Nieuteïsme

Die artikel Nieu-teïsme (hier onder), is gekopieer van die webwerf van die sentrum van eietydse spiritualiteit (SES) waarvan Abel Pienaar ’n medestigter is. Dit wys wat Albert Cruywagen se geloofsoortuiging is. Die feit dat Albert Cruywagen met SES geassossieer word, spreek reeds boekdele.

***************

Nieu-teïsme

Deur Ds. Albert Cruywagen op 1 April 2011

Hopelik kan dit die gedagtes aan die gang sit. Die term nieu-teïsme sal nie in teologiese boeke gevind word nie. Dis gegrond op my persoonlike ervaring en nadenke en is my eie nie-akademiese formulering wat iets nuut probeer sê oor God (met nuutverworwe kennis), want die “ou-ou tyding” (teïsme) het myns insiens verstrengel geraak in antieke en verbygegane opvattings. Ek trek net ’n paar lyne en my stuk is net ’n geraamte wat plek-plek erg bewe!

Daar bestaan minstens die volgende godsbegrippe:

  • Teïsme – glo in ’n persoonlike God.
  • Deïsme – die skepper het na die skepping “met vakansie” gegaan.
  • Panteïsme – God is alles en alles is God.
  • Panenteïsme – God kan in enigiets gevind word.
  • Postteïsme – glo in ’n persoonlike God op ’n na-teïstiese manier.
  • Politeïsme – veelgodendom.
  • Agnostisisme – niemand kan vir seker weet dat daar ’n god bestaan nie.
  • Agnosisme – dit maak nie saak of daar ’n god bestaan nie.
  • Ateïsme 1 – aggressiewe nie-gelowige.
  • Ateïsme 2 – sagte nie-gelowige.
  • Ateïsme 3 – diegene wat nie my God glo nie, is ateïste.
  • A-teïsme 4 – aanvaar nie (meer) teïsme nie.

Deur die eeue het die kerk sy lidmate uit die Bybel geleer dat God (Skepper) as bo-natuurlike wese persoonlik betrokke is by gelowiges se lewe, die kerk en die natuur. God se hulp kan ingeroep word deur gebed. Die skepping, soos dit vandag lyk, is 6000 jaar gelede netso deur God geskep, want Genesis vertel daarvan. God woon in die hemel, en is alwetend, almagtig, alomteenwoordig, ens. Die duiwel woon in die hel – êrens daaronder – maar is blykbaar op ’n ander (bose?) manier ook (alom)teenwoordig, (al)magtig, ens. Hy is listig en laat mense sondig. (Amper) alles wat in die Bybel staan is historiese waarhede, want dis God se Woord.

Ek dink daar moet nuut-gedink en nuut-gepraat word oor God. Die redes:

  1. Daar is soveel nuwe wetenskaplike kennis beskikbaar t.o.v. die ontstaan en geskiedenis van die heelal. Die Hubble-teleskoop help die mensdom om tot in die verste vertes te kyk en afleidings te maak op grond van die bewegings, groottes en samestelling van hemelliggame.
  2. Die vermeerdering van kennis t.o.v. evolusie het verstommende nuwe lig gewerp op die ontstaan van die aardbol, die ontstaan van lewe, en veral op die ontstaan en ontwikkeling van die mens.
  3. Navorsing oor die ontstaan, geskiedenis, aard en samestelling van die Bybel het gemaak dat mense die Bybel kan lees met nuwe en wyer insigte.
  4. Historiese bronne oor die ontstaan en geskiedenis van die Christelike kerk (veral na Konstantyn), en hoe en wanneer die kerklike dogma’s geformuleer is, is hoogs interessante leesstof.
  5. Die Bybel is geskryf deur en vir mense uit die antieke tyd en in ’n antieke styl, bv. mites, eiesoortige vertellings, metafore, ens. Veral die skryfstyle moet deeglik bestudeer word voordat (oorhaastige) afleidings gemaak word. Die kultuur-historiese en religieuse agtergrond moet deeglik in ag geneem word, en nie verhef word tot kanon nie. Die Bybel is nie ’n historiese of wetenskaplike handboek nie. Dit vertel van mense se geloof in God.
  6. In die ou tyd het die wel en weë van konings (wat maar eintlik ooraktiewe stamhoofde was), ’n groot invloed gehad op hoe mense oor God gedink het. ’n Studie van die mitologie sal bevestig dat wat met die koning gebeur het, later weerspieël word in die godeverhale.
  7. Die antieke drie-verdieping wêreldbeeld (hemel daarbo waar God woon, aarde waar mense woon, hel hieronder waar die duiwel woon), en wat deur die kerk na die moderne tyd oorgedra is, word al minder geloofbaar. Daar is nie ’n daarbo of daaronder nie. Ons leef op een aarde in ons eie wye kosmos.
  8. Die opkoms van die post-modernisme het veroorsaak dat mense al hoe meer vrae vra, en nie meer enigiets wat die kerk predik, vir soetkoek opeet nie. Niks is finaal en seker nie. Nuwe en ander antwoorde word gesoek.
  9. Die kerk se “sekerhede” het veroorsaak dat God algaande in ’n “verstaanbare” hokkie geplaas is. Daar is soveel troosboekies in omloop wat God en die mens se verhouding tot God in detail bespreek – sonder voldoende, standhoudende bevrediging.
  10. Voeg daarby die geykte religieuse taalgebruik (kerklike jargon), en jy het ’n “sekerheid” wat skrik vir niks. Lidmate gebruik die regte, godsdienstige woorde met die korrekte inhoude, en siedaar – God is vasgeverf in ’n hoekie!
  11. Die kerklike leefwêreld, en baie predikante en kerkleiers se lewens- en wêreldbeskouing, het wêreldvreemd geword. Die vroom gesegde: “In die wêreld, maar nie van die wêreld nie”, het ’n sg. deug geword wat niks goeds vir die kerk inhou nie. Te veel kerkmense weet te min wat in die werklike lewe aangaan. Daar is ’n al groter wordende kloof aan die ontwikkel tussen kerk en wêreld, wat daartoe bydra dat die kerk aan die wegkwyn is.

Wat kan help om teïsme nuut te sê?

1. Godsbegrip: Omdat die drie-verdieping wêreldbeeld uitgedien geraak het, het alles ineengekrimp tot een begrip, en daardie een begrip het weer uitgeswel en is steeds aan die uitdy. Die hemel (daarbo) is nie meer God se “adres” nie. Sy nuwe “adres” is nou hier by ons, in ons, rondom ons, bo ons, tussen ons. Dit beïnvloed ook gebed. God is op ’n nuwe manier altyd by my. My gedagtes kan ook my gebed wees.

2. God se eienskappe:

  • God is drie-enig – God is een wese, maar met drie “persona” (maskers). Dis ’n voorbeeld geneem uit die antieke teaterbedryf.
  • God is liefde – God is nie van liefde aanmekaar gesit nie, maar soos iemand wat liefhet.
  • God is ewig – in die antieke periode het tyd wisselvalligheid en verandering beteken. God is nie daaraan onderhewig nie.
  • God is alwetend – God se alwetendheid beteken versorging, maar ek moet die basiese lewensreëls ken en nakom.
  • God is alomteenwoordig – God is “teenwoordig” in ’n mooi natuurtoneel, EN as ’n leeu ’n bokkie vang! God is Gees, dalk is Hy oral waar elke mens se gees is, as ek Hom wil en kan herken.
  • God se wil – “Laat U wil op aarde geskied, soos in die hemel.” Die hemelse heerlikheid moet deur ons optrede ook op aarde posvat.
  • God se genade – Ons moet deeglik onderskei tussen geluk en genade. “Gelukkig het die ongeluk reg voor my gebeur, en nie met my nie!” Genade is om voor God te mag wees. Dis vir almal bedoel.

3. Die ontstaansgeskiedenis en aard van die Bybel:

  • Mites – die Bybeltekste verteenwoordig nie suiwer mitologie nie, maar bevat mitiese elemente wat in die historiese bewussyn van Israel geleef het.
  • Die plek en rol van Jesus Christus in die Bybel – die lewens-egte historiese agtergrond van Jesus en sy tyd en geografie verskaf ’n waardevolle onderbou om Hom as die menslike “masker” van God te begryp.

4. Die geskiedenis van die Christelike kerk werp ’n lig op die aard van kerkwees wat nuttig is vir die breëre verstaan die Christelike lewe.

  • Vroeë kerk – die geskiedenis van die eerste 4 eeue van die kerk is nie algemene kennis nie.
  • Konstantyn en Nicea – die sinode van Nicea en Konstantyn se rol verskaf boeiende leesstof om die hede beter te verstaan.
  • Latere aard van die kerk – selfs die geskiedenis van die kerk in Suid Afrika is onbekende leesstof vir lidmate.

5. Die werklike feite van die Big Bang en evolusie staan maar redelik eenkant in die denkstroom van die kerk. Hoe meer mens daarvan lees en kennis opdoen, hoe beter sal mens die lewe, die mensdom, die wêreld, God en die Bybel verstaan (met inagneming van die rol van bv. mites in die Bybel).

Ten slotte: My siening maak volledig ruimte vir teïsme, omdat dit tans die hoofstroom-denke in die kerk is. Ek vra dat die nuutsegging en nuutdenke oor God (en alles wat daarmee saamhang) ook ’n plekkie sal kry in die kerk. As laasgenoemde begin gebeur, sal dit miskien die geleidelike en stille uitstappery uit die kerk stuit en omkeer.

Ds. Albert Cruywagen is ’n voltydse NG Gemeente predikant verbonde aan NG Gemeente Riebeeck Park, Kemptonpark. E-pos: mwfrangipani@mweb.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui