Om beter kerk te wees | Beeld
2011-06-13 23:00
Deur Henk Gous
As iemand die kerk verlaat het omdat hy nie glo dat Jesus Christus die Seun van God is nie, dan moet hy dit as die ware rede noem, skryf Henk Gous. Dié NG leraar reageer op Sakkie Spangenberg [Waarheen gaan Jesus terugkeer?] se redes waarom hy buite die kerk staan en Neels Jackson [Ek kies steeds die Kerk] s’n waarom hy binne die kerk bly.
As ek lees en luister na baie mense wat die kerk kritiseer, dan dink ek aan ’n gesprek met iemand wat sy vrou verlaat het. Dit het omtrent so verloop: “Jy moet hoor hoe lelik was my eks. Dis die redes hoekom ek weg is van haar. O ja, ek het ook ’n skelmpie gehad.”
Iemand wat sy vrou/haar man verlaat het, teken soms daardie persoon ekstra lelik, want dit maak my optrede meer aanvaarbaar, ook vir myself. As ek kritiek teen kerk en geloof hoor, raai ek dat sulke mense soms dieselfde tegniek gebruik. Teken die kerk ekstra lelik. Beklemtoon die werklike plooie en grimeer dit opvallend. Trek lelike strepe op sy/haar foto.
Toe ek die artikel van prof. Sakkie Spangenberg (“Ses redes hoekom ek nie deel van die kerk wil bly nie”) lees, het ek weer dieselfde gevoel gekry: Hy maak kerke onbillik lelik. Kerke benodig kritiek, maar dan billike kritiek. Ek verwag billikheid. Daarom staan ek meer gemaklik saam met Neels Jackson met sy redes hoekom hy wel in die kerk wil bly: eerlik oor foute, maar gee billike erkenning oor geloof en goeie dade.
Ek wil graag die billike én onbillike redes vat, en soek na regstellings om beter kerk te wees. Dalk kan dit vir sommige buitestanders tog makliker maak om tuis te wees in die kerk.
Ek skryf wel met een groot beperking: Wat bedoel ek met “kerk”? Kerke is so uiteenlopend soos die kleure van die reënboog.
Ek kan dus hoofsaaklik skryf oor my eie NG Kerk en lidmate wat ek oor jare heen as predikant baie persoonlik leer ken het. Ek hoop dis ’n betroubare steekproef.
Kerke is families, nie magstrukture nie. As ek dit sê, sal mense my dadelik wys op die enorme mag wat binne families en kerke uitgeoefen word, en veral die skandelike magsmisbruik somtyds steeds. Dis egter juis in ’n kerk waar die boodskap van liefde magsgebruik probeer omswaai na iets gesonder as elders in die samelewing. In my gemeente is die enigste toelaatbare mag die oortuiging van liefde waar mense vrywillig deelneem. Gelukkig het predikante en spesifiek NG kerkstrukture die (soms baie ongesonde) mag van die verlede verloor. Ons kan slegs magteloos probeer oortuig.
Kerke speel oop kaarte. Spangenberg gebruik die sameswering-tegniek (conspiracy theory). Hy beweer dat kerke (lees: ongenoemde magsgroepe) mense gevange hou en onwaarhede verkondig. Hy noem dan sy eie standpunte (dat Jesus eintlik Joods en staatsterroris was) as die betroubare standpunt. Die sameswering is dan dat alle dominees hierdie “feite” eintlik weet, maar verkies om ’n verdraaide, legendariese Jesus te verkondig.
Hierteenoor: Ek het elke standpunt wat Spangenberg neerskryf, gehoor tydens my teologiese studies, dit deurdink, maar tot ’n ander gevolgtrekking gekom as hy. Predikante is mense wat uit eie oortuiging glo dat Jesus Seun van God is en dat die Bybel betroubaar is, en dat die Bybel nie legendariese uitbouings oor ’n mensie Jesus van Nasaret is nie.
Maar kom ons speel dan almal oop kaarte. As iemand die kerk verlaat het omdat hy nie glo dat Jesus Christus Seun van God is nie, dan moet hy dit as die ware rede noem. Dan is sy egskeiding as gevolg van sy nuwe liefde, nie sy eksvrou se plooie nie. As iemand die Bybel as antieke boek vol legendes beskou, dan moet so iemand dalk skuif na die departement letterkunde eerder as om teologie te doseer.
Kerke soek deurlopend na God se wil en is hervormbaar. Ek het persoonlik in 1986 beleef hoe die NG Kerk sy foutiewe interpretasie van die Bybel oor apartheid erken en bely het. Ek hoor gereeld hoe uiteenlopende standpunte in kerke genoem en deurdink word. Dit wat Spangenberg as uitgediende leerstellings beskou, is reeds aan die toets van denke deur (hopelik) ewe intelligente persone onderwerp en nie as uitgediend bevind nie. As die toetsproses gebeur het en iemand verskil steeds, dan is die eerbare ding om ’n ander groep te kies om mee te assosieer. Die Nuwe Hervorming, waartoe Spangenberg behoort, is so ’n groep. My waarneming is dat hul getalle nogal baie soos die klein politieke partye is: ’n groot naam met ’n leë stadion.
Kerke geniet die natuurwetenskappe as fassinerende studie oor God se handewerk. Al glo sekere subgroepe in die Christendom dat die aarde 6 000 jaar oud is, is die hoofstroom Christene in Suid-Afrika nie anti-natuurwetenskap nie. Die NG Kerk vra nie mense om in ’n antieke drieverdieping-heelal te glo nie. Ek as predikant gebruik die beeldspraak van die “hemel daar bo” as presies dit: beeldspraak.
Kerkfamilies sluit mense van alle geloofsfases in. Mense met ’n naïewe geloof dink baie swart-wit en verkies onveranderlike sekerhede. Mense met ’n kritiese geloof kan saamleef met onsekerheid en voortgaande soektogte. Kerkmense stry ongelukkig met mekaar oor inhoudelike sake sonder om te besef dat ’n denkstyl en geloofsfases onderliggend aan hul verskille is. ’n Familie probeer ruimte maak vir verskillende geloofsfases, maar ons sukkel daarmee. Dis waarvoor leierskap nodig is, om die uiteenlopende familielede te help om in liefde mekaar te verstaan en te aanvaar.
Intussen probeer hierdie kerk maar soveel as moontlik praktiese liefde uitleef. Wanneer ons doelgerig saam werk, verskil ons min.
- Dr. Gous is leraar van die NG kerk Quellerina in Roodepoort.