Nico Koopman: In Christus kies God teen alle geweld

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Nico Koopman: In Christus kies God teen alle geweld | Netwerk24

Nico Koopman

13 Maart 2024

Jesus se gaan na Golgota maak die wêreld se verskil aan die wêreld in ons en die wêreld rondom ons.

Jesus tree Golgota se geweld binne sodat alle geweld in alle vorme oral in die wêreld kan stop. Deur Jesus se wonde sal alle wonde in die wêreld uiteindelik genees word.

In Christus kies God vir vrede en téén die massale geweld gepleeg deur die moderne staat Israel, die pynlike geweld van Hamas, terreur- en oorlogsgeweld oweral, die geweld van bendes in Haïti en Kaapstad, die geweld van kinderontvoerders in Rusland, Nigerië en Saldanha, die geweld op plaas en dorp, by die werk en in die woonbuurt, huis en slaapkamer.

In die gekruisigde Christus sien ons God is die God van die nie-geweldslyn in die Ou en Nuwe Testament. God wys daardie tekste en tradisies af wat God as gewelddadig voorstel. Daardie tekste is voorstellings deur skrywers eeue ná die gebeure om aan te toon dat God mense verlos uit verknegting en vir alle mense lewensruimte voorsien.

Die gewelds­tekste word waarskynlik geskryf terwyl gelowiges in ballingskap is, in die agste eeu v.C. in Assirië en in die sesde eeu v.C. in Babilon. Dit wil getuig en troos bring dat die God wat eens verlos het, weer sal verlos. Die verwysing na geweld en wreedheid teenoor selfs vroue en kinders as metode is nie presiese, feitlike, letterlike en normatiewe beskrywings van God nie. Op Golgota sien ons God is die nie-gewelddadige, brose Lam.

Die geweldsverhale is, soos die skeppingsverhale wat ook later geskryf is, nie letterlike, presiese, wetenskaplike beskrywings nie, maar eerder geloofsgetuienisse betreffende God wat skep, bevry en voorsien. Die diepste bedoeling is nie om te sê presies wat God gedoen het nie, en hoe God bevry en voorsien en geskape het nie, maar eerder om te sê dat dit God is wat geskape het, en dat God geskape het sodat alle mense uiteindelik heil kan ervaar.

Christus gaan Golgota toe sodat alle individue en alle volkere kan weet hulle is almal God se eiendom. Hulle is almal so kosbaar vir God dat God se uniek-gebore Seun ter wille van hul heil sterf. Ons almal is God se uitverkorenes.

In die Ou Testament is Israel gekies om alle volkere van God se heil te vertel. In die tyd van die Nuwe Testament is die kerk gekies om vir almal van alle agtergronde, nasionaliteite, kulture, tale en oortuiginge te vertel dat God ons verkies, roep en nooi na ’n lewe van heil.

Christus gaan Golgota toe sodat vyande vriende kan word, sodat niemand meer Amalek genoem word nie. Amalek is ’n simbool van ’n slinkse vyand wat jou van agter bekruip en aanval as jy kwesbaar is, en dus vernietig moet word.

Ná Golgota noem ons mekaar nie meer Amalek nie, maar broer, suster, geliefde, dierbare, myne, my eie.

• Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui