Onverantwoordelike stellings oor kategeseboeke

Kyk ook:

Die volgende brief het in Die Kerkbode verskyn.

***********

Onverantwoordelike stellings oor kategeseboeke

Dirk Viljoen, Snymanweg 20, Brummeria, skryf:

27 Julie 1994

Ek skryf met groot liefde in antwoord op die broer van Marchand se stelling oor die kategese in Die Kerkbode van 17 Junie 1994. Dit gaan vir hom oor vernuwing in die kategese en ek is bly dat by heel aan die begin sê dat dit “onverantwoordelik sou wees om finaal daaroor te wil voorskryf’.

Onverantwoordelik

Hy maak egter stellings oor die “inhoud van die stof” en die “metode van onderrig”, wat myns insiens juis baie onverantwoordelik is, en afbrekend teenoor jare se suksesvolle toepassing daarvan. Om te sê: “Weet ons regtig met hoeveel onskriftuurlikhede ons in die katkisasieboeke opgeskeep sit?” is darem vreeslik onverantwoordelik! Die katkisasieboek is eerlik en opreg geskryf deur bevoegde persone onder toesig van ’n kommissie. Dit is teologies en didakties gekeur – ná toetsing en herhaalde hersiening. Geen handboek is volmaak nie. Hierdie boeke maak ook nie daarop aanspraak nie. Indien hy foute daarin raaksien, is die aangewese weg tog om dit aan die Algemene Jeugkommissie voor te lê, selfs met wenke vir verbetering. Dit is al herhaaldelik gedoen en elke keer is gereageer en met waardering regstellings gedoen. Nou saai hy verdenking oor boeke wat amptelik namens die Algemene Sinode uitgegee is. Ek wys hom op die ‘koninklike’ weg en hoop nie dat by met ’n klomp vooroordeel sit nie. Kom maak dan liewers reg.

Hy praat verder van die metode van onderrig en meen dat, om ’n klomp waarhede aan kinders voor te hou wat hulle moet memoriseer, eenvoudig nie “werk” nie. Maar word dit dan gedoen? Die blote memoriseringsmetode of om feite “uit die kop uit te leer” is jare gelede al laat vaar. Juis ander metodes, veral die gespreks- en groepmetodes, is sorgvuldig al sedert baie jare in die kategese ingevoer. Of ken by nie die boeke nie?

Bronne

Om verder te sê dat ons moet “wegdoen met uitgewerkte lesse” en net die Bybel en die Drie Formuliere van Eenheid as bronne gebruik, lyk juis vir my of hy heel onverantwoordelik terugsak in tye in die geskiedenis waarby die kategese lankal verby gevorder het. As by maar gaan kyk na wat dr JMG Prins in sy proefskrif geskryf het oor die Heidelberge Kategismus as leerstof van die kategese, sal by besef dat die Heidelbergse Kategismus as sodanig vir sy tyd miskien goed was as leerboek, maar daarna lankal nie meer ’n didaktiese geskrif is nie.

Hervorming

Sedert die Hervorming (selfs deur Luther en Calvyn) is “kategismusse” opgestel (wat niks anders as handboeke is nie) wat juis moes dien om die Bybel en die belydenisse toe te lig. Daarna het honderde sulke boeke gevolg. Ons eie boeke verteenwoordig juis die vooruitgang op die gebied van die onderrigkunde (didaktiek) en die kategese wat dit moontlik maak om die Bybel (in die heel eerste plek) en die belydenis van die kerk op die mees doeltreffende en gedifferensieerde wyse aan kinders oor te dra. As hy wil ondersoek instel, sal by vind hulle vergelyk uiters gunstig met boeke van kerke in die res van die wereld. Nog nooit is egter gesê dat die boek slaafs nagevolg moet word nie. Die metodes in die boeke word ook net aan die hand gedoen en nie voorgeskryf nie. Daar is groot ruimte tot aanpassing en variasie. Om net die kind se “lewenswyshede en lewenservarings” “op die tafel” te bring (natuurlik moet dit ook), skep groot spanning teenoor die Bybelse leeropdrag en kan juis lei tot versuim om die boodskap op die doeltreffendste wyse aan hom te kommunikeer.

Liefde

Oor hierdie sake is natuurlik baie meer te sê, maar laat ons tog probeer om met kundigheid en liefde daaroor te praat. Daar is baie meer op die spel as om kinders net “mondige Bybellesers” te maak. Dit natuurlik ook. Maar dit gaan nie net om “mondig lees” nie. Die hele kind moet gebring word tot geloofskennis, wat hy nie self in staat is om uit sy eie ervaring op te diep nie. Ek skryf nie in ’n polemiese gees nie, maar slegs om ’n beroep te doen op billikheid en met groot eerbied teenoor ’n broer wat dalk baie meer op die hoogte is van die saak as wat ek weet.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui