Ons gesprekke binne die NG Kerk oor mense wat gay is: Die faktor wat ons miskyk

Hierdie is ’n verwerkte weergawe van ’n populêr-wetenskaplike voordrag gelewer tydens ’n gesprek met NG predikante, 14 Maart 2016, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat.

Vir die oorspronklike weergawe van hierdie artikel, kyk HIER.

********

Ons gesprekke binne die NG Kerk oor mense wat gay is: Die faktor wat ons miskyk

D. F. (Francois) Tolmie

Die tema van ons gesprek plaas ons vierkant binne die dissipline van die hermeneutiek – sekerlik een van die belangrikste (indien nie dié belangrikste nie) afdelings van die teologiese wetenskap. In die gesprekke oor etiese besluitneming kan hermeneutiek op twee manier ter sprake kom. Die een manier waarop dit in die gesprek ingebring word, is wat ek wil noem ’n preskriptiewe manier. Daarmee bedoel ek dat verwysings na die hermeneutiek as ’n soort gesagsargument gebruik word om die ander kant verkeerd te bewys. Die trant van die argument is dan min of meer as volg: “Die etiese beslissing wat jy maak, is verkeerd, want jou hermeneutiek is verkeerd. Wanneer jy die Bybel hermeneuties korrek interpreteer (soos ek), sal jy besef dat my siening eintlik korrek is.” ’n Vinnige kyk na die briewekolom in Kerkbode sal toon dat dit dan ook die manier is waarop hermeneutiek gewoonlik in die kerklike debat opgehaal word. Dit is egter nie my bedoeling om hierdie tipe benadering in hierdie gesprek te volg nie. Ek wil hê dat ons eerder na die saak op ’n deskriptiewe manier moet kyk. Daarmee bedoel ek dat ons moet probeer om die konflik wat daar tans in die geledere van die NG Kerk is oor mense wat gay is, te probeer verstaan in plaas daarvan om ’n klomp argumente aan te voer hoekom ’n bepaalde standpunt korrek is en ’n ander standpunt verkeerd is. As ek Google Maps as ’n metafoor kan gebruik: Ek wil hê ons moet probeer “uit-zoom” om die groter prentjie te probeer te snap eerder as om op die detailaspekte in hierdie debat te konsentreer.

In my tema verwys ek na die “ander faktor” wat ons miskyk. Kom ons praat eers oor die faktor wat ons nie miskyk nie. Dit is natuurlik die Bybel self. In ons gesprekke oor mense wat gay is, val die fokus deurgaans op die Bybel. Die vraag wat oor en oor gevra word, is “Wat sê die Bybel?” Dat dit die geval is, kan ’n mens ook duidelik sien uit die debatte wat in Kerkbode gevoer word. Uit daardie debatte blyk verder dat ’n antwoord op hierdie saak nie maklik te vinde is nie, want daar is talle maniere om die vraag te probeer beantwoord: Werk ons met die klompie tekste in die Ou en die Nuwe Testament of moet ons eerder kyk na breër teologiese riglyne? Moet die klem val op skepping of herskepping? Tot watter mate is die wesensaard van die huwelik deurslaggewend? Gaan dit ten diepste oor sonde of oor geregtigheid? En nog baie meer. Julle ken al die argumente wat in die debat aangevoer word.

Daar is twee redes hoekom dit nie ’n eenvoudige saak is om etiese besluite op grond van die Bybel te neem nie. Die eerste rede het te doen met die kompleksiteit van die Bybel. Dink byvoorbeeld net aan die omvang van die Bybel. My Afrikaanse Bybel beslaan 1393 bladsye. Teen ongeveer 600 woorde per bladsye beteken dit dat daar meer as 800 000 woorde in die Bybel is wat in elke etiese besluitneming relevant sou kon wees. Verder het die verskillende geskrifte in die Bybel oor ’n baie, baie lang tydperk tot stand gekom, binne uiteenlopende omstandighede en binne uiteenlopende kulturele opsette. Dan is daar nog die verskille in genre, ens.

Die tweede rede het te doen met die meerduidigheid van die Bybel, met ander woorde dat daar oor baie etiese sake verskillende peilers in die Bybel gevind kan word. Dink byvoorbeeld aan die huwelik: Afgesien van die dominante patroon (die huwelik as ’n monogame verbintenis tussen een man en een vrou) word daar ook ander vergestaltings van die huwelik in die Bybel genoem wat nie eksplisiet afgekeur word nie: mans wat tegelykertyd meer as een vrou het; mans wat met hulle vroue se slavinne seks het om sodoende ’n nageslag te verwek; die leviraatshuwelik… Dink byvoorbeeld net daaraan dat die twaalf stamme (waarvan die totstandkoming deur die Here gewil is) voortspruit uit die twaalf seuns wat Jakob by vier verskillende vroue het: sy eie twee vroue en hulle slavinne (Gen. 30).

Wat maak ons met al die verskillende peilers in die Bybel? Wat gewoonlik gebeur, is dat ons (intuïtief of beredeneerd) keuses maak oor wat die dominante peiler vir ons eie situasie moet wees. Dit is nie net die geval in die voorbeeld van die huwelik wat ek so pas genoem het nie, maar ’n mens sou ook talle ander voorbeelde kon noem, byvoorbeeld die keuse vir of teen oorlog, die vraag wat ons behoort te doen wanneer ons siek word, die keuse vir of teen die vrou in die amp, die regverdiging van die doodstraf al dan nie, ens.

Dit is egter nie op hierdie eerste faktor waarop ek in hierdie gesprek wil konsentreer nie. Ek wil die aandag vra vir die faktor wat meestal nooit eksplisiet op die tafel kom in ons kerklike debatte nie, naamlik die rol van die interpreterende “ek”: die “ek” wat lees, keuses tussen al die verskillende peilers maak, prioritiseer, ignoreer en uiteindelik (dikwels triomfantelik) verklaar: Dit is wat die Bybel sê. Een van die faktore wat ’n deurslaggewende rol speel in die manier waarop die interpreterende “ek” die Bybel vir eie-tydse situasies toe-eien, is sosiale leesplek. (My vertaling van die Engelse “social location”.) Die ontwikkelinge in die Algemene Hermeneutiek die afgelope eeu of wat het die belangrike impak van ons sosiale leesplek op ons interpretasie van tekste oor en oor aangetoon. Dink maar net aan die bydraes van Heidegger, Gadamer, die “drie meesters van suspisie”, Ricoeur, en van feministiese en postkoloniale hermeneute. Met “sosiale leesplek” word die konteks bedoel van waaruit die interpreterende “ek” ’n bepaalde teks probeer verstaan. Sosiale leesplek is baie kompleks en sluit onder andere aspekte in soos die kerklike leestradisie en belydenis waarbinne ons staan, vorige lees- en hoor-ervarings van ’n teks, ons selfverstaan, die waardes wat vir ons belangrik is, epistemologiese keuses en nog baie meer.

Vir ons gesprek vandag wil ek veral twee belangrike aspekte uitlig:

  1. Die sosiale leesplek van ’n groep gelowiges is gedurig aan die skuif: Ons sosiale leesplek vandag verskil van die leesplek van Jeremia en sy tydgenote, Paulus en sy tydgenote, Augustinus en sy tydgenote, Luther en Calvyn en hulle kerkgenote, Johan Heyns en sy tydgenote … Verder is ons eie sosiale leesplek ook gedurig bietjie-vir-bietjie aan die skuif. Dit gebeur meestal ongemerk, maar dit is gedurig aan die gebeur. ’n Mens sou byvoorbeeld duidelike verskille tussen die sosiale leesplek van die gemiddelde NG Kerk-lidmaat in die tyd van die hoogbloei van apartheid en ons sosiale leesplek vandag kon aandui.
  2. Ons sosiale leesplek bepaal watter argumente wat uit die Bybel aangevoer word, vir ons gesaghebbend is al dan nie. ’n Voorbeeld uit my eie lewe: In die tagtigerjare, toe ek ’n teologiese student was, was een van die moeilike sake waaroor die kerk destyds ’n keuse moes maak die vraag of vroue toegelaat sou kon word tot die diakenamp al dan nie. My eie sosiale leesplek is sterk beïnvloed deur die kerklike tradisie op daardie stadium, byvoorbeeld die feit dat my enigste ervaring van ouderlinge en diakens tot op daardie stadium mans (in swart pakke) was. Verder was ek blootgestel aan ’n kerklike leestradisie waarvolgens een gedeelte in die Bybel deurslaggewend vir of teen ’n saak gebruik kon word. ’n Gedeelte soos 1 Timoteus 3:8-12 waaruit dit duidelik blyk dat slegs mans in (hierdie deel van die vroeë) kerk vir diakens oorweeg is, was dus deurslaggewend. Vandag, 30 jaar later, dink ek nie eens twee keer oor die vraag of vroue diakens mag wees al dan nie. My sosiale leesplek het op (ten minste) twee maniere verander: Ek word die afgelope 30 jaar voortdurend blootgestel aan vrouediakens (en vroue-ouderlinge en -dominees) en verder het ek al hoe meer blootstelling gekry aan ’n leestradisie waarin daarin groter klem geplaas word op die groter teologiese riglyne in die Bybel as op individuele verse of perikope. Ek vind dus doodgewoon die argument dat die outeur van 1 Timoteus 3:8-12 net mans in gedagte het (wat inderdaad die geval was), nie meer vanuit my sosiale leesplek oortuigend nie.

In die res van hierdie gesprek wil ek die fokus laat val op ’n spesifieke tipe geval waar die sosiale leesplek van die kerk geskuif het, naamlik toe nuwe kennis van buite die kerk tot gevolg gehad het dat die kerk se sosiale leesplek verander. Dit was meestal ’n traumatiese gebeure en het uiteindelik daartoe gelei dat die kerk se interpretasie van die Bybel verander het en dat hulle ’n keuse gemaak het teen dit wat die Bybel ooglopend sê. Ek wil graag die aandag vra vir die dinamiek van hierdie proses. Myns insiens kan ’n mens telkens vier fases onderskei, oftewel die vier K’s soos wat ek dit noem: 1. Konsensus; 2. (Nuwe) Kennis; 3. Konflik en 4. (Nuwe) Konsensus. Kom ons kyk hoe hierdie proses telkens verloop het.

1. Draai die son om die aarde of nie?

Konsensus: Vir omtrent 1 400 jaar is aanvaar dat die Bybelse wêreldbeeld korrek is. Teen die 1 500’s is die geosentriese model (d.w.s. dat die aarde die middelpunt van die heelal is) nog steeds as wetenskaplik korrek aanvaar. Dié siening was nie net gebaseer op die Bybelse wêreldbeeld (kyk skets[1] hieronder) nie, maar ook op die sienings van ander wetenskaplikes wat as gesaghebbend beskou is, byvoorbeeld Aristoteles (384-322 v.C.) en Klaudius Ptolemeus (c. 100-170 n.C.). Dit is belangrik om daarop te let dat sulke sieninge nie bloot deur die kerk gepropageer is nie, maar dat die beste wetenskaplikes van die tyd dié siening inderdaad as wetenskaplik korrek aanvaar het.Foutiewe antieke wêreldbeeld.Nuwe kennis: Die Poolse wetenskaplike, Nikolaus Kopernikus (1473-1543), het ’n teoretiese model op die tafel geplaas waarvolgens die son, en nie die aarde nie, in die middel van die heelal was. Dit is egter in sowel wetenskaplike as kerklike kringe verwerp; en nie net in Rooms-Katolieke geledere nie, maar ook in Protestantse kringe. Luther het byvoorbeeld Kopernikus se sieninge verwerp op grond van Josua 10 (die son wat stil gestaan het) terwyl Calvyn ook die siening dat die aarde om die son beweeg, afgewys het.

Konflik: Die konflik het veral uitgebars na aanleiding van die aansprake wat Galileo Galilei (1564-1642) gemaak het toe hy sy teleskoop begin gebruik het. Deur die teleskoop kon hy waarnemings maak wat die geosentriese wêreldbeeld verkeerd bewys het, byvoorbeeld die fases waardeur Venus gaan, die beweging van die mane rondom Jupiter en dat die maan nie ’n perfekte sfeer was soos wat algemeen aanvaar is nie. ’n Geweldige konflik het uitgebreek, met toonaangewende wetenskaplikes soos Cesare Cremonini (1550-1631) wat die kerklike standpunt ondersteun het. Dit is belangrik om te let op die patrone wat in hierdie konflik na vore getree het, want dit is telkens te sien wanneer die kerk met nuwe kennis gekonfronteer word.

In kerklike kringe het die “nee-manne” (die wat gedink het die Bybelse wêreldbeeld is korrek) die volgende strategieë gebruik:

  1. Hulle het gehamer op die Skrifgetuienis wat duidelik aangedui het dat die aarde stilstaan;
  2. Hulle het die wetenskaplike kennis probeer ontken. Cremonini, wat as een van die kerk se wetenskaplike eksperte opgetree het, het selfs geweier om deur Galilei se teleskoop te kyk omdat dit volgens hom slegs ’n truuk was. (Kyk die latere uitbeelding van hierdie situasie deur Jean-Leon Huens[2] hier langsaan).
  3. Die kerk het Galilei swartgesmeer: Hy is aan kettery skuldig bevind, sy boeke is verban en hy moes die res van sy lewe onder huisarres deurbring.

Nuwe konsensus: Uiteindelik het daar ’n nuwe konsensus binne kerklike geledere ontstaan. Dit het egter baie lank geduur. Die Rooms-Katolieke Kerk het byvoorbeeld eers in 1758 besluit dat boeke wat heliosentrisme voorstaan, nie meer op die lys van verbode boeke geplaas hoef te word nie. Ek wil veral ook die aandag vestig op die dinamiek in die totstandkoming van die nuwe konsensus:

  1. Die kerk het uiteindelik aanvaar dat heliosentrisme korrek is, selfs al bots dit ooglopend met die Bybel. Vir ons lyk dit miskien vandag na ’n vanselfsprekende en selfs na ’n maklike keuse, maar binne daardie tyd was dit ’n uiters moeilike keuse om te maak, want die kerk moes uiteindelik kies teen iets wat eksplisiet in die Bybel staan.
  2. Die rede vir die verandering in die kerklike standpunt hieroor was die feit dat die wetenskaplike kennis mettertyd as so oorweldigend beleef is, dat die kerk nie langer kon voortgaan om die Bybelse wêreldbeeld te verdedig nie. Dit is ook belangrik om raak te sien dat hierdie verandering nie plaasgevind het omdat die aanvanklike groep “nee-manne” van standpunt verander het nie. Inteendeel, hulle is waarskynlik almal graf toe met die absolute oortuiging dat heliosentrisme ’n dwaalleer is wat deur die Skrif verwerp word. Wat egter wel gebeur het, is dat hulle ’n geslag of twee later deur kerklike besluitnemers vervang is wie se sosiale leesplek sodanig verskuif het – juis as gevolg van die feit dat die nuwe wetenskaplike kennis gemaak het dat hulle sosiale leesplek skuif – dat hulle ’n ander keuse gemaak het.

Wanneer ons vandag op hierdie stuk kerkgeskiedenis terugkyk, sal daar min gelowiges wees wat probeer ontken dat die keuse wat uiteindelik in kerklik kringe oor hierdie saak gemaak is, onder leiding van die Heilige Gees plaasgevind het.

2. Verbied die Bybel slawerny?

Konsensus: Vir omtrent 1 700 jaar was daar konsensus in kerklike kringe dat die Bybel nie prinsipieel teen slawerny is nie: Christene mag slawe hê, solank die slawe net op ’n Christelike manier behandel word. Dié siening is gebaseer op die feit dat slawerny doodgewoon deel is van die Ou- en Nuwe-Testamentiese wêreld, dat Jesus Hom nooit teen slawerny uitspreek nie (Hy vertel selfs gelykenisse waarin die gedrag van goeie slawe geprys word), dat die Nuwe Testament voorskrifte aan slawe gee hoe om hulle te gedra en dat Paulus ’n wegloopslaaf in die Filemonbrief na sy eienaar terugstuur.

Nuwe konsensus: In filosofiese kringe het daar in die 1600’s en 1700’s nuwe idees begin kop uitsteek wat tot gevolg sou hê dat die openbare mening in die Westerse wêreld mettertyd teen die regverdiging van slawerny sou draai. So het die filosoof John Locke (1632-1704) byvoorbeeld geargumenteer dat elke mens die reg op lewe, vryheid en besittings het, en het die bekende Franse filosoof Jean Jacques Rousseau (1712-1778) betoog dat alle mense op gelyke voet die wêreld binnekom. Dink byvoorbeeld ook aan die bekende slagspreuk uit daardie tye: Vryheid, gelykheid en broederskap.

Konflik: Binne kerklike geledere het die vraag of slawerny prinsipieel afgewys moet word, geweldige konflik tot gevolg gehad. Dit het min of meer dieselfde patroon gevolg as wat ek uitgewys het in die geval van die vraag of heliosentrisme aanvaar moes word al dan nie.

Die “nee-manne” in kerklike kringe het drie strategieë gevolg:

  1. Hulle het gehamer op Skrifbewyse (soos hierbo genoem) wat as argumente gedien het dat die Here inderdaad slawerny goedkeur.
  2. Die “ja-manne” is swartgesmeer: Hulle het die gesag van God se Woord ontken en slawe-eienaars aangemoedig om teen die Bybel op te tree.
  3. Die nuwe (filosofiese) kennis is afgemaak: Dié vreemde idees het gekom van filosowe vir wie die Bybel nie belangrik was nie en gelowiges moes kies tussen hierdie vreemde goddelose idees en die Bybelse siening.

Die “ja-manne” in kerklike geledere het ’n ander strategie gevolg:

  1. Alle moontlike gegewens in die Bybel wat gebruik sou kon word om slawerny af te wys, is ingespan. Hulle het byvoorbeeld groot klem geplaas op die onderliggende teologiese lyne. In die geval van die Filemonbrief is byvoorbeeld geargumenteer dat wanneer die kerk Paulus se verwysing na Onesimus as “meer as ’n slaaf, ’n geliefde broer” ernstig sou opneem, dit uiteindelik die afskaffing van slawerny tot gevolg sou hê.
  2. Die “nee-manne” is as outyds en oningelig afgemaak, en as mense wat nie in tred met die ontwikkelinge in hulle eie tyd was nie.

Kyk byvoorbeeld na die volgende uittreksels[3] wat die tipe argumente illustreer wat binne die Amerikaanse konteks oor die Bybelse regverdiging van slawerny al dan nie, rondgeslinger is:

Moses Stuart:

What now have we here? Paul, sending back a Christian servant, who had run away, to his Christian master; and this even when Paul had such an estimation of the servant, that he much desired to keep him as a helper, while he himself was in bonds for the gospel’s sake. Yet he would not continue to do this; although it was so desirable to him. He enjoins it upon Onesimus to return to his master forever. This last phrase has reference to the fact that Paul supposed that the sense of Christian obligation, which was now entertained by Onesimus, would prevent him from ever repeating his offence. … Paul’s conscience, then, like his doctrines, was very different from that of the Abolitionists. Paul’s conscience sent back the fugitive slave; theirs encourages him to run away, and then protects him in the misdeed, yea justifies, applauds, glorifies him, as a noble, independent fellow. The conscience of Paul sends back the fugitive, without any obligation at all on the ground of compact; theirs encourages and protects his escape in the face of the most solemn national compact. And all this for conscience sake!

Albert Barnes:

The principles laid down in this epistle to Philemon, therefore, would lead to the universal abolition of slavery. If all those who are now slaves were to become Christians, and their masters were to treat them ‘not as slaves, but as brethren beloved,’ the period would not be far distant when slavery would cease.

John Henry Hopkins:

If it were a matter to be determined by my personal sympathies, tastes, or feelings, I should be as ready as any man to condemn the institution of slavery; for all my prejudices of education, habit, and social position stand entirely opposed to it. But as a Christian … I am compelled to submit my weak and erring intellect to the authority of the Almighty. For then only can I be safe in my conclusions, when I know that they are in accordance with the will of Him, before whose tribunal I must render a strict account in the last great day.

Vir ons gesprek is een opmerking belangrik: Daar was geen hoop dat die verskillende kante ’n konsensus sou kon bereik nie, want hulle het gedurig by mekaar verby gepraat omdat hulle sosiale leesplek verskil het. Wat vir Moses Stuart binne sy sosiale leesplek ’n deurslaggewende argument was, het duidelik nie vir Albert Barnes oortuig nie. Die twee partye het miskien gedink dat hulle oor die Bybel verskil, maar dit was net ’n deel van die waarheid. Eintlik het hulle al van mekaar verskil voordat hulle nog hoegenaamd die Bybel oopgemaak het. Die faktor wat nooit eksplisiet op die tafel gesit is nie, is die sosiale leesplek van waaruit die teks gelees is.

Nuwe konsensus: Wat slawerny betref, het daar in alle denominasies mettertyd ’n nuwe konsensus ontstaan en is daar geen denominasie in ons dag (so ver ek weet) wat slawerny uit die Bybel probeer legitimeer nie (al kan ’n mens ook logies gesproke ’n baie goeie argument daarvoor uitmaak). Wat hierdie saak betref, is daar dus uiteindelik in kerklike kringe ’n ander keuse gemaak as wat daar in die Bybel gemaak word. Hierdie konsensus het egter nie oornag verskyn nie en toe dit uiteindelik gemaak is, is dit ook nie eksplisiet uitgespel nie. Dit het ook nie gekom omdat die “nee-manne” van siening verander het nie. Inteendeel! Wat wel gebeur het, is dat die geledere van die besluitnemers aanvanklik deur die “nee-manne” oorheers is, maar hulle mettertyd vervang is deur “ja-manne” wat die Bybel vanuit ’n ander sosiale leesplek geïnterpreteer het. Hoe groter die groep mense geword het wie se sosiale leesplek geskuif het, hoe meer onaanvaarbaar het die regverdiging van slawerny op grond van Bybelse gegewens begin lyk.

Wanneer ons na die kerklike debatte oor slawerny kyk en die keuse wat uiteindelik in kerklike kringe gemaak is, sal daar – soos in die geval van die afwysing van die Bybelse wêreldbeeld – min gelowiges wees wat deesdae sou wou ontken dat die keuse wat gemaak is, onder die leiding van die Heilige Gees plaasgevind het.

Kom ons fokus nou op die gesprekke binne die NG Kerk oor mense wat gay is. Ek herinner julle net weer daaraan dat die bedoeling van hierdie uiteensetting deskriptief en nie preskriptief van aard is nie. Ek probeer die situasie verstaan in die lig van patrone wat ek in die loop van die kerkgeskiedenis oor soortgelyke sake geïdentifiseer het.

3. Mense wat gay is

Konsensus: Vir omtrent 1 700 – 1 800 jaar was daar konsensus in kerklike kringe dat mans nie seks met mans mag hê nie en dat vroue nie seks met vroue mag hê nie. Dié siening is gebaseer op die Bybelse siening van die huwelik (’n monogame verbintenis tussen een man en een vrou) en sekere tekste in die Ou en Nuwe Testament wat seks tussen mense van dieselfde geslag afwys.

Nuwe kennis: Soos in die vorige twee gevalle het daar egter in die afgelope 100 tot 150 jaar nuwe kennis van buite op die kerklike agenda gekom. So byvoorbeeld sien die begrip “homoseksualiteit” in 1869 die eerste keer die lig. Mettertyd het nuwe kennis vanuit die Sielkunde en die Sosiologie deel van die openbare gesprek begin word. Die strekking daarvan is aan ons almal bekend: Dat dit verkeerd is om gaywees te verskraal tot seksuele dade, soos heterosekualiteit het dit met ’n mens se hele menswees te doen; mense kies nie om gay te wees nie en kan meestal ook nie deur terapie “genees” word nie; gaywees mag nie meer as ’n afwyking geklassifiseer word nie; binêre denke oor seksualiteit is ’n oorvereenvoudiging van ’n baie komplekse werklikheid; ens.

Konflik: Ons almal is bewus van die geweldige konflik wat hierdie nuwe wetenskaplike kennis binne kerklike geledere tot gevolg het. Ek gaan nie nou in detail daarop in nie, maar wat ek wel wil uitwys is dat die strategieë wat deur die twee kante binne die kerk gebruik word, eintlik in wese nog maar dieselfde is:

Die “nee-manne” (kerklike besluitnemers in die N.G. Kerk is selfs in 2016 nog meestal manlik, en meestal bo 50 – soos ek) gebruik drie strategieë:

  1. Hulle hamer op die Bybeltekste wat seks tussen mense van dieselfde geslag afwys en maak baie van die Bybelse siening van die huwelik as ’n monogame verbintenis tussen een man en een vrou.
  2. Hulle ontken of onderspeel meestal die getuienis uit die Sielkunde en die Sosiologie dat mense wat gay is, dit nie uit eie keuse is en ook nie “genees” kan word nie. Dit is hoekom sommige briefskrywers in Kerkbode soveel klem plaas op die feit dat sommige mense wat gay was, wel “genees” is.
  3. Hulle smeer die “ja-manne” swart as “liberaal”, etiketteer hulle as mense wat Skrifgesag verwerp en/of teken hulle as slagoffers van New Age-denke, postmodernisme en relativisme. Hiermee saam kom dikwels ook ’n soort apokaliptiese denke waarvolgens die besluit oor mense wat gay is, die laaste loopgraaf vir Skrifgesag sou wees. As die N.G. Kerk nou verkeerd kies, is alles vir altyd verlore.

Die “ja-manne” (eweneens meestal manlike 50-plussers – soos ek) gebruik weer die volgende tipiese strategieë:

  1. Die Skrif-argumente van die “nee-manne” word weerlê deur argumente dat die tekste wat ter sprake is, nie handel oor mense wat gay is nie, of dat ’n mens eerder moet fokus op die dieper teologiese lyne as op enkele tekste. Min van hulle sal egter toegee dat dit in der waarheid neerkom – soos in die geval van die Bybelse wêreldbeeld of slawerny – op ’n ander keuse as die Bybel op grond van nuwe wetenskaplike inligting wat ons het en wat iemand soos Paulus byvoorbeeld nie gehad het nie.
  2. Hulle hamer op die wetenskaplike getuienis dat mense wat gay is, nie gekies het om gay te wees nie en gewoonlik ook nie van seksuele oriëntering kan verander of “genees” kan word nie.
  3. Hulle smeer die “nee-manne” swart as “homofobies”, “outyds” en mense wat ander mense se mense-regte misken, deur byvoorbeeld van mense wat gay is te verwag om lewenslank selibaat te wees.

’n Nuwe konsensus? Ons is ver, eintlik bitter ver, van ’n nuwe konsensus oor hierdie saak binne die N.G. Kerk. My indruk is dat die geledere van die besluitnemers (d.w.s. die mense wat stemreg op Sinodes het) nog grotendeels gevul word deur “nee-manne” en dat hulle tans besig is met vernuftige voetwerk (die hele sage rondom die appèlle) om weer beheer oor die besluitneming oor hierdie saak binne die N.G. Kerk te kry omdat hulle opreg glo dat hulle standpunt in ooreenstemming met die Bybel is en dat die ander standpunt dus ten alle koste uit die Kerk geweer moet word. In die lig van die voorafgaande wil ek egter waag om drie voorspellings te maak:

  1. Oor hierdie saak is die sosiale leesplek van N.G. Kerk-lidmate stadig maar seker aan die skuif. Mettertyd sal die wetenskaplike kennis van buite die kerk as so oorweldigend ervaar word dat die meerderheid van die besluitnemers se sosiale leesplek sal skuif. Soos in die vorige gevalle sal dit waarskynlik nie gebeur omdat huidige besluitnemers van standpunt gaan verander nie (daar mag wel hier en daar ’n uitsondering wees), maar omdat hulle met verloop van tyd op ’n natuurlike manier deur mense wat anders dink, vervang sal word. Met ander woorde, dit is nie detail eksegetiese argumente wat uiteindelik die deurslag gaan gee nie (net soos dit ook nie in die geval van die Bybelse wêreldbeeld en slawerny die geval was nie), maar doodgewoon die feit dat die meerderheid van die mense wat tot die geledere van die besluitnemers toegevoeg word, se sosiale leesplek geskuif het. Hierdie proses sal nie gekeer kan word nie; net soos wat die verandering nie gekeer kon word toe die kerk van standpunt verander het oor die Bybelse wêreldbeeld en slawerny nie.
  2. Die gesprekke wat in kerklike media en op sinodes gevoer word, lei uiteindelik nêrens heen nie. Inteendeel, al wat gebeur, is dat die loopgrawe dieper gegrawe word. Die rede hiervoor is een van die punte wat ek aan die begin van hierdie gesprek uitgelig het, naamlik dat ’n mens se sosiale leesplek bepaal watter Skrifargumente vir jou deurslaggewend is al dan nie. Die twee groepe stry dus met mekaar oor wat die Bybel sê, maar daar is geen moontlikheid dat hulle mekaar ooit sal oortuig nie, want dit wat deur die een groep as deurslaggewend beskou word, word deur die ander groep verwerp. Om een voorbeeld te gee: Die “nee-manne” argumenteer vanuit die veronderstelling dat gay wees as sodanig teen God se wil is, terwyl die “ja-manne” die teenoorgestelde vertrekpunt het, naamlik dat mense wat gay is, so deur God geskape is. Daar is dus geen moontlikheid dat die twee kante oor die implikasies van ’n teks soos Romeine 1 of oor die implikasies van die Bybelse siening van die huwelik, sal kan saamstem nie. Die enigste hoop wat ek het, is dat die vlakke van die konflik getemper sal kan word. As ons byvoorbeeld van beide kante af net ten minste minder gebruik sal maak van swartsmeertegnieke, het ons al gevorder. (Ek hoop dat hierdie gesprek ten minste hierdie uitkoms sal hê.)
  3. Oor 50 of 100 jaar van nou af sal ons gelowige agter-agter-kleinkinders waarskynlik met dieselfde meewarigheid kyk na ons meningsverskille oor wat die Bybel sê oor mense wat gay is, as waarmee ons kyk na die meningsverskille in Galilei se tyd of in die tyd toe baie in die kerk nog opreg geglo het ’n mens kan slawerny prinsipieel uit die Bybel regverdig. Hulle sal waarskynlik ook dink dat die feit dat die NG Kerk uiteindelik besluit het dat gay wees nie teen God se wil is nie en dat gay-huwelike binne die NG Kerk voltrek mag word, ’n besluit is wat van die leiding van die Heilige Gees getuig. Die kerkgeskiedenis is ongelukkig ook ’n harde meester: Wat die huidige meningsverskille binne ons Kerk betref, sal dit waarskynlik die “nee-manne” wees wat uiteindelik die slegste daarvan gaan afkom. Sal hulle uiteindelik beskou word as die Cremonini’s van 2016 wat geweier het om deur die teleskoop te kyk?

Voetnotas

[1] Met dankbare erkenning aan Me. Celia Roetz van die UV se Sentrum vir Onderrig en Leer wat die sketse gemaak het. Kopiereg op die eerste vier sketse: Universiteit van die Vrystaat.

[2] Verkry vanaf: https://s-media-cache-ak0.pinimg.com/736x/ca/25/85/ca25853842092ce64b0a027cc879f195.jpg

[3] Verkry vanaf: http://www.bulevoador.com.br/2015/03/astronomia-adesao-do-brasil-ao-eso/

[4] Die uittreksels kom uit die artikel van Robert Atkins, “Contextual Interpretation of the Letter to Philemon in the United States,” in Philemon in Perspective. Interpeting a Pauline Letter (reds. D. F. Tolmie and A. Friedl; BZNW 169; Berlin/New York: De Gruyter, 2010), pp. 205-22.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui