NGK Sinode 2011 Agenda

Kliek hier (2.5 MB) vir die agenda van die NGK algemene sinode 2011.

Kommentaar

Die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk, word ’n paar keer genoem in die agenda van die Sinode, byvoorbeeld:

8. KONTEKS VAN DIVERSITEIT BINNE DIE KERK

Om die konteks van diversiteit binne die kerk te bepaal, is daar hoofsaaklik gelet op wat geskryf is in die Diversiteitsforum. Vanuit die gesprek wat daar gevoer word, kan die volgende afleidings oor diversiteit in die kerk gemaak word:

8.1 DIE GESPREK WORD MET AGTERDOG BEJEËN

Daar word verskeie voorbehoude deur deelnemers [aan die Diversiteitsforum] aan die gesprek oor die onderwerp uitgespreek. Een van die groeperings wat baie aktief aan die gesprek op die webwerf deelneem, het sover gegaan as om die hele gesprek oor diversiteit onder verdenking te bring in ’n publikasie genaamd Die Trojaanse Perd.

………..

8.6 DIE INVLOED VAN SOSIALE NETWERKE EN DIE KERK

Die invloed van sosiale netwerke en die wyse waarop dit deur die deelnemers aan die gesprek gebruik word, raak ook ’n belangrike konteks wat in die kerk verreken moet word. Die dae toe een of twee persone namens die kerk gepraat het, is verby. Daar sal na die netwerke gekyk moet word en fyn gelees moet word wat lidmate dink en sê via hierdie netwerke as diversiteit sinvol bestuur moet word. Nie net lees NG Kerklidmate hierdie forums nie, maar dit het ook die ontmoetingsplek geword waar die drie susterskerke se lidmate bymekaarkom en idees uitruil. Herman Toerien wys tereg daarop dat met die koms van sosiale netwerke het die grense ook meer onduidelik geword. Hy sê onder meer: “die interkerklike aard van die slagordes blyk daaruit dat die TP (Trojaanse Perd ) nie net op die Diversiteitsforum en ook Kletskerk, wat ook sterk NG Kerk gerig is, onder die loep gekom het nie, maar ook op die GKSA-gespreksforum en op die Facebook-profiele van die NH en van die Steedshervormers. Selfs die bespreking van die TP deur die oud-moderator van die NG Kerk se Noord-Transvaalse Sinode, dr Mike Smuts, is in die verskillende forums bespreek.”

8.7 KERNSAKE WAT OP DIE FORUM ONDER BESPREKING IS

8.7.1 Ds Izak Du Plessis se bedanking uit die NG Kerk, veral sy kritiek dat die kerk liefdeloos optree teenoor lidmate, het groot aandag getrek. Ook sy opmerking dat die kerk nie ruimte het vir mense wat ander vrae vra, verdien nadenke.

8.7.2 Die Reitz-vier en rassisme – samelopend hiermee is ook die gedagte dat die NG Kerk weer nuut oor waardes moet nadink om die lidmate te help om rasseverhoudings na ’n volgende stap te neem.

8.7.3 Die volgende sake het ook aandag gekry:

* Demone en die bestaan van die duiwel

* Geweld teen vroue en kinders

* Vroue in die bediening

* Lausanne III – konferensie

* Trojaanse Perd

Ons maak graag ’n paar opmerkings onder verskillende hoofde.

Diversiteit

Die agenda van die Algemene Sinode (AS-agenda verderaan genoem) se bespreking van diversiteit toon dieselfde onwilligheid om die eintlike probleme met die diversiteitsgesprek te bespreek as wat heelwat deelnemers aan die diversiteitsforum gefrustreer het. Redelik vroeg in die gesprek is gevra dat die aanvaarbare grense van diversiteit binne die kerk bepaal moet word. Byvoorbeeld watter diversiteit is aanvaarbaar: groot vs klein doop, soort musiek in die kerk, homoseksualiteit, saamwoon, redding deur Jesus alleen, ens. Die diversiteitsforumbestuur het hierdie soort gesprek doodgedruk en gou is besef dat alle diversiteit skynbaar aanvaarbaar was, behalwe byvoorbeeld die aanvaarding van spesiale skepping, Jesus is die enigste Weg en Jesus is God. So ’n feitlik-alles-is-toelaatbaar-siening is egter vir behoudende Christene onaanvaarbaar. Dieselfde geld vir Skrifgesag en Skrifvertolking. Alhoewel verskillende vertolkings in sommige gevalle verdedigbaar is, behoort alle vertolkings nie vir ’n Christelike en gereformeerde kerk aanvaarbaar te wees nie. Ook betreffende Skrifgesag en -vertolking behoort daar dus aanvaarbare grense bepaal te word. Sonder sulke grense, gaan die gesprek onwaarskynlik sinvol vorder. Die diversiteitsforumbestuur se onderdrukking van aanhalings uit die Bybel te gebruik om die tipe sienswyses te begrond waarmee hulle as bestuur nie saamgestem het nie, het die vraag ook laat ontstaan wat hulle verwysingsraamwerk nou eintlik is. (Kyk hier vir die hele debat.)

Die Trojaanse Perd in die NG Kerk – die kanker van evolusie en liberalisme

Hierdie boek word ’n paar keer in die AS-agenda genoem. Daar word onder andere verwys na die bespreking daarvan op verskeie forums en dan ook na dr. Mike Smuts se resensie daarvan. Dit is opmerklik dat die skrywers se repliek op Smuts se partydige resensie nêrens genoem word nie. Op Kerkbode-aanlyn en ander NG-gekoppelde publikasies is gepoog om die doel van die boek voor te stel asof dit was om die NG Kerk in ’n slegte lig te stel – ’n “smeerpamflet” was een van Jean Oosthuizen, die nuusredakteur van Kerkbode, se gunstelingwoorde op verskeie webwerwe. Selfs dr Kobus Gerber het dit ’n kwaadwillige boek genoem (kyk hier). Maar die eintlike duidelik uitgespelde doel soos gegee in die boek self – naamlik om die NG Kerk te laat terugkeer na die waarhede van die Bybel – het nie die AS-agenda of Smuts se resensie gehaal nie. Ook is daar doodstil geswyg oor die talle probleemuitsprake van die teologiese dosente en talle ander onaanvaarbare situasies in die NG Kerk en sy media wat met behoorlike verwysings in die boek gelys is. Om die dokter en sy voorgestelde medikasie te probeer afkraak gaan nie die kanker laat verdwyn nie. Die kanker mag dodelik wees. Paulus se woorde aan die Galasiërs (kyk hoofstuk 4:16) kom ongelukkig in gedagte: “Het ek dan julle vyand geword deur julle die waarheid te vertel?”

Doop

Volgens die koerante gaan hierdie die doopsinode wees. Dit blyk uit talle skrywes in die media dat die redes waarom kleindoop, en by uitsondering grootdoop, in die gereformeerde kerke voorgestaan word, lankal nie meer duidelik is nie. Indien die NG Kerk by die gereformeerde standpunt gaan bly, word hulle ernstig versoek om die redes daarvoor, en die teen-antwoorde op die argumente vir die bekeringsdoop, in ’n nuwe leesbare dokument saam te vat. Maar die bewysgronde moet uit die Bybel kom, en beslis nie hoofsaaklik gegrond wees op een of ander tradisie wat nie aan die Bybel gekoppel kan word nie. Soortgelyk, sou die sinode besluit om beide dope toe te laat, moet dit ook uit die Bybel begrond kan word. Daar is geen rede om te dink dat God, wat gedreig het om vir Moses dood te maak omdat hy sy seun nie besny het nie, vandag minder ernstig is oor sy verbondstekens nie.

Die vraag van maatstawwe

Niemand kan ontken dat die NG Kerk se maatstawwe in die afgelope dekades al meer liberaal geword het nie. Die Bybel dra al minder gesag soos gesien kan word in talle amptelike uitsprake. Die goeie word deur talle invloedrykes in alle gelowe gesoek en die idee van een wêreldgodsdiens, wat glad nie noodwendig die basiese Christelike leerstellings meer aanvaar nie, neem stadig maar seker oor. Die hoop is sekerlik dat goeie waardes sal seëvier. Maar dit is ’n futiele hoop. Die mens is uit homself tot niks goeds in staat nie. Enige kerk wat sulke liberale denke voorstaan, verloën Christus en sal uiteindelik tot niet gaan. Die NG Kerk moet sy maatstaf die Bybel maak, gestroop van allerlei slimklinkende maar eintlik dwase vertolkings en verdraaiings om vooropgestelde humanistiese idees te probeer verkoop. Mag God hierdie sinode genadig wees en mense laat opstaan vir die waarheid in alle opsigte.

Legitimasie

As deel van die legitimasieproses van voornemende predikante, word die volgende in die agenda van die Algemene Sinode, 10-14 Oktober 2011, beskryf.

6.6 LEGITIMASIE

6.6.2.1 Finale evaluering
Die uitkoms van die begeleidingsproses is ’n finale verslag wat die begeleidingskommissie in gesprek met die teologiese student opstel. Die verslag gee aandag aan:
(1) Die student se roeping
(2) ’n Persoonlike getuienis oor geloofsekerheid en die ervaring van die genade van God
(3) Die student se oortuiging oor wat dit beteken om teologiese opleiding in die Gereformeerde leer te ontvang
(4) Die student se getuienis oor sy/haar lewensverhaal, wat insluit sy/haar sorg vir geestelike, fisiese en emosionele gesondheid.
(5) Die student se getuienis oor sy/haar verstaan van die inhoud van ’n predikant se dienswerk, wat insluit sy/haar bewussyn van sy/haar gawes en groeigeleenthede. Die finale verslag word deur die kuratorium ontvang met die oog op toestemming tot legitimasie.

As mens kyk na wat in ons boek uitgewys is in terme van die skokkende liberale en ongereformeerde denkwyses wat in die teologiese opleiding gepropageer word, wonder mens wie vir wie ’n rat voor die oë draai as na punte (2) – (4) hierbo gekyk word. Of is die Algemene Sinode regtig nog steeds so totaal oningelig oor die saak? Mense soos prof. Julian Müller is dan juis so uitgesproke oor hul geloof van onsekerheid. Hoeveel teologiese dosente gaan punt (2) slaag? Waarteen word (2) – (4) in elk geval gemeet?

Opleiding

As mens die woord “opleiding” in die agenda gaan soek, wemel die agenda daarvan. Die enigste moontlike probleem wat uitgewys word is die ekumeniese aard van die opleiding omdat nie slegs NG-studente by die teologiese fakulteite opgelei word nie. “Eie finale opleiding” word as die oplossing aangebied, waarmee mens in beginsel kan saamstem, maar as die NG-leierskap nie eers die bestaande ernstige probleme met die liberale teologiese opleiding kan raaksien nie, hoe gaan hulle enigsins in staat wees om die “eie opleiding” in ooreenstemming met die Bybel en die gereformeerde belydenisse te kry?

Die sogenaamde ontluikende kerk

Die enigste verwysing na die ontluikende kerk-beweging in die agenda, is die volgende.

3.6 Daar is tans ’n ongestruktureerde gesprek oor ekklesiologie aan die gang. Daar is ’n dinamiese ontwikkeling in denke oor ekklesiologie aan die gang. Gesprekke rondom die “Emerging Church” en “missionêre gemeente-wees” is maar enkele voorbeelde hiervan.

Nie een van die probleme met die sogenaamde ontluikende kerk wat in die boek uitgewys is, word hier eers genoem nie. Inteendeel, die NG Kerk blyk eerder positief oor die ontluikende kerk te wees, ongeag haar dwaalleringe.

Skepping en evolusie

Die Algemene Sinode is van plan om die volgende voorstel goed te keur.

7.6 EVOLUSIE/ KERK EN WETENSKAP
7.6.1 Die Moderamen het die volgende standpunt geformuleer na aanleiding van die debat hieroor:
Kerk en Wetenskap
Die vraag oor die aard van die verhouding tussen kerk en wetenskap speel van tyd tot tyd onderliggend ’n bepalende rol in die lewens van ons lidmate, waar hulle hulself ook al bevind in die diverse sektore van ons samelewing. Dit is dan dat standpunte en argumente oor onderwerpe soos die evolusie (teorieë oor die ontstaan van die mens), die oerknal (teorieë oor die ontstaan van die skepping), en ander sake soos die invloed van gebed
op (byvoorbeeld) reën, klimaatsverandering en dies meer, dikwels tot onverkwiklike gesprekke lei.
Dit lê ten grondslag van die Gereformeerde tradisie dat onderrig en opvoeding, ook ten opsigte van die volle spektrum van die multidissiplinêre wetenskap, deel is van die kerk se roeping om sy lidmate te begelei tot verwondering oor die God van hierdie skepping/heelal, soos wat ons dan ook gereeld gelowig oor Hom bely.
Alhoewel dit anders is as God se openbaarmaking deur Jesus Christus, is sy skepping ook ’n bepaalde openbaarmaking van die misterie en wonder van God self. Die onvermoeide wyse waarop die kerk dan ook in sy geskiedenis die inisiatief geneem het tot die oprigting van skole en ander opvoedkundige inrigtings, is prakties tekenend van hierdie wedersydse respek tussen geloof en kennis.
As sodanig ondersteun of onderskryf die kerk nie noodwendig bepaalde wetenskaplike teorieë nie – is hy trouens nie bevoeg om daaroor enige gesaghebbende uitspraak te maak nie. Ons beskou dan ook nie die Bybel as ’n handboek wat vir ons allerlei wetenskaplike uitsprake maak wat buite hierdie bundel geskrifte se historiese konteks lê nie. Juis omdat ons respek het vir die teks van die Bybelse geskrifte, het ons respek vir die historiese konteks waarin hulle ontstaan het.
Wat die kerk wel ondersteun en bely, is ’n bepaalde geloofsuitspraak, naamlik dat God die Skepper van hemel en aarde (heelal/veelal) is. Wat is, het nie maar toevallig en spontaan gebeur nie. Oor hoedat hierdie skepping egter tot stand gekom het, asook die komplekse aard van al die wetmatighede waarbinne hierdie proses van skepping plaasgevind het en nog steeds ontwikkel en funksioneer, kan ons as gelowiges ons net verwonder, veral namate die verskillende wetenskaplike dissiplines dit verder aan ons ontvou.
Dit is daarom jammer dat daar dikwels vanuit beide die kerklike, sowel as die wetenskaplike kontekste, uitsprake gemaak word wat dui op ’n onverkwiklike stryd tussen kerk en wetenskap, asof beide nie bepaalde uitdrukkings kan wees van God se onbeskryflike grootheid en mag nie.
Die NG Kerk sal graag vanuit hierdie perspektief wil deel wees van die gesprek tussen kerk en wetenskap – en ons daardeur laat begelei in die hantering en beoordeling van sake wat met hierdie verhouding verband hou.
7.6.2 AANBEVELING: KERK EN WETENSKAP
Die Algemene Sinode besluit om die standpunt Kerk en Wetenskap goed te keur.

Hierdie is maar ook weer ’n poging om op die oppervlak almal tevrede te stel (soos vantevore rakende homoseksualiteit).

Aan die een kant word gesê dat die skepping nie maar toevallig en spontaan gebeur het nie – dit lyk dus na ’n uitspraak teen evolusie te wees, alhoewel nie teen teïstiese evolusie nie.

Maar net in die volgende sin word gesê dat die skepping tot stand gekom het binne wetmatighede, wat eintlik die bonatuurlike aard van die aanvanklike skepping ontken.
Al logiese gevolgtrekking is dus dat teïstiese evolusie in werklikheid ondersteun word, al is daar beweer dat die kerk nie noodwendig bepaalde teorieë ondersteun of onderskryf nie.
Maar Kerkbode se oorgrote hoeveelheid artikels en die materiaal van die teologiese opleiding oor hierdie saak, laat geen twyfel dat evolusie baie swaarder as spesiale skepping in die NG Kerk weeg nie.

Die uitnodiging van, en die positiewe reaksie vanuit amptelike NG-kringe oor, die ateïs en evolusionis dr. George Claassen as hoofspreker by die openingsdag van die teologiese fakulteit van UP in 2010, het dit ook duidelik laat blyk.

Kyk ook die volgende dokumente wat tydens die 2013 en 2015 algemene sinodes goedgekeur is:

God as Vader of Moeder

God word duidelik in die Bybel aan ons geopenbaar as Vader, Seun en Heilige Gees, maar die Algemene Sinode weet skynbaar beter:

2. GOD

As die Drie-enige is God die Skepper, Verlosser en Voleinder van ons en ons wêreld

2.2 God se verhouding tot ons en ons wêreld, soos dit in die Bybelse geskrifte na vore kom, word tradisioneel in die kerk se trinitariese belydenis verwoord: Die God wat in die Bybel Vader, Seun en Heilige Gees genoem word, is één God, maar dié God se verhouding met ons het meer as een gestalte wat onderling saamhang en gesamentlik betroubaar laat blyk hoe God werklik is. As Vader of Moeder is God die Skepper van hemel en aarde, die Bron van alles wat is, en die Een wat in almag die wêreld instandhou, regeer en versorg. As Seun of vleesgeworde Woord is God die een wat in selfontlediging as die mens Jesus Christus ons verlossing bewerk en die getransformeerde, verheerlikte skepping inlui. As Gees, Vertrooster of Advokaat versamel, inspireer en bekragtig God deur Woord en sakrament ’n kerk waarin, waardeur en waarnaas die hele skepping in die sleurstroom van Christus se oorwinning tot sy bestemming gebring word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui