NGK Vrystaat se buitengewone sitting ‘verg kalmte, wysheid’

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

NGK Vrystaat se buitengewone sitting ‘verg kalmte, wysheid’ | Netwerk24

Marita Herselman

01 Oktober 2024

Die moderator van die NG Kerk in die Vrystaat bid dat kalmte en wysheid Donderdag op die streek se buitengewone sinodesitting, oor dié sinode se verbintenis met die algemene sinode (AS), sal seëvier.

Ds. Jan Lubbe, ook voorsitter van die AS se moderamen, sê Vrystaatse lidmate en gemeentes het ’n groot versugting dat daar nou ’n besluit oor die sinode se verhouding met die AS geneem word.

“Hierdie proses is al amper drie jaar aan die gang en die proses was inklusief. Alle stemme, alle standpunte is gehoor, almal het ’n geleentheid gehad om te praat. Ons moet nou tot ’n besluit kom.”

Soos oor die land heen die geval, verskil van die gemeentes in die Vrystaat se standpunte wesenlik van die AS s’n. Dit handel onder meer oor selfdegeslagverhoudings. Gemeentes in die Vrystaat se standpunte stem ook nie almal ooreen nie.

Die AS bind die nege streeksinodes in die land en die een in Namibië saam.

Hoewel gemeentes al hul kerkverband opgeskort het, wat tans kerkordelik en gemeenregtelik geen regskrag dra nie, is daar nog nie ’n streeksinode wat van die AS weggebreek het nie.

Dit is ingevolge die kerkorde vir ’n sinode moontlik om bande met die AS te verbreek.

Die NG Kerk Vrystaat se spesiale vergadering word by Kopano Nokeng, ’n lodge en konferensiesentrum by Bloemfontein, aangebied.

“Ek hoop eerstens op ’n kalm en verantwoordelike vergadering, dat dit nie emosioneel op die spits gedryf word nie, maar dat daar op ’n kalm manier in die lig van die Bybel en ons belydenis besluite geneem sal word,” sê Lubbe.

Hy hoop dat daar op die vergadering tot ’n mate konsensus oor die pad vorentoe bereik kan word.

Die sitting is byeengeroep om ’n “welwillende weg” te vind vir gemeentes wat nie langer hul weg oopsien om deel van die AS te wees nie.

Die opsies op die tafel is dat die Vrystaatse sinode uit algemene sinodale verband tree; die NG Kerk Vrystaat in twee sinodes verdeel en een dan uit verband met die AS kan tree; of om in verband met die AS te bly, maar dat die Vrystaatse sinode haar verhouding met die AS herdefinieer deur standpunte oor sleutelkwessies duidelik te stel.

Die Vrystaatse moderamen het ook moontlike opsies voorberei vir gemeentes wat hulself in die minderheid bevind of uit verband met die NG Kerk Vrystaat sou wou tree.

Die opsies is vir gemeentes wat nie met die meerderheidsbesluit sou saamstem nie.

Dié gemeentes kan teen die besluit appèl aanteken, ’n beswaarskrif rig of vir hersiening vra. Nog een van die opsies is om teologies-kategoriale ringe te vestig – gemeentes met dieselfde teologiese standpunte word saam in ringe gegroepeer, pleks van geografies.

Die Vrystaatse moderamen het die vergadering byeengeroep nadat die sinode in Oktober verlede jaar op die sitting van die AS met die AS oor Vrystaatse standpunte rakende onder meer selfdegeslagverhoudings, die bose, teologiese opleiding en hoe die Bybel gelees word, in gesprek getree het.

Hierdie beskrywingspunte van die Vrystaat is grotendeels deur die AS aanvaar, hoewel daar nog oor selfdegeslagverhoudings verskille bestaan. Die AS het in 2023 herbevestig dat daar ruimte is vir leraars en kerkrade om self te besluit oor die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse, en die Vrystaat het vir ’n pastorale hantering hiervan gevra.

Dr. Leon Foot, skriba van die NG Kerk Vrystaat, sê in die voorwoord van die komende sitting se agenda die Vrystaatse Kerk “staan by ’n waterskeidingsoomblik”.

“Vir die afgelope ses dekades, sedert 1962 – toe die destydse vier NG kerke verenig het in ’n algemene sinode – was die NG Kerk één.

“Die besluite van hierdie buitengewone sinodesitting sal bepalend wees vir daardie eenheid oor die volgende dekades. Kom ons bid vir die Here vir wysheid (Jakobus 3). Dalk wys Hy ons ’n nog uitnemender weg,” sê Foot in sy skrywe.

Luidens hom het die Vrystaatse moderamen, die interimkomitee en die sinodale taakspan ure aan gesprekke en vergaderings bestee om die proses te begelei.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui