Kyk ook:
- Nico Koopman
- Hemelvaart is ’n belangrike Christus-fees (Nico, Koopman, 12 Mei 2021)
- Sosiale geregtigheid
Kyk KOMMENTAAR onderaan.
*******
Nico Koopman: Grondwet gee salftaal vir ons talle wonde | Netwerk24
Nico Koopman
27 Oktober 2022
Suid-Afrika is ’n gewonde land. Ons hunker na heling. Ons smag na salf vir ons talle wonde.
Toe die sogenaamde nuwe Suid-Afrika gebore is, het ons ons in die Grondwet verbind tot die heling van alle wonde. Dié helingstaal het my weer diep getref toe ek dit op die uitbeelding van die Grondwet voor die fakulteit regte aan die Universiteit Stellenbosch lees.
Hierdie helingstaal, salftaal, in Suid-Afrika se Grondwet sê wat die visie en verbintenis van alle Suid-Afrikaners is. Ons is verbind tot die heling van historiese wonde. Ons wil restitusie beoefen; ons wil sover moontlik regstel wat in die verlede verkeerd geloop het en ons wil help heel wat nog stukkend is. Ons wil ook help heel wat in die hede, in byna 30 jaar van demokrasie, stukkend gemaak word. Ons wil restitusie beoefen as toekomsgerigte, bevrydende en helende geregtigheid.
Ons is verbind tot die heling van politieke wonde. Die teoloog Johannes Calvyn het die beroep van politikus beskryf as die edelste van alle beroepe. Politici soek immers op doelgerigte wyse die welwees en florering van die polis, die stad, die samelewing.
Politici by uitstek wil sien dat die lewe van die Suid-Afrikaanse Grondwet werklikheid word vir almal, naamlik ’n lewe van menswaardigheid, heling van alle wonde, geregtigheid, vryheid en gelykheid. Deel van ons verwondheid in Suid-Afrika is daar omdat talle politici en burgers dié visie vergeet en verloën, en gierigheid, korrupsie, nepotisme, kaderontplooiing, staatskaping, onderprestasie en power dienslewering aanhang.
Ons is verbind tot die heling van fisieke, emosionele en sosio-ekonomiese wonde. Talle mense krepeer van armoede en werkloosheid, en ervaar uitsluiting van welvaart in ’n land met die mees ongelyke verdeling van lewensmiddele ter wêreld. Ons is verbind tot die heling van ekologiese wonde. Ons werk teen die vernietiging van die natuur en wil help om diefstal teen toekomstige generasies te beëindig.
Suid-Afrikaners is verbind tot die heling van sosiale wonde. Ondanks vordering ervaar ons steeds polarisering en vervreemding langs die lyne van onder meer kleur, sosio-ekonomiese posisie, gender, seksuele oriëntasie, gestremdheid, ouderdom, nasionaliteit, kultuur en konfessie. Verskeie vorms van geweld, misdaad en misbruik wurg die lewe uit talle mense.
Onderliggend aan al hierdie wonde is verwondheid op geestelike en morele gebied. Die viering van Diwali, die “Fees van Ligte”, deur ons Hindoe-geliefdes die afgelope Maandag verseker ons van heling, van die oorwinning van lig oor donkerte, en van die goeie oor die bose.
Die Christelike tradisie hunker na die Salf van Gilead, die Gekruisigde Heler, wat heling bring vir alle wonde. Gewonde samelewings het die genesende salf van geloofstradisies van millennia so baie nodig.
Kommentaar
Daniel Louw
Nico Norman Koopman was sedert 2001 aan die teologiese fakulteit op Stellenbosch verbonde waar hy hoofsaaklik Christelike etiek doseer het. Hy was ook dekaan van dié fakulteit toe hy in 2016 ’n vise-rektor van die Universiteit Stellenbosch geword het.
In hierdie artikel sanik hy bloot oor al die swaarkry in die land. Nie net die huidige swaarkry nie, maar hy herinner ook sy swart en bruin lesers aan die geweldige pyn wat hulle 30 jaar gelede onder apartheid ervaar het.
Die woord “wond” of ’n afleiding daarvan, kom ’n volle 14 keer in hierdie artikel voor. Dit is asof hy hier verwondheid koester. Dit is niks anders as selfbejammering nie. Slagoffer speel. Dit is om sosiale geregtigheid aan te blaas – om almal te herinner aan hulle slagofferstatus weens hulle verskriklike omstandighede.
Dit is nie wat Jesus ons kom leer het nie. Hy het ons kom leer om swaarkry te aanvaar as deel van hierdie lewe, trouens, om swaarkry te verwag. Hy het geleer om swaarkry in die oë te kyk en dit na God toe te neem. Om te vergewe. Om die ander wang te draai. Nie een keer roep Koopman sy lesers op tot vergifnis nie.
Die volgende vers in die Bybel is baie gepas:
Lukas 9: (62)Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”
Die kersie op die koek was egter die erkenning aan Diwali, die “Fees van Ligte”, van “ons Hindoe-geliefdes”. Dit laat ’n mens dadelik wonder wat Koopman se siening oor redding is.
Van iemand verbonde aan ’n teologiese fakulteit het ’n mens meer verwag.