Kyk ook: |
‘n Leek bevraagteken Darwin
(Enigsins hersien)
Hierdie geskriffie is bedoel vir diegene wat soek na ’n bepaalde soort magteloosheid, ’n plek waarvan hulle met vrymoedigheid kan sê: “Hier staan ek, ek kan nie anders nie.” Dit is eerstens bedoel vir mense soos die skrywer self, wat nie gesaghebbend op die gebied van die biologie is nie, en wat dikwels wonder of hulle nie ’n monopolie oortree as hulle sonder lisensie waag om gevolgtrekkings in verband met diere en plante te bereik nie. My oortuiging is egter dat selfs die leek genoeg kennis het om tot belangrike gevolgtrekkings omtrent die Darwinisme te kom sonder om verskoning te vra. Dit is wel waar dat daar verskillende spesialisasiegebiede bestaan, en dat niemand op elke gebied ’n gesaghebbende kan wees nie. Maar daar is twee dinge wat in gedagte gehou moet word. Die eerste is dat die gebiede van die werklikheid nie heeltemal geïsoleerd van mekaar bestaan nie, en dat wat op die een gebeur, ’n invloed op die ander het. Iemand wat dit tereg besef het, is Prof. Richard Dawkins, na wie ons meermale sal verwys. Hy sê Darwin het dit moontlik gemaak om ’n vervulde ateïs te wees. Waarop dit neerkom, is dat wat op die gebied van die biologie aanvaar word, implikasies het vir die teologie en ander gebiede wat vir baie van groot belang is.
Tweedens moet besef word dat elke gebied ook gewoonlik groot gedeeltes bevat wat selfs deur leke verstaan kan word. Hierdie gedeeltes is nie noodwendig van minder belang as die meer obskure aspekte nie – trouens, dit kan die heel belangrikste dele wees, en dit mag ’n enorme verlies wees om nie daarmee erns te maak en te kyk waarheen dit lei nie. Net ’n paar van ons is byvoorbeeld medici, maar ons doen darem almal moeite om soveel gesondheidsreëls te ken en te onderhou dat ons nie elke maand in die hospitaal beland nie. Selfs vir diegene wat nie regsgeleerdes is nie, is dit baie belangrik om genoeg te weet van die wet sodat hulle nie agter tralies geplaas word nie. Dit is nie net ekonome wat moet weet hoe om hul geld te bestee nie. Afgesien van teoloë is daar miljoene wat erns maak met godsdiens – of met die verwerping daarvan. Net so weet elke mens darem ook iets van diere. Per slot van sake is hy, fisies gesproke, self een. Om van enige denkende persoon te verwag om gedweë en onderworpe uitsprake met verreikende konsekwensies te aanvaar sonder om met die mate van kennis van lewende organismes wat hy wel besit, daaroor na te dink, en homself sodoende aan die besluite van ander uit te lewer, is te veel gevra. Temeer nog aangesien daar ook gevorderde bioloë is wat nie met die meerderheid saamstem nie, en wat dikwels eers na jarelange navolging van Darwin tot ander insigte gekom het.
Maar die artikel is tog ook bedoel vir gesaghebbendes op die gebied van die biologie. As hulle foute daarin kan aandui, is dit hulle plig om dit te doen in dieselfde gesindheid waarin ek sal probeer om dit aan te bied. Die waarheid omtrent die werklikheid is belangriker as enigeen van ons se trots, en as ek dit nie besef nie, behoort ek nie hierdie taak te onderneem nie.
Ek wil graag ’n paar wenke aan die hand gee. Die eerste is dat u die artikel ook aan iemand anders, of ’n paar ander mense, leen met wie u dit kan bespreek. En die tweede is dat diegene wat nog nie voorheen veel met die Darwinisme te doen gekry het nie, dit meer as eenmaal sal lees. ’n Derde is dat niemand haastig sal wees om gevolgtrekkings te bereik nie. Oordink wat u lees, bespreek dit met ander, en neem u tyd om te besluit of die argumente oortuigend is. Soek ook nog ander voorbeelde wat verskillende beginsels illustreer. Die waarde van die inhoud sal daarvan afhang of dit die lesers sal help om self te dink. Aangesien ek nie uit ’n gesagsposisie praat nie, kan ek niemand met so ’n posisie beïndruk nie. Ek probeer om feite vir hulself te laat spreek, en dit is elkeen se taak om te besluit of hulle stemme hard en duidelik genoeg weerklink. Selfs waar ek mense se foute uitwys, sal ek my daarvan weerhou om oor hul persoonlike eienskappe en veral hul motiewe uitspraak te lewer. Dit is nie tersake nie, is in baie gevalle raaiwerk, en het dikwels ’n boemerangeffek. Die gaafste kêrel met motiewe soos fonteinwater kan nogtans soms groot foute maak met sy feite, en daar is geen waarborg dat ’n skobbejak nooit ’n oomblik van helder insig sal beleef nie. Dit gaan oor feite en die verband tussen feite, en die onderwerp is vir my moeilik genoeg, sonder om by die pro-blematiese ook nog die onnaspeurlike te voeg.
Aangesien duidelikheid van primêre belang is, is dit goed om reeds op hierdie stadium die onderwerp van ons gesprek af te baken, deur onder andere te verduidelik wat dit nie is nie. Die Darwinisme is ’n baie wye onderwerp met verskeie aspekte, en so ’n kort behandeling kan net daaraan raak. Alhoewel daar baie afdelings van die Darwinisme is waaroor ek nie sal waag om my uit te spreek nie, is ek wel oortuig dat wat beskryf word as die hart van die teorie vir leke toeganklik is en kortliks gestel kan word. En dan moet besluit word of die hart nie dalk ook ’n hakskeen is nie – soos dié van Achilles.
Darwin was nie die uitvinder van die evolusieteorie nie. Hierdie basiese gedagte, naamlik dat alle lewende wesens op een of ander manier oor ’n lang tydperk vanaf dieselfde oerwese ontwikkel het, het lank voor hom reeds in verskillende vorms voorgekom. Reeds die ou Griekse filosoof Anaximander het ’n teorie verkondig wat nogal heelwat ooreenkoms toon met die huidige gangbare gedagtes. Darwin se eie oupa, Erasmus Darwin, het ’n evolusieteorie gehuldig, en sy voorganger, Lamarck, het ’n uitlegging aangebied, maar hy het die evolusieproses op ’n ander manier probeer verklaar. En dan is daar teïstiese evolusioniste wat saamstem dat lewende vorms deur evolusie ontstaan het, maar wat verklaar dat dit deur ’n persoonlike Skepper so bestuur is. Hierby moet nog gevoeg word dat daar seker niemand is wat mikro-evolusie heeltemal ontken nie, dit wil sê verandering binne spesies of selfs groter groepe. Die mens is ’n goeie voorbeeld van hierdie beperkte vorm van evolusie. Die oorspronklike inwoners van Afrika lyk anders as die Sjinese, en die Skandinawiërs lyk nog weer anders. Selfs al sou ons nie weet hoe die oorspronlike mense gelyk het nie, weet ons in elk geval dat sommige groepe moes verander het. En dieselfde geld vir diere. Daar is verskillende soorte bere, verskillende lede van die katfamilie en dies meer. Die proses waardeur hierdie beperkte onderskeiding plaasgevind het, staan bekend as mikro-evolusie, in teenstelling tot makro-evolusie waarvolgens alle soorte diere oorspronklik uit dieselfde oerdiere ontstaan het. Die huidige bespreking gaan nie oor die vraag of evolusie ooit plaasgevind het, en hoeveel daarvan plaasgevind het nie. Ek ontken nie dat dit belangrik is nie, maar dit is net nie tans die onderwerp nie. Dit gaan oor Darwin se uitleg van gebeure. En al sou alles ook deur evolusie ontstaan het, beteken dit nog nie noodwendig dat dit volgens Darwin se teorie plaasgevind het nie. En al kan dit onomstootlik bewys word dat sommige lewensvorms volgens sy teorie tevoorskyn gekom het, beteken dit nie dat dit vir almal geld, soos hy beweer het nie.
Waarvoor Charles Darwin bekend is, is vir die meganisme wat hy voorgestel het wat die evolusieproses aandrywe, en wat hy beskryf het as die uitsluitlike meganisme. Hier is sy eie woorde: “If it could be demonstrated that any complex organ existed, which could not possibly have been formed by numerous, successive, slight modifications, my theory would absolutely break down.” Hy het hierdie geringe modifikasies ook beskrywe as “finely graduated steps, each of service to its possessor”. Onthou die woorde “slight” en “finely graduated”, en veral “each of service.” En hy kon ook gesê het “each of vital service,” want dit moes nie somaar enige bogterige klein diensie wees, byvoorbeeld een wat ’n dier effens meer gemaklik laat voel nie. Dit moes die verskil tussen lewe en dood maak, of minstens tussen ’n groot en ’n klein nageslag. En elke enkele stappie se diens moes dit doen, anders het dit geen rol gespeel in die proses nie. Darwin sê “each of service.” Hierdie meganisme is die hart van die Darwinisme, en dit hou verband met dit wat elke keer die grootte van die dier se nageslag bepaal, naamlik hulle interaksie met hul leefwêreld. En daarvan weet selfs ’n leek op die gebied van die biologie darem nie heeltemal niks nie; trouens genoeg om vrae te laat ontstaan.
Daar is ’n menigte boeke wat die Darwinisme verkondig, en baie wat dit weerlê. Dit is baie goed om aan beide kante te lees. Maar die leek ondervind spoedig ’n probleem, afgesien nog daarvan dat hy dikwels nie kan verstaan wat hy lees nie. Daar word feite aangehaal om verskillende standpunte te staaf. En dikwels word feite aangehaal om te bewys dat wat die ander as feite aangebied het, nie werklik feite is nie, of dat hulle onvolledig of buite die nodige verband gestel word. Die skrywers aan beide kante raak soms nogal geniepsig teenoor mekaar. Maar selfs as die leser verstaan wat hy lees, kan hy nie altyd kontroleer of die volle verhaal vertel word nie. Wat weet hy per slot van sake van fossiele aan die een kant en van chromosome en gene aan die ander kant? Hoe noodsaaklik sulke boeke ook mag wees, laat hulle by die leek dikwels ’n gevoel van onsekerheid, en die verlange dat daar tog een baie belangrike aspek van die aangeleentheid moet wees wat belangrik genoeg en tog so verstaanbaar moet wees dat dit vir hom betroubare insigte kan besorg. En dit is my oortuiging dat die hart van Darwin se teorie, naamlik sy meganisme, in hierdie behoefte voorsien. En dit is hieroor wat ons vandag gesels.
Darwin het probeer om die verlede van die lewende wesens te verklaar in die lig van gebeurtenisse en kragte waarmee ons vandag nog bekend is. Daar is ’n windmaker woord vir hierdie werkswyse, naamlik “ekstrapolasie,” met die werkwoord “ekstrapoleer.” John Maynard Smith sê: “It was Darwin’s role to explain organic evolution also in terms of contemporary processes.”Met ander woorde, Darwin het gewerk vanaf die gewone prosesse wat ons aldag waarneem en wat ons reken ons verstaan goed genoeg om afleidings daarvan te regverdig. Daarvandaan het hy dan geredeneer na die onbekende verlede, om vas te stel wat daar aangegaan het. Juis omdat Darwin eietydse prosesse as vertrekpunt geneem het, kan sy teorie ook in die lig van sulke prosesse beoordeel word. En, soos ek gesê het, verstout ek my om te glo selfs leke kan hieraan deelneem.
Die bekende proses waarvandaan Darwin geëkstrapoleer het, was uitsoekteelt. Ons kan hierdie metode ook noem “kunsmatige seleksie,” aangesien dit ’n wyse is waarop die mens ingryp in die natuurlike voortplantingsproses van ’n diersoort deur individuele diere uit te soek wat daaraan mag deelneem en die ander uit te skakel of te elimineer. Eliminasie is die hart van uitsoekteelt. (En natuurlik is daar dan ook selektiewe kweking van plante). Darwin was self ’n duiweteler en het ook veel geweet van die teling van ander diere. En hy het geëkstrapoleer deur te redeneer: “Net soos ek tewerk gaan om ’n besondere tipe duif te teel, so het die natuur tewerk gegaan om nuwe soorte diere voort te bring.” En onder die verskillende metodes wat gebruik word om nuwe verskeidenhede voort te bring, was uitsoekteelt die een wat vir hom belowend gelyk het as ’n wegspringplek vir sy ekstrapolasie.
Uitsoekteelt berus op variasie. Ons ken variasie baie goed by mense. Daar is langes en kortes, skrales en gesettes, slimmes en dommes, mooies en minder mooies. Nou gestel nou in ’n sekere land is dit ’n wet dat die langste mans net met die langste vrouens mag trou, en die kortstes met die kortstes. Wat dink u sou die gevolg wees? Ongetwyfeld sou ons later ’n klomp reuse aan die een kant en ’n klomp dwergies aan die ander kant kry, met die grootste menigte tussenin. Maar hoe groot en hoe klein die uiterste gevalle sal wees, weet mens nie. Dit kan natuurlik nie uitgetoets word nie, want oor hul romantiese verhoudings laat mense hulle nie voorskrywe nie. Maar variasie op vele gebiede is ook baie algemeen by diere en plante, en daar kan doelbewuste manipulasie makliker toegepas word. ’n Teler van diere of ’n kweker van plante het ’n teiken of doel of toekomsvisie in gedagte. En omdat lewende wesens in baie opsigte varieer, varieer hulle ook in die mate waarin hulle van nature in die rigting van sy teiken neig. Dan soek die teler of kweker diere of plante met ’n sterk aanvanklike neiging tot daardie doel, en hy strewe daarna om dit verder te laat neig en om dit tot meer lede van die spesie uit te brei. Veronderstel nou hy sou om een of ander uitspattige rede besluit ’n hond kan baat by ’n slurp soos dié van ’n olifant. “Wel, reken hy, ’n slurp is eintlik ’n besondere lang neus.” Maar net soos sommige mense groter neuse het as ander, so is daar ook honde wat van nature effens langer neuse het as ander. Hy soek dus die honde uit met die langste neuse, hou hulle apart en laat hulle onder mekaar teel, sonder dat dié met korter neuse by hulle toegelaat word. Nou kry hy honde waarvan die neuse nog effens langer is as dié van hul ouers, en weereens soek hy die langstes uit en elimineer die ander uit die teelproses. Hy stipuleer in sy testament dat sy nageslag slegs sal erf as hulle sy lewenstaak voortsit. Of dit in die praktyk gaan werk, weet ons nie, maar as dit wel die geval is, sal daar talle tussenvorms wees, met neuse wat al langer word. “Variasie,” “Aanvanklike neiging” en “eliminasie” is drie sleutelbegrippe. Uitsoekteelt het die potensiaal om ’n nageslag te skep wat hul ouers in een of ander opsig oortref. Hiervan was Darwin bewus. Toe vra hy ’n belangrike vraag: “Can the principle of selection, which we have seen is so potent in the hands of man, apply under nature?” En sy antwoord was: “Yes.” En daar begin die Darwinisme: by die gedagte dat uitsoekteelt ook in die natuur kan voorkom. En dit het hy genoem “natuurlike seleksie” in teenstelling tot die kunsmatige seleksie waarby die mens ’n rol speel. Maar in beginsel werk dit op dieselfde manier. “Natuurlike seleksie is ’n proses van elimnasie,” sê Ernst Mayr.
Maar volgens Darwin se teorie word daar glad nie in die natuur op teikens afgestuur nie. Hy sou sê dit is die een essensiële verskil tussen kunsmatige seleksie en natuurlike seleksie: geen doelstellings of teikens of toekomsvisioene nie, en geen voorkennis aan die begin van wat die einde gaan oplewer nie. Met ander woorde: geen beplanning nie. Nou wat laat dan die proses in ’n bepaalde rigting verloop? Waarom ontaard dit nie eenvoudig in ’n deurmekaarspul nie?
Die geheim lê daarin dat sekere eienskappe oorlewing bevorder. Elke toename in so ’n eienskap dien dus oorlewing deurdat dit per geleentheid die dier aan die lewe hou, terwyl dié waarin die eienskap swakker verteenwoordig word, uitgeskakel word of minstens ’n kleiner nageslag voortbring. Elke verandering vind plaas deur ’n bedreiging die hoof te bied. Sonder ’n bedreiging en ’n oplossing daarvoor, en dan natuurlik die eliminasie van dié wat geen oplossing vind nie, kan daar geen natuurlike seleksie wees nie.
Neem byvoorbeeld die kameelperd. Volgens die Darwiniste was die kameelperd baie eeue gelede maar omtrent so groot soos ’n ander blaarvreter, sê nou maar die koedoe. Daar was egter ook, net soos by die mens, variasie in lengte, selfs by dié wat uitgegroei was. Maar by die kameelperd het iets ’n rol gespeel wat by die mens afwesig was, en dit is eliminasie van die kortes. Mense word nie geëlimineer omdat hulle kort is nie, en die langes ondertrou met korteres, en so bly die gemiddelde lengte grotendeels dieselfde. Maar in die natuur kom droogtes voor, en dan word die kos te min, en terwyl die langstes nog die oorblywende boonste blare kan bykom, skop die korteres die emmer of word so swak dat hulle nie kan voortplant nie. Deur die kortes te elimineer het die droogtes die kameelperd al langer laat word tot wat hy vandag is. Lengte was die eienskap wat oorlewing gedien het deur die bedreiging in die vorm van droogtes te oorwin, terwyl die korteres geëlimineer is.
Die kameelperd het een unieke kenmerk wat oorlewing dien, maar sommige diere het ’n hele paar. Hier kom die verkleurmannetjie in die gedagte op. ’n Volkekundige het op ’n man afgekom wat een van hulle mishandel deur sand in sy bek te gooi, terwyl hy allerlei aanklagte teen hom voordra. Die feit dat hy van kleur verander, het hy gesê, bewys sy onbetroubaarheid. Hy mislei ook sy prooi deur sy tong van ’n afstand uit te skiet. Is dit nou nie die toppunt van lafhartigheid nie! Sy vermoë om met sy stert vas te klou beteken eintlik dat hy vyf pote het, en watter wellewende kreatuur het nou so ’n ongelyke getal? ’n Bedrieër en ’n boosaard is wat hy is! En om die kroon te span, kan jy nie sê in watter rigting sy oë kyk nie. (Terwyl die een noordwes kyk, kyk die ander suidoos.) Wat van die baie opvallende kenmerk dat hy so uiters stadig en rukkerig loop? Volgens ’n wydverspreide skeppingsverhaal in Afrika is dit deur die verkleurmannetjie se stadige pas dat die dood in die wêreld gekom het. Die skepper het hom gestuur om die boodskap van ewige lewe na die mens te bring. Maar die boodskapper het soveel tyd op pad verspeel dat die akkedis hom verbygesteek het met die boodskap dat die mens moet sterf. En die skuld hiervoor het die trapsuutjies nog nooit vereffen nie.
Darwin sou moontlik vir die man met die aanklagte gesê het: “Vriend, ek moet jou geluk wens dat jy so oplettend was en soveel unieke kenmerke raakgesien het. Maar waar jy die spoor byster raak, is wanneer jy alles as skelmstreke sien. So eenvoudig is dit nie. Kyk, elkeen van die kenmerke wat jy genoem het staan in diens van sy oorlewing. Die lang tong help hom om sy prooi te vang voordat hy raakgesien word, en so kry hy meer vlieë in sy maag. Die draaiende oë maak dit onnodig om die kop te veel te beweeg en sodoende aandag te trek en sy prooi te waarsku. Die stadige gang met die rukkerige bewegings soos ’n bewegende blaar laat sy prooi dink hy is maar net ’n blaar. Die kleurverandering is natuurlik ’n vorm van kamoeflering, wat vir enige jagter ’n aanwins is. En die klouende stert verleen stabiliteit. So dra al vyf by tot sy oorlewing. Oorlewing is die groot woord. Onthou dit.”
Dit is nou wat betref die verkleurmannetjie se vyf redelik unieke kenmerke. Maar al sy kenmerke is tog nie uniek nie. Daar is ook nog honderde kenmerke wat hy in gemeen het met ander reptiele, en selfs met alle ander werweldiere of met diere in die algemeen. Wat van hulle? Waar kom hulle vandaan? Ook elkeen van hulle, net soos die unieke kenmerke, sou Darwin sê, het oorspronklik hul verskyning gemaak deur oorlewing te dien. En ’n eienskap wat ’n dier aan die lewe hou, word natuurlik self daardeur van ’n plek verseker in die nageslag van daardie dier. So word die kenmerke wat oorlewing dien, ontwikkel en behou, en dié wat dit nie dien nie, word uitgeskakel.
Vir die mens is dit redelik eenvoudig om uitsoekteelt toe te pas, maar hoe sou die natuur dit kon doen? Hoe kan dit verseker dat sommige diere ’n groter nageslag verkry as ander? ’n Goeie vriend van my het dit in Engels as volg opgesom: “Fitness in the evolutionary sense is defined as relative reproductive efficiency, such that the fittest individuals are those which not only leave the most progeny, but progeny which will themselves survive and reproduce.” Dit beteken dat eliminasie nie heeltemal afhanklik is van die dood van ’n individuele dier wat nie die mas kan opkom nie. Dit kan ook funksioneer deur sy nageslag in een of ander manier te verminder – selfs deur te verhoed dat hulle gebore word.
Kom ons kyk eers na een van die minder gebruiklike metodes wat aan die natuur toegeskryf word, naamlik sogenaamde seksuele seleksie. Dit bestaan daarin om sekere individuele diere meer aantreklik te maak vir die teenoorgestelde geslag as ander. Dit word dikwels onder voëls aangetref, waar die helderkleurige mannetjies meer aantreklik is vir die wyfies as die ou vaaljapies. Dit maak natuurlik dat die mooiste mannetjies die grootste nageslag kry, en so word die daaropvolgende geslagte dan ook al aantrekliker. Maar selfs waar dit werk, moet daarop gelet word dat dit baie min eienskappe of liggaamsdele sou bevoordeel. As die verkryging van ’n nageslag bepaal word deur die aantreklikheid van die vere, dan is dit ook slegs die aantreklikheid van die vere wat as gevolg van hierdie seleksie kan evolueer. Die evolusie van die vele ander eienskappe en organe word nie daardeur beïnvloed nie. Vir hulle ontwikkeling is ’n eliminasieproses nodig wat ook hulle lot bepaal.
Nog ’n eliminasieproses wat veral van toepassing is op die instinkte van diere wat eiers lê, berus daarop dat sommige eiers en kleintjies beter beskerm word as ander. Teoreties sou insekte wat hul eiers lê waar die kos volop is, ’n beter kans op ’n talryke nageslag hê as dié wat hulle somaar op enige plek los waar die larwes van honger kan omkom; en dieselfde sou geld vir voëls wat stewige neste bou. Maar weereens sou baie min kenmerke van ’n dier hierdeur beïnvloed word, en dan hoofsaaklik die instinkte wat direk met voortplanting in verband staan.
Maar daar is nog die mees algemene eliminasieproses wat die natuur sou kon aanwend, en dit is die een wat ’n rol gespeel het in die teorie in verband met die kameelperd, naamlik die vroeë dood van die minder bedeeldes, voordat hulle ’n groot nageslag kan verwek. En hoewel daar min eienskappe is wat ’n rol kan speel in seksuele seleksie, en ook nie veel meer wat die lot van die weerlose kleintjies kan bepaal nie, is daar talle wat kan help bepaal watter diere in die stryd om oorlewing suksesvol sal wees. ’n Mens vind dan ook dat Darwiniste dikwels die klem op seleksie deur die dood lê, byna asof dit die enigste middel is wat die natuur kan gebruik. Darwin het gepraat van “one general law, leading to the advancement of all organic beings, namely, multiply, vary; let the strongest live and the weakest die.” Die dood is die enigste eliminasiefaktor wat hy hier noem. En hierby kon hy nog die woordjie “young” of “early” gevoeg het. Alle diere sterf uiteindelik, selfs die sterkstes. Maar wat natuurlike seleksie aandrywe is die vroeë dood van die swakkes, voordat hul kans gehad het om aan die voortplantingsproses deel te neem.
As Darwin praat van sterk en swak, moet dit nie gesien word as gespierd en minder gespierd nie. ’n Lang kameelperd wat oorlewe is byvoorbeeld nie noodwendig sterker as ’n kortere wat sterf nie. “Sterk” beteken in hierdie verband eintlik “goed toegerus vir die stryd om oorlewing,” min of meer soos ’n tingerige klein soldaatjie met ’n geweer in die oorlog as ‘t ware “sterker” is as ’n groot gespierde een met slegs ’n knopkierie. Later het die meer gepaste woord “fit”, wat vertaal kan word met “geskik,” die “strong” vervang. Hierdie vervanging van “sterk” met “geskik” was ’n aanwins, want dit het meer presies uitgedruk wat bedoel word. Maar hoewel die woord “strongest” ’n ongelukkige keuse mag wees, druk Darwin se woord “die” presies uit wat hy bedoel. Alhoewel die ander bogenoemde metodes sedertdien bekend geword het, is die dood die enigste eliminasiefaktor wat hy in sy “one general law” noem.
Daar is ’n lewendige beskrywing deur Prof. Richard Dawkins van wat in die vermeende evolusie van die oog sou gebeur, en weereens is die dood die enigste faktor wat hy noem. Hy sê as ons argumentshalwe aanvaar dat 1,000 stappies nodig was om die oog uit ’n kaal stuk vel voort te bring, dan beteken dit dat daar 1,000 afdraaiplekke langs die pad was. By elke punt van hierdie aard het sommige diere oorlewe deur toevallig die pad te kies wat na beter gesigsvermoë lei. Maar “die gebied langs die pad lê besaai met die dooie liggame van dié wat by elkeen van die 1,000 opeenvolgende keusepunte die verkeerde draai gemaak het.” Let wel: alhoewel die evolusie wat genoem word geskied ten behoewe van die oog, is dit nie dooie oë wat daar lê nie, maar wel dooie liggame. Natuurlike seleksie kan wel ’n deel van ’n dier laat ontwikkel, maar dit kan nie ’n deel van ’n dier doodmaak en die res laat lewe nie. As ’n dier se oog nie goed genoeg is nie, moet die hele liggaam daarvoor boet. En hierdie dood moet by elke stappie plaasvind, want as die ongeskiktes nie geëlimineer word nie, sal hulle maar net weer die nageslag terugtrek. En alhoewel dit nie noodwendig sou beteken dat al die ongeskiktes elke keer omkom nie, moet daar minstens so ’n aansienlike persentasie uitgeskakel word dat dit ’n uitwerking sou hê. Wat ’n bloedige slagting! En eintlik sou dit nog erger moes wees as wat Prof. Dawkins dit beskrywe, want die oog bestaan uit verskillende dele, en elke deel sou deur ’n slagting tydens elke klein modifikasie moes ontwikkel. Hier lê een byvoorbeeld dood omdat sy iris nie goed genoeg was nie, en daar lê ’n slagoffer van die horingvlies of die retina, en dies meer. Maar laat ons maar soos Prof. Dawkins die oog behandel as een geheel. Wat met die oog gebeur het, sou natuurlik ook waar wees van die oor en die neus en die longe en die lewer en die tande en die toonnaels en al die honderde ander organe wat deur natuurlike seleksie geword het wat hulle is. Elkeen sou by elke stappie van hul evolusie ’n groot aantal dooie diere langs die pad laat lê. Anders is daar geen evolusie nie. Dink weer aan Ernst Mayr se woorde: “Natuurlike seleksie is ’n proses van eliminasie.” Waar eliminasie afwesig is, is daar geen natuurlike seleksie nie, en dit geld by elke stappie. En gewoonlik vind eliminasie plaas deur die dood. Pasop vir die uitdrukking “net eenvoudig”, selfs al skuil dit net êrens in die gedagte. Geen enkele stappie vind “net eenvoudig” plaas nie: die prys vir elkeen is eliminasie, gewoonlik deur die dood. Die eerste vereiste vir natuurlike seleksie is dus variasie. Om weer vir Ernst Mayr aan te haal: “Die beskikbaarheid van variasie is die onontbeerlike voorvereiste vir evolusie.” En hierby kom die onontbeerlike bedreiging en die oorwinning daaroor deur sommige lede van ’n spesie en ’n nederlaag deur ander wat lei tot eliminasie.
Nou is daar ’n deurslaggewende vraag: Kon die eienskappe opeenvolgend ontwikkel het? Kon hulle as ‘t ware in ’n ry inval soos mense by ’n bank of ’n poskantoor wat elkeen wag vir die een voor hom om klaar te maak voordat hy met sy eie besigheid begin? Kon die longe byvoorbeeld geëvolueer het tot waar hulle vandag is, en toe eers het die eerste tekens van ’n lewer hul verskyning begin maak? Kon elke evoluerende eienskap of orgaan vir dié voor hom wag om volmaaktheid te bereik voordat hy self die eerste stappie op die evolusieleer waag? Helaas nie. Teoreties is dit moontlik dat sommige eienskappe later kon begin ontwikkel as ander. Maar hulle funksioneer nie onafhanklik van mekaar in hul dienslewering nie. Wat sou fris bene baat as daar geen oë was om te sien waar om te loop nie? Wat is die nut van uitstekende tande in ’n dier sonder ’n spysverteringstelsel? ’n Kragtige hart sou nutteloos wees in ’n liggaam sonder are en bloed. En so kan ons voortgaan. Daar moes ’n geweldige mate van gelyktydige ontwikkelinge gewees het, anders sou ’n stadium noodwendig bereik word waar ’n kwart van die organe so ontwikkel was soos hulle vandag is, terwyl daar van driekwart nog nie eens ’n teken was nie. En wat sou so ’n onklaar dier op aarde gedoen het? Die noodsaaklikheid van grootskaalse gelyktydige ontwikkeling van eienskappe en organe mag nooit uit die oog verloor word nie. Ons kan wel die ontwikkeling van ’n spesifieke eienskap uitsonder om spesiaal daaroor na te dink, maar as dit ons enigsins laat vergeet van die massa ander eienskappe wat gelyktydig sou moes ontwikkel, het ons die kluts kwytgeraak. Elke keer wanneer ons lees hoe een of ander eienskap geëvolueer het, moet ons onsself afvra of die skrywer enigsins laat blyk dat hy daarvan bewus is dat talle ander eienskappe terselfdertyd deur hierdie proses gegaan het. As hy nie daarvan bewus is nie, het hy ’n belangrike deel van die werklikheid uit die oog verloor.
Maar asof dit nie genoeg hoofbrekens besorg om uit te werk hoe fisiese eienskappe volgens hierdie teorie kon ontstaan het nie, word daarop aanspraak gemaak dat instinkte ook op dieselfde wyse hul opwagting gemaak het. ’n Instink is ’n soort innerlike drang om iets te doen wat lyk asof dit beplan is, maar wat nie op voorkennis en redenasie berus of uit die voorbeeld van andere aangeleer is nie.
As vinkeiers uit ’n nes geneem en in ’n groot hok onder ’n kanarie of in ’n broeimasjien uitgebroei word, word die kleintjies groot sonder dat hulle ooit ’n vinknes gesien het, en sonder dat hulle ooit uit waarneming geleer het dat paring moet plaasvind. Tog paar hulle met mekaar, want hulle ondervind ’n drang om dit te doen. Maar dit is nie die enigste drang wat hulle ondervind nie. Alhoewel hulle geen inligting ontvang het oor wat die gevolg van hul paring gaan wees nie, bou hulle betyds neste presies net soos dié van hul voorgeslagte, alhoewel hulle nog binne-in die eierdoppe was toe hulle uit die nes gehaal is en dus nog nooit een gesien het nie. En die wyfietjie gaan lê haar eiers daarin en broei op hulle. Wie het vir haar gesê om te broei? Instink is nie aangeleerde gedrag nie en ook nie beplande gedrag nie. Daar is talle eenvoudige instinkte, soos die kudde-instink wat maak dat diere van dieselfde spesie in groot getalle bymekaar bly. En ons ken die vluginstink wanneer gevaar dreig. By die miskruier is daar eerstens ’n drang om ’n netjies ronde balletjie uit mis te vorm, dan om dit weg te rol, derdens om dit te begrawe, en vierdens om eiers daarin te lê. Maar iemand wat instinkte in hul volle glorie wil sien, kan ’n by na sy nes volg en kyk wat daar aangaan. Asof dit nie genoeg is dat daar ’n magdom instinktiewe handelinge uitgevoer word nie, is daar ook nog werkverdeling onder die verskillende lede. Daar is stof tot nadenke.
Die Darwiniste verklaar die ontstaan van instinkte ook met natuurlike seleksie. Die diere by wie ’n voordelige instink teenwoordig was, het ’n groot nageslag gelaat, terwyl dié by wie dit afwesig of in geringer mate teenwoordig was, die onderspit gedelf het. Die diere met ’n onderontwikkelde vluginstink het byvoorbeeld te laat uitgevind dat dit beter is om bang Jan te wees as dooie Jan, en gevolglik het hul ook nie soveel kleintjies voortgebring soos dié wat beter vir hul veiligheid gesorg het nie. Die voëls wat swak neste gebou het, se kleintjies was onbeskermd en is uitgeskakel. Maar die kinders van dié wat gevlug het of sterk neste gebou het, het opgegroei om ook weer te vlug of sterk neste te bou. En om ook weereens kleintjies voort te bring wat betyds vlug of sterk neste bou. Dit raak natuurlik problematies in die geval van die by, waar dit die werkers is wat die nes bou en al die arbeid verrig, maar die koningin wat die eiers lê. Maar dit nou daar gelaat. Miskien wil u self daaroor nadink.
Daar kom egter nog iets by alles wat ons gesê het. Na Darwin se tyd is vasgestel dat daar naas normale variasies soos lengteverskille en dies meer, ook toevallige mutasies voorkom. So ’n mutasie word veroorsaak deur ’n fout wat binne-in die dier plaasvind. Dit mag inderdaad deur een of ander eksterne faktor veroorsaak word, soos chemikalieë, ligstrale of radio-aktiewe strale. Maar die tyd van verskyning en die aard daarvan word op geen wyse veroorsaak deur ’n behoefte wat bevredig moet word nie. As ’n sekere straal mag veroorsaak dat die oorbelle groter word, is dit nie omdat daar op daardie tydstip ’n behoefte aan groter oorbelle is nie. As ’n mutasie tot enige nut vir die dier is, is dit blote geluk. As die dier inderdaad baat by groter oorbelle, kan hy sy sterre dank, maar dit is blote toeval. Trouens, so ’n toevallige mutasie is gewoonlik nadelig van aard. Nou kan daar geredeneer word dat daar ook toevallig voordelige mutasies kon plaasgevind het, en dat natuurlike seleksie dit kon opgevolg het deur dit verder te laat evolueer. Maar aangesien mutasies toevallig plaasvind, sou dit beteken dat die toeval op groot skaal ingeroep word om die wa deur die drif te trek, en hoe meer dit gedoen word, hoe minder kan daar rasionele verklarings aangebied word. Sodra iets onverklaarbaar is, kan gesê word: “Siedaar, dit was ’n mutasie.” Maar dit sou neerkom op ’n verwerping van die Darwinisme. Darwin was oortuig dat natuurlike seleksie alleen ’n basis vir evolusie kon bied. As die toeval in die vorm van mutasies ingeroep moet word om uit te help waar normale variasie ontoereikend is, kom dit neer op ’n verwerping van sy teorie.
Nou watter probleme is daar met Darwin? Soos ek reeds gesê het, gaan dit in hierdie bespreking nie oor evolusie in die algemeen nie. Maar minstens vyf vrae dui op probleme met Darwin se teorie dat evolusie deur natuurlike seleksie die uitsluitlike proses was wat vir die ontstaan van alle belangrike kenmerke van alle lewende wesens verantwoordelik was. Ek sou sê een van hierdie vrae maak dit vir my uiters moeilik om sy teorie te aanvaar, en vier maak dit heeltemal onmoontlik. Dink daaroor na, bespreek dit met vriende, kyk of daar meer voorbeelde van elke probleem bestaan, en besluit self of ek rede het om sy teorie te verwerp.
Probleem 1: Is die dienslewering voldoende?
Darwin het gepraat van opeenvolgende stappies wat elkeen diens lewer in die evolusieproses, en hy het hulle beskryf as “finely graduated.” Met elke stappie word iets toegevoeg tot een of ander eienskap wat individuele diere beter laat oorleef as ander van dieselfde spesie waar so ’n toevoeging nie plaasgevind het nie. Prof. Richard Dawkins sê as iemand sukkel om te aanvaar dat die hele evolusieproses uit sulke stappies bestaan het, kan hy sy geloof so ’n hupstootjie gee deur hulle baie klein voor te stel. “However improbable a large-scale change may be, smaller changes are less improbable,” verduidelik hy. “And provided we postulate a sufficiently large series of sufficiently graded intermediaries, we shall be able to derive anything from anything else, without invoking astronomical improbabilities.” As die geloof nie wil kom nie, stel net die stappies kleiner voor, en enigiets sal van enigiets anders afgelei kan word. Nou hy het ongetwyfeld ’n punt beet, maar daar is ook ’n punt wat hy mis. Die geldige punt is dat dit inderdaad makliker is om jou voor te stel dat ’n klein stappie plaasgevind het as ’n grote. Maar aan die ander kant is dit weer veel moeiliker om te glo dat ’n kleintjie ’n merkwaardige uitwerking sou gehad het. Ek kan my moontlik makliker voorstel dat ’n kameelperd se nek een millimeter per stappie langer geword het as tien sentimeters. Maar aan die ander kant is dit vir my baie moeiliker om te aanvaar dat die bykomende millimeter ’n noemenswaardige verskil sou gemaak het aan die getal dooie kameelperde, as die langer toevoeging. Samevattend kan ons sê die opeenvolgende stappies moet elkeen aansienlike diens lewer deur ’n dreiging te oorwin wat die agtergeblewe diere elimineer.Wat ookal hierdeur verkry is, moet oorerflik wees en uiteindelik na die hele spesie uitbrei. Met ander woorde, hoe kleiner die stappie, hoe makliker om te glo dat dit plaasgevind het, maar hoe moeiliker om te glo dat dit so ’n belangrike rol gespeel het. Maar as u reken dat dit ’n bietjie vaag is, kan ons voortgaan na die onmoontlikhede.
Probleem 2. Waar is die versoener?
Naby my huis is daar ’n bedrywige hospitaal, en redelik naby die ingang is daar elektriese versoeners waarsonder die hospitaal ongetwyfeld nog veel bedrywiger sou gewees het. Met hul groen, rooi en geel ligte versoen hulle die belange van die motoriste wat mekaar bedreig. Maar watter behoefte het die Darwinisme aan versoening? Wat moet dan in natuurlike seleksie met mekaar versoen word? Is daar ook gevaar van botsings?
Hierdie vraag het te doen met die geweldige aantaleienskappe wat noodgedwonge gelyktydig deur die evolusieproses sou moes gaan, byna soos die spitsverkeer in ’n stad. En wat versoen moet word, is die belange van die verskillende evoluerende eienskappe van al die liggaamsdele. Hierdie versoening van belange verdien besondere aandag, aangesien dit selde genoem word, hoewel dit reeds in Darwin se tyd opgemerk is.
Gestel nou iemand kom van ’n land waar daar geen verkeersligte is nie. Maar in hierdie man se land is daar ook bloedmin voertuie, en hy is net gewoond daaraan om vet te gee en min of meer te ry soos hy wil. As hy in ’n ander land deur ’n stad wil bestuur, en niemand het hom nog gesê wat die verkeersligte beteken nie, watter kans het hy om behoue anderkant uit te kom? Meer nog: gestel ’n bende kwaaddoeners kan die verkeersligte in die middestad so verander dat hulle almal permanent in alle rigtings groen wys en elke motoris dink die pad is oop vir hom. Daar is nie veel verbeeldingskrag nodig om die gevolg vas te stel nie. Maar wat het dit met die Darwinisme te doen?
Terwyl die oog, volgens Prof. Dawkins se beskrywing, met sy slagting besig was, sonder om hom te steur aan wat vir die evolusie van die ander organe nodig was, waarmee het die oor hom onledig gehou? Hy kon maar net dieselfde gedoen het. Hy sou ook moes evolueer deur dooie diere langs die pad te strooi. En die lewer? En die niere? En die tande en die tong en die toonnaels? En die wenkbroue en al die ander honderde organe wat moes ontwikkel? Het elkeen nie sy eie evolusie ondergaan en dus sy eie slagting uitgevoer nie? En aangesien hulle nie een-vir-een op ’n ry kon ontwikkel nie, moes hulle die slagtings grotendeels gelyktydig uitvoer. Elke dier wat aan die evolusieproses deelneem, kies – soos Prof. Dawkins dit beskrywe — by elke afdraaiplek ’n pad òf na verdere ontwikkeling òf na uitskakeling. En as ’n mens vandag kyk na die asemrowende massa lewende wesens wat elkeen op sy unieke wyse binne die geheel funksioneer tot sy eie voordeel, dan besef ’n mens hoeveel van hierdie verdere ontwikkelinge nodig sou gewees het om hulle te bring waar hulle is. Hoeveel ontwikkelinge – maar dan ook hoeveel onvermydelike eliminasies.
Maar nou kom ons te staan voor ’n verskynsel wat ons kan noem “die lukraak verspreiding van geskikthede.” Dit mag formidabel klink, maar dit kan eenvoudig verduidelik word. Ons het gesien dat die woord “geskik” (“fit”) ’n verbetering was op “sterk” in Darwin se formule. Maar dit het ook ’n nuwe probleem uitgelig. As ek sê: “So-en-so is baie sterk,” vra niemand “Sterk waarvoor?” nie. Maar as ek sê: “Hy is geskik.” is dit heel natuurlik dat iemand sal wil weet: “Geskik waarvoor?” Hy mag geskik wees as ’n motorbestuurder of om ’n lekkende kraan reg te maak, terwyl hy terselfdertyd heeltemal ongeskik is as weervoorspeller of ’n akrobaat in ’n sirkus. Daar is nie so iets soos algemene geskiktheid nie. Dit is ’n welbekende verskynsel onder mense dat diegene wat in sekere opsigte uitstaande is, weer in ander opsigte ver onder die gemiddeld val. Die vinnigste atlete is nie noodwendig die beste pianiste nie, en selfs ’n uitstaande orrelis het aan my erken dat hy nie kan sing nie. ’n Leerling wat besonder goed is in Latyn mag sukkel met wiskunde. Einstein was disleksies. Ek het eenkeer gesien dat ’n jong seun huil omdat hy uit die koor gelaat word wat deur die onderwyseres afgerig word. Ek reken die rede waarom dit hom so gegrief het, is dat hy die een was wat eerste in die klas gestaan het, en dat dit vir hom ’n skok was dat intelligensie en ’n sangtalent nie noodwendig met mekaar gepaard gaan nie. En die lukraak verspreiding van geskikthede kom ook by diere voor.
Soos ons gesien het, is daar in elke dier talle eienskappe en organe wat, volgens Darwin, elkeen moes ontstaan het omdat dit sy eienaar op een of ander manier meer geskik gemaak het om ’n dreiging te oorwin. En elkeen van hierdie eienskappe is by die een dier sterker teenwoordig as by ’n ander. Al die lede van die spesie is nie ewe groot nie, almal is nie ewe sterk nie, almal kan nie ewe vinnig hardloop of fyn ruik of hoor nie. Die een se oë is skerper as dié van ’n ander. En so meer.
Maar hierdie geskikthede is onafhanklik van mekaar of ongeskakeld of lukraak versprei. Die eienskappe wat varieer is in sekere gevalle aan mekaar gekoppel, byvoorbeeld as die een van die ander afhanklik is. (Spoed mag gepaard gaan met beenlengte, en dies meer.) Maar die groot massa eienskappe is lukraak versprei. En alhoewel dit vanselfsprekend mag lyk, moet daarop gelet word hoe belangrik dit is om dit in gedagte te hou, en hoe dikwels dit buite rekening gelaat word. Toe Darwin gesê het die sterkstes moet oorlewe en die swakstes uitsterf, het hy seker nie daaraan gedink dat elke sterke vir alle praktiese doeleindes ook weer op ander gebiede ’n swakke is nie.
Ek het al dikwels gelees dat ’n Darwinis probeer verduidelik hoe ’n sekere eienskap of orgaan deur natuurlike seleksie geëvolueer het. Wat ek nog nooit teëgekom het nie, is dat die skrywer dan ook aandag gee aan die talle ander eienskappe wat gelyktydig hul verskyning gemaak het. Waarom herinner dit my dan aan motoriste wat deur die stad probeer ry en nie weet waarvoor die verkeersligte daar is nie? Maar wat beteken dit dan in die praktyk? Vir alle praktiese doeleindes beteken dit dat elke individuele dier wat op grond van een uitstaande kenmerk geskik is om in die evolusieproses te oorlewe, weer op grond van ander evoluerende eienskappe ongeskik is en uitgeskakel sal word. En so sal elkeen ’n beurt kry om geëlimineer te word. En wie gesterf het in belang van een eienskap, kan nie weer opstaan om te kom help met die ontwikkeling van ’n ander een nie. Almal sal langs die pad gestrooi lê.
Probleem 3. Waar is die vroeë diens?
‘n Boer het verskillende diere op sy plaas wat take verrig. Maar hy het ook ’n toekomsvisie, en daarom hou hy onvolwasse diertjies aan die lewe met die oog op diens wat hulle eendag sal lewer. “Hierdie vulletjie gaan nog die ploeg trek,” sê hy, “en hierdie kalfie gaan emmers vol melk gee. En hierdie katjie, wat jy dink is net hier om die kinders te vermaak, gaan dit vir die rotte warm maak.” Nou kan iemand moontlik vra of hierdie soort beskerming met die oog op die toekoms, wat gedurende sommige diere se lewensloop geld, dan nie ook gedurende die evolusieproses kan geld nie. Kan die natuur as ‘t ware sê: “Gee hierdie nuttelose knoppie of groeiseltjie ’n kans, dit sal nog eendag ’n nuttige orgaan word”? Ongelukkig nie. Darwin sê elke stappie in die evolusieproses moet tot diens van sy eienaar wees. En ’n stappie lewer altyd sy diens voor die volgende stappie. En dit sluit die vroeë stappies in. Elke stappie, van die eerste tot die laaste, lewer diens deur voor die volgende stappie ’n verskil tussen lewe en dood te maak of op ’n ander wyse ’n talryke nageslag te verseker. Hierdie diens is die dryfkrag waarsonder die evolusieproses tot stilstand sou kom. En dit bestaan uit die eliminasie van die ongewensdes, gewoonlik deur die dood. In hierdie verband mag die belangrike woordjie “each” nooit uit die oog verloor word nie. En ongelukkig vir Darwin se teorie is daar talle voorbeelde van stadiums wanneer ’n bykomende stap geen voordeel sou bied nie. Hierdie deurslaggewende situasie is veral opvallend reg aan die begin van die vermeende evolusie van ’n bepaalde eienskap, voordat die kritiese punt bereik is waar diens ’n aanvang kan neem.
Dit geld nie vir alle vermeende ontwikkelinge nie. ’n Addisionele lengtetjie kon byvoorbeeld die kameelperd net soveel gehelp het aan die begin van die verlenging van sy nek en bene soos aan die einde. Maar in baie gevalle moet daar eers ’n kritiese punt bereik word voordat ’n ontwikkeling van enige waarde sou wees.
Kom ons kyk na ’n paar baie eenvoudige voorbeelde. Volgens Prof. Dawkins het die oog ontwikkel uit ’n ligsensitiewe kol. Ons sal na hierdie kol terugkom, want dit laat baie vrae ontstaan. Op die oomblik kan ons net wonder wat die eerste kol van hierdie aard sy eienaar sou baat. Tot watter diens sou dit wees waarsonder dit nie verder sou evolueer nie? Waarom sou die eerste gekoldes beter oorleef as die ongekoldes? Moontlik sou dit ’n krieweling veroorsaak as lig daarop val, of ’n kielierigheid of ’n jeuking, moontlik selfs ’n ligte pyn. En wat dan? Hoe sou die oerkreatuurtjie met die eerste ligsensitiewe kol weet of dit enigiets beteken, en of dit dui op die nabyheid van gevaar of van kos, en wat om daaromtrent te doen? As die uitwerking van lig irriterend was, mag dit moontlik daartoe gelei het dat hy donker plekke verkies het of die kol weggedraai het van die lig. Maar watter beveiliging of kosvoorsiening sou dit bied? Waarom sou daar in die donker plekke meer kos of minder vyande wees, aangesien niks anders nog ligsensitiewe kolle gehad het om tussen lig en donker te onderskei nie? Want as die kol nie reeds aan die begin tot handeling kon lei wat ’n onderskeid tussen lewe en dood maak nie, kon dit nie reeds vanaf die begin ’n rol speel in natuurlike seleksie nie. Dit sou nog eers ’n kritiese punt moes bereik waar dit wel kon diens lewer.
Maar kom ons kyk na iets wat nie eintlik deel van die oog is nie, maar wat eng daarmee verbonde is, naamlik die ooglid.
‘n Vriend van my het ’n soort verlamming in sy gesig gehad wat dit onmoontlik gemaak het om sy een oog te knip. Hy moes met ’n nat lappie rondloop om die oog klam te hou en so die saak te beredder. Iemand wat wil weet waarom dit nodig was, kan uitvind deur te probeer om ’n ruk lank op te hou om die oë te knip, of deur hulle net halfpad te knip – dit sou dieselfde uitwerking hê. Tog het die vis geen ooglid nie. Onder water het hy dit nie nodig nie, en as hy daaruit gehaal word, het hy gewigtiger stof tot nadenke as brandende oogappels. As ons van die vis afstam, moes ons dus êrens langs die pad die ooglid ontwikkel het, en volgens die Darwiniste moes dit in klein stappies geskied het, met slagoffers langs die pad gestrooi. Maar hoe het die eerste klein stappies in die ontwikkeling ’n lewensbelangrike verskil gemaak? Toe 90% van die oogappel nog onbedek was, hoeveel beter was dit as om geen ooglid te hê nie? En toe nog 25% oop was? Probeer gerus vasstel hoe dit sou gewees het deur ’n ruk lank net die oë gedeeltelik toe te knip. Met ander woorde, tot watter nut was al die baie stappies buiten die laaste paar wat die oog heeltemal kon sluit? Eers aan die einde sou die kritiese punt bereik word.
Die seekoei het die besondere vermoë om sy neusgate en selfs sy ore onder water toe te maak. Maar hoeveel water het hulle uitgehou toe hulle net halfpad of driekwart kon sluit? En as die afsluitingsapparaat toe tot absoluut geen nut was nie, hoe het dit ontstaan, en hoe het dit verder ontwikkel?
Vir die meeste diere is dit redelik maklik om water te drink. Maar die kameelperd se proporsies mag dit vir hom nodig maak om heelwat voetwerk te doen. In die Etosha Wildtuin het ek twee kameelperde afgeneem wat water drink. Die eerste het sy bene reguit gehou en wyd uitgesprei. Ons kan dit noem die “wydsbeenmetode.” Die ander een het al wat na ’n knie lyk gebuig, en dit kan ons noem die “knakbeenmetode.” Dit word moontlik gemaak deur die gewrigte in sy bene. Dit vestig ons aandag op die belangrikheid van die gewrigte. Kyk nog ’n slag na die vis, want daar is nog iets wat ons het en hy nie. ’n Vis het geen knie of elmboog in sy vin nie. Vir elke elmboog of knie of kneukel of ander gewrig om te kon ontstaan, moes ’n rigiede been op ’n sekere punt verdeel. Om te verdeel moes dit op daardie plek swakker word, byvoorbeeld deur daar waar die gewrig dit vandag dikker maak, eers dunner te word as die res van die been. Maar as dit in klein stappies moes plaasvind, sou die proses geslagte lank geen voordeel bied nie, aangesien die been nog steeds nie kon buig nie. Oor ’n lang tydperk sou elke gewrig niks meer gewees het as ’n swakker wordende plek in die been nie. En watter lewensbelangrike voordeel het ’n swak been bo ’n sterke? En nou praat ons nog nie eens van die probleem van die skarnier wat stapsgewys bygevoeg moes word nie! Dit laat die kop duisel.
Die olifant kan iets vasvat deur dit tussen die boonste en onderste dele van sy snoet vas te knyp. (Alhoewel hy ook gras kan pluk deur die voorste gedeelte van die slurp daarom te draai.) Maar hoe het dit die grypende neuspunt verkry? Die boonste en onderste gedeeltes moes die vermoë ont-wikkel om na mekaar toe te buig. Maar toe hulle begin het om die vermoë te ontwikkel, kon hulle nog absoluut niks tussen hulle vasvat nie. ’n Kritiese punt waar hulle iets nuttigs kon vasvat moes eers bereik word voordat natuurlike seleksie kon oorneem. Wat het hulle tot by daardie punt gebring?
Ook die lengte van die slurp bied dieselfde probleem. Dit kon eers na ’n kritiese punt baat by verlenging. Die slurp moet kan dubbel buig vir kos — en dit moet dubbel buig vir water. Voordat dit die kritiese stadium bereik het waar dit moontlik was, tot watter voordeel was die lengte?
Of dink aan die bekerplant wat insekte vang. As dit ontstaan het uit ’n blaar wat stadigaan in ’n beker verander het, hoeveel insekte sou dit dan gevang het toe dit nog niks meer as ’n klein duikie was nie? Watter diens het dié vroeë stappie gelewer? Sou die vlieë dit nie uitgelag het nie?
Die Venus vlieëvanger vang sy prooi deur in ’n kits dubbel te vou. Wat kon dit vang toe dit net gedeeltelik en baie stadig kon buig? Weereens hoor ek vlieë lag.
Op die internet het ek ’n verklaring gevind van die beginstadiums van die evolusie van vere. Nou lees ek dat daar nog nooit ’n fossiel gevind is met half-geëvolueerde vere nie. Dit sou interessant wees om te weet of dit korrek is, maar eintlik is dit nie vir ons nodig om te weet nie, want vandag praat ons nie oor fossiele nie. Wat ons egter wel kan vra, en wat geeneen van die skrywers beantwoord nie, is watter lewensbelangrike voordeel die aanvanklike stappies in so ’n ontwikkeling gebied het wat die gelukkige diere bevoordeel en die omgewing bestrooi het met die lyke van die agtergeblewenes.
Hierdie probleem is reeds vroeg opgemerk. Reeds in Darwin se tyd het die paleontoloog G.J.Mivart gevra: “What would be the utility of the first rudimentary beginnings of such structures?” Darwin het egter nie gereken dit is ’n onoorkomelike probleem nie. Heel onlangs stelProf.E.C.Olson dit so: “Een soort raaisel wat dikwels studente van evolusie gepla het, hou verband met strukture wat duidelike funksies vervul wanneer hulle eers heeltemal gevorm is, maar wat oënskynlik geen nut het gedurende die formasie en integrasie van hulle dele nie.” Hy noem dit spesifiek in verband met die ontstaan van vlerke. In die geval van insekte erken hy byvoorbeeld dat daar haas geen inligting bestaan oor die geskiedenis van hul vermoë om te vlieg nie. Dit wil voorkom asof daar in een of ander voorvaderlike tipe flappe of voue agter die kop ontstaan het, waarvan twee pare dan in vlerke ontwikkel het. “Daar mag vermoed word,” sê hy verder, “dat, toe hulle ontstaan het, hierdie voue ’n ander funksie vervul het, maar wat dit kon gewees het is nog nie eens geraai nie.” Maar is daar enige ander dier waarby sulke voue ’n lewensbelangrike rol speel?
Ek wil aanvaar dat nog talle sulke voorbeelde gevind kan word van organe wat in hul vroeë stadiums geen diens kon lewer nie, veral deur iemand wat met die inwendige organe vertroud is. Dit mag die moeite loon om rond te kyk en te soek. Hier is ’n wenk: wonder so ’n bietjie oor die ontstaan van die wenkbroue.
Probleem 4. Waar is die bedreiging?
Die vordering van natuurlike seleksie is daarvan afhanklik dat sekere diere swig voor ’n bedreiging en sodoende geëlimineer word, terwyl ander van dieselfde spesie dit oorwin danksy ’n geringe vordering in die evolusie van een of ander kenmerk of orgaan. Die bedreiging moet die minderwaardige diere uit die weg ruim wat met hul deelname aan die voortplantingsproses evolusie sou strem.
Maar nou is daar sekere bedreigings wat, as dit in ’n bepaalde geografiese gebied sou voorkom, noodwendig ’n hele aantal spesies sou bedreig wat ewe kwesbaar daarteen is. As daar dan nou beweer word dat ’n bepaalde eienskap van een spesie aan hierdie bedreiging toegeskrywe moet word, maar dit het duidelik nie ander kwesbare spesies beïnvloed nie, het ons weereens op ’n probleem afgekom.
Nogeens die kameelperd. Selfs as fossiele uitgegrawe sou word van kameelperde met al die nekke vanaf die kortste tot wat dit vandag is, sou dit nog nie beteken dat natuurlike seleksie die meganisme was wat daarvoor verantwoordelik was nie. Dink aan ’n vroeë kameelperd omtrent so groot soos ’n ander groterige plantvreter, byvoorbeeld ’n koedoe of ’n eland, met ’n nek soos dié van een van hulle. So moes die kameelperd volgens Darwin een tyd daar uitgesien het, en dit kan ons dan noem die oerkameelperd. Maar tussen hierdie oervorm en die huidige vorm moes daar dan natuurlik ’n massa tussenvorms gewees het wat geleidelik langer geword het namate droogtes die korteres geëlimineer het. Hierdie tussenvorms was nog nie lank genoeg om al die droogtes te oorlewe nie, dus moes hulle sterf of onbekwaam word om voort te plant, terwyl die langeres oorlewe en hulle nageslag nog steeds langer word om vandag se kameelperd voort te bring. Maar die tussenvorms was tog al baie langer, en gevolglik baie geskikter om gedurende ’n droogte te oorlewe, as die koedoes en die waterbokke en die sebras en die springbokke en die duikertjies en die dikdikke en al die ander wat glad nie langer geword het nie. Toe sommige kameelperde reeds baie geskikter was as al die ander blaarvreters, moes hulle nogtans bokveld toe, terwyl die lede van die minder geskikte spesies blykbaar salig onbewus was van die droogtes. Die feit dat die kleiner spesies nie almal uitgesterf het nie, bewys eenvoudig dat die droogtes wat nodig was om die korter kameelperde te elimineer sodat evolusie kon voortgaan, nooit plaasgevind het nie. Daar was geen bedreiging van eliminasie wat natuurlike seleksie kon moontlik maak nie.
Dit sal die moeite loon om te wonder oor ander voorbeelde van diere met uitstaande unieke kenmerke waarvan die ontstaan deur Darwiniste toegeskryf word aan ’n rol wat dit in die verlede in oorlewing gespeel het, terwyl ander spesies goed daarsonder klaarkom. Vlerke word gevind by een soogdier, naamlik die vlermuis. As die vlermuise wat nie vinnig genoeg lang vingers en vliese tussen hul vingers gekry het nie, in die verlede in die stof moes byt, waarom het dit nie met ander diere gebeur nie? Watter bedreiging was daar wat hierdie ontwikkeling van vlerke op een spesie afgedwing het sonder om die ander spesies in gevaar te stel?
Of kyk na die otter. Sy verre voorouers kon ongetwyfeld nie so lank onder water bly nie, en het ook nie webbe tussen hul tone gehad nie, dus moes beide die uithouvermoë en die swemapparaat op ’n stadium ontstaan het, met talle dooie otters wat dit nie kon maak nie. Maar waarom het soveel ander vergelykbare spesies geen begeerte ontwikkel om in die water te lewe en dus behoefte aan hierdie vorms van evolusie gehad nie? Of gaan na die miskruier. Dié wat nie die aanvanklike drang gevoel het om misballetjies te maak en te gaan bêre nie, het minder kinders voortgebring. Tog lewe en vermeerder torre in die mis sonder om hul oor balletjies te bekommer. So is daar talle ander gevalle om oor na te dink.
Is die mens nie ook ’n geval nie? Die mens se verstandelike vermoëns is so geweldig verhewe bo dié van die mees intelligente dier, dat daar ’n menigte tussen-vorms tussen so ’n dier en ons moes gewees het. Kom ons noem hulle aspirantmense, of hulle nou ook al halfmense was, of kwart-mense of driekwartmense. En ons kan wel vra hoeveel eliminasies nodig was om uiteindelik sulke pronkstukke soos ons voort te bring. Dit sou talle eliminasies gekos het. Maar daar is ’n verdere vraag. Al daardie aspirantmense was tog al verstandelik veel verder ontwikkel as die mees intelligente dier, soos die sjimpansee of ander primate. Maar as al die menigte diere kon oorlewe met so ’n klein deeltjie van die aspirantmens se verstand, hoe is dit dan dat die veel hoër ontwikkelde aspirant-mense wat nog net nie so oulik was soos ons nie, almal deur natuurlike seleksie uitgeroei is?
Maar die mens het nog ’n unieke kenmerk. Hy is ook die enigste soogdier wat pal regop loop. Volgens Desmond Morris is dit vir die wetenskaplikes ’n probleem, en hy gee sekere verklarings aan die hand wat in verband staan met die mens se liefde vir vleis. Een hiervan is dat dit makliker was om die prooi huistoe te dra deur regop te loop. Maar om te dink dat daar nie ander planne was nie, en dat dooie aspirantmense langs die pad sou lê omdat hulle nie hul prooi by die huis kon kry nie, is darem baie dik vir ’n daalder.
‘n Ander verklaring is dat dit vir jagters makliker is om hul prooi oor die lang gras raak te sien as hul regop loop. Dit mag so wees; maar ongelukkig is dit dan ook makliker vir die prooi om die jagters raak te sien. Daarom vind ons dat jagters liefs gebukkend loop en net van tyd tot tyd regop kom. Maar afgesien van hierdie oorwegings, bly die vraag nog waarom vroeë mense gesterf het as hulle krom loop, terwyl ander kromlopers dit oorleef het.
Probleem 5. Waar is die koördineerder?
Ek bedoel iets soos die Engels “match maker,” maar dit het nie net op huwelike betrekking nie. Akkurate koördinasieofkoppeling is op baie gebiede onontbeerlik, ook in die tegnologie. Kyk nou byvoorbeeld na die magtige Airbus. Dit word finaal in Toulouse aanmekaargesit; maar so suiwer Frans is hy ook nie, want sy onderdele kom van minstens tien fabrieke in vier verskillende lande. En tog pas hulle so noukeurig by mekaar dat duisende mense gewillig is om hul lewens aan die voltooide produk toe te vertrou. Veronderstel nou iemand besoek die fabriek, en hy verneem van een van die werkers: “Bon jour, monsieur. Kan u my sê in watter land die plan opgestel is?” Sy informant lyk enigsins uit die veld geslaan. “Die plan? Nee, daar was geen vooraf opgestelde plan nie. In elke fabriek is so ’n innerlike drang gevoel om iets te vervaardig, en toe is dit alles hierheen gekarwei, en toe ons dit klaar aanmekaarsit het, voila, daar verskyn ’n reusevliegtuig!” Ek sou vir hom sê ek het beter humor in Frankryk verwag.
En tog sou iets net so verregaande in die natuur nodig gewees het as die Darwinisme ’n feit was.
Net soos by menslike uitvindings, kom sulke noodsaaklike samewerking van verskillende onderdele ook in die natuur voor. Michael Behe gebruik die term “onverminderbare kompleksiteit” (“irreducible complexity”) vir so ’n geval in die biologiese wêreld, wat hy dan vergelyk met iets baie nederiger as ’n reusevliegtuig, naamlik ’n gewone muisvalletjie. Daar is ’n paar onderdele, en as enigeen ontbreek sal die valletjie geen enkele muis vang nie. Hy noem ’n aantal voorbeelde op die gebied van die mikrobiologie, maar gelukkig is daar ook meer bekende voorbeelde van dieselfde beginsel in plante en diere, en hulle is geensins minder oortuigend nie.
Ons het reeds daarop gelet dat daar in elke dier ’n algemene interafhanklikheid van organe, dele van organe en eienskappe is. Maar die onontbeerlikheid van samewerking is besonder opvallend in die geval van sekere diere waar twee of meer unieke organe of eienskappe van mekaar afhanklik is om diens te kan verrig, terwyl hulle tog tot op die stadium waar hulle kan saamwerk, vanweë hul verskillende aard onafhanklik sou moes evolueer.
Kom ons kyk weer na Oom Olifant. (Hy is in elk geval een van die moeilikste diere om mis te kyk.) In die eerste plek het hy ’n grypende neuspunt nodig wat die kos kan beetkry, en tweedens moet die neus lank genoeg wees om dubbel te buig om die bek by te kom. Ons het gesien dat elkeen van hierdie eienskappe op sy eie enorme probleme sou ondervind weens die afwesig-heid van dienslewering aan die begin van sy evolusie. Maar nou kom daar ’n verdere rede om kop te krap: hulle is ook dele wat totaal van mekaar afhanklik is as hulle diens wil lewer. As enigeen van hulle ontbreek het, sou die ander een net so nutteloos gewees het vir sy taak soos ’n muisvalletjie sonder veer. Wat kan ’n grypende punt aan ’n kort neus, of ’n lang neus wat niks kan gryp nie, die olifant baat? Trouens, die lang slurp sonder ’n grypende punt sou ’n hindernis wees wat voor die bek hang as die olifant wil wei. Gedurende ’n lang vroeë periode van ontwikkeling sou die twee eienskappe, naamlik die lengte en die vermoë om vas te vat, geen verband met mekaar hê nie. Elkeen sou van sy eie aanvanklike neiging moes wegspring en dan deur ’n lang proses van eensame en onafhanklike ontwikkeling gaan voordat hulle kon saamwerk. In die afwesigheid van ’n voorafgaande plan wat alreeds voor die begin van hul evolusie bestaan het, sou daar gedurende die lang periode voordat hulle uiteindelik hul kragte kon saamsnoer, hoegenaamd geen konneksie tussen hierdie twee afsonderlike vermoëns wees nie. Hoe het dit gekom dat hulle in dieselfde spesie ontwikkel het? Die een kon net sowel in die olifant en die ander in die renoster ontstaan het.
Nou van ’n groot kolos na ’n klein kewertjie wat byna so beroemd is soos die Beatles en die Volkswagen Kewer. Hy staan bekend as die bombardierkewer. Hierdie goggatjie verdedig homself deur ’n vloeistof teen kookpunt uit te spuit. So ’n stortbad raai dan sy vyande aan om liewer hul geluk elders uit te toets. Tog is hy nie aan die kragnet gekoppel nie, dog ’n chemiese reaksie vind plaas en stel hitte vry wanneer een vloeistof by ’n ander gevoeg word. Twee vloeistowwe word bymekaar gebring net voor die spuitaksie, en hulle reageer op so ’n wyse op mekaar, dat ’n temperatuur teen kookpunt die gevolg is. Vanselfsprekend moet hierdie twee vloeistowwe streng apart gehou word terwyl hulle nog in die insek se liggaam is, anders sou die reaksie daar plaasvind, met gestoofde kewer as gevolg.
Nou hierin sien Prof. Dawkins geen bedreiging vir die Darwinisme nie. Die twee vloeistowwe, sê hy, was reeds teenwoordig in die insek se liggaam, waar hulle vir ander doeleindes gebruik is. “Die bombardierkewer se voorouers het eenvoudig aan verskillende chemikalieë wat reeds teenwoordig was, ander take opgelê.” Hy gebruik die woord “simply.” Nou hoe eenvoudig kan dit wees?
Wat natuurlik onontbeerlik is, is dat presies die regte twee souse onder al die beskikbares uitgekies en in aparte houers versamel moes word, aangesien hulle nie kan uitspuit tensy hulle dig afgesluit is nie. Hoe dit ook al gebeur het, was die keuse van vloeistowwe, die versameling, die voorbereiding van die houers en die berging tot op hierdie stadium nog steeds hoegenaamd tot geen voordeel vir die insek nie. Om eenvoudig twee van sy vloeistowwe uit te soek en in sterk houers te versamel gaan hom nie op enige manier meer kinders laat verwek nie. Hierdie houers moes ook dig bymekaar geleë wees, anders sou hulle nie later kon saamwerk nie. Verder moes hulle in die regte deel van die liggaam geleë wees waar hulle vir verdediging gebruik kon word. Dit sou byvoorbeeld geen waarde gehad het as hulle op die rug geleë was nie. Die houers moes elkeen ’n soort tuit hê. As die reaksie binne een van die houers moes plaasvind, moes dit sterk wande hê wat die hitte en druk kon weerstaan. Die nodige spiere moes verskaf of aangepas word om saam te druk. Alles moes onder die eienaar se beheer geplaas word, sodat hy dit presies op die regte oomblik kan aktiveer. En om die kroon te span, moes al hierdie dinge in klein stappies uitgevoer word, waarvan elkeen gesorg het dat dooie kewers langs die pad lê. En dan sê Prof. Dawkins: “Simply.”
Maar ons het mos belowe om na die ligsensitiewe kol terug te keer. Vroeër het ons gevra watter nut dit heel aan die begin sou hê, maar nou wil ons eerder kyk na sy konstruksie. Michael Behe wys daarop dat so ’n kol alreeds ’n baie ingewikkelde orgaan is waarmee Prof. Dawkins begin. Dit bestaan uit verskillende samewerkende dele. Maar selfs al laat ons hierdie ingewikkeldhede tersyde, is daar iets anders om op te let. Volgens Prof. Dawkins was daar ’n deurskynende vlies op die kol wat dit beskerm het en wat later in die evolusieproses dikker geword het en die binnekant van die oog gevorm het. Daar was dus twee kolle op mekaar: ’n ligsensitiewe een met al sy geheimenisse, en ’n veel nederiger deurskynende een. Maar deurskynende vliese verskyn nie eenvoudig goedsmoeds op allerhande plekke op die liggaam nie, en ek weet nie van enige ander sulke kolle op die vel nie. Aan die ander kant is dit egter ook nie somaar niks nie, maar wel iets. En iets het iets anders nodig om dit te laat ontstaan. En dit kon baie duidelik nie van buite die liggaam daarop beland het nie, byvoorbeeld deur daarop te waai of gesmeer te word nie, want dan sou dit nie oorerflik gewees het nie, en sou dit geen verband met die evolusieproses gehad het nie. Dit kon slegs deur ’n mutasie verskyn wat die gevolg was van die toevallige werking van die gene. Dit beteken dat twee samewerkende kolle: ’n ligsensitiewe en ’n deurskynende, deur blote toeval op presies dieselfde plek op die liggaam hul verskyning moes maak waar die een die ander nodig gehad het. En dit wil gedoen wees!
Het ek gesê: “Dieselfde plek”? Is dit die volle verhaal? Hoeveel diere het net een oog? Wat nodig sou wees, was nie een ligsensitiewe kol nie, maar twee. En toevallig sou hulle simmetries geleë moes wees. En die deurskynende vliese sou ook in simmetriese pare op presies dieselfde plekke moes verskyn.
Die toeval sou selfs nog meer moes vermag. Is daar enige ander plek op die liggaam waar die oë beter of selfs net so goed geleë sou wees as waar hulle tans op verreweg die meeste diere is, naamlik redelik hoog aan die voorkant van die kop? Ek kan aan geen beter plek dink nie. En die toeval het dit blykbaar ook besef.
Wanneer ons die astronomiese toevallighede bedink wat nodig sou wees om dit vir natuurlike seleksie moontlik te maak om die oë voort te bring, plaas Prof. Dawkins nog die kersie op die koek: volgens hom het die oog nie slegs eenmaal uit ’n ligsensitiewe kol ontwikkel nie, maar minstens veertig maal! Veertig maal het twee simmetriese kolle toevallig op twee ander simmetriese kolle beland op die mees geskikte plek op die liggaam. En dit was maar net die begin van die ontstaan van die oog.
Wat sou evolusie kon red?
Iemand mag aan die hand gee dat voldoende tyd die Darwinisme sou kon red. “Onthou,” sou hy sê, “dat die evolusieproses nie duisende jare geduur het nie, maar miljarde. En gedurende so ’n lang tyd kan baie dinge gebeur. Selfs iets wat net elke paar duisend jaar voorval, kon baiemaal gebeur het. Elke eienskap kon met een stappie gevorder het en dan millennia gewag het voor die volgende een, en sodoende die ander eienskappe kans gegee het vir hulle stappe sonder om met die eerste een verstrengel te raak.”
Maar waarop sou dit neerkom? Eliminasie sou nog steeds onontbeerlik wees. Dit sou slegs beteken dat ontwikkelende eienskappe nie gedurende hul bewegings geëlimineer word nie, maar tussen hul bewegings terwyl hul wag op die volgende stap. Die gevolg sou dieselfde wees.
Ook sou miljarde jare nie die probleem met die eerste stappies oplos nie. Dit sou slegs beteken dat die eerste stappies verder en verder in die verlede verskuif word; maar as hulle van so ’n aard was dat hul geen diens aan hul eienaars gelewer het nie, sou hulle so nutteloos wees soos altyd.
Sou bykomstige miljarde jare enige hulp bied aan die natuur se koppelaar deur dit makliker te maak vir eienskappe om tot die punt van bruikbaarheid te ontwikkel waar hulle met hul medewerkers verenig word? Wat dit wel sou doen, is om die tydsduur van hul onbruikbaarheid te verleng.
Wat van diegene wat tevrede is met iets minder as volwaardige Darwinisme? Gestel nou dit kon sonder enige moontlikheid van twyfel bewys word dat alle lewende wesens vanaf dieselfde oorspronklike organisme geëvolueer het tot die verskeidenheid van vandag, selfs al het dit nie uitsluitlik deur natuurlike seleksie geskied nie. As die Darwinisme nie gered kan word nie, is dit nie minstens moontlik om darem iets te doen vir ’n meer algemene idee van evolusie nie?
Dan sou ons nog steeds moes vra wat daarvoor verantwoordelik kon gewees het, aangesien natuurlike seleksie alleen dit nie sou kon regkry nie.
Watter verskynsel ken ons in ons eie ondervinding waarvandaan ons kan ekstra-poleer met iets wat evolusie kon aandryf?
Met ander woorde: wat kon (1) dit in baie klein stappies laat plaasvind, (2) botsings vermy tussen al die talle eienskappe wat gelyktydig moes ontwikkel, (3) evolusie reeds vanaf die vroegste stappies laat werk het toe sulke stappies nog geen voordeel gebied het nie, (4) dit beperk tot sekere spesies, hoewel ander dit nie minder nodig gehad het nie, (5) die regte interafhanklike onderdele bymekaar gebring het nadat hulle oor ’n lang periode onafhanklik ontwikkel het?
Ek weet van slegs een logiese manier waarop dit gedoen kon word, naamlik deur ’n intelligensie wat vanaf die begin geweet het wat die einde gaan wees.
Ek bedoel intelligensie en voorkennis sou onontbeerlik gewees het. En dit word bevestig uit ’n onverwagte oord, naamlik deur Prof. Richard Dawkins. In ’n boek wat moet bewys dat geen beplanning in die ontstaan van lewensvorms betrokke was nie, skryf hy van ’n “computer monkey”. Dis ’n rekenaar wat gestel is om hom soos ’n aap te gedra. (En dit het nou niks met die soort vrywillige aapstreke te doen wat my rekenaar alte dikwels aanvang nie.) Net soos ’n aap wat net eenvoudig op enige klawers druk sonder om hom te bekommer oor watter letters daaruit voortkom, so moes die rekenaar net eenvoudig enige letters toevallig laat verskyn. Hy vra hoe lank dit sal neem vir hierdie elektroniese aap om toevallig ’n sinnetjie met 28 letters uit “Hamlet” te tik deur oor en oor te probeer. “To put it mildly, the phrase we seek would be a long time coming,” sê hy. Prof. Dawkins noem hierdie metode om te probeer om die sin te tik “enkelstapseleksie,” want elke keer begin die rekenaaraap van meet af aan en wend ’n enkele poging aan om die sin te tik. So kon evolusie nie gewerk het nie, besluit hy. Maar, sê hy, dit is ’n ander saak as elke poging voortbou op die vorige. Want in teenstelling tot enkelstapseleksie is daar ook kumulatiewe seleksie. Weereens word dieselfde aantal letters lukraak getik om mee te begin. Nou word die sin herhaaldelik gedupliseer, maar elke keer met ’n toevallige fout. Na elke poging ondersoek die rekenaar dan die nuwe produk, en wanneer daar ’n letter verskyn wat met die teikensin uit Hamlet ooreenkom, word dit nie weer uitgevee nie. Dan gaan die proses van daar af voort. Terwyl die korrekte sin baie lank sou neem om met enkelstapseleksie te verskyn, voltooi die rekenaar dieselfde taak in omtrent ’n halfuur met een program en omtrent elf sekondes met ’n ander met kumulatiewe seleksie. Deur sy bevindinge uit sy eksperiment met die rekenaaraap te ekstrapoleer na wat vermoedelik in die natuur sou gebeur het, bereik Prof. Dawkins die gevolgtrekking dat enkelstapseleksie nooit die evolusieproses aan die gang sou kry nie; “if, however, there was any way in which the necessary conditions for cumulative selection could have been set up by the blind forces of nature, strange and wonderful might have been the consequences. As a matter of fact that is exactly what happened on this planet …”
Maar wat is hierdie “necessary conditions for cumulative selection”?
Volgens Prof. Dawkins self word daar in kumulatiewe seleksie telkens ondersoek en besluit op grond van ooreenkoms met ’n teikenfrase. Dit is wat die rekenaaraap gedoen het, en wat die natuur sou moes doen. Maar hoe het die rekenaaraap dit reggekry? Hoe kon hy na elke probeerslag vasstel of daar ooreenkomste met die teikenfrase is, tensy hierdie teikenfrase van die begin af alreeds êrens in sy ingewande gestoor was?
En hoe kon dit daar gekom het, tensy dit reg aan die begin daar geplaas is deur ’n intelligente wese wat vertroud was met die finale resultaat?
Ons weet selfs wie daardie intelligente ontwerper was. Sy naam was Richard.
As ons nou iets kan leer deur vanaf hierdie eksperiment, waarin ’n intelligente ontwerper die onmisbare faktor was wat die onderneming laat werk het, te ekstrapoleer na die gebeure in die natuur, wat sou die les wees?
Prof. Dawkins beweer dat natuurlike seleksie die enigste werkbare alternatief vir toeval is wat ooit voorgestel is. Dit is bemoedigend, want dit beteken dat daar nie nog ander voorstelle is wat ons hoef te ondersoek nie. Maar hoe werkbaar is natuurlike seleksie in die lig van die vrae wat reeds gestel is? Kan iemand antwoorde op hierdie vrae verskaf? En wat van die alternatief wat Prof. Dawkins met sy boek wou ontken, maar wat nietemin nodig was om sy eksperiment te laat werk, naamlik beplanning deur ’n intelligente ontwerper?
Dit mag nie maklik wees om tot hierdie erkenning te kom nie. In sekere kringe is die tradisie baie sterk daarteen gekant, en baie doelbewuste pogings word aangewend om hierdie tradisie te versterk, ook by skoolkinders. Maar wat anders het ons waarvandaan ons kan ekstrapoleer om ’n verklaring te vind vir die ontstaan van die lewende wêreld wat ons omring? Ek weet van geen ander nie.
Maar sodra ons ’n Intelligente Ontwerper ontdek het, kom verdere vrae na vore; en hierdie keer moet ons hulle nie aan Darwin stel nie, maar aan onsself. Kom ons kyk na ’n paar van hulle.
**Aangesien Hy in die mens se intelligensie deel, en dit in ’n mate wat die mens nietig laat lyk, sou dit dan verbasend wees as Hy ook ander eienskappe met hom deel, veral daardie waardes waarvan die mens in sy helderste oomblikke bewus is?
**Aangesien ons van Hom bewus geword het deur sy voltooide skeppinge waar te neem, watter ander afleiding kan ons maak as dat Hy benewens ontsaglike wysheid ook onmeetlike mag moet besit om sy planne tot uitvoer te bring?
**As ons eers van hom bewus geword het en begin besef wie hy is, volg dit vanselfsprekend dat alle waardes deur hom bepaal word. ’n Besoeker aan ’n diamantmyn mag getref word deur die tonne rots wat daaruit gehaal word; maar vir die kenner is alleenlik die klein hopie diamante belangrik. ’n Boer kyk na trop beeste, maar hulle is vir hom nietig in vergelyking met die klein seuntjie aan sy hand. Kan ons enigsins die waarde bepaal wat ’n Skepper aan die lewelose hemelliggame heg, of aan die mens aan die ander kant? En kan ons vir hom voorskrywe dat hy verskillende mense moet waardeer volgens ons maatstaf?
**Alhoewel dit natuurlik van Hom sou afhang of Hy evolusionêre ontwikkeling wil gebruik, wat sou Hom verhinder om heeltemal daarsonder klaar te kom?
**Kan ons besluit dat dit vir Hom enigsins makliker of geriefliker sou wees om groot gebeurtenisse oor lang tydperke te laat plaasvind as in ’n oomblik?
**Aangesien dit Hy moes gewees het wat oorspronklik die mees onverklaarbare verskynsel, naamlik die lewe, in sy skepsels geplaas het, sou dit vir Hom enigsins ’n probleem wees om die lewe te laat terugkeer na waar dit eenmaal was? Of om dit op ’n ander manier te laat ontstaan as deur die samevoeging van die manlike en die vroulike?
**Sou dit verbaas as die mens vir Hom van besondere betekenis en waarde sou wees?
**Sou dit verbasend wees as dit vir Hom baie belangrik is wat hierdie skepsel doen, wat hy wil doen, probeer doen en wat hy nalaat om te doen?
**Sou dit verbaas as Hy met die mens sou wou kommunikeer, en as Hy ook nog meer direkte middele sou aanwend as om Homself in sy skepping te openbaar? Sou daar nie ’n wyse van kommunikasie wees wat ooreen-stemminge toon met die mens se gesprek met ander mense nie? Sou Hy nie ook deur een mens met ’n ander kon spreek nie?
**Sou dit verbasend wees as Hy wat die mens gemaak het, ook nog ander wesens gemaak het wat in ’n mate met hul Skepper ooreenkom – moontlik selfs in ’n groter mate as die mens? En is dit onmoontlik dat hulle, net soos hul Skepper, van so ’n aard kan wees dat die mens hulle nie gewoonweg met sy sintuie kan waarneem nie? Met ander woorde: is die bestaan van onsigbare geestelike wesens iets waaroor die mens verbaas moet wees? En is dit onmoontlik dat, hoewel sommige getrou was aan hul Skepper, ander teen hom gerebelleer het net soos met mense die geval is? Is die bestaan van engele en demone in stryd met wat ons van die werklikheid kan te wete kom?
**Sou dit verbasend wees as Hy soms die gewone natuurwette ophef? Trouens, selfs sommige materialiste aanvaar vandag dat ander wette in die kwantumwêreld geld as in die alledaagse lewe, en dat iets oorspronklik uit niks voortgebars het, in stryd met die eerste wet van die termodinamika. En wanneer aanvaarding van ’n Skepper van die heelal eers onafwendbaar word, wat bly dan vir Hom onmoontlik? Watter wonderwerk wat ons onwillig is om te aanvaar, is groter as die skepping van die heelal en die lewende wesens? En as sulke verstommende gebeurtenisse in die verre verlede kon gebeur het, is daar enige logiese rede waarom gebeurtenisse wat vir ons onmoontlik lyk en wat beskryf word as wonderwerke, nie vandag kan geskied nie?
**Wat verhinder Hom om dade wat vir ons natuurlik voorkom, af te wissel met optredes wat ons nie kan verklaar nie en wat ons as bonatuurlik beskryf? Wat is natuurlike seleksie en die ander meganismes anders as sy gereedskap, en wie kan aan Hom voorskryf wanneer Hy watter een moet gebruik?
**Is dit onmoontlik dat Hy doelstellings mag hê wat ons nie kan verstaan nie, en dat baie van sy dade en ook dit wat Hy nalaat om te doen, vir ons onverklaarbaar mag wees?
Een ding is seker: as ons erns wil maak met die kennis van die werklikheid, sal daar ’n groot herwaardering van standpunte moet plaasvind.
As ek onder groepdruk of enige ander druk die Darwinisme sou aanvaar, sou die probleme wat ek met Darwin ondervind by my spook. As ek kalm en na die beste van my verstandelike vermoë die feite oorweeg waarna ek verwys het, is die grootste prestasie wat ek aan Darwin kan toeskrywe, dat hy een meganisme aangedui het wat soms in die natuur werksaam is. As sy teorie gesaghebbend aangekondig word, mag dit oortuigend klink, maar wanneer indringend daarna gekyk word, verkrummel dit. Ek kan niemand dwing om met my saam te stem nie; maar as iemand my anders wil oortuig, laat ek dan voorstel dat hy kalm en duidelik begin by die vrae wat ek gevra het. Daarna kan ons verder gesels.
Maar ten slotte ken ons die werklikheid nog steeds ten dele, kyk ons nog steeds deur ’n spieël in ’n raaisel, lei ons ekstrapolasies maar net tot by vermoedens, en staan ons nog steeds voor ’n diepe misterie, voor ’n toe deur.
Tensy ’n Getuie van die ander kant kom en die deur vir ons oopmaak.
* * * * * * *
Abraham Kriel
Posbus 2222
Somerset-Wes, 7129
apkriel@webmail.co.za
Die hersiene weergawe verskil slegs in geringer besonderhede van die vorige. Kommentaar word verwelkom. Hierdie stuk is ook in Engels beskikbaar by bogenoemde adres of eposadres. Enigeen is welkom om dit in ongewysigde vorm af te druk of aan iemand anders te stuur.