Oor toesig, tug en teologiese opleiding | Kerkbode
14 Januarie 2023
Smuts Janse van Rensburg van Oudtshoorn skryf: Uit liefde vir ons Heer en uit liefde vir mekaar, dra ons in die kerk die verantwoordelikheid om dié wat in leer en lewenswandel dwaal, te vermaan en te tug – om hulle terug te trek na die Here self, na die waarheid van sy Woord, en na ’n lewenswandel in lyn met die Woord. Soos die suiwer bediening van die Woord en die suiwer bediening van die sakramente, is tughandelinge ’n wesenskenmerk van die kerk en móét dit toegepas word ter wille van die eer van God, die heil (geestelike gesondheid) van die kerk, en tot behoud van die sondaar.
Ons moet dankbaar wees oor die kerklike tugondersoek na dwaalleer deur ’n gelegitimeerde en dosent aan die teologiese fakulteit op Stellenbosch. Ons moet ook dankbaar wees vir die bevinding, omdat die dosent se dwaalleer die eer van God aantas en ook nie dien tot heil van die kerk nie, soveel te meer omdat hy as dosent verantwoordelik is vir die opleiding van bedienaars van die Woord. Maar saam met die dankbaarheid moet daar ook hartseer wees oor die dwaling, en moet ons bid dat die betrokke dosent tot inkeer sal kom en sal buig voor die Woord alleen. Mag hy en alle gelegitimeerdes, ook dosente aan die teologiese fakulteite, heelhartig die Woord en die gereformeerde belydenis onderskryf.
Die genoemde ondersoek onderstreep opnuut die belangrikheid van elke ring se toesig oor die leer en lewe van gelegitimeerdes, maar dit onderstreep ook die belangrikheid van die kuratoria se toesig oor teologiese opleiding. Dit is my bede dat ringe en die onderskeie kuratoria hulle taak van toesighouding te alle tye met waaksaamheid, deeglikheid en liefde, maar ook sonder om te skroom, sal uitoefen.
Die genoemde ondersoek en bevinding plaas egter die saak van teologiese opleiding opnuut in die kollig. Met die skuldigbevinding is die gelegitimeerde van sy voorreg ontneem om Sondae die Woord van die kansel te verkondig. Hy kan egter as dosent in die ruimte van akademiese vryheid voortgaan om daagliks voornemende predikante in die klaskamer te onderrig. Die retoriese vraag is of hierdie praktyk die toets van die eer van God en die heil van die kerk kan slaag?
Die vraag sal eerlik gevra moet word of daar met die huidige bedeling van opleiding by die bestaande drie teologiese fakulteite voortgegaan kan word? Ek is van mening dat die prys van die groter wordende sê en beheer van die universiteit oor teologiese opleiding, en die daarmee gepaardgaande akademiese vryheid om enige dogma te doseer, net te hoog geword het vir ’n kerk wat sy predikante op grond van die Woord alleen en volgens die gereformeerde leer wil oplei. As die NG Kerk erns maak met die Woord, die gereformeerde leer, die eer van God en die heil van die kerk, sal daar nuut gedink moet word oor teologiese opleiding.