{jcomments on}Johan Beyer van Moreletapark skryf die volgende in Ons hou van aan die bekende sekerhede in Beeld op 20 Augustus 2014:
Kyk ook: |
Die kritiek teen prof. Julian Müller se boek Geloof anderkant Sondag het betrekking.
Ek is baie trots om te sê dat ek ’n doktorale student van Julian Müller is. Hy het ’n unieke vermoë om met seergemaakte mense te identifiseer – mense wat meermale deur die kerk en sy “godsdienstigheid” geïgnoreer word of bloot op die periferie daarvan geskuif word. Die kerk moet sekerlik blind wees as hy nie nou al kan agterkom dat mense al hoe meer en meer tussen godsdiens en geloof onderskei nie. Godsdiens word as onderdrukkend (en neerdrukkend) ervaar.
’n Jong Hervormde predikant het my ’n ruk of wat gelede uit desperaatheid gevra hoe hy die jongmense weer in die kerk kan kry. Ek het sekere idees met hom bespreek, maar wanneer hy sulke dinge wel voorstel, word hy oor die vingers getik. Andersyds word sy voorstelle bloot begroet met sêgoed soos: “Dis teen die kerkorde.”
Op die oomblik neem hy nie meer deel aan kerkraadsvergaderings nie, want hy beleef dit as ’n mors van tyd.
Die teoloë by die teologiese fakulteit aan die Universiteit van Pretoria word reeds ’n geruime tyd as “liberaal” geteken. Julian Müller word gereeld as voorbeeld hiervan uitgelig. Sy kritiese ingesteldheid is onwelkom vir baie mense en teoloë.
Ek vind egter baat by so ’n siening. Die kerk se hantering van die Bybel en die inhoud van die belydenisskrifte kan tog seker nie onkrities hanteer word nie. Die breë gereformeerde tradisie se wekroep, semper reformanda (altyd weer hervorm), is sekerlik die moeilikste ding vir die kerk om te doen.
Ons sal liewer vashou aan die sekerhede van wat ons ken. In meer as 500 jaar is die Formuliere van Eenheid nog nie wesenlik hersien nie, so asof hulle kanoniek is.
Omdat ek gay is, het die kerk my gedwing om ’n geloof anderkant Sondag te vind. So ’n geloof bring lewensvervulling.
Hoewel ek betrokke is by ’n gemeente, vind ek dat bogenoemde geloof my op allerlei maniere in die teenwoordigheid van God bring.
Dan wonder ek of ek nog erg moet hê met ’n kerk wat nie van hul diskriminasie ontslae kan raak nie.