Kyk ook:
In die artikel hieronder besing Frits Gaum Desmond Tutu se lof. Daar is egter ’n ander kant van Tutu wat nooit vertel word nie – kyk Desmond Tutu.
*******
Ook die NG Kerk se Arch | Netwerk24
Deur Frits Gaum
29 Desember 2021
Daar was ’n tyd toe die verhouding tussen die NG Kerk en die Anglikaanse Kerk baie sleg was. Dit was veral toe Joost de Blank die aartsbiskop van Kaapstad was. De Blank, ’n Nederlander van geboorte, het in 1957 aartsbiskop geword en sonder omhaal van woorde die destydse regering en die Afrikaanse kerke aangeval oor apartheid, wat hy as teenstrydig met die Christelike leer beskou het.
By die Cottesloe-beraad van 1960 het hy wel sy spyt uitgespreek oor sommige van sy uitlatings teen die NG Kerk, maar hy was onversetlik oor Suid-Afrika se rassebeleid. Gesprekke tussen De Blank en leiers van die NG Kerk het elke keer vasgeloop teen De Blank se onbuigsaamheid, soos die NG mense dit beleef het. Hulle was in daardie stadium nog bereid om apartheid of afsonderlike ontwikkeling ’n kans te gee om Suid-Afrika na kalmer waters te laat vaar. Maar De Blank wou van niks weet nie.
Heethoof en ‘vyand’
Nadat De Blank afgetree het, het die verhouding tussen sy opvolgers en die NG Kerk nie verbeter nie. Toe Desmond Tutu in 1986 die aartsbiskop van Kaapstad (en hoof van die Anglikaanse Kerk in Suid-Afrika) word, was die verhouding steeds sleg.
Tutu is deur die meeste lidmate van die NG Kerk as heethoof en soms selfs as een van die “vyand” beskou. Sy voorloop in optogte teen apartheid en striemende uitsprake oor die beleid het nie gehelp om die anti-Tutu-gevoel in die NG Kerk te verbeter nie. Tog het daar stadigaan ’n gesindheidsverandering gekom, ook aangehelp deur Johan Heyns wat as moderator van die algemene sinode van die NG Kerk ’n veel “oper” benadering as sy voorgangers gehad het.
Iets ‘wonderbaarliks’ gebeur
En toe verander Suid-Afrika. FW de Klerk word president en ná ’n voorstel van Heyns nooi hy die kerke van Suid-Afrika om te probeer om in één stem met die regering te praat oor rasseverhoudings en ander knelpunte.
Die gevolg was die Rustenburg-kerkeberaad in November 1990, net mooi 30 jaar ná die Cottesloe-beraad. En vir die eerste keer in drie dekades sit die NG Kerk weer by ’n tafel aan waar die meeste hoofstroomkerke in Suid-Afrika ook teenwoordig is.
En daar gebeur by Rustenburg iets wonderbaarliks. Willie Jonker, ’n genooide spreker, maar nie ’n amptelike afgevaardigde nie, bely sy en sy kerk en die Afrikaners se skuld aan die onreg wat jare lank in Suid-Afrika gebotvier het. En Desmond Tutu gaan na die kateder en aanvaar sonder meer Jonker se belydenis.
Konsternasie in Rustenburg! Die trane loop oor die belydenis en vergifnis . . . maar daar is ook fronse. Waar kry Tutu die mandaat om die NG Kerk te vergewe vir die jare se swaarkry wat apartheid veroorsaak het? En is Jonker nou die een swaeltjie wat die somer moet bring?
Die volgende oggend gaan Pieter Potgieter, destyds moderator van die algemene sinode, na die kateder en verklaar dat die NG Kerk se afvaardiging – hyself, Dirk Hattingh, Pierre Rossouw en Frits Gaum – volledig saamstem met Jonker se belydenis, want dit is in ooreenstemming met die algemene sinode se besluite die vorige maand.
Toe stap Tutu wéér vorentoe. Hy het sedert die vorige dag baie teenkanting gehad, sê hy. Die mense wil weet waar hy die reg kry om die NG Kerk te vergewe. Hy luister maar net na die Here, sê hy toe. En die Here het hom geleer ’n mens moet vergewe as iemand sy skuld bely. Tot sewentig maal sewe keer.
Die NG Kerk se leierskap was egter nie almal so gelukkig met die onverwagse wending nie. Terwyl Jonker rustig Stellenbosch toe vertrek het, moes die vier afgevaardigdes tot laatnag aan hul kollegas verduidelik hoe Jonker se verklaring en die algemene sinode se besluite rym.
Daarna het die verhouding tussen die Anglikaanse Kerk en die NG Kerk strykdeur verbeter. Toe Tutu voorsitter van die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) word, het hy moeite gedoen om die NG Kerk te betrek. Hy het gereël dat Piet Meiring ’n lid van een van die subkommissies word, hy het ’n afvaardiging van die Wes-Kaapse sinode vriendelik ontvang toe hulle ’n voorlegging gedoen het en hy het Freek Swanepoel, moderator, omhels toe dié by die WVK se “kerkedag” opgetree het.
‘God se sin vir humor’
Vroeg in dié eeu het ek vir Tutu genader met die versoek dat een van die pryse wat die Andrew Murray-prysfonds jaarliks vir teologiese en Christelike boeke toeken, aan sy en Murray se name gekoppel word: die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys, wou ons dit noem.
Hy het dadelik ingestem en lekker gelag. Dis God se sin vir humor, het hy gesê, om ’n NG Kerk-dominee van die 19de/20ste eeu se naam te verbind aan dié van ’n Anglikaanse aartsbiskop van die 20ste/21ste eeu. Sedertdien is die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys al ’n hele paar keer toegeken.
Die Andrew Murray-prysfonds het in Mei 2011 ’n platform vir die NG Kerk se moderatuur geskep om ’n oorkonde aan Tutu te oorhandig.
Daarin is onder meer gesê: “Ons wil u bedank dat u nooit moed opgegee het met die NG Kerk nie. Toe baie gereed was om hul rug op hierdie kerk te draai, het u na ons uitgereik. Baie dankie dat u nie net die aartsbiskop van Kaapstad was nie, maar die geliefde Archvir ons almal – ook vir die NG Kerk.”
Rus in vrede, Arch. Jy het jou kant gebring.
- Dr. Gaum is die voorsitter van die Andrew Murray-prysfonds.
Kommentaar
Tutu ’n Arch maar nie dolerend | Netwerk24
Dr. Henrietta Klaasing, Randfontein
30 Desember 2021
Die woord “Arch” kom van “Aartsbiskop”. Met die Hervorming het reformerendes juis van Rooms-Katolisisme weggebreek. Hoe op aarde kan Desmond Tutu dan die NG Kerk se aartsbiskop wees?
Vanaf 2008 is daar in die Anglikaanse Kerk veral twee uiteenlopende groeperinge: die groter (behoudende) Gafcon-groep (Global Anglican Future Conference), waarvan “die Arch” se Anglican Community nie deel is nie. Dr. Frits Gaum (29.12) vereenselwig hom blykbaar met die AC.
Daar is in die NG Kerk ook uiteenlopende groeperinge. Die Skrifbehoudendes doleer (treur) onder meer omdat die kerk begin het om sy gereformeerde identiteit te verruil vir die “ruim huis” waar “teologiese diversiteit” die wagwoord is. Ek vereenselwig my met hulle.