Kyk ook:
|
Die volgende artikel het in Kerkbode verskyn en is waarskynlik geskryf na aanleiding van die afdanking van Kenny Pritchard in Maart 2019.
Soos die artikel hieronder sê, dit is uiters ironies dat die NG Kerk so ’n rigiede standpunt oor die doop het, maar oor homoseksualiteit, die bestaan van die duiwel en saamwoon is daar baie twyfel en verskillende standpunte in die NG Kerk.
**************
Ons moet doop: klein, groot, tussenin en herhaaldelik!
5 April 2019 | Floris Knouwds | Briewe
Dr Floris Knouwds skryf per e-pos:
Ai, die doop darem! Ons sukkel daarmee. Veral omdat ons dit vanuit tradisioneel-teologiese redenasies probeer regverdig en soos ’n steeks donkie weier om ons veronderstellings (veral die een oor nie-herhaling van verbondstekens) te bevraagteken.
Satan, die mens se sondigheid, die maagdelike geboorte van Christus en selfs sy opstanding uit die dood (wat ’n kernwaarheid in die evangelie is) mag maar openlik bevraagteken en ontken word. Sonder dat iemand jou eens daaroor aanspreek. Kom dit egter by die doop (wat eintlik maar net ’n randwaarheid is)… dan skielik is dit ’n moeilike saak waaroor jy uit die bediening gesmyt moet word. (Over gesegd synde: Die “ruim huis” van die kerk het plek vir persone wat Christus se opstanding ontken, maar nie vir iemand wat anders oor die doop dink nie!)
Die ergste is dat die verbond verkeerdelik aangehaal en gebruik word in die redenasies oor die doop. Die tekens van die verbond (besnydenis, doop, nagmaal) word gelyk gestel aan die verbond – terwyl dit glad nie die verbond is nie! Dis slegs tekens (heenwysers) en seëls (bevestiging) van die ander, groter werklikheid, naamlik God se verbond.
En dan die “ultimate” veronderstelling: God se belofte en verbintenis aan die mens (waaroor die verbond mos nou eintlik gaan) word deurkruis wanneer iemand hom/haar laat herdoop. Terwyl NIKS (gaan loer maar na die geskiedenis van Israel) sy verbond ooit kon deurkruis nie. Sy betroubaarheid geld dwarsdeur die Bybel as die drywer van die verbond – nie menslike gedrag nie.
Ek glo dat die kerk se standpunt oor die doop meer op tradisie (en gevegte met grootdopers) gebou is as op die Woord self. Ek glo ons moet doop: groot, klein, tussenin en herhaaldelik. Want die doop is NET ’n teken van ’n groter werklikheid. Presies soos met die nagmaal.
Sal ek ’n gravamen indien? Nee. Want ek weet dat dit nodeloos is om teen die redelose tradisies van die kerk beswaar aan te teken.
Florus Knouds jy het ’n punt beet as jy sê: “Die “ruim huis” van die kerk het plek vir persone wat Christus se opstanding ontken, maar nie vir iemand wat anders oor die doop dink nie!”
Jou argumentasie oor die doop hou egter nie water nie. Jy is blykbaar ’n voorstander van herhaalde doop en dan gebruik hy argumente oor die verbond wat glad nie opgaan nie en waaroor ek my nie nou gaan uitspreek nie.
Ek wil nou egter vertel van ’n bespreking by ons Bybelstudiegroep hierdie week wat bevestig dat die doop nie sommer ’n kerklike proseduretjie is wat “NET ’n teken van ’n groter werklikheid is” nie.
Een van die lede van ons groep was ’n onderwyser. Hy het in 1982 onderwys gegee vir ’n dogter van wie hy al vergeet het. Hierdie dogter is nou al ’n volwasse dame met kleinkinders. Noem haar maar Elsie.
Elsie ontmoet haar onderwyser na 4 dekades en sy vertel haar verhaal. Sy het swanger geword op skool en op aandrang van haar ouers moes sy met die man trou, alhoewel sy nie van hom gehou het nie. Sy het twee kinders by die man gehad wat sy gedoop het.
Elsie het by die okkulte/satanisme betrokke geraak. Een van die voorskrifte waaraan sy moes voldoen was om haar kinders te offer. Haar kinders het egter nie gekwalifiseer om geoffer te word nie omdat hulle gedoop is. Later het Elsie weer ’n kind gekry wat nie gedoop is nie. Daar is toe van haar verwag om die kind by ’n satanistiese ritueel te offer.
Hulle het vir haar ’n mes gegee waarmee sy haar kind se keel moes afsny. Met die mes in haar hand het sy gedink aan die woorde van haar onderwyser wat vir die klas gesê het hulle hoef nie vir die duiwel bang te wees nie. Op die ingewing van die oomblik het sy haar kind gegryp en met hom weg gehardloop.
Haar seun is vandag 32 jaar oud. Hy weet van alles en hy is ’n Christen. Elsie het nog die mes waarmee sy haar kind moes offer in haar besit.
Dalk kan ons by die duiwel gaan leer wat die krag van die bloed van Christus is. Onthou by die doop word die naam van die Drieënige God oor ons uitgeroep. Die sakramente is defnitief nie net ’n teken nie, maar ook soos die Kategismus sê ’n seël waardeur die belofte van die evangelie beseël word. Die belofte is dat God ons vanweë die enige offer van Christus, wat aan die kruis volbring is, vergewing van sondes en die ewige lewe uit genade skenk.
Dit is in kort Florus Knouds die leer waartoe jy jou in die kerk verbind het en wat jy nou sommer so ongeërg oor praat en verdag wil maak.
So sal die kerk bly sukkel met die doop. Omdat die kerk nie die Woord ken nie en ook nie die krag daarvan nie. Die kerk ken ook nie die ware Evangelie nie.
In kort. Die doop is ’n stap van gehoorsaamheid nadat jy tot bekering gekom het en sodoende na die wedergeboorte.