‘Ons glo nie in die Bybel nie, ons glo in God’

In die artikel hieronder vergelyk James Kirkpatrick die funksie van die Bybel met iemand se vinger wat na die maan (God) wys. Dus glo hy dat die Bybel se funksie slegs is om na God te wýs.

Dit is egter ’n swak vergelyking. Die vinger sê net mooi niks oor die maan nie, behalwe om daarna te wys. Die Bybel daarenteen, vertel vir ons wie God is, wat Hy doen (en gedoen het) en waarvan Hy hou en waarvan Hy nie hou nie. 2 Timoteus 3:16 som dit goed op: Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek

‘n Mens moet in berekening hou dat Kirkpatrick ’n liberale teoloog is:

  • Hy glo nie dat dit belangrik is om in Jesus se maagdelike geboorte te glo nie.
  • Hy glo nie in die duiwel as persoon nie.
  • Hy is pro homoseksualiteit

Dit is duidelik dat die rede vir die argument, “ons glo nie in die Bybel nie, maar in God”, ten doel het om te sê dat die Bybel nie letterlik opgeneem hoef te word nie solank ons daaruit neem dat dit na God verwys.

***********

‘Ons glo nie in die Bybel nie, ons glo in God’

11 Augustus 2017

Die skets wat dr James Kirkpatrick gebruik om oor die funksie van die Bybel te praat. Die Bybel wys heen na God, soos die vinger van die man in die teks wys na die maan. Soos dit in die skets nie oor die vinger gaan nie, maar oor die maan, so gaan dit eintlik oor God, en nie oor die Bybel self nie.

Soveel verskille in die kerk kan teruggevoer word na verskille oor die Bybel en die verstaan daarvan. Daarom het die Noordelike Sinode in samewerking met Excelsus drie konferensies oor die Bybel gehou. NEELS JACKSON het die konferensie in Brits bygewoon.

_________________

Daar word op verskillende maniere oor die Bybel gepraat, het dr James Kirkpatrick van die gemeente Stellastraat in Pretoria gesê. Soms word dit die “Woord van God” genoem, ander kere “God se Woord in mensetaal”, en soms “geïnspireerde mensewoorde oor God”.

Kirkpatrick, wat self gemaklik is om die Bybel die “Woord van God” te noem, sê met al hierdie formule­rings probeer die kerk eintlik twee dinge sê. Die een is dat die teks gesag het. Die ander is dat dit ’n eg menslike boek is, nie ’n orakelboek nie.

[Kommentaar: Kirkpatrick praat uit twee monde. Hy gee voor dat die Bybel gesag het, maar dit is NIE hoe hy die Bybel hanteer nie. Dit Bybel doen baie meer as net wys na God, maar Kirkpatrick het besluit om slegs daardie funksie van die Bybel te aanvaar vir sy lewe.]

Hy het egter gevra of die Bybel werklik ’n boek is. Eers in 1454, met die ontwikkeling van die boekdrukkuns, het die Bybel in boekvorm verskyn. Voor dit was daar ’n Bybel, maar nie in die vorm van ’n boek nie. En nou, met Bybels wat op selfone gelees kan word, is die Bybel steeds daar, al is dit nie langer ’n boek nie.

[Kommentaar: Wat sou die sin wees om te vra of die Bybel ’n boek is of nie. Natuurlik is dit ’n boek! Wat is die punt wat Kirkpatrick wil maak?]

Tog het dit in gereformeerde kringe vir baie ’n boek geword wat objektiewe waarhede bevat wat deur rasionele analise ont­dek kan word.

Dít, het Kirkpatrick aan die hand van ’n aanhaling van Ferdinand Deist gesê, het die onbedoelde gevolge gehad dat die gereformeerde tradisie ver­splin­ter het in ’n magdom ker­ke op grond van verskillende in­ter­pretasies van die teks.

Hy het ook verwys na Karl Barth wat gemaan het daarteen dat die Bybel los van die misterie van Jesus Christus en die Heilige Gees ’n gesag in homself kry en as ’t ware ’n papierpous word.

“Ons moet seker maak dit gaan nie vir ons oor die Bybel in plaas van oor God nie,” het Kirkpatrick gesê. “Ons glo nie in die Bybel nie, ons glo in God.”

[Kommentaar: O, dit is absoluut waar, maar ons moet ook seker maak dat ons die karakter van God erken soos dit in die Bybel opgeteken is.]

Hy het ’n skets vertoon van ’n man wat met sy vin­ger na die maan wys. So is die Bybel. Dit wys heen na God. En net soos die man in die skets wil hê dat jy na die maan kyk en nie na sy vinger nie, so word die aandag deur die Bybel op God geplaas en nie op die Bybel wat na God wys nie.

[Kommentaar: Daar is baie godsbeskouings in die wêreld en hulle is teenstrydig. Hoe gaan jy die karakter van God ken as jy die Bybel slegs gebruik om na God te wys?Jy kan nie God ken sonder die Bybel nie.]

Die Bybel verteenwoordig daarom ’n lewende tra­disie met die doel, in die woorde van artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, “om ons geloof daar­na te rig”.

[Kommentaar: Siende dat Kirkpatrick die Nederlandse geloofsbelydenis in die gesprek inbring: Artikel 2 vra hoe ons God ken. Die antwoord is dat dit op twee maniere is: (1) Deur die natuur, en (2) “Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.”]

Dit het Kirkpatrick gebring by die beeld van ’n dam teenoor ’n stroom.

Party mense sien die Bybel as ’n dam waarin ’n klomp waarhede vasgevang is. ’n Mens moet by wyse van spreke net jou geloofsvisstok vat, oor die eeue wat verby is ingooi in daardie dam in en ’n paar vissies in die vorm van tekste vang en dan het jy die waarheid.

Hy verkies die beeld van ’n stroom waarin jy nie tyd­lose waarhede nie, maar verdedigbare oortuigings kan vind. Dit werk so: Jy neem die tekste, jy interpre­teer dit en dan sê jy: “Ek dink dit is wat die Here se wil is.”

[Kommentaar: Dit is glad nie duidelik wat hy hier probeer sê nie, maar hier volg my kommentaar:

Die damvoorbeeld: Die Bybel ís soos ’n dam van waarhede. Kirkpatrick skep egter die indruk daarvan om Bybeltekste buite konteks te gebruik. Dit is natuurlik verkeerd om so met die Bybel om te gaan.

Die stroomvoorbeeld: Liberale teoloë gebruik hierdie metode om uit die Bybel te kry presies net wat hulle wil hê dit moet sê. Die probleem is: wat is tydlose waarhede en wat is verdedigbare oortuigings?]

Kirkpatrick het daarop gewys dat daar groot verskille is tussen hoe mense in Bybelse tye gedink het, en hoe mense vandag dink. Dit sluit in verskille oor hoe hulle die wêreld sien, hoe hulle oor mense dink, hoe die bose gesien word en hoe daar oor die ekonomie gedink word.

[Kommentaar: “Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie.” (Prediker 1:9). Afgodediens kom al van die begin van die wêreld en dit is vandag nogsteeds spring lewendig, net in ’n ander vorm (kyk Welkom by Bou-‘n-God).]

As ’n mens dié twee wêrelde in ag neem wanneer jy die teks interpreteer, ontstaan betekenis daar waar dié twee ontmoet.

In besprekingstyd het iemand gesê daar is soms die gevoel dat lidmate se sekerheid weggeneem word sonder dat daar vir hulle ander sekerheid gegee word.

Hierop het Kirkpatrick gesê die hele gedagte van sekerheid word bevraagteken. Sekerheid, het hy gesê, is ’n gefluit in die begraafplaas. Dit laat ’n mens in die steek en dit lei tot ontnugtering.

Pleks van sekerheid het hy gepleit vir geborgenheid. Dit beteken iemand se geloof bied vir hom of haar ’n veilige ruimte waar hulle kan ontspan. Binne die geborgenheid kan ’n mens vrae vra, jy kan twyfel en jy kan worstel.

Dr Andries Kritzinger van Orkney het aangesluit by Kirkpatrick en gesê die Bybel is nie ’n doen-dit-self-handleiding met al die antwoorde nie. Soms word dit omskep in ’n wetboek om alles te antwoord, terwyl dit eintlik weerbarstige vertellinge is van God wat verrassende dinge doen. Dit is vertellinge wat ’n mens meeneem en nuwe per­spek­tiewe oopmaak.

Hy het gesê die gesag van die Skrif is nie iets wat van die mens se kant af verklaar word nie. Dit is iets waardeur ge­lo­wi­ges oorrompel word wanneer hier­die verhale in hulle lewe in breek.

Dr Fanie Cronjé van die gemeente Riviera-Jakaranda het gesê die manier waarop die Bybel vandag in die etiek gebruik moet word, is om eerstens te pro­­beer verstaan hoe die norme in die teks in die destydse etiese situasie inpas.

Pleks van om dit dan direk so vandag toe te pas, doen ’n mens ’n dinamiese vergelyking van kontekste. Die gedagte is dat die Bybelse tekste dan her­be­nut word om nuwe rigting in veranderde omstandighede te bied.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui