As deel van die sakelys van die NG Kerk se Noordelike Sinode wat op 16-20 Oktober 2022 plaasvind, is die volgende bylaag oor dolerende gemeentes ingesluit.
Dit gee eintlik ’n baie goeie opsomming van waaroor doleansie gaan.
Dit is egter duidelik dat die leierskap van die Noordelike Sinode nie werklik baie simpatie met dolerende gemeentes toon nie.
***********
RIGLYNE: DOLERING VAN GEMEENTES
1. Inleiding
Die ATR het in Mei 2022 die volgende verklaring gegee oor dolering:
Aangesien daar geen kerkordelike bepalings bestaan oor “doleer/dolering” nie, het die Algemene taakspan Regte in Maart 2020 die volgende interpretasie oor “Doleer” gegee:
Die Kerkorde veronderstel eenheid en maak dus geen voorsiening vir dolering nie. Die saak behoort pastoraal hanteer te word.Die ATR oordeel dat dolerende gemeentes, ringe of sinodes nie hulle locus standi binne kerkverband verloor nie. Dit beteken dat dolerende gemeentes, ringe en sinodes hulle volle voorregte en volle verantwoordelikhede behou.
Hierdie interpretasie beteken die volgende:
ʼn Lidmaat/kerklike vergadering wat doleer
1.1 tree nie uit kerkverband nie en bly steeds lidmaat/gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk.
1.2 Beskik daarom oor alle regte en voorregte van die kerkverband en kan dus aan gesprek deelneem, alle lidmaatskap voorregte geniet en deelneem aan meerdere vergaderings. Predikante behou hulle volle bevoegdhede en regte (mediese en pensioenvoordele) en kan beroep word
1.3 behou ook hulle volle verantwoordelikhede. Dit beteken dat lidmate/ampsdraers en kerklike vergaderings steeds aan die bepalings (artikels, reglemente en besluite) van die Ned Geref Kerk gebonde is en gehoorsaam behoort te wees. Dit sluit ook in die kontraktuele ooreenkomste wat gesluit is tussen lidmaat/gemeente; gemeente/ring; gemeente/sinode en sinode/algemene sinode. Nie-nakoming van verantwoordelikhede/ooreenkomste sou neerkom op die verontagsaming van die Kerkorde (vgl. artikel 23.1), ongehoorsaamheid en selfs kontrakbreuk
2. Doel van dolering
Ten spyte daarvan dat “doleer/dolering” nie in die Ned Geref. Kerkreg erken word nie, sou die moontlike uitkoms van dolering een van die volgende kan wees:
2.1 Indien die dolerende lidmaat/kerklike vergadering oordeel dat die geskil (beswaar) uit die weg geruim is, word die staat van dolering (treur/huil) opgehef en treur hulle nie meer nie. Die herstelde verhoudings word dan gekoester en elkeen neem weer sy volle verantwoordelikheid op binne kerkverband.
2.2 Die tweede moontlikheid is dat die dolerende lidmaat/kerklike vergadering oordeel dat die geskil (beswaar) nie tot bevrediging opgelos kan word nie, word die weg van uittree uit die verband oorweeg. Aan die hand van die Nederlandse kerkgeskiedenis kan ons leer dat dolerendes as lidmate uit hulle gemeente bedank of onder sensuur geplaas kan word, en ʼn nuwe kerkverband kan begin.
2.3 Die toekoms sal ons moet leer wat gebeur met ʼn individuele gemeente wat by ʼn punt kom en oordeel dat die geskil (beswaar) nie opgelos kan word nie. Die moontlike weg is om ʼn sinode/samestellende kerk dan te oortuig om aan die hand van artikel37 uit algemeen sinodale verband te tree met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, wanneer hulle so ’n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig
3. Vertrekpunte
(verwys na die Familiereëls van die Oostelike Sinode)
Aangesien daar geen kerkordelike bepalings is wat dolering/doleer prosesmatig hanteer nie, neem ons as vertrekpunt die volgende:
3.1 Erkenning moet gegee word dat daar gemeentes/ringe is wat ongemaklik/ongelukkig is oor bepaalde sinodale besluite deur erkenning te gee aan die gedagte van dolering/om te doleer
3.2 Daar moet op ‘n kerklik pastorale wyse met mekaar ooreengekom word hoedat gemeentes en ringe gehelp word om hulle ongemak ter tafel te neem en saam na oplossings te soek
3.3 Gemeentes en ringe kan besluit om tot treur (doleer) oor te gaan, wanneer:
3.3.1 Hulle van mening is dat besluit(e) van die Sinode indruis teen die Skrif, die Belydenis en die Kerkorde
3.3.2 alle kerklike wee uitgeput is
3.3.3 dit op kerklike wyse hanteer word
3.4 Gemeentes en ringe wat oorgaan tot dolering
3.4.1 Behou hulle volle voorregte en bly deel van die kerkverband
3.4.2 Dra steeds die volle verantwoordelikhede (onder andere die finansiële bydraes, pensioenbetalings ens) binne die kerkverband
3.4.3 Mag nie uitnodiging tot gesprekvoering binne kerkverband met stilswye beantwoord nie
3.4.4 Mag nie bydra tot verdagmakery en/of skeuring binne kerkverband nie
3.4.5 Kan nie onbeperk voortgaan met dolering nie (daar moet ‘n bepaalde periode daaraan gekoppel word)
3.4.6 Dui nie op ‘n afskeiding van kerkverband nie, maar ‘n aanduiding van treur oor die geestelike toestand van die kerk
3.4.7 Plaas die kerkverband nie in die beskuldigde bank nie, maar gebruik dit om die saak voor God en die kerkverband te bring
4. Riglyne van dolering
Wanneer ‘n gemeente oordeel dat hulle hulself in ‘n staat van dolering wil plaas, geskied dit op die volgende wyse:
4.1 Die Kerkraad besluit met ‘n meerderheidstem dat die gemeente hulle in ‘n staat van dolering wil plaas
4.2 Die kerkraadsbesluit oor die plasing van die gemeente in ‘n staat van dolering, moet op twee agtereenvolgende Sondae aan die gemeente gekommunikeer word met die oog op approbasie van die gemeente
4.3 Indien approbasie verkry is, gee die kerkraad kennis aan die Ring/Sinode met
4.3.1 ‘n gemotiveerde kennisgewing van die dolering en die redes daarvoor
4.3.2 ‘n Voorneme om die saak binne kerkverband te hanteer totdat daar ‘n oplossing gevind word
4.3.3 ‘n onderneming om die volle erkenning en voorregte van die kerkverband te geniet en ook alle verantwoordelikhede na te kom vir die periode van dolering
4.4 Wanneer die Ring/Sinode of haar gevolmagtigde die kennisgewing ontvang het:
4.4.1 tree die partye so spoedig moontlik met mekaar in gesprek
4.4.2 bepaal die tydraamwerk waarbinne die ongelukkigheid/beswaardheid hanteer moet word
4.4.2 vind die gesprekke oor die ongelukkigheid/beswaardheid op ‘n pastorale wyse plaas en word daar met groot openheid na mekaar geluister
4.4.3 poog die partye om saam na oplossings te soek en tot uitvoering te kom
4.4.4 indien die eerste gesprekke nie slaag nie, oorweeg die partye om voort te gaan met die gesprek aan die hand van die besluit wat handel oor Riglyne vir die Beslegting van Kerklike Geskille (Kerkorde 2019, Funksionele besluit 27)
4.4.5 Indien die partye nie mekaar vind in die gestelde periode nie, kan beide partye toestem tot ‘n verlenging van die gesprekke tot ‘n maksimum van ses maande