sien, nie liefhet nie. Jy kan tog nie vir God lief wees en nie vir sy liggaam nie?

Natuurlik is geen kerk perfek nie – inteendeel! Ons mag (en moet) gedurig krities na onsself kyk, maar daar is ’n groot verskil tussen opbouende kritiek wat daarop uit is om die kerk doeltreffender te maak en ’n sinnelose geskinder, gekla en gekerm. Iemand het eenkeer gesê: “Hy wat klippe gooi, verloor grond.”

Fanie Cronje
2010-07-22

Ek is ook versigtig om die begrip Ubuntu sommer net so te gebruik en vind enige vermaning tot versigtigheid om ’n kritieklose omhelsing daarvan in orde. Ek dink egter wel dat daar ook wins punte in is wat ons kan help.

Na aanleiding van Henry se opmerking: “dat daar kritiek op die oorgebruikte en misbruikte konsep van Ubuntu is. Die bekendste is waarskynlik dat die slagspreuk volgens kritici eintlik beteken: ons sorg vir mekaar en sal dus allerlei probleempies soos korrupsie en nepotisme duld. Die kapitalistiese uitgangspunt van individuele entrepreneurskap en vir jouself sorg, geld nie hier nie. wil ek die vraag vra: Wie het wanneer besluit dat die Westerse kapitalistiese en individualistiese ideaal die beste vir die wêreld is?

Is dit nie so dat wat in ons Westerse kultuur as nepotisme en korrupsie beskou word, in sommige kulture as plig teenoor jou familie beskou word nie? Byvoorbeeld, indien jy in ’n posisie van mag/beheer kom, dan behoort jy jou familie te help om saam met jou daarin te deel. Die familie is immers die belangrikste, nie (soos in die Weste) die individu nie?

Wat behoort die kerk se standpunt te wees t.o.v. ekonomiese diversiteit en (oënskynlik) onversoenbare sosio-ekonomiese ideale van die naaste familie se belange teenoor die belange van elke individu in die samelewing?

Ek wonder al lank hieroor?

Fanie
2010-07-22

Ek lees iets interessant in ’n boek van Kwame Bediako “Christianity in Africa”, waarin hy ’n aanhaling van Kofi Awoonor van Ghana aanhaal oor “Afrika konsensuele politiek”.

Bediako haal aan :

“The central piece of Awoonor’s thesis is stated in relation to the African ( extended ) family which he takes to be the basic political unit :

Decisions of the family council are arrived at by consensus. This is the first principle in African democratic practice. In it is enshrined the notion that by consensus, all agreed on a particular line of action; opposition which could be vital for arriving at the decision therefore becomes eliminated in the aftermath of the decision being taken. Opposition as a factor in achieving consensus occurs only during deliberations. If opposition persists beyond these deliberations, then decisions are postponed until further consultations, in order that unbending opponents of the general drift of the council’s thinking can be advised and other extra parlementary tactics employed to end the opposition. The collective and representative authority of the council is the bedrock of the consensus mode of decision-making. It emphasises the unity of the family invoking the ties that bind each member rather than drawing attention to any factors that may divide them”

Dit klink baie bekend in ons Suid-Afrikaanse situasie. As jy nie saamstem nie, word sekere maatreëls toegepas totdat jy soos die meerderheid glo. Voorwaar “an offer that can not be refused”.

Bediako, K. 1995. Edinburgh University Press Ltd. Edinburgh.

Webbestuurder
2010-07-22

GESPREKSVERDELING OP DIE FORUM

Daar is tans ’n hele paar interessante gesprekke gelyktydig op die forum aan die gang: ubuntu, saamwoon, die toringlose kerk . . .

Die voordeel is dat lesers op die tuisblad by “Visie en missie” tans alles kan lees. Die nadeel is dat bydraers oor ’n bepaalde tema wil praat, maar dit word onderbreek.

Moet die webbestuur probeer om temas te skei, al is dit soms kunsmatig, sodat kommentaar onder die bepaalde tema volg en nie op hierdie tuisblad nie? Moet nuwe dokumente dus onder ’n nuwe tuisblad vir kommentaar daar geplaas word en algemene kommentaar steeds onder Visie en missie?

Ons is baie dankaar oor getroue lesers (en ons weet by name hulle sluit kerkleiers in) en wil dus graag hoor wat julle verkies. Julle kan ook die webbestuurder persoonlik skakel bycharlesmalan@absamail.co.za.

Don Quick-shot
2010-07-23

Ek check maar van tyd tot tyd wat hier aangaan en weet nou nie so mooi van die moontlikheid van die webbestuur om besprekings te skei nie. Hier kry ek almal se sienings en hoef nie rond te hop nie. Ek lees alles wat ouens soos Fanie, Gerhard en Stefan sê, altyd sinvol al stem ek nie met alles saam nie.

Daar is een moontlikheid wat miskien kan werk. Kry ’n besprekingspunt met ’n naam soos “Skrifgefundeerde belydenisskrif-gebaseerde bewyse dat te veel toegewing aan die ander jou anders maak.”

Dit is gewaarborg om ’n paar knaende skrywers soos ’n magneet van hierdie besprekingsblad weg te trek sodat ons oor diversiteit kan voortpraat. Vir seker gaan jy daar name kry wat met H, J en M begin. Ek sal nie wil kies tussen uitstekende stukke soos die van Dirk Louw en Jaco Strydom nie, en wil ook nie elke keer orals rondblaai om te sien of daar nuwe kommentaar is nie.

Hennie
2010-07-23

Jaco Strydom skryf, en ons webbestuurder haal hom aan:

“Die Bybel waarsku ons dat ons nie vir God, wat ons nie kan sien nie, kan liefhê as ons nie ons broers, wat ons wel kan sien, nie liefhet nie. Jy kan tog nie vir God lief wees en nie vir sy liggaam nie?”

Jesus het nog iets gesê, en dis belangrik want ’n halwe waarheid kan maklik in ’n onwaarheid verdraai word:

“As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie.”

Gesamentlik sou ek dink dat dit beteken dat kinders van God, wat deur geloof in Christus broers is, God se woorde soos weergegee in die Bybel behoort te bewaar, en te laat uitvloei in liefde vir mekaar (ons broers). Ander gedeeltes dui natuurlik sterk daarop dat ons liefde ook aan ander (ongelowiges) behoort te bewys, veral in terme van hulle deur die evangelie deel van die broederskap (en susterskap) te probeer maak.

Ek neem aan Fanie en Fanie Cronje is dieselfde mens? Dit help om te weet want dan kan mens sy skrywes beter verstaan.

Helene
2010-07-23

Hallo Don, stem saam ek hou ook nie van ’n ge-rond-hoppery nie. Die jig pla te veel.

Maar die vloer is joune, kom ons hoor of jy kan beter doen as H J M en X Y en Z?

Webbestuurder
2010-07-23

Die forum word orals gelees. Alle steeksinode-moderators en -verteenworodigers kry gereeld inligting, ook danksy Jan Botha se skrywes. Die Kerkbode gaan ’n berig oor ons plaas.

Vermy asb. identiteitsverwarring. “Fanie” is inderdaad nie Fanie Cronje nie en hy is gevra om homself verder te identifiseer. En dan die nuweling Helene wat vir Don vra wat hy beter as die letter H kan doen omdat sy dan ook in die prentjie kom. Ek kan nie namens Don praat nie, maar dit lyk my selfs nie H+e gaan haar loslaat nie. Gereelde lesers sal miskien kan verfyn as daar derdens ’n “n” bykom. Ek raai maar.

Rina du Plessis
2010-07-23

Schucks, na al die jare kan ek my ma uiteindelik vergewe dat sy my so ’n koekerige naam soos Rina gegee het.

En uiteindelik het die gesprekke na so ’n vlak gedaal dat ’n simpel ou meisietjie soos ek ook kan saamgesels.

Helene
2010-07-23

Mnr die Webmeester nou het jy my in ’n totale verarring oor jou ABC of te wel AB en H. Hoe dit ook al sy ek geniet dit om al die diverse menings te lees so ook die van H J en M.

Webbestuurder
2010-07-23

Ag tog, dit lyk nou of daar verwarring is by “Hoe werk dit?” hierbo. Die bedoeling is dat ons voorname gebruik om mekaar aan te spreek, dus nie formeel nie, maar julle kan julself gerus verder met ’n van of skuilnaam identifiseer.

“Fanie” laat weet inderdaad hy is Fanie van Emmenes en Fanie Cronje is ’n ou en bekende vriend van die forum.

Dankie vir die terugvoering oor die moontlike skeiding van gesprekstemas op die forum. Laat hoor gerus hoe julle daaroor voel, asb.

Webleser (Verwyder deur Webbestuurder, baie vinnig)
2010-07-23

Baie snaaks dat die Webbestuurder nou vra vir ’n vermyding van ID verwarring terwyl CM = JA en JO = SN

Webbestuurder
2010-07-24

‘N SUID-AFRIKANER MOET INTERNASIONAAL OOR GRENSE HEEN LEI – MAAR DIE DIVERSITEITSFORUM VERKONDIG “‘N HEEL ANDER EVANGELIE”?

Dr. Jerry Pillay is op die pas afgelope vergadering van die wêreld se grootste gereformeerde ekumeniese liggaam, die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) as president verkies. Dit is vir ons belangrik dat hierdie oorkoepelende liggaam wat soveel vir diversiteit en eenheid kan beteken, juis deur ’n Suid-Afrikaner gelei word.

Lees gerus hoe onse Hennie dr. Pillay egter ook probeer inpalm en die Diversiteitsforum verdag maak in ’n boodskap op Kerkbode by http://kerkbode.co.za/NuusLees.asp?id=105:

***********************

As mens na die kitaarslaners op www.ngkerk.org.za se Diversiteitsforum kyk, het hulle nie hul gevoel vir sendingwerk verloor nie – hulle verkondig net ’n heel ander evangelie. Soveel mense as moontlik moet geakkommodeer word, die Bybel is nie meer die basis nie, ander gelowe is ook reg, en niemand hoef tot bekering te kom nie. Ja, die doelstelling van eenheid kan daarin gesien word, maar watter soort ongelowige eenheid is dit?

Ek hoop van harte dat dr Jerry Pillay die eenheid voorstaan wat gebou is op Jesus Christus as enigste Verlosser, en op die waarheid van Sy Woord. – Dr Hennie Mouton

**********************

Ek het soos volg op Kerkbode geantwoord:

Dr. Pillay is natuurlik reg dat daar nie spanning tussen geregtigheid (lees ook Christelike naasteliefde veral jeens verdruktes) en eenheid (lees ook kerkeenheid) hoef te wees nie. As webbestuurder van die NGK se Diversiteitsforum wat deur dr. Hennie Mouton veroordeel word, moet ek egter ten sterkste beswaar maak teen sy eensydige en verdraaide opsomming van dit wat op die forum aangaan. Lesers kan self gaan oordeel in watter mate ’n “heel ander evangelie” daar verkondig word. Ons weet nou al hoe die doktor van die een forum na ’n volgende beweeg om sy besondere evangelie te verkondig, maar om so verregaande oor gelowige Christene en ’n strewe na diversiteitsbevordering te veralgemeen is blote beswaddering. Dit is benede peil dat hy ’n belangrike leier soos dr. Pillay ook by hierdie kleinlikheid probeer betrek. Soos op die Diversiteitsforum sal hy hopelik ook nie hier veel verder die kans kry om met sy persoonlike verpakking van die enigste moontlike “verlossing” te smous nie. Hy is lank genoeg geduldig daar geakkommodeer. – Charles Malan

James Maré
2010-07-24

Charles, kan jy net verduidelik wat jy bedoel met Hennie wat “nie hier veel verder die kans kry om met sy persoonlike verpakking van die enigste moontlike “verlossing” te smous nie”?

Sover ek dit het, het Hennie nie eenkeer ’n ander Evangelie verkondig as wat eerstens deur die Gereformeerde Leer aangehang word nie en tweedens het hy voortdurend die Evangelie wat hy hier verkondig het, vanuit die Skrif verdedig en op die Skrif gegrond.

Ek het egter nie een enkele Skrifgegronde kritiek teen sy siening van die verlossing deur Jesus Christus op hierdie blad gesien nie.

Al wat wel hier geplaas is, is afbrekende kritiek teen sy sienings sonder enige suksesvolle weerlegging op grond van die Skrif.

Die opmerking wat jy maak, is uiters kommerwekkend want daar is geen ander plasing sover op hierdie einste blad wat so pertinent bewys bied dat God se Woord en die Evangelie van Verlossing deur Jesus Christus Alleen, so direk en duidelik verwerp word deur die drywers, organiseerders en lede van die Diversiteitsgroep nie; dit is natuurlik nou as jy as webbestuurder hulle almal se siening hierop akkuraat weergee of verteenwoordig.

Miskien mis ek iets kardinaals in jou stelling want ek kannie glo wat ek hier lees nie.

Waar het die NG Kerk amptelik die Gereformeerde siening verwerp dat Jesus Christus die enigste moontlike Verlosser is??? En dan verwoord jy dit nogal neerhalend deur die term “smous” daaraan te koppel!!

Stefan Nel
2010-07-24

Ag julle moet tog asseblief nie mense soos Hennie en James hier verjaag nie. Hulle teenwoordigheid hier is noodsaaklik sodat almal kan sien hoe lyk bybelboelies regtig. Ons is nie almal só nie.

Rina du Plessis
2010-07-24

Eks nou nie eintlik die skerpste potlood in ons familie se pakkie nie, maar my ouma het ons grootgemaak op ou hallelieja liedjies soos “Bring my die ou ou tyding” en “Daar’s ’n dierbare Kruis, waar my Hyland bewys die liefde wat Hy vir my het”. As ek dié faait tussen oom Hennie en Charles nou reg verstaan, lyk dit my die “ou ou tyding” is op hierie forum nie meer goed genoeg nie?

Charles Malan
2010-07-25

Ai, James, mens het darem Job se geduld met jou en Hennie se vedraaiings nodig, en ek het dit nie meer na julle talle klagtes nie. Stem jy saam met die Skrifgeleerde Hennie se dawerende uitspraak oor al die “kitaarslaners” op hierdie forum:”hulle verkondig net ’n heel ander evangelie. Soveel mense as moontlik moet geakkommodeer word, die Bybel is nie meer die basis nie, ander gelowe is ook reg, en niemand hoef tot bekering te kom nie.”? Daar is dus nie meer ’n Bybelse basis nie, bekering en dus verlossing is onnodig, ens., ens.?!! Slegs Hennie se siening van verlossing en bekering kan dus reg wees.

James as jy jou met sulke onsin vereenselwig, hoekom skryf jy gereeld hier? Om al “ons” afvalliges aaneen te probeer bekeer? Jy sal seker help om mense soos Rina te laat vra of hier nie meer ’n goeie tyding is nie.

Ja wel, Stefan, ons hoor wat jy sê, maar solank die “Bybelboelies” darem oor diversiteit praat, moet hulle stemme ook maar hier gehoor word. Na moontlike repliek deur James word hierdie bespreking in elk geval afgesluit.

Rustige, sondelose Sondag vir julle almal. Mag julle ook sulke inspirerende predikante soos ons by Florauna hê.

Fanie Cronje
2010-07-25

Die probleem is nie die ou, ou tyding nie. Die probleem is ook nie dat hier mense op hierdie forum is wat die ou, ou tyding bevraagteken nie. Die probleem is om byvoorbeeld die 4de of 15de eeu se interpretasies van die ou, ou tyding te kanoniseer en met die Bybel gelyk te stel. Die probleem is dat hier gespreksgenote op hierdie forum is wat sekere interpretasies van die Bybel en perspektiewe op die Bybel met die Bybel self verwar. Ek het nog nooit verstaan dat ons Gereformeerde vaders en moeders bedoel het dat hulle interpretasie van die Bybel op dieselfde vlak van gesag as die Bybel self lê nie. Roep hulle nie juis elke geslag op om te bly reformeer nie.

Alhoewel diversiteit van die begin van alles af reeds daar is, is dit in ons dag en in ons Suid-Afrika ’n uiters relevante saak waarmee ons daagliks gekonfronteer word. Die vraag is: Hoe leef Christene onder sulke omstandighede as beelddraers van Christus? Op hierdie punt worstel ons na my oordeel met ’n saak wat nie so hoog op die agenda van ons geloofsvaders en moeders was nie. Kom ons gun mekaar om al soekende saam op reis te wees. In hierdie reis hou ons aan die ou, ou tyding vas, maar verabsoluteer ons nie vorige geslagte se interpretasie van of perspektief op die Skrif nie.

Linde Jansen van Rensburg
2010-07-25

Ek het maar die afgelope tyd min kom kyk wat hier op die forum aangaan, want die geklets oor hierdie of daardie versie is vir my baie boring. Gaan die outoppies nou liewers op Kletskerk klets? Probeer die liewe oom Hennie nou liewers op Kerkbode?

Oor diversiteit skryf Fanie Cronje nou net mooi wat ek van die begin af wou hoor: “Op hierdie punt worstel ons na my oordeel met ’n saak wat nie so hoog op die agenda van ons geloofsvaders en moeders was nie. Kom ons gun mekaar om al soekende saam op reis te wees.”

Ja! Ek wil mos nog die heeltyd hoor wat ek en my with it anderster pelle kan doen om te voel ons is deel van Jesus se groter kerk sonder dat enige ou miskien sy geloof moet los, al is dit vir ons weird.

Ek lees goeie goed op die forum! Ubuntu! 8000 gelowiges van oor die hele wereld wat saam aanbid, eet en by tye met musiek jol! En dan skryf Jaco: “Ons eenheid en ons getuienis is onlosmaaklik verbind aan mekaar. In Joh. 13:35 sê Jesus: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” In Joh. 17:35 bid Jesus dat ons een sal wees sodat die wêreld in Hom sal glo as God se gestuurde. Ons integriteit as gelowiges het verskriklik baie te doen met hoe ons mekaar behandel.

Ek sou so graag werklik iets wou doen om die arme plakkers wie se hutte in die koue langs die magtige kerk verwoes is maar ek hoor niks by my kerk wat ek kan doen nie. Waar kan ek hulle nooi om in ons spaarkamer te kom oornag totdat daar skuiling is? My ouers sal geensins omgee nie want hulle het my geleer dis hoe gelowiges mekaar behandel. En so what as hulle nie werklik gelowig is nie?

James Maré
2010-07-25

Charles, dankie vir die geleentheid tot repliek.

Miskien, as jy bietjie meer eksplisiet sal wees met jou opmerkings, sal ek dalk beter verstaan wat jy met “verdraaiings” bedoel. Ek dink dit sou net billik wees om wanneer jy iemand van “verdraaiings” beskuldig, uit te spel watter uitlatings verdraaid is in jou oë en die gronde te gee waarop jy jou siening skoei.

Ek dink dit is die grootste verskil tussen Hennie en ander skrywers met soortgelyke sienings op die blad se plasings en die plasings van diegene wat nie met hulle (ons) saamstem nie.

By verskeie geleenthede op hierdie blad het die kern van die Evangelie ter sprake gekom. Sekere deelnemers bly steeds vaag oor sekere aspekte wat baie duidelik in die Skrif verkondig word. Word duidelikheid gevra, word antwoorde net eenvoudig nie gegee nie of dit word steeds in dubbelsinnige terme verwoord of daar word aggressief gereageer en persoonlike aanvalle geloods en sodoende word die vraag nooit beantwoord nie. En dan wil sulke mense praat van liefdevolle optrede teenoor mekaar?

Deurgaans het of kon nie Fanie of Gerhard en selfs Henry uitspel wat hulle byvoorbeeld met “verlos” bedoel nie.

As hulle nie eers op ’n forum waar ons as Christene by tye oor die kern van ons Christenskap praat, duidelik kan uitspel hoe verlossing plaasvind en wat verlossing beteken nie, kan ons seker met reg bekommerd wees.

Iewers moet ons wat onsself Christene noem, tog seker “common ground” hê vanwaar ons kan gesêls.

Jou vraag waarom ek gereeld hier skryf, is om ook my opinie te lug as een van dié wat die Bybel ag as die onfeilbare Woord van God. Ons het geen teenstand of weersin in diversiteit nie; ook geen beswaar teen liefdevolle optrede teenoor nie-Christene soos bv Moslems nie! Waarom word hierdie tipe goed voor ons koppe gegooi? Omdat ons sterk reageer op sekere interpretasies waarmee ons nie akkoord gaan nie!?

Daar is ongelukkig uitsprake en oproepe wat hier gemaak word deur deelnemers soos bv Fanie (van Emmenis) wat soos volg pleit: “Wat Henrietta in haar skrywe sê, is presies waarvoor die ouermense, wat onder druk is om pensioene te verloor indien ’n wettige huwelik aangegaan word, vra. Kan hulle, en dan ook ander saamwoners wat aan sekere kriteria voldoen, dan nie kerklike sanksie kry vir hulle saamwonery nie.? Dit is tog waaroor diversiteit gaan. Om mekaar ter wille te wees ook in ons kerke.”

Waar is Fanie Cronjé, Henry en Gerhard se reaksie op die versoek? Of is dit ’n geldige versoek dat ons as NG Kerk 400 – 600 jaar terug beweeg en die Roomse gebruik terugbring waarin mense sanksie verleen word teen ’n bedrag om vergiftenis te bekom? Fanie se pleidooi dat die Kerk sanksie moet verleen aan iets wat God duidelik verbied, plaas die Kerk in dieselfde posisie as die een waarin die Roomse Kerk hom bevind en waarvan ons weggebreek het as Protestant Gereformeerdes.

Sondevergifnis kom deur erkenning,berou en belydenis van sonde, nie deur sanksie te verleen nie!

Charles, as die Bybel geen plek gegun word op hierdie blad nie, waarom dan hoegenaamd die term Christen by hierdie gesprekke betrek? En my en Hennie se siening van slegs een moontlike verlossing word gerugsteun deur die Bybel en ook die Drie Formuliere van Eenheid soos op hierdie Webwerf bevestig.

My vraag aan jou is dus steeds; Waar het die NG Kerk amptelik die Gereformeerde siening verwerp dat Jesus Christus die enigste moontlike Verlosser is? Dit is tog duidelik wat jy met jou opmerking insinueer, nie waar nie?

Hiermee Art 12 van die Nederlandse Geloofsbelydenis waartoe die NG Kerk steeds verbind is:

“ONS REGVERDIGING DEUR DIE GELOOF

Ons glo dat die Heilige Gees ’n opregte geloof in ons harte laat ontvlam om die ware kennis van

hierdie groot geheimenis te verkry. Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes. Dit maak

Hom ons eie en soek na niks anders as na Hom nie. Daar is dus net twee moontlikhede: In Jesus

Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, óf dit is alles wél in Hom, en dan het hy wat

wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid. Om nou te beweer dat Christus nie

genoegsaam is nie maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering

wees, want dit sou beteken dat Christus slegs ’n halwe Verlosser is. Ons sê daarom tereg saam met

Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is (Rom. 3:28).

Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is

slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons

Geregtigheid is. Hý reken ons sy hele verdienste toe en ook al sy heilige werke wat Hy vir ons en in

ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade

aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak

vir ons sondes te verkry.”

As ek Fanie Cronjé se stelling (“Ek het nog nooit verstaan dat ons Gereformeerde vaders en moeders bedoel het dat hulle interpretasie van die Bybel op dieselfde vlak van gesag as die Bybel self lê nie. Roep hulle nie juis elke geslag op om te bly reformeer nie”) reg verstaan, sal hierdie Artikel juis een wees wat hy in gedagte gehad het as ”ons Gereformeerde vaders en moeders bedoel het dat hulle interpretasie van die Bybel op dieselfde vlak van gesag as die Bybel self lê nie.”

Of verdraai ek nou weer Fanie se woorde?

Charles Malan
2010-07-26

James, ek verwerp elke enkele insinuasie, afleiding of opsomming wat jy aan my toedig as verregaande en onwaar. Jy het geen reg om vrae en bedenkings oor my persoonlike en kosbare verlossing deur Christus te laat hang nie. Ek en andere is ook geen uitgerekte geloofsbelydenis aan jou verskuldig nie.

Ons is bly jy en Hennie het op julle eie, unieke manier verlossing gevind. Waarom nie maar daaroor juig en al die “afvalliges” nou met rus laat nie?

In my vorige skrywe gee ek woordelikse aanhalings van Hennie se verdraaiings, sommer oor die aard van die hele forum, en vra of jy daarmee saamstem. Daaroor sê jy niks. Jy doen eerder mee aan die verdere verdagmakery oor ’n forum waar die Bybel geen plek het nie (!) en Christus as die enigste Verlosser ontken word (!!).

Soos jy weet, word die bespreking nou afgesluit nadat jy repliek kon lewer. Soos oor en oor gesê is: hierdie forum handel oor diversiteit en nie oor verlossing, bekering of geloofsbelydenisse soos jy dit verlang nie. Aangesien jy Fanie Cronjé aanvat, sal hy wel nog kans kry om te antwoord. Daarna hoef jy en jou geesgenote nie eers te probeer om iets naas die omskrewe missie van die forum in te smokkel nie. Julle het genoeg kanse gehad.

Fanie Cronje
2010-07-26

Charles en ander deelnemers gun my om op James se laaste skrywe te reageer. Ek reageer omrede hy (en sommige ander) nou reeds by herhaling my terug wou sleep na ’n gesprek wat nie op hierdie forum hoort nie. Mag ek in dieselfde asem ook vra dat daar nie sommer so afleidings oor my geloof gemaak word omrede my formulerings soms voorlopig, soms minder duidelik is nie.

My geloof het nog nie en sal ook nie in hierdie lewe arriveer nie – want ek glo wat in 1 Korintiërs 13:12 staan: “Nou kyk ons (ek) nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld …. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my (reeds) ten volle ken”. Hoe kan ek glasheldere, finale formulerings oor God, verlossing en so meer maak indien die Bybel getuig dat ons nog maar ten dele ken en die beeld wat ons sien nog maar dof is?!

Die boodskap van beide die Ou en die Nuwe Testament, naamlik dat lewe van God af kom (Skepper), dat verlossing van God af kom (Verlosser) en dat God se Gees in ons en om ons is (God is met ons), is “so eenvoudig dat ’n kind dit kan verstaan”. Hierdie boodskap kom egter na ons toe in die verpakking van ’n wêreld wat geografiese, historiese, literêre, sosio-polities/ekonomies en kulturele baie vêr van vandag se Westerse wêreld verwyder is. Om die kloof tussen daardie wêreld en ons wêreld oor te steek is nié “so eenvoudig dat ’n kind dit kan verstaan nié”.

Ook ons Gereformeerde belydenisskrifte kom na ons toe in die verpakking van ’n wêreld wat geografiese, historiese, literêre, sosio-polities/ekonomies en kulturele baie vêr van vandag se Suid-Afrika verwyder is. Daarom moet ons ons belydenisskrifte ook, soos die Bybel, interpreteer.

Tot die mate wat ek taalkunde (in die breedste sin van die woord) en vertaalkunde verstaan, beteken vertaling en interpretasie nie maar net gewoon dat ek woorde in my taal soek wat korreleer met woorde in die bron taal (Hebreeus, Aramees en Grieks – wat die Bybel betref) nie. Vertaling het onder meer ook ’n sosio-kulturele kant. Vertaal byvoorbeeld “Jan is die hoenders in.” in Engels. Is dit nou Jan is the chickens in”, of is dit “Jan is cross.”? Om dit te vertaal (Engelse woorde te vind wat met die Afrikaans korreleer) is eenvoudig. Deesdae sal ’n Graad 1 kind dit kan doen. Om dié Afrikaanse woorde egter te interpreteer en korrek aan ’n Engelse gehoor oor te dra, sal ’n mens kennis van die Afrikaanse sosio-kulturele wêreld (in hierdie geval, spreekwoorde) met hê.

Wanneer die Bybel byvoorbeeld oor verlossing getuig word dit soms in regsterme gegiet, soms in terme van eienaar slaaf, soms in terme van gevangene en bevryding, soms in terme van siek en gesond. Die probleem is dat daar ’n tyd in die Westerse se geskiedenis was wat dit die “in ding” was om alles (diverse dinge) onder een noemer te versamel. Vir dié betrokke tyd was dit moontlik nodig, goed en reg. Ons leef egter in ’n tyd waarin daar ’n groeiende behoefte is om dinge in hulle verskeidenheid en verskillende nuanses te sien en te hoor; om dinge vanuit verskillende perspektiewe te beskou.

Ons tyd word nie slegs deur diversiteit gekenmerk nie. Daar is ook by sommige ’n behoefte aan diversiteit. Sommige voel dat diversiteit ons begrip van die lewe, ook ons eie lewe verruim. Sommige van ons meen dat diversiteit help om die dowwe spieël so te vryf dat dit net effe helderder word, maar steeds nie helder genoeg nie. Daarmee gooi ons nié die vorige perspektief weg nié. Ons gee vanuit dit ’n volgende tree op weg. Want om Jesus te volg, is om “mense van die Weg” te wees (Hand. 9:2). Groete van huis tot huis.

Webbestuurder
2010-07-26

Dankie aan Fanie Cronjé met sy finale antwoord op ’n gesprek wat hy tereg sê nie op hierdie forum hoort nie. Daar is oor en oor gesien hoe enkele deelnemers vasklou aan hulle bepaalde waarheid van Skrifinterpretasie. Maar, soos Fanie sê: “Ons leef egter in ’n tyd waarin daar ’n groeiende behoefte is om dinge in hulle verskeidenheid en verskillende nuanses te sien en te hoor; om dinge vanuit verskillende perspektiewe te beskou.”

Die meeste belydende Christene sal sekerlik kan saamstem dat Christus ons van ons sondes verlos het. Dit is nie ’n groot strydpunt onder Christene nie. Maar dan sal die interpretasievrae steeds meer word: Wat is werklik sonde? Om ’n Lottokaartjie te koop? Om ’n Sondagkoerant te lees? Dus: lees ons vandag steeds voorskrifte oor die Sabat/Sondag soos die Jode dit gedoen het? Is my buurman of plakkers “sondig” omdat hulle afwyk? Juis hier begin die verskille oor diversiteit, dus andersheid.

Kan ons dus asb. voortgaan met die gesprek waarmee die NG Kerk haar dringend moet besig hou, nl. diversiteitsbevordering, veral ten opsigte van geslag, ras, kerkverband, kultuur, seksuele oriëntasie, materiële verskille, gestremdheid en kommunikasie? As mense nog twyfel waaroor die diskoers behoort te handel, kan hulle hieronder kyk hoe dit verder op 4 Julie deur die webbestuurder uitgespel word.

Dit lyk asof die meeste lesers voel die gesprek moet liefs op hierdie tuisblad bly en nie versplinter word nie. Dit beteken ongelukkig dat dit soms lyk asof ’n bepaalde gesprek doodloop, maar aan die ander kant kan almal die diskoers hier volg sonder om elders te gaan kyk wat aangaan. Laat dit maar soms ’n bietjie van ’n bontpratery word – dit is diversiteit!

Stefan Nel
2010-07-26

Terug by diversiteit. Ek sien Izak du Plessis wie se afskeidspreek ook tot ’n groot mate daaroor gehandel het en volledig deur die webbestuurder op die forum geplaas is het gister sy eerste diens in sy nuwe gemeente gehou. Die SABC het dit selfs op hulle TV nuus sowel as op Monitor gedra. Beeld sowel as Die Burger berig vandag positief daaroor.

My vraag aan die NG Kerk is hoe op aarde kry een jong dominee dit reg om die wese van diversiteit te verstaan maar die grote NG Kerk sukkel so daarmee?

Die kerk kan gerus Du Plessis se preek van gister ook maar ter harte neem.

Deon Snyman
2010-07-26

Daar word groot ophef gemaak oor Isak du Plessis se bedanking uit die NG kerk en sy preek in ’n “pub” gister. Dit is verseker nuus dat ’n NG dominee die NG kerk verlaat, hy is egter nie die eerste leeraar nie en verseker ook nie die laaste wat die NG kerk gaan verlaat nie. Ek weet verseker ook van ander denominasies se priesters en pastore wat hulle onderskeie kerke verlaat het. Dit is de kerk se plig om introspekesie te hou oor elke geval.Ek wonder net of dit so sensasioneel sou wees as hy sy vergelyking tussen kerk en more-mark en nie kerk en kroeg getrek het nie. Ek wonder net of dit so sensasioneel sou wees as Isak sy preek van Gister in ’n Laerskool saal iewers in ’n voorstad gehou het en nie in ’n kroeg nie. As Isak retig iets hier beet het hoop ek uit my hart uit dit is nie op sensasie gebou nie.

Maggie (Verwyder deur webbestuurder, baie vinnig)
2010-07-26

Net ’n vinnige vragie en versoek.. dit is tog so dat die forum homself dit ten doel stel om brûe te bou oor grense van rasse, kultuur, geloof. Morele standaarde, seksuele oriëntasie ens. As die bereidwilligheid daar is om akkomoderend op te tree teenoor mense wat soveel van die forumlede verskil, waarom dan die onverdraagsaamheid teenoor lede wat in dieselfde kerk is en

aan dieselfde God glo?

Ek vra mooi dat julle nie ouens soos James en Hennie die forum sal verbied nie.Ek is oortuig daarvan dat dit vir hulle van kardinale belang is om brûe te bou na mense van ander groeperings en oortuigings. Hulle fokus is egter al verby die horisontale oppervlakkige gesels oor verskille en

ooreenkomste. Hulle wil nie soos skepe in die nag maar dan net aanbeweeg nadat hulle van die ander notisie geneem het nie. Hulle wil graag ’n blywende verskil maak. Op Vertikale vlak. Hulle het ’n meer Permanente Ewige Brug in die vooruitsig. Iets Ewig. (Hennie en James, help my maar reg as my aannames oor julle verkeerd is.)

Terwille van ons wat dit opbouend vind om te hoor wat die Skrif oor elke dag se lewe te sê het, vra ek mooi dat die webbestuurder hulle sal toelaat om hulle siening op hierdie forum te deel.

En dan kan elkeen mos maar vir homself besluit Wie hy wil volg.

Henry
2010-07-26

Ek het ook my bedenkinge oor ’n kerk sonder dogma en uitwyk uit die NG Kerk, maar kyk na die ander kant van die saak wat ek reeds gestel het.

Izak du Plessis wou as predikant steeds binne die NGK-struktuur bly. Waarom is hy nie toegelaat nie? Ek weet nie, maar is hy onaanvaarbaar bevind omdat hy te veel respek vir diversiteit gehad het om nog in die raamwerk te kon pas? Is sy oorheersende boodskap van “compassion” oor alle grense heen te veel vir die NGK om te hanteer? Is sy vrae oor rigiede dogma onaanvaarbaar? Is die grense ’n Berlynse muur?

Oor die “sensasie” van die gebruik van ’n groot kroeg/eetplek het ek geen kommernis nie. Die eetplek is vir Izak as ’n lokaal aangebied, soos vir tientalle sangers. Daar is reeds ’n gevestigde NG-kroegkerk. Dis waar gewone mense sonder inhibisie praat en kuier. Die gewilde Dana Snyman maak heelwat van sy kroegondervindings. Christus het nie in kerkgeboue gaan preek nie.

Baie relevant vir hierdie forum en die NGK is of “compassion” en daadwerklike uitreik na die ander steeds ’n vertrekpunt in ons onderlinge skakeling as gelowiges is.

Miskien het Izak ’n fout gemaak om te vra dat daar nie drankgebruik tydens die byeenkoms moet wees nie. Dit sou die skeptici of verkramptes minstens kon help ontspan!

Hennie (Verwyder deur webbestuurder, baie vinnig)
2010-07-27

Ek sien Henry se bydrae is aanvaarbaar bevind, so ander mag seker op sy vrae antwoord.

“Izak du Plessis wou as predikant steeds binne die NGK-struktuur bly. Waarom is hy nie toegelaat nie?”

Tog seker omdat hy nie meer geglo het in sommige van die basiese kernaspekte van die Christelike geloof nie, soos gestel in sy eie woorde: “Ek is ongemaklik met konsepte soos die hemel en die hel. Ek sukkel regtig met begrippe soos maagdelike geboortes, opstandings en hemelvaarte. Kortom: In die lig van die kerk se belydenisskrifte is ek inderdaad besig om te dwaal.”

Paulus stel dit duidelik dat geloof sonder om te glo in die opstanding van Christus, dood is.

“Ek weet nie, maar is hy onaanvaarbaar bevind omdat hy te veel respek vir diversiteit gehad het om nog in die raamwerk te kon pas?”

Nee, nie omdat hy te veel respek vir diversiteit as sodanig gehad het nie, maar sekerlik omdat hy te min respek vir God, soos geopenbaar in die Bybel het. Hy het dus ’n onaanvaarbare diversiteit in die Kerk probeer inbring, presies dit waarteen hierdie forum ook behoort te waak.

“Is sy oorheersende boodskap van “compassion” oor alle grense heen te veel vir die NGK om te hanteer?”

Nee, sekerlik nie, tensy hy die basiese geloofstellings van die Christelike geloof verwerp, soos redelik eenduidig blyk uit sy uitlatings.

“Is sy vrae oor rigiede dogma onaanvaarbaar?”

Sekerlik het hy meer gedoen as net vrae te vra. Hy het sy twyfel begin predik en wantroue begin saai in die geloofsbelydenisse van die Kerk waarbinne hy opgetree het.

Fanie Cronjé skryf: “My geloof het nog nie en sal ook nie in hierdie lewe arriveer nie – want ek glo wat in 1 Korintiërs 13:12 staan: “Nou kyk ons (ek) nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld …. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my (reeds) ten volle ken”. Hoe kan ek glasheldere, finale formulerings oor God, verlossing en so meer maak indien die Bybel getuig dat ons nog maar ten dele ken en die beeld wat ons sien nog maar dof is?!”

Hierdie is ontoepaslik betreffende geloofsekerheid in Christus as Verlosser want let op die “weet” in 1Joh 5:10-13: “Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie. En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.”

Dirk Louw
2010-07-27

Dankie vir al die bydraes rondom ubuntu. Hierdie bydraes getuig opnuut van ’n drie-fasige klemverskuiwing in die ubuntu-gesprek: vanaf “Wat was ubuntu?” (resp. wat het dit in ’n pre-koloniale tydperk behels?), tot “Wat is ubuntu?” (resp. hoe word daar tans aan ubuntu gestalte gegee?), tot “Wat behoort ubuntu te wees?” (resp. behoort ons te berus by bestaande weergawes daarvan?). Dis bloot ’n verskuiwing, nie ’n vervanging nie. ’n Gesprek rondom wat ubuntu behoort te wees, kan immers nóg tradisionele, nóg kontemporêre interpretasies daarvan ignoreer. Tog bly die vraag na die “behoort” van ubuntu verreweg die belangrikste (…en nou bly die “was”, die “is”, en die “behoort” van ubuntu – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die “behoort”!). Wat behoort dit te beteken om “‘n mens deur ander mense” te wees? Vir my, vir jou, vir ons – hier en nou.

Webbestuurder
2010-07-27

UBUNTU

Ons gaan nie besprekingstemas op die forum in afdelings skei nie. Help dus asb. lesers om soos hierbo aan te dui wat die hooftema van die boodskap is, indien moontlik. Daar is steeds bydraers wat probeer om oor ander sake as diversiteit te praat. Hulle word bloot weer na 4 Julie se verduideliking DIE KEUSE VAN BESPREKINGSTEMAS verwys.

Dirk Louw vra na aanleiding van sy boeiende artikel oor ubuntu op ons argief oor dié diepsinnige Afrika-filosofie: ‘Wat behoort dit te beteken om “’n mens deur ander mense” te wees? Vir my, vir jou, vir ons – hier en nou.’

Waar veral Afrikaanses na hulle mede-Afrikane wil uitreik, is die vraag van groot belang vir die forum se fokus op diversiteit. Daar is reeds gewys op die sterk ooreenkomste met ’n spesifiek Christelike uitgangspunt van naasteliefde. Daar is gevra hoekom juis Westerse modelle beter as Afrikamodelle is.

Kenners soos Dirk sal moet help aantoon waarom ubuntu ook vir nie-swart Christene so relevant behoort te wees. Hoe raak ons ontslae van ’n neerbuigende neo-koloniale en dus ook apartheidmentaliteit waar inheemse benaderings minagtend as dié van die “natives” beskou is? Hoe oorbrug ons ou digotomieë soos individualisme/kollektivisme, premodern/postmodern, Afrikatyd/tydgedrewenheid, stamgebondenheid/globalisme, dus gemeenskapsdorpie/”global village”?

Die teenstellings sal ongelukkig in stryd met ubuntu aangespreek moet word, want Westerlinge is immers met hulle hele metafisika gekondisioneer om in terme van binêre opposisies te dink: goed/sleg, wit/swart, God/Satan.

Ek meen die maklikste manier om die oorgange te illustreer en te wys wat ubuntu vir almal behoort te wees,is deur die voorbeelde van ons ikoniese leiers Madiba en Desmond Tutu te ontleed. Van beeswagter tot nasiewagter/kerkwagter. Van militante struggle-aktivis tot die vaderlike omhelsing van almal in ’n reënboognasie – selfs tot by rugby en krieket. Albei leiers het geen probleem om ’n tradisiegebondenheid met ’n sterk Christelike etos te versoen nie.

Dirk, ons hoop julle kenners gaan nie ophou om hierdie oorgange en aanpassings te beskryf en onder internasionale aandag en veral dié van plaaslike kerke te bring nie. En laat dit die heeltyd na die praktyk teruggedwing word: Ek word ’n Afrika-mens deur ander mense en deur hoe ons in naasteliefde teenoor mekaar optree, hier en nou.

gerhard bothma
2010-07-27

Ek het so pas Phyllis Tickle se “The great emergence: how christianity is changing and why” begin lees. In een afdeling praat sy van “The gathering center: and the many faces of a church emerging.” As daar iemand is wat reeds die boek gelees het, sal ek dit waardeer om jou/julle mening daaroor te kry.

Fanie van Emmenes
2010-07-28

Ubuntu

Ek stem met Dirk saam dat dit ’n goeie vertrekpunt is om oor Ubuntu te gesels, die was, is en behoort. Want baie kan sekerlik gesê word oor wat dit nie behoort te wees nie. Hier dink ek veral aan die Afrikamense se totale afwysing van homoseksualiteit, soos nou pas weer verwoord deur ons ou vriend Robert Mugabe, aan ons noord grens. Hy het blykbaar na wat berig word, gesê dat Zim se grondwet so geskryf sal word dat daar geen plek vir homoseksueles sal wees nie. Nie in die sekulêre lewe nie en ook nie in die kerke nie.

Dit sluit veral aan by die homofobiese geweld onder plaaslike swart mense. Ons eie President, wat nie juis ’n toonbeeld van kuisheid is nie, staan sterk afwysend teenoor homoseksueles. Ons huidige vlaag van xenofobiese geweld is sekerlik ook nie hoe Ubuntu behoort te wees nie. Ek lees baie onlangs dat die ontvangers van anti- retrovirale medikasie in die Oos-Kaap in aparte rye moet staan. Die mense voel so gemarginaliseerd en bedreigd,dat hulle dood eenvoudig nie meer hulle medikasie gaan haal nie. Só behoort Ubuntu nie te wees nie.

Ek sal graag van ons swart broeders en susters in die swart kerke verneem waarom die onkruid so wild tier in ’n lewenswyse wat teoreties na die ideaal klink

Die aartsbiskop van Kantelberg sê onlangs by die Lutherse Wêreld Federasie se samekoms in Stuttgart, Duitsland, die volgende :

“The act of forgiveness is one of humanity’s most deep-seated acts of people nourishing one another as human beings. To forgive and to be forgiven is to allow yourself to be HUMANISED by those whom you may least want to receive as signs of God’s gift but this process is intrinsically connected with the prayer for daily bread”.

Ek lees ook dat emeritus Aartsbiskop Desmond Tutu hom gaan ontrek aan die openbare lewe. Welverdiend vir hierdie voorbeeld van wat Ubuntu behoort te wees. Ek lees êrens dat hy gesê het dat ons verbaas sal wees wie ons in die hemel gaan raakloop en dan voeg hy by, God se standaarde is baie laag. Nie my woorde nie hoor !

Dit klink vir my na Ubuntu.

Webbestuurder
2010-07-30

NUUT OP DIE DIVERSITEITSFORUM

IS DIE GROOT PROBLEEM MET DIE NG KERK NIE ‘N GEBREK AAN ‘N GEFUNDEERDE MENSBESKOUING EN DUS DIVERSITEIT NIE?

Dr. Ben du Toit, hoof van Elektroniese Kommunikasie en Parlementêre Skakeling van die NG Kerk, het op die Argiefblad kritiese vrae oor die NGK se mensbeskouing. Hierin stel hy dit onder meer: “Die NGK se gebrek aan ’n verantwoorde mensbeskouing (antropologie) lê ook ten grondslag van die gesukkel van die NG Kerk om diversiteit in sy midde teologies verantwoordelik te hanteer.”

Dr. Du Toit, wat ’n hoofrol gespeel het om die Diversiteitsforum te vestig, verwoord soortgelyke besware wat meermale op die forum gehoor word: Hierdie gebrek “geld nie alleen vir ons siening oor gelykheid van ras en geslag (gender) nie, maar is ook onderliggend aan die vooroordele wat by ons spook oor mense van ander seksuele oriëntasie (met ander woorde, diegene wat nie-heteroseksueel is nie). Ons vertrekpunt in ons gesprek hieroor, word nie geïnformeer deur ’n verantwoorde Christelike antropologie nie.”

Na ’n kort historiese oorsig oor die gebrek aan ’n relevante mensbeskouing vir ’n bepaalde tyd voel Du Toit:

“Dit sal goed wees as die NG Kerk, juis in die lig van die uitdagings van ons land vandag:

· die rasse-polarisasie;

· die verontrustende gesprek rondom eiendomsreg;

· die spanning rondom ’n mislukte grondhervormingsprogram van die staat;

· die interne worsteling oor sake soos geslagsgelykheid en man-vrou rolverdeling in die huwelik;

· die regte van alle mense ongeag hulle seksuele oriëntasie;

· restitusie en regstellende aksie (regstellende geregtigheid)

en nog vele meer, die dapper stap sal doen om hierdie uitdagings oortuigend aan te spreek vanuit ’n verantwoordelik Christelike antropologie.”

***************

UBUNTU

Toevallig en byna in aansluiting hierby duur die gesprek oor ubuntu as juis ’n Afrika-mensbeskouing op die forum voort. Prof. Dirk Dreyer, skrywer van die gesaghebbende artikel oor ubuntu op die Argief, wil veral weet wat ubuntu vir ons kontkeks en tyd behoort te wees. Verskeie bydraers gee hulle mening.

Die webbestuurder noem vraagstukke: ‘Kenners soos Dirk sal moet help aantoon waarom ubuntu ook vir nie-swart Christene so relevant behoort te wees. Hoe raak ons ontslae van ’n neerbuigende neo-koloniale en dus ook apartheidmentaliteit waar inheemse benaderings minagtend as dié van die “natives” beskou is? Hoe oorbrug ons ou digotomieë soos individualisme/kollektivisme, premodern/postmodern, Afrikatyd/tydgedrewenheid, stamgebondenheid/globalisme, dus gemeenskapsdorpie/”global village”? Die teenstellings sal ongelukkig in stryd met ubuntu aangespreek moet word, want Westerlinge is immers met hulle hele metafisika gekondisioneer om in terme van binêre opposisies te dink: goed/sleg, wit/swart, God/Satan.’

******************

DIE NUWE GEREFORMEERDE WêRELDLIGGAAM WGGK

Op die WGGK se webblad (adres hieronder) verskyn die volgende ‘In a spirit of unity and cooperation, the newly formed World Communion of Reformed Churches made several decisions, “heard the Gospel of reconciling love,” and prepared itself to respond “in joyful hope” to a range of issues in churches and the world . . . The WCRC brings together 80 million Reformed Christians worldwide – united in a commitment to making a difference on the big issues of our day – climate change, human rights, economic justice and helping our neighbours of all faiths.’

Dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk, reageer soos volg oor die vrae van dr. Hennie Mouton oor die nuwe soort “eenheid” wat op die forum gepubliseer is:

“As dr Mouton maar net eers die goeie pad wou stap en navraag doen by (a) my wat lid is van die Uitvoerende Komitee van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke, (b) sy dominee, dr Johann Ernst, wat ’n afgevaardigde by die WGGK was en (c) die WGGK se Konstitusie en relevante dokumente lees by www.reformedchurches.org!”

Hennie Mouton (Verwyder deur webbestuurder, binne 1 uur)
2010-07-30

Dr. Gerber, as jy mooi gaan lees wat ek op Kerkbode-aanlyn as kommentaar op “Eenheid is die belangrikste sê Jerry” geskryf het, sal jy sien ek het nie die nuwe gereformeerde wêreldliggaam daar oor enigiets gekritiseer nie, maar bloot ’n wens uitgespreek:

“Ek hoop van harte dat dr Jerry Pillay die eenheid voorstaan wat gebou is op Jesus Christus as enigste Verlosser, en op die waarheid van Sy Woord.”

Dit bly steeds my wens en as jy, wat lid van die Uitvoerende Komitee van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke is, kan bevestig dat dit so is, sal ek dit baie waardeer. Dr. Johann Ernst het in sy preek net na hy teruggekeer het, die belangrikheid van op die Bybel as Woord van God te bly staan, beklemtoon.

Ek het wel die Diversiteitsforum gekritiseer, maar as Charles Malan sy Diversiteitsforum gelyk wil stel aan die nuwe gereformeerde wêreldliggaam is dit seker sy saak. Dit is ook baie interessant dat Kerkbode-aanlyn nie my antwoord aan Charles Malan op die kommentare daar wil plaas nie. Charles, kan ek dit maar hier plaas?

Ferdie Marais
2010-07-30

MENSBESKOUING

Wel blaas my siel! Ek dog hierdie is ’n NG website waar die groot gelowiges mekaar warm broei en hier kom ’n teoloog uit die hart van kommunikasie Dr Ben du Toit en le sy vinger op die wond van die kerk oor diversiteit. Mensbeskouing! Hoe benader die kerk iets wat hy nog nie kon regkry nie, mense wat verskil en nie mooi inpas nie.

Die groot vraag is of die eerbiedwaardige kerkleiers hierdie boodskap lees. En as hulle dit doen wat dan?

Henrietta Klaasing
2010-07-31

Die NG kerk is in die beskuldigde bank (Beeld se hoofberig, vandag, 31 Julie 2010). Hoor my mooi, baie mooi, asseblief: Dit gaan nie hier glad nie oor die meriete al dan nie van die rassisme-saak van die sogenaamde Reitz-4 nie. Dit gaan oor die 21ste eeuse NG kerk wat jongmense faal, nie die NG kerk van “ou-tannie-Hetta-met-die-bolla” nie. “Die kerk het ONS gefaal”, sê hierdie kinders, net die NG kerk van Hertzogville se NG predikant het hulle bygestaan. Dink maar aan die “Waterkloof-4”, die “Advokaat Barbie”-storie – om van te huil. Het die moderne NG kerk regtig antwoorde vir jong mense soos hierdie vier wat “rassisme gepleeg” het?

Linde Jansen van Rensburg
2010-07-31

MENSBESKOUING

Hoe reg is jy Henrietta! Wat ons jonges van ons eie kerk nodig het is nie so seer “antwoorde” nie as bystand en begrip. Ben se hele storie van ’n mensbekouing vol liefde en deernis is van die grootste belang. Dit klink of die NGK se grootste probleme saamwoon en die vreeslik boring ewolusieding is. Hulle praat nie eers oor voorhuwelikse seks wat vir my pelle se gewoon as tande borsel is nie. Is daar ENIGE mensbeskouing oor die rassisme reg rondom ons?

Hennie Mouton (Verwyder deur webbestuurder, binne 1 uur)
2010-07-31

MENSBESKOUING

Die Bybel het nogal ’n mensbeskouing:

* Geskep na God se beeld.
* Bewerk en versorg die aarde.
* Kommunikeer met God.
* Ongehoorsaam aan God deur Sy woorde te betwyfel en soos God te wil wees.
* Ideale verhouding met God verbreek.
* Almal skuldig en sondig voor God.
* Redding deur Christus as enigste Verlosser moontlik.
* Verhouding met God herstel vir dié wat glo.
* Dra die vrug van die Gees.
* Tot alles in staat deur God wat ons krag gee.
* Ewige heerlikheid.

Webbestuurder
2010-08-02

REITZ-VIER

Dr. Jan Botha, voorsitter van die taakspan vir diversiteit, reageer soos volg op die skuldigbevinding van die “Reitz-vier” na hulle opspraakwekkende video:

“Die NG Kerk het ons gefaal!” sê die Reitz-4

Dit was die verdoemende boodskap wat Vrydag ten hemele uitgeskree het teen die lamppale in Pretoria se strate. Vernederde en selfs desperate stemme van studente en werkers wat eenkant toe geskryf is. Die vier, ja, sondaars is hulle! Wat was ter sprake? “Onskuldige studentepret”, miskien ’n dop of twee verder en almal lag te lekker saam. In oomblikke van waansin val die “dice” toe heeltemal verkeerd. ’n Hoonlag weergalm wêreldwyd.

Rassisme, misbruik van mag, selfs “onskuldige studentepret” soos hierdie is vernietigend. Dit is die afbreek en selfs verwoesting van verhoudings oor jare heen. In ’n oogwink kom net die sonde, verwerping, skaamte en swart monster na vore. Verkeerd, sleg en die donker bly immers verkeerd, sleg en donker.

Soveel mense het seergekry, drome is verwoes…

Die klag teen die NG Kerk bly aan die lamppale soos skandpale hang en ek wonder . . . Was daar níémand, ’n predikant, kerkraadslid, lidmaat, ouers, familie, ja niemand wat omgee nie? Stil bid, trane afvee of maar net ’n drukkie gee, iemand wat vol ontferming toekyk? Was daar meestal géén genade of omgee of teerheid nie? Kon hulle, die studente en werkers, so Godsverlate wees dat net die verwerping, seer en agterdog oorgebly het? Het die donker hulle so totaal oorweldig?

Iets van hulle verwerping en ontmensliking het my weer aangeraak. Hulle, ons broosheid, menslikheid en kwesbaarheid staan weer soos die donker nag voor hulle en ons. ’n Haan wat iewers kraai en smart kan alles vernietig of oorweldig.

In die mensdom se soeke na sin, geluk en ’n lewe in die son, lê die geheim van werklike menswees miskien opgesluit.

As die NG Kerk gefaal het, Goddank dit is bloot die feilbare kerk . . .

Die kerk se mense, hulle en ook ons, ek en jy is aandadig aan die “verkeerd, sleg en donker”. Daar staan immers geskryf: “Salig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word”. Of soos die Boodskap dit vertaal: “Gelukkig is almal wat hartseer is oor al die pyn en swaarkry in hierdie wêreld. God self sal hulle trane afdroog”.

Die vier, hul geliefdes en ons almal, ja ek en jy het hopelik ’n duur les geleer. Verkeerd is verkeerd. Dit kanselleer hoegenaamd nie die vier, hulle geliefdes, ons almal, ja my en jou, se diepste menswees nie. In ons gebrokenheid besef elkeen miskien juis iets van ons eie kwesbaarheid.

Die meeste mense rondom die betrokkenes het hulle gefaal. Daar was nogtans in klein gebare en ondersteuning iets van die Sonlig.

Iemand wat bid, worstel, huil en tog met sagte oë kyk.

In ons diepste gebrokenheid besef elkeen miskien juis iets van ons eie kwesbaarheid. Die nag is op sy donkerste, swartste, enkele oomblikke voordat die glans van die Son deurbreek om ’n nuwe dag aan te kondig.

Ons, ek en jy, is nog die kerk . . . ook maar brose, begenadigde mense. Lesse is geleer wat heelmaak en versoen.

Hou julle koppe hoog, my alma mater op die reënboogkampus.

Rina du Plessis
2010-08-03

Talk is cheep, ds Jan. Get real. Waar sal ons leer van rassisme? Ouer mense beter uithaal en wys. Pa val midae na werk doodmoeg in sy lazieboy met sy sixpack. My ma praat aan mekaar met haar tjommies op haar loopenpraat. Van die kerk en kategese praat ek nie eers nie! Pieta en ek gaan maar kamer toe om te mxit, ten minste is daar altyd iemand om mee te chat.

Ferdie Marais
2010-08-03

DIE VERSKRIKLIKE VIER

Rina vrome Christene hou van die woord barmhartig. Ek is nie een nie maar ek dink jy is darem baie onbarmhartig.

Wie kan stry dat pappie en mammie rassisme by die kinders laat posvat. Hoe erg kan dit wees dat dit al by die huis begin! Wat waar is. Maar as die groot kerkindoenas soos Jan en Ben eerlike selfondersoek oor hulle eie kerk en lidmate doen is dit darem baie cheap om te se talk is cheap. Ek was aangenaam verras en jy is totaal sinies.

Koos
(Hierdie is ’n skrywe deur Hennie Mouton met die skuilnaam “Koos” maar hy het sy eie e-pos adres gebruik. Dit is egter steeds verwyder enkele minute na plasing.)
2010-08-04

‘N BAIE ONLANGSE VOORBEELD VAN UITREIKING OOR GRENSE HEEN

Somtyds is die Here mens genadig genoeg dat jy indirek deel en getuie kan wees van hoe Hy in mense werk. Die gebeure wat ek hieronder weergee, gaan oor die uitreiking na iemand wat met die probleem van ongeloof in God weens bitterheid gesit het.

Oom Andries* se enigste seun en skoondogter is ’n hele paar jaar gelede in ’n frats mikrovliegtuigongeluk dood. Of hy en sy vrou voor daardie ongeluk gereeld kerk bygewoon het, weet ek nie, maar daarna het hulle maar min in die kerk gekom, en het hy al meer apaties teenoor enige geloof begin staan. Hy het wel kopkennis van die evangelie gehad, maar of dit werklik sy lewe bepaal het, was redelik seker nie so nie, al was hy en sy vrou nog altyd “baie goeie mense”.

Ons is baie goeie vriende met oom Andries se dogter en haar man, en sy was al lankal bekommerd oor haar pa se geestelike situasie, veral toe sy gesondheid al meer en meer begin agteruitgaan het. Van enkele weke gelede af is hy weer in die hospitaal opgeneem, hy het na ’n groot operasie inwendig begin bloei, hy het baie vinnig geweldig verswak, soveel dat hy vinnig in ’n kritieke situasie was en met onder andere ’n lugpyp en binne-aarse voeding aan die lewe gehou is. Verskeie mense en gebedsgroepies het vir hom gebid — veral vir sy terugkeer na God. Sy gesondheid het daarna stadigaan verbeter.

Ek en my vrou het hom Maandagaand gaan besoek. My vrou wou juis in die aand na hom gaan, want sy vrou besoek hom smiddae, en sy wou nie hê daar moet geestelik met hom gepraat word nie, “want hy is mos ’n goeie mens”. My vrou het alleen met hom gaan praat want ek wou nie in die Intensiewe Eenheid ingaan nie omdat ek met ’n verkoue/griepstorie gesit het. Die eerste stuk genade was dat die lugpyp vroeër die dag verwyder is — oom Andries kon dus nie net hoor nie, hy kon ook praat.

My vrou het redelik gou in die gesprek vir hom gevra of hy nie sy hart vir God wil oopmaak nie. Hy het uit sy eie erken dat hy vir God verwyt oor sy seun se dood, en dat baie “Christene” hom al in die besigheidswêreld ingeloop het. Hy het erken dat hy sy hart teenoor God verhard het. Maar na my vrou met hom daaroor en oor ’n paar ander dinge gesels het (sy het net omtrent 15 minute gehad weens beperkte besoektyd), het hy taamlik onverwags gesê hy wil sy hart vir God oopmaak. My vrou was nie seker dat sy reg gehoor het nie, waarop hy dit herhaal het. Sy het hom toe gevra of hy Jesus as Verlosser en Heerser van sy lewe wil aanvaar. Hy het dit bevestig en hulle het toe saam gebid.

Ek het die volgende dag bogenoemde aan die gebedsgroepie by my werk vertel en gevra dat hulle sal bid dat die Here se werk in oom Andries se lewe nog meer vir hom bevestig sal word, en ook dat die Here deur hom met sy vrou sal praat, en dat wat God in hom gedoen het so oorweldigend sal wees dat hy nie kan stilbly nie.

Oom Andries se dogter het my vrou die volgende dag gebel en die volgende vertel. Toe sy vrou hom gister besoek, kon sy dadelik sien dat iets aan hom verander het (kyk weer hierbo wat ek oor haar geskryf het). Hy het haar vertel dat hy Jesus as sy Verlosser aangeneem het. Sy het agterna haar dogter gebel en gesê dat al sy bitterheid weg is.

Ek vra graag die Christene wat hier lees om asseblief vir altwee van hulle te bid — dat oom Andries se vrou ook voor God sal buig en dat die Here nog verder Sy werk in hul lewens sal voltooi. Ons dien en aanbid inderdaad ’n groot en genadige God.

* “Oom Andries” is ’n skuilnaam want ek het nie met hom of sy vrou uitgeklaar dat ek hierdie mag versprei nie, maar as enigiemand met hul dogter wil praat, kan julle via Charles Malan vir my kontak en sal ek haar kontakbesonderhede met graagte verskaf.

Webbestuurder
2010-08-04

FORUM IN “KERKBODE” EN REAKSIE

Die Forum wat pas twee maande oud is, word ook in Kerkbode bespreek. Hieronder die berig en die skerp reaksie in kommentaar daarna. Lees alles op die webbladhttp://kerkbode.co.za/NuusLees.asp?id=110

************

“NG forum wil Jan Alleman laat saampraat oor diversiteit”

Die NG Kerk het ’n gespreksforum op sy webwerf begin om gesprekke oor diversiteit te fasiliteer en aan te moedig.

Die bestuurder van die forum, die skrywer en letterkundige dr Charles Malan, sê hulle wil oop gesprek oor diversiteit tussen alle verskillende groepe bevorder en aanmoedig. “Diversiteit beteken die erkenning van andersheid, sonder enige prysgawe van die eie en unieke, veral geloof.”

Die lewendige reaksie op die jong Diversiteitsforum toon duidelik hoe brandend aktueel die hele terrein vir die NG Kerk is, het dr Malan aan Kerkbode gesê. Hy sê in die lig van voortdurende spanning op terreine soos ras, geslag, seksuele oriëntasie en interkerklike verhoudings, het die kerk ’n groot verantwoordelikheid om oor diversiteit leiding te gee.

Die forum op die NG Kerk se webwerf wil ’n oop en openhartige gesprek stimuleer. “Daar is geen sprake van sensuur nie en alle boodskappe word aanvanklik geplaas. Maar vanselfsprekend moet die gesprek op ’n hoë vlak gevoer word,” sê dr Malan.

Uit die gesprekke op die forum blyk dit dat almal egter nie ewe opgewonde is oor die oop gesprek wat toegelaat word nie. Een van die deelnemers, James Maré, skryf op die forum daar moet begin dink word aan die verwydering van die besprekingsblad van die amptelike webwerf van die NG Kerk.

Dit was nadat ’n NG predikant volgens hom godslasterlike stellings op die forum gemaak het. Dr Malan sê egter in sy reaksie op die klagte hy kan nie sonder meer en sonder kontekste met mnr Maré saamstem oor alle moontlike vorme van “godslastering” nie.

“Vooraf sensuur gaan nie gebeur nie. Gaan verkla ons gerus by die Algemene Sinode van die NG Kerk, die Menseregtekommissie of waar ook al, ons het niks om te vrees nie. Vir ons is daar geloof, hoop en liefde – en die grootste daarvan is die liefde. Ook en veral vir ons naaste,” het dr Malan gereageer. Hy sê die forum is volkome onafhanklik en is nie oop vir manipulasie deur enige leier nie.

“Ek was half verbaas om my uit die bloute as webbestuurder van die forum te bevind. As jong NG Kerk-diaken na uiters slegte ervarings met ‘die kerkbestuur’, het ek my eie gang as gewone gemeentelid buite kerkstrukture gegaan.

Toe diversiteitsbevordering onverwags in my rigting kom, besef ek skielik hier is ’n terrein waar ek soos derduisende gewone lidmate ’n verskil rondom my kan maak,” het dr Malan aan Kerkbode gesê.

– jean@tydskrifte.co.za

***********

Uittreksels uit die kommentaar wat dadelik gevolg het:

James Maré:

Dit was reeds duidelik dat daar ’n baie positiewe affiniteit was vir anti-Bybelse diversiteitstipes soos homoseksualiteit, saambly, sinkretisme ens en is die boodskap duidelik dat die totstandkoming van ’n “Diversiteitsgroep” ’n instrument gaan word in die hand van elemente wat nie net tevrede gaan wees met die identifisering en simpatisering met sogenaamde “ander diversiteitstipes” nie, maar dat hulle alles in die stryd gaan werp om die sogenaamde “ander” gedragstipes en vreemde sienings in die Kerk in te dra en deel van die “wese van die Kerk” te maak.

Malan se stelling dat die forum onafhanklik en nie oop is vir manipulasie deur enige leier nie, is ver van die waarheid af. Manipulasie van andersdenkendes wat ’n baie liberale Skrifbeskouing het, is duidelik op die forum sigbaar. Verwyderde plasings van verskeie deelnemers getuig van die manipulasie en kan gesien word op www.glodiebybel.co.za.

Hennie Mouton:

Die Diversiteitsforum se doelstellings en werkswyses is inderdaad nie orals ewe gunstig ontvang nie. Gaan lees gerus al die kommentare wat dit wel op die Diversiteitsforum oorleef het en besluit dan self hoe liefdevol dit byvoorbeeld is as een predikant ’n ander beswadder. Ek verwys hier na dr Gerhard Bothma se beswaddering van ds Etienne Maritz, wat dr Malan, wat hierbo liefde predik, geweier het om op sy Diversiteitsforum te verwyder.

Enigiemand wat belangstel om al die kommentare, insluitende dié wat van die Diversiteitsforum verwyder is, te lees, kan op www.glodiebybel.co.za gaan kyk, onder Debatte. En moenie bekommerd wees nie — niks daar is van Kletskerkgehalte nie.

Gerrit:

Ek wil graag die NG Kerk bedank vir die ruimte wat hulle skep om oor diversiteit te praat. Dit is broodnodig. Die gekla daaroor van mense soos James en Hennie Sesdag moet tog asseblief net nie weer die kerk die skrik op die lyf jaag soos destyds met Kletskerk nie. Gelukkig is daar nie beter advertensie vir Kletskerk as oom Hennie Sesdag self nie.

Die sinode het dalk besluit die forum se skakels mag nie meer op die NG kerk se webwerwe verskyn nie maar nou adeverteer oom Henie Sesdag dit steeds sonder ophou hier. Mooi so.

Ek sien Hennie verwys na kommentaar oor ene ds Etienne Maritz wat op die diversiteitsforum verskyn het. Is dit nou dieselfde dominee wat destyds ’n lidmaat van die kerk so afgebreek het met die “honderde” demone wat hy uit haar uitgedryf het dat hy deur die ring of iets beveel moes word om sy wanpraktyke te staak?

Of wil die NG kerk hê dat hieroor net so geswyg word soos wat die Katolieke Kerk oor sy pedofielpriesters geswyg het? As dit so is dan moet die kerk asseblief vir ons so sê.

Webbestuurder van die Diversiteitsforum:

Die beperkings om op die forum deel te neem is by herhaling uitgespel: dit handel oor diversiteit, nie oor allerlei geloofsake nie. Die webbestuurder het ook met bydraers persoonlik geskakel om te verduidelik. Verdere reaksie hier of elders is dus onnodig. Dit gee aan die oorbekende aanklaers bloot meer gespreksruimte.

Henry
2010-08-06

FORUM EN REAKSIE

Ek wag tevergeefs vir reaksie op die bewerings in die Kerkbode. Moet ons nou maar aanvaar dat Hennie en James na al hulle gesanik op verskeie web sites hulle sin gekry het omdat mense te sat is om hulle teen te gaan?

Charles Malan het ook maar sy voet daarin gesit, want hy is vroeg in die bespreking al teen die Bybelboelies gewaarskun. Dis miskien nie so maklik om bloot te sê sy posisie as webbaas was onverwags nie.

Wat nou van die groot knelpunte oor diversiteit wat die NGK se grootste kopseer is? Praat ons nog verder?

Leon (Verwyder deur webbestuurder, binne enkele ure)
2010-08-07

One says: These media tend to shorten attention spans, weaken discursive reasoning, lure people away from Scripture and prayer, disembody relationships, feed the fires of narcissism, cater to the craving for attention, fill the world with drivel, shrink the soul’s capacity for greatness, and make us second-handers who comment on life when we ought to be living it. So boycott them and write books (not blogs) about the problem.

The other response says: Yes, there is truth in all of that, but instead of boycotting, try to fill these media with as much provocative, reasonable, Bible-saturated, prayerful, relational, Christ-exalting, truth-driven, serious, creative pointers to true greatness as you can.”

Hennie, doet so voort. Die groot stille meerderheid gelowiges ondersteun jou en Daniël se uitgangspunt en dit is verblydend om te sien daar is nog godsmanne wat die waarheid getrou vashou. Hierdie forum is eintlik niks anders as die eensydige ‘kletskerk’ nie – darem beter taalgebruik! Dis duidelik dat Charles en Jean karperde is.

Henrietta Klaasing
2010-08-07

r was twee berigte in onlangse koerante met beweerde rassisme as tema. Die een was oor ’n ander video , weer by die Vrystaatse universiteit waar wit student na bewering deur swart leierstudente ontgroen is, en vandag weer oor SASCO wat sport tussen hierdie Universiteit en Noordwes Universiteit boikot, met die opskrif “Rassistiese Kovsies besoedel Pukke” (vandag se Beeld). Sonder om die woorde “ons” en “hulle” te gebruik, moet mens tog sê: Die bordjies is effe verhang, by wyse van spreke, as mens dink aan die Reitz-vier, en wys dat ’n saak twee kante het.

Dit wys ook die brose skynbare eenheidsgevoel en rassevrede van die WB sokker was van korte duur. Is ons weer terug waar ons was met die moord op Eugene Terre‘Blance? Gaan Dr. Ben du Toit se mensbeskoung vol liefde en deernis wat Linde van praat, en Dr Jan Botha se daaropvolgende soetklinkende woorde die ding doen om die vrede te herstel?

Ferdie Marais
2010-08-07

REITZ EN VANDAG

Henrietta, verantwoordelike kerkleiers verdoem immers ALLE vorme van rassisme, nie net wit op swart nie. Al daaraan gedink dat bloot op grond van bevolkingsverdelings daar veel meer insidente van swart op wit rassisme behoort te wees?

Daar is boonop ’n duidelik uitgespelde politieke agenda vir die voorvalle by Kovsies: die “gebrek aan transformasie” by die Pukke. Politiek maak nogtans nie verskuilde rassisme miner verfoeilik nie, inteendeel. Prof. Jansen het darem self gese die spul Malema-klone het nou te ver gegaan. Die uitdagende belhamels gaan vir seker weggejaag word. Hulle glo natuurlik hulle sal dan as martelare van hulle ewige revolusie van hulle Leier se heldglans kry.

Laat ons intussen darem ook nie vergeet waar die geweldige rassepolarisasie op die kampus begin het nie.

Henrietta Klaasing
2010-08-07

Insake die uiters ingewikkelde rasse onmin-vraagstuk: Min mense sal seker met my verskil dat daar verandering by mense se gesindheid moet kom. Die vraag is HOE? Hierdie is die veld van die geestes- en gedrags-“wetenskappe”. ’n Wyse ou mentor van my het gesê die mens is ’n snaakse wese, hy verander selde voor ingryping van óf die hoër hof óf die hoër Hand. Die wortel of die stok, sê ’n vriend van ons graag. Ook hier kan ons nie van die “ons” en die “hulle”ontsnap nie: “it takes two to tango”. Gaan dit help as mens net aan een groep se gesindheid werk, en hoe gaan mens dit onder die huidige omstandighede doen?

Webbestuurder
2010-08-08

KOVSIE-RASSISME EN VERDERE HAATSPRAAK

Die voortgesette rassisme op die UV-kampus it uiteraard ontstellend, soveel erger vir oud-Kovsies soos ek en Jan Botha. Rassisme baar rassisme. Ons het albei op Senekal grootgeword en natuurlik was daar strukturele apartheid soos die lokasie buite die dorp, maar geen sprake van rasse-onmin nie. Veral onder die boere wat die meeste kontak met werkers gehad het, was daar die grootste respek vir “die ander” wat soveel keer deel van die groter omgee-familie was.

Die NG Kerk het reeds in 2008 (kyk op hierdie webwerf Standpunte, dan Verklarings, “Koshuisgebeure UV-kampus”) verklaar: “Dit is noodsaaklik dat rassistiese optrede deur wie ook al wat die menswaardigheid van mense in die Bybelse sin aantas, veroordeel en uitgeroei word.” Boodskappe op die forum meld dat daar ook by Kovsies nie van “eenvoudige” swart/wit-rassisme sprake is nie. Die sleutelwoorde in die verklaring is “rassistiese optrede deur wie ook al”.

Dit is verder ontstellend dat die verspreiding van “internasionale” rassistiese boodskappe nou ook onder Afrikaanssprekendes toeneem. Een so ’n stuk haatspraak het nou na lede van die kommunikasiekomitee van die Taakspan vir Diversiteit se kant gekom. ’n Kernsin van die skrywer in ’n Ierse koerant is: “How much morality is there in saving an Ethiopian child from starvation today, for it to survive to a life of brutal circumcision, poverty, hunger, violence and sexual abuse, resulting in another half-dozen such wide-eyed children, with comparably jolly little lives ahead of them? “

Die sentrale siek boodskap vir “bleeding heart liberals”, so genoem, wat kastig Christelik omgee, is duidelik. Moenie die kinders, verhongerdes en lydendes van Afrika bystaan nie. Laat hulle soos vlieë doodgaan, anders word hulle meer van ’n las en kan selfs bloeddorstige moordenaars en nikswerd immigrante word.

Die verder verpreide boodskap is aan talle Afrikaners en spesifiek vier lede van die Taakspan gerig. Ek het my by die afsender daarvan gedistansieer en gevra hoe mens blatante haatspraak verder op die internet kan versprei onder die voorwendsel dat die ontvangers bloot “daarvan kennis moet neem”. Waarom? Nuuskierigheid oor die gruwelike misbruik van die waarheid, hier die lyding in Afrika? Kan die verspreider enigsins bepaal hoe die anti-Christelike haatspraak verder misbruik gaan word?

Sulke boodskappe toon ook die wêreldwye broederbond van rassiste se belangrikste wapen: “gesaghebbende navorsing” en kontroleerbare feite, verkieslik deur ’n “onpartydige” buitelandse joernalis, waarop dan veralgemening, stereotipering en rassistiese aanvalle volg. Dit is die strategie op talle oorsese rassistiese webwerwe; een van die bekendste grotes is tans in Nederland gesetel en word hier deur ook Afrikaners versprei.

Ek persoonlik verwerp die verspreiding van rassistiese boodskappe as een van die euwels wat “veroordeel en uitgeroei” moet word. In die mate wat die Diversiteitsforum by die verspreiding betrek word, al is dit bloot met ontvangersname wat daar verskyn, verwerp die Forum dit volgens sy eie visie en missie uiteraard ook.

Dit is selfs nie meer ’n verskansing om nie sulke gemors op die internet te gaan lees nie. Dit word deur Afrikaanse Christene op jou rekenaar ingedra.

Webbestuurder
2010-08-09

STEPHAN JOUBERT OOR DIE REITZ-VIER EN DIE KERK

’n Berig in vandag se Beeld sluit direk aan by die huidige bespreking op die Diversiteitforum. Hier is uittreksels.

*************

As die kerk die Reitz-vier in die steek gelaat het, is dit omdat die kerk jare lank nie duidelik genoeg gepreek het dat alle mense met respek behandel moet word nie. So reageer dr. Stephan Joubert van die e-kerk op die verwyt van die vier dat die kerk hulle in die steek gelaat het.

Joubert skryf in ’n blog op die e-kerk se webwerf dat die vier kla dat geen leraar (op een uitsondering na) hulle bygestaan het nie. Dan wonder hy hoekom die kerk nog gelyk aan ampsdraers is. “Sluit die kerk nie ook daardie ‘gewone gelowiges’ in wat naby hulle is nie?” wil hy weet.

Oor die vier skryf hy verder: “Pleks dat hulle herhaaldelik in die kerk van kleins af gehoor het hoe om mense van alle sosiale stande, rasse en gelowe met respek te behandel, is hierdie boodskap jare ooglopend gesystap.”

Joubert skryf dat morele oortredings soos egbreuk, die oortreding van die Sabbatsgebod of die misbruik van God se Naam altyd die hoogste op die kerk se sonde-agenda was, maar dat niemand ooit geprotesteer het teen die skending van menseregte, armoede, trekarbeid, paswette en dergelike sake nie.

Dié eensydige klem op morele pleks van sosiale kwessies geld steeds op party plekke in die kerk, sê Joubert. (Berig deur Neels Jackson)

*************

Dit is miskien oordrewe dat “niemand ooit” geprotesteer het nie, maar die protes deur enkelinge hier en daar het gewoonlik nie eens berigte gehaal nie. Daar is al telkens in boodskappe op hierdie forum gesien hoe sommige skrifgeleerdes aaneen probeer om steeds die brandende sosiale diversiteitskwessies te systap en by bekering en sonde vassteek.

Hoe reg is Stephan dat die aanleer van respek vir “die ander” ’n dwingende boodskap ook binne die NG Kerk behoort te wees. In hierdie konteks is dit nie ’n onbegronde “weke, humanistiese” soort respek nie, maar ’n naasteliefde en respek begrond op die woorde en voorbeeld van Christus.

Henrietta Klaasing
2010-08-10

Baie dankie vir hierdie plasing Charles, en die verwysing na die E-kerk blog. Die Woord sê inderwaarheid dat die goeie kan voortkom uit die oënskynlik kwade. Mag dit in hierdie gevalle ook so wees! Dit is verblydend om te sien dat van die kommentare by die artikel op die blog die versugting uitspreek dat die vier (deur die “kerk”?) begelei mag word na skuldbelydenis en sondevergifnis sodat hulle ook die vrymakende lewensverrykende ervaring in Christus kan ontdek.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui