Kyk ook: |
Hierdie artikel (van Netwerk24) wys maar weer presies op watter pad die NG Kerk is: om deel van die groot groep te wees (WRK). Om voort te gaan om ruimte te maak vir homoseksualiteit.
Dit is duidelik dat die NGK leierskap hulle liefde vir die waarheid vaarwel geroep het…
*********
NGK terug in wêreld; saak oor gays bly
03 Julie 2016 00:00
Die NG Kerk is geseënd met genoeg mense met die deug van verdraagsaamheid teenoor gays, het dr. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NGK, aan Jacob Rooi gesê.
Die NG Kerk is ná 55 jaar weer toegelaat as lid van die Wêreldraad van Kerke (WRK). Wat is die betekenis hiervan vir die NGK? Die terugkeer was soos ’n uitstaande rekening ná ons ondersteuning van apartheid. Dit het ’n geweldige simboliese waarde. Die omarming van ons mede- Suid-Afrikaanse lidkerke en hul entoesiasme om ons oor die laaste hekkie van volle terugkeer in die ekumeniese wêreld te sien kom, maak ons diep dankbaar.
Hoe verskil die huidige NK Kerk van die een van vroeër? In die vroeë 1980’s het die NG Kerk radikaal van standpunt verander. Ons het besef dat gedwonge skeiding nie die wil van God kan wees nie. Ook nie die miskenning van mense se menslikheid en waardigheid nie.
Ons het sedertdien ’n dienende kerk geword. Ons lewer dienste aan die breë gemeenskap van die land. Dit geskied deur welsynsdienste, asook deur honderde gemeentes en honderdduisende lidmate wat hul medelandsburgers met welwillendheid dien en só die liefde van Christus beliggaam.
Het die NG Kerk iets verloor weens sy afwesigheid van die groter kerkliggaam? Wat? Ons het tydens ons isolasietydperk deelname ontbeer van die mees fassinerende geloofsgesprekke. Die nadeel daarvan om net in jou eie kring oor sake te dink, is dat jy so maklik mislei word deur individuele stemme. Daar buite word menings getoets aan talle internasionale deelnemers se insigte.
Die gay-debat bly verdelend. Ja, maar die kragte wat ons aan mekaar bind is sterker. Ons is geseën met genoeg mense wat die Christelike deug van verdraagsaamheid beoefen, ondanks verskille. Ons is midde-in ’n baie gesonde debat oor mense met homoseksuele voorkeure.
Maar ons is ook midde-in ’n gesonde debat oor die wyse waarop ons die Skrif lees en toepas. Daar was al meningsverskille in die Nuwe Testamentiese gemeentes. Groot verskille.
Maar hulle het mekaar vasgehou rondom die genade- en liefdeswaarhede van die Skrif. Ons gaan nog ’n tyd in hierdie debat wees.
Sekere streekmoderators en ander teoloë was glo volgens berigte in April by ’n kongres in Amerika. Van die afgevaardigdes van oor die wêreld is glo uiters konserwatief. Is dit iets wat kommer wek? Nee wat, ons lidmate hoef nie bekommerd te wees nie. Ons leierskapmodel werk eintlik so dat moderators maar net voorsitters is van sinodes se strukture.
Individue het nie soveel mag in ons kerk nie. Ek weet nie wat die aard van die besoek aan Amerika was nie en kan my nie daaroor uitlaat nie. Die groep was klaarblyklik in hul individuele hoedanigheid daar.
Weet jy of die gay-kwessie ter sprake was? Nee. Lidmate en leraars neem in elk geval op verskillende plekke aan gesprekke oor die gay-kwessie deel. Alle insigte, van waar ook al, sal die gesprek verryk.
Ná die besoek is ’n vergadering glo gehou waarheen jy genooi is. Hoekom het jy nie gegaan nie? Die vergadering het nie in dié stadium ’n doel gehad nie. Dit was nie die plek om ’n beginseldebat oor die gay-kwessie te voer nie. Dit was ook nie die regte tyd vir ’n prosesgesprek nie. Daar is baie ruimte in sinodes om oor die beginsel te praat.
Daar is ook tans ’n appèlproses teen die sinode se gay-besluite aan die gang. Solank die appèlle nie afgehandel is nie, kan daar nie oor verdere prosesse besluit word nie. Hoe sal ons nou weet watter besluit deur die appèlkommissie geneem word? Dit sal tog bepaal watter proses daarna gevolg moet word. Ek het dit so vir die kollegas verduidelik. Hulle het anders daaroor gedink.