Kyk ook:
Geen kommentaar word gelewer nie. Lesers word aangemoedig om op die skakels binne die artikel te kliek vir meer inligting.
******
Ons moet Bybel met hedendaagse kennis lees | Netwerk24
Deur Jan Venter, Bloemfontein
21 Oktober 2021
Elmarie Dercksen skryf in Woord en perspektief (19.10): “Mense soek redes om te verskil, selfs in dieselfde Christelike groeperings . . . Ek glo in sagte woorde kies.”
Verder aan sê sy: “Ons is lede van dieselfde liggaam, skryf Paulus, stewig op die fondament van Jesus. Die geheel sal bloei en intuimel as ek kies om te verwond of afbreek.”
Dit is presies wat sal gebeur as die “skrifgeleerdes” sonder liefde aanhou twis, doleer en uiteindelik afstig. Die reeds sukkelende gemeentes gaan dit nie oorleef nie. Die kerke wat so lank ’n plek van samekoms en eenwording was, gaan in vreemde hande val.
Ek kan verstaan waarom Elmarie afsluit met: “Ek sal maar eerder konsentreer op die liefde en genade voordat ek deel raak van die gevegte . . .”
Soos Neels Jackson tereg in sy brief (15.10) daarop wys: Daar is al vroeër geherinterpreteer oor baie dinge.
Hy noem vroue wat hoede kerk toe moes dra, vroue wat die kansel verbied is en apartheid. Daar is talle ander voorbeelde.
Ons lewe in totaal ander omstandighede as 2 000, 3 000 jaar gelede, toe die aarde nog plat en hoekig was en vas op pilare gestaan het. En toe die skrywers van die Bybel totaal onkundig was oor vele dinge, onder meer oor die aard en oorsprong van homoseksualiteit – ten spyte daarvan dat die Bybel “die geïnspireerde Woord van God is.” (Ds. Pieter Prinsloo, 19.10.)
Ons moet besluit of die Bybel die Woord van God is of mensewoorde oor God.
Daar is talle wetenskaplike mistastings in die Bybel. Indien dit letterlik/woordeliks God se Woord was of selfs Sy Geïnspireerde Woord, sou daar nie sulke foute voorgekom het nie.
Die logiese gevolgtrekking is dus dat die Bybel mensewoorde is wat geskool is op die omstandighede en morele standaarde wat gegeld het in die tyd waarin dit geskryf is.
Daarom moet ons dit lees en interpreteer met inagneming van ons hedendaagse kennis.