Om soos grootmense oor God te praat – in Afrikaans (Hier staan ek)

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Beeld verskyn.

*********

Om soos grootmense oor God te praat – in Afrikaans

2011-12-18 21:03

Vyf predikante dra naamloos by omdat hulle “nie kan sê wie hulle is nie”. Ander skrywers is Izak du Plessis, Piet Muller, Jean Oosthuizen, Sakkie Spangenberg en Lina Spies.

Hier staan ek…Maar ek kan nie sê wie ek is nie en ek is nie alleen nie
Diek van Wyk, Coenie Nolte & Leon Atterbury (redakteurs)
GRIFFEL, R220

Hier staan ek bring sowaar iets nuuts. Wat is dit? Dit laat mense in Afrikaans oor God praat, en dít het nog nooit voorheen gebeur nie. In die verlede het die dominees oor God gepraat; die mense het met siddering geluister. Al wat God toegelaat is om te sê, is dat hy mense oor hul sondes haat. “Hier staan ek” word toe “hier loop ek”, en daar gaan hulle…maar waarheen?

Dominees praat in die boek – al is dit naamloos – vir ’n slag namens hulself. Hulle sê hulle sidder oor die dinge wat hulle vir die mense oor God moet vertel. Ook gewone mense praat hier, oor God – waar hulle hom verloor het en of dit die moeite werd is om weer na iets te soek.

Om oor God te praat, gee hier (soos altyd) ’n groot gesukkel af. Die letter­kun­diges, sielkundiges en regsgeleerdes wat in die boek skryf, gebruik toevallig makliker en dieper woorde om oor hul (on)geloof te praat. [Kommentaar: Hier word eintlik erken dat die skrywers ongelowiges geword het.]
Dis die dominees wat sukkel, met dié dat hulle al die jare opgelei is om in meedoënlose voorgeskrewe woorde oor God te praat.

Daar is ’n rede vir hierdie gesukkel. In Afrikaans het ons maar altyd net twee godsdienstige tale gehad om oor God te praat: die “God-is-onuitspreeklik”-taal van die predikante en die “Liewe-Jesus”- taal van die oorstelptes.

Vir Hier staan ek is God nie onuitspreeklik nie, en “liewe”-taal word hom gespaar. In hierdie boek is daar die onpersoonlike God – die God uit wie die hel gehaal is; die God met wie ons een is; God wat die “Eerste Oorsaak” en die “Singewer van die lewe” is.

Voorts, sê die skrywers, is die kerk nie ’n plek vir Godsoekers nie. God is in die stilte, eerder as in die Bybel. God is in ander godsdienste én in ’n druppel water. God is hartseer oor wat ons aan mekaar doen en hoe die kerk Hom misbruik om vrees by mense in te boesem.

Een ding bind al die skrywers saam: Nadat hulle hul vrees vir God verloor het, het hulle vrede gevind.

Dis ’n middeljarige stem van opgestanes, en dis ’n nuwe, jong stem in Afrikaanse godsdienstige literatuur. Dis nodig. Dis leesbaar. As jy na die hele mensdom kyk, is dit nie ’n nuwe stem nie. Daar is al van oudsher af onpersoonlik van God gepraat as “logos”.

God is al eeue lank raakgesien in die waterdruppel op die blaar – maar meesal het mense gevoel hulle wil God bedink en ervaar en hom nie net in iets blinks raaksien nie.

Ek is bly dat die skrywers van die boek vrede met, en oor, God het. Maar eintlik is die lewe saam met God ook ongemaklik en pynlik. Dit jaag jou om dinge te verander en betrokke te raak.

Die lewe saam met God is raserig en luid. Dis vreesaanjaend. Dis soos om op te staan vir ’n gay vrou wat nie gelegitimeer word nie. Dis om te veg saam met die ontgroende God en die mishandelde God. Dít is die lewe saam met God.
Maar uiteindelik moet ons só oor God kan praat dat almal wat ons op pad ontmoet, kan saamloop. En saampraat.

En daarmee maak Hier staan ek ’n begin in Afrikaans. – Christina Landman, professor aan Unisa se navorsingsinstituut vir teologie en godsdiens.

– Beeld

Kommentaar

Die feit dat die skrywers anoniem bly, sê baie. Dit is duidelik dat hulle nog in die bediening is bloot vir die salaris en nie omdat hulle geroep is daartoe nie.

‘n Mens kan jou opinies vir mense wegsteek, maar nie vir God nie…

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui