Kyk ook:
- Wie is Hoffie Hofmeyr?
- Wie is Neels Jackson?
- Broer Julian moet dalk maar soos Flip maak (Hoffie Hofmeyr, 20 Mrt 2010)
Die volgende is geskryf in reaksie op Neels Jackson se brief, Resensie van NG boek het erge leuen (20 Junie 2021).
**********
NGK moet reg kies, al is keuses ongewild | Netwerk24
Prof. Hoffie Hofmeyr skryf:
Ek verwys na Neels Jackson se reaksie op hierdie blad op my resensie van sy boek, Drie dekades van verandering: Die NG Kerk se pad van verruiming.
Jackson beskuldig my verkeerdelik dat ek ’n leuenaar is.
Moontlik verstaan hy my verkeerd, want ek sê nie dat hyself die liggaamlike opstanding ontken nie, maar dat hy byna in dieselfde asem impliseer dat hy tog vir Julian Müller in sy denke ondersteun – ook as hy dan sê die opstanding van Christus moet bloot simbolies en metafories verstaan word.
Dis juis laasgenoemde wat veel eerder as die Bybelse en teologiese leuen hier blootgelê moet word.
Jackson meen dan ook dat die kerklike ondersoeke na Müller se standpunte laasgenoemde se onskuld bewys het. Ek dink dat Jackson egter bloot hier die kerklike strukture goed- en napraat.
Uiteindelik moet Müller self verantwoordelikheid aanvaar vir sy standpunte as ’n hoogleraar wat deur die NG Kerk aangestel en vertrou is om jong teologiese studente te vorm en begelei.
Ek was die enigste onder die teoloë en kerklike amptenare by die Universiteit van Pretoria (UP) wat die moed van sy oortuiging gehad het en opgestaan het teen hierdie eensydighede. Dit het egter wel teen ’n prys gekom, naamlik heelwat spanning, finansiële verliese (as gevolg van ’n vervroegde aftrede) en pynlike boelie- en isolasie-tegnieke.
Ek was egter nog nooit spyt dat ek as gebalanseerde en oop denker standpunt ingeneem het oor hierdie donker bladsy in die geskiedenis van die NG Kerk en sy teologiese opleiding nie – veral nadat ek gesien het hoe sommige teologie-studente geviktimiseer is.
Ek wil dit derdens duidelik stel dat dit hoegenaamd nie my taak is om die kerklike leiding te probeer oortuig nie. Ek het ook nie verdagmakery gesaai nie – een van die tipiese reaksies by teenstanders van die gebalanseerde rigting. Ek het net feite na vore gebring wat nie gewild was by diegene wat bepaalde, ongebalanseerde agendas gedryf het nie.
Jackson ontken dat daar ’n sekere groep in die NG Kerk is wat Jesus Christus verloën. Dit is nie waar nie. Daar word juis gevra hoeveel Ben du Toits daar as predikante en teoloë is.
Du Toit (’n voormalige predikant) het onlangs gesê dat hy nou post-teïsties geword het en sonder God wil lewe.
Dis veel eerder die NG Kerk-leierskorps se taak om gebeure en strominge te bestuur, en nie sy tentseile so breed te span om alles vir almal te probeer wees nie. Die kerk behoort eerder gebalanseerd tot beswil van die NG Kerk en die Koninkryk te werk sodat ons in vrede as gelowiges kan saamleef.
Mag die NG Kerk ’n les uit dié realiteite van ontsporing en ontwrigting leer. Mag die NG Kerk opnuut in die volste sin van die woord Christus-volgelinge wees deur lewende getuies te word, maar dit ook met mond, siel en verstand te bely.