NGK reik hand na gay geestelikes wat nie roeping kon uitleef

Die onderstaande artikel herinner sterk aan Heidelbergse kategismus, vraag 82:

82 Vraag: Moet die mense ook aan die nagmaal toegelaat word wat met hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is?

Antwoord: Nee, want so word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek (a). Daarom is die Christelike kerk volgens die bevel van Christus en sy apostels verplig om sulke mense met die sleutels van die koninkryk van die hemel uit te sluit, totdat hulle verbetering van hulle lewe bewys.

(a) 1 Kor 11:20, 34; Jes 1:11; Jes 66:3; Jer 7:21; Ps 50:16.

*******

NGK reik hand na gay geestelikes wat nie roeping kon uitleef | Netwerk24

Willemien Brümmer

14 November 2022

Foto: Jaco Marais: Dr. Louis van der Riet in die kapel by Stillebosch Retreat Farm op die plaas Anatoth, waar hy sedert einde 2019 woon. Net soos hier het die 20 mans en vroue wat deur die NG Kerk na Wellington genooi is vir ’n tyd van “besinning en sorg” ook die gayvlag oor die nagmaaltafel gedrapeer.

’n Mens is nou al so gewoond aan gemeentes wat doleer en die NG Kerk wat “vasgeloop” is oor selfdegeslag-verhoudings dat verhale van besinning en sorg ongewoon is. Willemien Brümmer het met dr. Louis van der Riet gepraat oor vier dae in Wellington wat dié kerk se geskiedenis help herskryf het.

“Ons kom soos ons is – sonder om weg te kruip, sonder om toneel te speel, sonder om bang te wees,” sê ds. Michelle Boonzaaier, predikant van die NG Kerk in Brackenfell, waar sy agter die nagmaaltafel met sy reënboogkleurige gay-tafeldoek staan.

Dis ’n emosionele oomblik vir die 20 mans en vroue in die jubileum-saal in Wellington. Vir die eerste keer in die NG Kerk se veelbesproke reis met seksualiteit kan gay en lesbiese proponente, predikante, tentmakers, teoloë en ander “wat ’n roeping tot bediening in die NG Kerk (NGK) deel” sonder vrees bymekaar kom vir vier dae van besinning, “heiligdom en rus”.

Mense wat, sonder dat hulle daarvoor gevra het, ’n beliggaming geword het van die teologie van weerloosheid: Dink maar aan Laurie Gaum, wie se intieme lewe op die voorblaaie van koerante uitgespoeg is, waarna die Ring van die Kaap die Goeie Hoop beslis hy moet sy predikantstatus verloor omdat hy in ’n verhouding was met ’n man. Sedertdien het hy ’n kringloop voltooi toe hy die eerste aansoeker geword het in die hofsaak teen die NGK om die besluit van die Algemene Sinode van 2016 tersyde te stel en die hooggeregshof in Johannesburg hom onomwonde uitgespreek het téén onbillike diskriminasie.

Vyf van die 20 was saam met Gaum deel van die hofsaak wat in 2019 opnuut erkenning sou gee aan selfdegeslag- “burgerlike verbintenisse” deur NG predikante “wat hulle weg oopsien” om paartjies se liefde te bekragtig.

Elkeen hier het ’n verhaal van miskenning: Pieter Oberholzer, wat twee jaar voor sy inseëning as predikant aan een van sy professore by die kweekskool aan die Universiteit Stellenbosch (US) beken hy’s gay, waarna hy na die Stikland-hospitaal gestuur word vir “behandeling” en weeklikse skokterapie.

Of Lulani Vermeulen, wat as gay teologiestudent aan die US nie deur die kuratorium gelegitimeer is om na ’n NG gemeente beroep te word nie omdat sy weier om ’n dokument te teken wat haar sou dwing om selibaat te bly.

‘Vreemde tuiste’

Dié keer is die bordjies egter verhang en elkeen kry die kans om die sakrament van die nagmaal te bedien. Ook dié wat nooit hul droom kon bewaarheid om as predikant bevestig te word nie.

Elkeen het ’n unieke storie van uitsluiting, verlies, skaamte en seer – maar oor die loop van die vier dae by die Andrew Murray-Sentrum vir Spiritualiteit is daar ewe veel verhale van versoening, genesing en herstel.

Dr. Louis van der Riet, wat die geleentheid help koördineer het, het die nuus onlangs op Facebook gedeel “as ’n uitnodiging om ons teenwoordigheid aan die nagmaaltafel te erken, te eer en te vier”.

Hy is die eerste openlike gay persoon wat deur die NG Kerk as leraar beroep is in 2019, en sedert begin vanjaar is hy proses-koördineerder by Inclusive and Affirming Ministries (IAM) wat die geleentheid saam met die NG Kerk aangebied en gereël het.

Sy stem is weerloos maar dapper. “Tydens die nagmaal kon ons vir mekaar sê: ‘Ek sién al die swaarkry waardeur jy is en die onreg wat aan jou gedoen is om nie jou volle storie te kon leef nie.’

“Almal was letterlik in trane. Daar was meer as een persoon wat voorheen nie die sakramente kon bedien nie omdat hulle gay is.”

Hy glimlag skamerig. “Op ’n vreemde manier word die NG Kerk nou wel ’n tuiste vir baie van ons. Dis op die oomblik een van die min hoofstroomkerke waar jy gay kan wees én ’n dominee kan wees.”

‘ ’n Geskenk vir die kerk’

Hy sit op ’n bruin leerbank in IAM se kantore in Durbanville en verduidelik hoekom lede van die sogenaamde “queer clergy” besluit het hulle gaan vir ’n slag hul eie “beliggaamde stories” vertel. Hy is lid van ’n “queer kollektief” wat besluit het op ’n ander benadering om leiding te bied in die NGK.

Hy weeg soos altyd sy woorde asof elkeen ’n pakkie dinamiet is. “Die diskoers wat ons wou teenwerk by Wellington is waar teoloë en geleerde predikante en mense met mag in die kerk besluit wat geoorloof is – en dan gebruik hulle hierdie taal van ‘ons is vasgeloop’.”

Hy verduidelik: “Die kerk is volgens hulle ‘vasgeloop tussen twee standpunte’ – diegene wat inklusief wil wees en diegene wat behoudend wil wees soos die Kairos-netwerk. Die realiteit is egter dis ’n diskoers wat nie queer mense insluit nie – dis ’n gesprek tussen straight mense.

“Ons het nodig dat queer mense in die kerk hul eie stories vertel en dat ons ons eie geskiedenis help skryf en dat ons ook ons teologie as ’n geskenk vir die kerk aanbied.”

Hy aarsel. “Daar is ’n sekere stuk arrogansie, of eintlik maar net onkunde, in die aanname dat jy namens ander mense kan besluite neem.

“Wat ons basies met hierdie byeenkoms wou sê is ons het ’n realiteit, ons het stories, ons het geleefde teologie, ons het verhale van roeping waar ons op ’n manier ons seksualiteit en geloof kon versoen, maar ons wil ons stories vertel op ons terme.”

’n Halwe woord

Die oudste persoon by die Wellington-retraite is Oberholzer (72), wat IAM in 1995 begin het nadat hy uit Nederland teruggekeer het, waar hy as ’n Protestantse predikant bevestig is; die jongste ’n teologiestudent van 23.

Die idee is dat dit ’n retraite sou wees vir die volle spektrum van die LGBTQI+-gemeenskap, maar die realiteit, sê van der Riet, is dat daar net gay en lesbiese mans en vroue was.

“Die kerk het nog nooit eens gepráát oor transgender-mense nie, en daar was ook nie trans- of interseks-mense nie,” sê hy. “Die enigste kriteria was jy moes teologie geswot het en jy moes ’n roepings-verhaal hê in die NG Kerk. Die hartseer waarheid is die grootste meerderheid van die groep is nie meer lidmate of betrokke by die NG Kerk nie.”

Vir elk van die genooides was die simboliek van ’n uitnodiging van dié kerk, wat ook almal se koste gedek het, egter ’n riem onder die hart.

Die video-onderhoude wat met elkeen gevoer is, het diverse verhale en belewenisse vasgevang – van dié van die drie gay predikante wat steeds gemeentes bedien tot dié van die proponent en aktivis Hennie Pienaar, wat nou ’n pastorale terapeut en sakeman op George is.

“Dit was duidelik dat mense bereid is om baie eerlik te wees sonder enige onnodige vroomheid,” sê Van der Riet. “Daar was ’n diepe opregtheid en deernis en so half die wete waardeur almal anders is. Jy hoef net ’n halwe woord te spreek, dan wéét mense eintlik wat jy sê.”

‘ ’n Beliggaamde ervaring’

Hulle hoop om die video-verhale, waarin hulle onder meer saam dink hoe herstellende prosesse vir die NGK sou lyk, bekend te stel voordat die Algemene Sinode in Oktober volgende jaar plaasvind. Laasgenoemde is ’n navorsingsprojek onder leiding van prof. Charlene van der Walt, ’n voormalige predikant wie se werk oor gender, seksualiteit en godsdiens die teoretiese onderbou vir die groep se projek help skep het.

Hy twyfel egter of die sinode ooit werklike herstellende geregtigheid vir lede van die LGBTQI+-gemeenskap sal instel.

“Ons het in lippetaal apartheid afgewys as sonde, maar as ons daadwerklik moet praat van restitusie of herstel het die kerk nog nie genoeg gedoen om die apartheidsverlede reg te stel nie.”

Hy skep asem. “En ons sal die teologiese vertrekpunt op die tafel moet sit dat ons nie die gesprek kan voer sonder dat gay mense self teenwoordig is nie.

“Ek dink dit het te doen met die feit dat ons in die NGK nie gewoond is daaraan om teologie te doen vanuit ons beliggaamde ervaring nie. Dis asof ons teologie net kan doen vanuit ons koppe sonder om rekenskap te gee van hoe ons die Bybel interpreteer met ons lewens en met ons vólle menswees na die Bybel kom.”

‘Wit werk’

Sy eie lewe loop kronkelpaaie sedert Februarie 2019 toe hy sy intreepreek oor liefde sonder grense lewer by die Parke-gemeente in Kraaifontein. In Januarie verlede jaar loop sy tweejaarkontrak ten einde – en dit word vir hom duidelik dat hy nie in die gemeente-bediening kan bly nie.

Hy kies sy woorde versigtig. “Ná ’n paar aansoeke het ek besef vir ’n gemeente om my aan te stel is ’n ongelooflike groot risiko, al is die kerkraad of die predikant daarso inklusief. As die keuse tussen my en ’n ander predikant is, is daar ’n reuse-verskil tussen my en iemand wat getroud is, met kinders . . . Maar dit het ook nie vir my gevoel my roeping is daarmee heen nie.”

Hy het toe pas sy doktorsgraad behaal aan die Vrije Universiteit in Amsterdam, en het toe ook reeds saam met dr. Wilhelm Verwoerd begin werksessies aanbied oor sogenaamde “white work” vir die NGK as deel van ’n taakspan oor ras en versoening.

“Dit was storie-vertel-geleenthede en werksessies gebaseer op werk wat Wilhelm gedoen het in Ierland, waar ons wit Afrikaanse mense van die NG Kerk, hoofsaaklik jonger predikante, bymekaar gekry het om stories te vertel van hoe ons ‘wit’ geword het en hoe ons ‘wit’ gemaak is deur die kerk en ons families en die samelewing.

“Dis so half die voorbereidingswerk wat mense kan doen om bietjie minder op die verdediging te wees wanneer jy uitgewys word op wit bevoorregting en om wel verantwoordelikheid te aanvaar. Om in die spieël te kan kyk van die verlede en die historiese dimensie van witheid te verstaan.”

Hy aarsel. “Ongelukkig bly kerke nog ’n plek waar mense nog eksklusief wit en Afrikaans kan wees onder die vaandel van geloof.”

Verweef met die NGK

Wit en Afrikaans én wit en heteroseksueel. Die NGK het ook nog ’n baie lang pad voordat daar ware inklusiwiteit is wat gender en seksualiteit betref, meen hy.

“Aan die een kant voel ek, kan die NG Kerk asseblief tog net ophou om oor gays te praat? Daar is soveel ander goed in 2022 in Suid-Afrika waaraan die kerk eerder hul energie en tyd en aandag kan spandeer. Aan die ander kant werk ek nou vir ’n organisasie wat sê ons kan nie ophou om hieroor te praat nie, want mense se lewens is op die spel.”

Hy kies sy woorde versigtig: “Ek voel ek mag dit sê, en net gay mense mag dit sê, maar die gesprek oor seksualiteit is op ’n manier ’n makliker gesprek (as dié oor ras).”

Vir nou is sy eie verhaal egter nog te verweef met dié van die NGK om ’n ander geestelike tuiste te vind. “Die kerk maak saak omdat God saakmaak; dit is ingebed in my eie spiritualiteit. ’n Teologie wat sê jy’t nie die kerk nodig nie, ek gaan my eie gemeente stig of wat ook al, voel net vir my onverantwoordelik.”

Sy stem is beslis.

“Dis asof jy dink jy kan die bagasie van die verlede net vryspring deur net mense bymekaar te kry wat soos jy dink, want dan is jy eintlik maar net die eienaar van jou eie waarheid. Maar as ons kan leer om gelowig te wees in ’n konteks van mense wat verskil en wat deur ’n geskiedenis en historiese wortels en tradisie verbind is aan eeue se teologiese opleiding, is dit vir my ’n groter storie om van deel te wees. Dis daarom ook hopelik ’n storie wat meer potensiaal het om in die toekoms herskryf te word, want regdeur die kerkgeskiedenis glo ons om iets te reformeer is meer sinvol as om oor te begin.”

Vasgeloop?

Voor ons groet onthou hy dis op dié dag toevallig presies ses jaar sedert 8 November 2016 toe hy besluit het om “liefde bo vrees te kies” en “uitgekom” het op Facebook.

Hy glimlag. “Die gesprek in die samelewing het regtig sedertdien baie verander. Ek dink waar dit in die verlede ’n ding van skaamte was, kan mense nou in enige werksplek oop wees oor hul seksualiteit en word daar ondersteuning gebied en besef mense wat die verband is tussen psigiese gesondheid en dinge soos onderdrukte seksualiteit.”

Hy leun vorentoe, sy hande byna biddend voor hom. “Maar die NG Kerk gebruik nog terme soos dat ons ‘vasgeloop is’ en dat ons nodig het om mekaar vas te hou ten spyte van ons verskille.”

Hy staan op, ’n teoloog wat sy eie wondbaarheid leer omhels het. Ook dít is ’n geskenk aan die kerk.

“Wat baie duidelik was van die groep mense in Wellington is niemand in hierdie groep is vasgeloop nie. Gay en queer mense is nie vasgeloop nie . . . as die kerk dit net kon besef.”

1 thought on “NGK reik hand na gay geestelikes wat nie roeping kon uitleef”

  1. Ons weet almal dat ons sondaars is, maar min kom tot die besef dat hulle verlore sondaars is. Die Seun van die mens het gekom om te soek en te red die wat verlore is (MAT 18:11, LUK 19:10). Om iemand te ken moet jy eers ‘n ontmoeting met hom hê, dan sal hy jou ook ken (MAT 7:23). As daar ‘n nood in jou hart is oor jou verlore toestand voor die Koning van die konings, dan kom jy in jou gebrokenheid met jou sonde wat jy uitspreek voor Hom en breek daarmee. Die Koning doen dan die genade werk van wedergeboorte in jou hart (JOH 3:3).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui