‘Nuwe’ Sondag is nog ’n woestyn (Julian Müller)

Die volgende artikel het in Rapport verskyn op 20 Julie 2014.

In Bylaag A word gewys hoe Julian Müller bevraagteken of Jesus werklik kom sterf het vir ons sondes.

*********

‘Nuwe’ Sondag is nog ’n woestyn | Rapport

Sondag, 20 Julie 2014

In sy nuutste boek onderskei die teoloog Julian Müller tussen wat hy noem ’n “Sondag-geloof” en “geloof anderkant Sondag”. Waar die Sondag-geloof die veiligheid van duidelike reëls en kerklike gebruike bied, laat geloof anderkant Sondag ruimte vir onsekerheid.

Ek het op die plaas Witkop naby Nigel aan die Oos-Rand grootgeword waar ons gesin deel van ’n hegte boeregemeenskap was.

Dit was ’n voorreg om my kinderjare in so ’n omgewing deur te bring, want dit het baie sekerheid en ’n duidelike ervaring van geborgenheid gebied, ook ten opsigte van my geloofservaring.

Die Müllers het soos die meeste ander boeregesinne elke tweede Sondag kerk toe gegaan. Ek het saam met my ouers en twee susters op die ander Sondae na die kerkdiens op die draadloos geluister.

Die tradisie van Sondag kerk toe gaan was die samevloeiing en bevestiging van ’n hele lewenswyse. Die kerk was letterlik en figuurlik die middelpunt van die dorp en die boeregemeenskap.

Sondae se diens het om 10:30 begin, maar teen 09:30 het die kerkgangers al op die kerkterrein begin aankom. ’n Halfuur lank of so is daar oor en weer by mekaar se motors of bakkies gekuier.

Dan het die gemeentelede stemmig begin inbeweeg kerk toe. Elkeen het sy gebruiklike plek in die kerk gehad en daarom het almal presies geweet wie in die kerk was.

Die orreltannie het so ’n kwartier voor die tyd ingekom en haar plek op die orrelbankie op die galery regs bokant die kansel ingeneem. Ek het my altyd aan haar ingly-aksie op die bankie verkyk.

Die diens het altyd dieselfde verloop: Nadat die dominee die afkondigings uit ’n swart boekie voorgelees het, het die preek begin. Altyd met dieselfde woorde: “Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom?”

Die lofsang wat daarop gevolg het, het meestal gewissel tussen “Prys die Heer met blye galme”, “Juig al wat leef” en “Op berge en in dale”.
Dan was dit die Tien Gebooie, gewoonlik uit Eksodus 20, maar soms uit Deuteronomium 5. Vir die skuldbelydenislied het ons weer opgestaan.
Die preke was meestal maar lank, uitgerek, en vir my as jong seun nie juis boeiend nie. Soms het Dominee se stem skerp gestyg en het hy selfs ’n bietjie op die gemeente geskreeu. Dan het die mense gevoel dit was ’n “goeie” preek.

Ek het my pa dikwels hoor sê: “Dominee het weer latjie ingelê vanmôre.”

Die ergste deel van die diens het ná die preek gekom: Die láng gebed waartydens die mans en seuns respek moes betoon deur op te staan. Wanneer ons uiteindelik kon gaan sit, is die kollekte opgeneem.

Ná die diens is die gekuier buite by die voertuie voortgesit. Van daar af het die meeste plaasmense na die dorpskafee gery en ’n Sondagkoerant gekoop. Ons het soms polonie en ’n brood gekoop, maar nooit ’n koerant nie, want dit was teen ons beginsels om op ’n Sondag koerant te lees.

Tuis was die hoender al gaar. In die Ellis DeLuxe-koolstoof se oond kon dit nie aanbrand nie. Die jellie was ook al geset. Wat rituele betref, was die Sondagmiddagete ’n hoogtepunt van die week.

Die kerkritueel was vir my as jong seun nie lekker nie. Tog het dit ’n soort magiese vashou op ’n mens gehad. Die ritmiese herhaling van die roetines was gerusstellend en selfs meesleurend. My besluit om self ’n dominee te word het ongetwyfeld uit dié vaste gebruike en gestruktureerdheid voortgevloei. Die dominee het ’n ereplek in die samelewing gehad en dit was iets om na te streef.

Die kerk toe gaan, die bidure en die Sondag-skool was alles deel van die Sondag-ritueel. Daar was talle duidelik uitgestippelde, onuitgesproke reëls oor hoe Sondae moes verloop en wat jy op dié dag mag doen. Al die gemeentelede het presies geweet wat van hulle verwag word en die kerk het ’n vaste oriëntasiepunt gebied.

Só het my pad begin met wat ek vandag ’n Sondag-geloof noem. Die woord “Sondag” is in dié geval nie net die naam van ’n dag nie, maar ’n metafoor vir die georganiseerde godsdiens en ’n streng kerklikheid.

Toe ek etlike jare gelede vir die eerste keer die rolprent The Other Side of Sunday (1996, met Marie Theisen en regie deur Berit Nesheim) gesien het, is ek baie geraak daardeur. Dit gaan oor ’n eng Lutherse dominee en sy gesin wat in ’n klein dorpie in Noorweë woon. Die meisie Maria kom in opstand teen die rigiede, wettiese godsdienstigheid van haar gesin, veral haar pa. Die rolprent stel twee wêrelde teenoor mekaar: dié van godsdienstige oorheersing met ’n klem op reg en verkeerd en dié anderkant Sondag waar Maria vryheid, respek en menswaardigheid ontdek.

In my boek gebruik ek dieselfde metafore van “Sondag” en “anderkant Sondag” en skryf ek uit my eie ervaring oor dié twee wêrelde of geloofservaringe.

Om ’n Sondag-geloof te hê is om jou geloof ten nouste aan kerklike strukture, dogmas en rituele te koppel. Kerklike dogma of leerstukke verwys na geloofswaarhede wat (by sinodes of konsilies) deur die kerk as gesaghebbend of as waar aanvaar word.

Dit is mensgemaakte formulerings en formules wat mettertyd die gesag van goddelikheid ontvang. Dié leerstukke vind ook gestalte in kerklike gebruike en rituele. Saam met kerklike strukture bied dié vaste praktyke ’n groot mate van standvastigheid wat die georganiseerde godsdiens vir talle gelowiges baie aantreklik maak.

Geloof anderkant Sondag, daarenteen, verwys na ’n nuwe verstaan van geloof wat nie so aan mensgemaakte kerklike strukture en dogma gebonde is nie. Dit staan losser van die kerk en is immer soekend na wat anderkant die kerk lê.

In dié geestelike omgewing is daar ’n groeiende skeptisisme oor ’n onkritiese aanhang van die dogmas en gebruike van die kerk.

Dit bied ook veel meer ruimte vir onsekerheid en die strydighede van die lewe en die geloof.

Om anderkant Sondag te glo bring jou as’t ware in ’n soort niemandsland. Dit lei jou na ’n woestyngebied waar die stutwerk van mensgemaakte godsdiensbeoefening weggeval het of nie meer sin het nie, maar waar daar steeds ’n behoefte aan geloof is.

Dit behels veral ook ’n ander begrip van God met ’n groter klem op geestelikheid. Geloof anderkant Sondag is vir my ook terra incognito – onbekende land.

Soos my vertelling aan die begin van die hoofstuk aandui, is ek gebore en getoë in die Sondag-land. Ek is deurdrenk van die kerk. Tog moet ek erken dat ek nie meer op dieselfde plek staan waar ek my geloofsreis begin het nie.

In dié anderkantland vind jy talle individue wat ontnugter is deur en teleurgesteld is in die kerk en alle vorme van georganiseerde godsdiens. Daar is ook diegene wat gewoon verveeld geraak het met die retoriek van die kerk en vir wie kerklike dogma nie meer enige betekenis inhou nie. Wat almal gemeen het, is die gevoel dat die ou strukture en ou maniere van praat nie meer sin het nie.

Ek hoor die noodkreet van diegene wat nie meer deur die kerk aangespreek voel nie, maar wat steeds erns het met hul geloof.

Hoewel elkeen van ons op ’n unieke reis met God, geloof en die kerk is, kan ek ten sterkste met sulke gelowiges identifiseer.

Dit is dalk nie aldag vir hulle ewe duidelik presies waarheen hulle op pad is nie, maar wat hulle wel weet, is dat hulle nie weer kan terugkeer na die tradi- sionele manier van dink, praat en doen nie.

Müller is ’n emeritus-professor aan die Universiteit van Pretoria. Die titel van sy nuutste boek is Geloof anderkant Sondag: Christenskap met en sonder die kerk. Aanbevole verkoopprys: R175 Hierdie is ’n verkorte uittreksel.

Bylaag A

In die boek bevraagteken Julian Müller of Jesus werklik kom sterf het vir ons sondes. Die volgende staan op bladsy 171 (die hoofstuk se naam is nogal “Verlos van Verlossing”):

Boonop is daar groterige verskille tussen die vier weergawes wat dit moeilik maak om te bepaal wat Jesus presies in sy instellingswoorde gesê het. Dit behoort egter selfs vir die oningeligte leser duidelik te wees dat die sinsnede “tot ’n volkome versoening van al ons sondes” nie in Jesus se mond gelê kan word nie.
Die versoeningsteologie waarvolgens Jesus met sy bloed betaal het vir ons sondes, het sentrale betekenis gekry in gelowiges se denke. Die formules in ons liturgie het heel waarskynlik daartoe bygedra. Dit wil egter voorkom asof die getuienis in die Bybel en veral die Nuwe Testament nie dié beklemtoning ondersteun nie. ’n Studie van die vier Evangelies bring aan die lig dat die woord “versoening” nie een enkele keer gebruik word in verband met Jesus se lyding en sterwe nie.
Jesus roep sy volgelinge op tot bekering in die lig van die spoedige koms van die Koninkryk, maar daar is skynbaar nie by hom of by die skrywers van die Evangelies die oortuiging dat sy dood aan die kruis ’n versoeningsoffer is nie. Die interessante is verder dat Jesus se dood ook nie in die Twaalf Artikels (Apostolicum) as ’n soenoffer aangebied en bely word nie. alles duid daarop dat daar ’n ryke verskeidenheid van beeld en perspektiewe in die Bybel en in die Christelike tradies is. Dié een vertoling van Jesuse se dood moet daarom nie vereng word tot ’n sogenaamde kernbelydenis waarby alles staan of val nie.

Daarop die volgende:

  • Wat sou die rede wees hoekom Jesus gekruisig moes word indien dit nie was om versoening vir ons sondes te bewerkstellig nie?
  • Selfs indien Jesus dit nie self baie duidelik sê nie, sê Paulus dit baie duidelik. Kyk bv 2 Korintiërs 5:21 “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.” Verder glo ons dat die hele Skrif deur God geïnspireer is (2 Tim 3:16) daarom glo ons wat Paulus sê.
  • Paulus se opinie dra vir my baie meer water as Julian Müller se opinie siende hy alreeds Jesus se opstanding bevraagteken.
  • Indien ’n mens die hele Bybel in ag neem, maak dit net baie sin dat dit die rede is waarom Jesus aarde toe moes kom. Volgens Romeine 5 en 1 Korintiërs 15 was daar ’n sondeval waar (die eerste) Adam gesondig het. Hierdie sondeval het verwydering tussen God en die mens gebring. Jesus (die tweede Adam) moes om hierdie rede aarde toe kom om te sterf om versoening te bring tussen God en die mens.
  • Kyk ook wat sê Johannes die Doper in Johannes 1:29 : “Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui