Kyk ook:
- Namibië se ultimatum aan die NG Kerk (20 Mrt 2022)
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
NGK in Namibië breek weg van algemene sinode in SA | Netwerk24
Breyten Cupido
22 Maart 2025
Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) in Namibië se besluit om die algemene sinodale moderamen (ASM), oftewel die kerk se bestuur in Suid-Afrika, te verlaat, is bekragtig.
Dr. Nioma Venter, algemene sekretaris van die ASM, het die besluit deur die NGK Namibië aan Netwerk24 bevestig.
Venter sê die gemeentes in Namibië het dié besluit, wat sedert 2022 oorweeg is, nie “oorhaastig of ligtelik” geneem nie.
“Inteendeel. Die besluit om uit die verbintenis met die ASM te tree is reeds in Maart 2022 geneem, maar ’n proses is gevolg om die besluit eers aan plaaslike gemeentes en die ASM te kommunikeer,” sê Venter.
Die Namibiese struktuur van die NG Kerk het 43 gemeentes, 31 leraars en sowat 14 000 lidmate.
Venter sê dit is belangrik vir so ’n klein sinode om so na as moontlik aan ’n konsensus te kom.
“ ’n Mens kan bloot respek hê vir hoe die Namibiese leierskap hierdie proses benader en deurgevoer het,” sê Venter.
Stemmery het Donderdag by die NG kerk Suiderhof in Windhoek plaasgevind, waar ’n sinodesitting van 19 tot 23 Maart gehou is.
Sowat 80 afgevaardigdes het die saamtrek bygewoon.
Netwerk24 wou by Venter weet of dit as ’n skeuring beskou word.
Venter sê toe die ASM in 1962 tot stand gekom het, is daar in art. 37 van die kerkorde van die NGK voorsiening gemaak vir die moontlikheid dat ’n deelnemende sinode ook weer uit die verband kan tree.
“Ons is hartseer hieroor. Is dit ’n skeuring? In hierdie stadium is die kerk in Namibië van voorneme – en ons verwelkom dit – om in die volgende paar maande die verhouding met die AS (algemene sinode) te herdefinieer in ’n bilaterale ooreenkoms,” sê Venter.
Annelien Muller, algemene sekretaris van die NG Kerk in Namibië, het in haar kommunikasie aan die ASM te kenne gegee die verhouding tussen die NGK Namibië en die ASM het verander.
“Die NGK in Namibië is dankbaar vir die vele gesprekke, vergaderings en korrespondensie oor ’n tydperk van twee en ’n half jaar,” sê Muller.
LEES OOK | NG Kerk beskuldig van ‘heksejag op behoudendes’
Venter sê die ASM laat nie hul “broers en susters” in Namibië agter nie, al gaan die verbintenis vorentoe anders lyk.
“Ons vertrou dat hulle ons ook nie sal los nie. Vir eers het hulle egter gekies om in hul eie konteks nuut te soek na wie hulle is en wat hul roeping in die land is waar die Here hulle geplaas het,” sê sy.
Venter sê hulle ontken geensins dat daar oor sekere kwessies spanning en ongemak in die kerk is nie.
“Die NG Kerk was nog altyd ’n kerk wat ’n groot verskeidenheid van menings en standpunte geakkommodeer het, en dit is steeds so,” sê sy.
Volgens haar word eenvormigheid ook gereeld getoets.
“Die een plek waar die ASM op ’n deurlopende grondslag eenvormigheid toets, is in sy dagbestuur, wat elke twee maande vergader, en in sy moderamenvergadering, wat twee keer per jaar in lewende lywe plaasvind.”
Die dagbestuur word saamgestel uit die voorsitters van elk van die onderskeie sinodes.
Venter sê in alle bestuursgroepe is daar uitsonderlike eenvormigheid oor wat die NGK tans as hul identiteit en roeping onderskei.
“In albei hierdie ruimtes is diverse stemme en só soek ons saam die mees verantwoordbare pad vorentoe,” sê sy.
Venter sê hulle bly hoop dat die ASM en die NGK in Namibië tog wel in ’n andersoortige verhouding (ooreenkoms) aan mekaar verbind kan bly.
– breyten.cupido@media24.com
Kommentaar
xxx